Mogoeng Mogoeng en die Bybel by Ramaphosa se inhuldiging

  • 5

Foto van Cyril Ramaphosa: https://en.wikipedia.org/wiki/Cyril_Ramaphosa#/media/File:Cyril_Ramaphosa_e_Michel_Temer_2_(cropped).jpg

Toe hoofregter Mogoeng Mogoeng ’n Bybel aan die nuwe president oorhandig tydens sy inhuldiging op Loftus Versfeld het Cyril Ramaphosa vir ’n oomblik verheug gelyk, en toe die boek oopgemaak vir Mogoeng om te teken. Op die oog af ’n onskuldige gebaar, maar as ’n mens dit van naderby bekyk, nie sonder eienaardighede nie.

Het Mogoeng dit dan nie vooraf geteken nie? Of was dit bedoel om die “skoon” Woord van God te wees, as handleiding vir die president in sy amp, en nie soseer Ramaphosa as persoon nie? Indien wel, kan ’n mens dan beweer dat Ramaphosa se versoek dalk instinktief bedoel was om afstand daarvan te kry as president deur dit meer persoonlik te maak?

Jonathan Jansen het getrou aan homself met veel geringer nuanse op Facebook geskryf: “Die hoofregter speel met vuur as hy in ’n sekulêre, grondwetlike staat Christelike gebed betrek in die uitoefening van sy openbare pligte.” En later: “Ek wil die Christelike reaksie sien as ons ’n Moslem-president het en hy bid in sy tradisie en haal sy heilige boek uit.”

Mogoeng se geskenk het gevolg op sy gebaar nadat hy die vorige week die nuwe lede van die parlement ingehuldig het. Aan die begin van die verrigtinge het hy voorgestel dat almal teenwoordig drie minute afstaan aan gebed of meditasie, waarna hy agter die kateder op sy knieë gesak het en hardop gebid het, met die mikrofoon wat per ongeluk, of dalk nie per ongeluk nie, aangeskakel gebly het.

Eers het Ramaphosa gunstig daarop gereageer. In sy toespraak ná sy verkiesing tot president in die parlement het hy so ver gegaan as om Mogoeng te bedank vir sy “ongekende” daad, en gewens dat dit eintlik aan die hele nasie uitgesaai kon word. Maar die dag na sy inhuldiging, na die oorhandiging van die Bybel, het daar ’n meer sobere twiet van hom gekom, of, waarskynliker, van iemand in sy kantoor: “Een van die mooihede (beauties) van ons land is die vermoë om ons diverse gemeenskap te omarm, sy (its) vele godsdienste en gelowe.”

Mogoeng is al lank bekend vir sy uitsprake oor sy geloof. Hy het verklaar dat profete voorspel het dat hy hoofregter sou word, en het pront ’n beroep op Christene gedoen om as gelowiges meer betrokke te raak by die maak van wette. Tog is hy ook iemand wat oënskynlik nie toelaat dat sy geloofsoortuiginge inmeng met sy uitsprake as regter nie, en het hy telkens verklaar dat hy sy eed as hoofregter eerste sal stel, sou daar ’n botsing met sy geloof wees.

Moet ’n mens dus maar wegkyk? Is hy dan nie juis ’n voorbeeld van hoe om geloof met amp te versoen nie? Maar dat daar ’n probleem is, blyk uit die reaksie op sy geloofsbetuiginge, of die gebrek daaraan. Die hoofstrome in die verskeie iterasies van die Christendom swyg soos die graf van Kain; dis die meer twyfelagtige strominge wat in ekstase uitbars. Na die verrigtinge in die parlement is ’n foto gou opgediep van Mogoeng en sy vrou wat kniel, met die hande van ’n pastoor van iewers, en dié se vrou, op die Mogoeng-egpaar se koppe. Die twee lyk soos karakters uit The Sopranos, of Narcos – jy sou niks by hulle wou koop nie.

Die grootste reaksie op Mogoeng se parlementêre ingrype het gekom van mense soos Arthur Frost, wie se verhoë meer blink en gloei as ’n Elvis Presley-nabootser s’n, en ene Bishop Billy Frank. ’n Stortvloed van “Prys die Heer” in alle tale het gevolg op poste hierop, meer as 700 in een geval. ’n Gerekende sakeskrywer, Alec Hogg, uit Londen op sy webwerf Biznews laat weet hoe trots hy op Mogoeng is.

Vanuit akademiese geledere is daar min twyfel dat Mogoeng se dade op hul minste twyfelagtig was. Brima van Niekerk van die Departement Wêreldgodsdienste aan die St Augustine College of South Africa in Johannesburg sê om ’n godsdienstige teks soos die Bybel aan die president aan te bied kan op sigself nie aanstoot gee nie, maar dis die konteks wat saak maak.  En in hierdie geval, in ’n gesekulariseerde openbare ruimte, kan die verkeerde persepsies geskep word.

Suren Naicker van die Departement Moderne Tale aan Unisa sê een so ’n persepsie is van godsdienstige partydigheid. Hy wys op die blinddoek van die  “Dame van Geregtigheid” (Lady Justice) en “om ’n Bybel in die openbaar rond te swaai tydens so ’n betekenisvolle gebeurtenis weerspreek die getuienis-gebaseerde objektiwiteit op alle gebiede waarvoor die hoofregter behoort te staan”.

Die Suid-Afrikaanse konteks, vervolg hy, is ’n “klimaat van ras as lokaas en identiteitspolitiek, en kan verkeerd vertolk word as ’n permit om ’n reeds verdeelde nasie verder te verdeel. Dit skep kommer oor die drieledige skeiding van magte tussen kerk, staat en die regbank, want hierdie daad vermeng al drie tot een.”

Pieter Duvenage, filosoof verbonde aan Akademia, meen soos Van Niekerk dat Mogoeng die oorhandiging van die Bybel verkieslik in ’n private konteks moes gedoen het, hoewel beide hy en Ramaphosa toegewyde Christene is (die President se Lutherse agtergrond beteken vir hom baie) in ’n oorwegend Christelike land.

“Hoewel die grens tussen die private en die openbare altyd prekêr is, dink ek tog dat die skeiding tussen staat en kerk (ook in Suid-Afrika)  ʼn gesonde beginsel is.”

Maar wat van die ateïste onder ons? Sommige navorsers meen dat niegelowiges en tradisionaliste eintlik in die meerderheid in Suid-Afrika is. Talle Facebook-poste het daarop gewys dat Mogoeng ten minste in die parlement aan almal die kans gegee het om op hul eie manier te bid of te mediteer, met een wysneus, Thabiso Moleka, wat opgemerk het: “Dis jammer dat almal nie hul thikoloshe daar gehad het nie, maar die hoofregter kan nie die skuld daarvoor kry nie.”

Thabelo Kotswana, ’n sakeman van Johannesburg en ’n ateïs, verklaar: “Ons het nie vir ’n godsdiens gestem nie. Net een party het godsdiens as stemvoer gebruik en hulle is behoorlik kafgedraf in die verkiesing.”

Hy brei uit teenoor LitNet: “Hierdie mense (LP’s) is grootmense en hulle het nie ’n elmboog in die ribbes nodig nie. As hierdie kinders was, was dit ’n geval van dwang.” Niegelowiges, sê hy, het dit reeds moeilik en is onder geweldige druk van die gemeenskap om te konformeer. Diegene wat nie wou bid in die parlement nie, moes vir drie minute rondstaan en dit sou maklik as blasfemie vertolk kon gewees het.

Hierby sluit Brima van Niekerk se reaksie weer aan, dat die oorhandiging van ’n Bybel aan die President dalk onskuldig mag voorkom, maar onbedoeld uitsluiting in die hand kan werk.

Die eintlike vraag bly: Watse soort staat wil ons in Suid-Afrika hê? Die skrywer Charl-Pierre Naudé vra om een van verdraagsaamheid en van leef en laat leef. “RSA is inderdaad 'n sekulêre staat. En so moet dit bly. Maar geen beginsel moet te verstok toegepas word nie. Daar behoort ‘asemhalingsruimte’ te wees vir openbare betonings van religieuse gevoel, soos in die geval van die hoofregter.

“Om ‘asemhalingsruimte’ te skep vir godsdiens, om nie beskaam te wees vir so 'n ruimte nie, kom – in beginsel ten minste – neer  op die betrekking en in diens stelling van 'n voller gedeelte van die brein en gees, as wat die geval is met slegs 'n nougesette sekulêre denkwyse. En daardie groter veld van gees het die potensiaal om die rasionele te voed. 'n Goeie voorbeeld is aartsbiskop Desmond Tutu se religieuse begronding van sy stryd teen apartheid.”

Vele respondente in die debat het hul ook op die verlede verlaat. Uiteindelik! het hulle verklaar, met uitroeptekens, word daar weer in die parlement gebid, en staan die president weer met ’n Bybel in sy hand. Dis waar die eintlike probleem vir Van Niekerk lê, dat ons terugval na die tyd toe die Christendom ’n staatsgodsdiens was.

Dit was ’n primitiewe tyd, toe die staat se vele vergrype teen sy mense geregverdig is aan die hand van Christelike beginsels en ideale. Soos Naudé opmerk:  “Religieuse oortuigings lei nie noodwendig tot groter rasionaliteit in lewens nie. Trouens dit was tot dusver gewoonlik  die teenoorgestelde gewees. En hiervan is sommige van ons einste hoofregter se emosionele en byster uitsprake in sommige hofsake die klinkklaarste bewys.”

Om terug te kom na die inhuldiging van die president, die sesde in Suid-Afrika as sekulêre staat: ’n Mens kon maklik die ondertekening van die boek deur Mogoeng Mogoeng vertolk as dié van ’n skrywer wat sy eie werk identifiseer, dit waarmerk.

Is die hoofregter besig om die verhaal van Ramaphosa se presidensie te skryf, en gaan die President hom daardeur en deur ander magiese oortuigings – byvoorbeeld die meer irrasionele aspekte van die ANC se nasionale demokratiese revolusie – laat lei, of deur die rasionele oplossings wat die land so broodnodig het?

  • 5

Kommentaar

  • Nou wil dit vir my voorkom asof die skrywer en sommige na wie verwys word, van mening is dat 'n mens se lewe in kompartemente verdeel moet word. Een vir godsdiens, een vir sport, een vir deelname in die regering ens.
    Elke Christen wat Jesus Christus as sy enigste Verlosser en Saligmaker aanvaar sal hom/haar vereenselwig met die volgende: "Onder die invloed van die humanisme en die liberalisme is die taak van die kerk in die verlede soms beskou as "die vorming van goeie en deugdelike mense" wat vir staat en maatskappy nuttig kan wees. Dit is heeltemal verkeerd! Die groot taak van die kerk is om Jesus Christus as Verlosser en Saligmaker te verkondig en die mense op te roep om hulle van hulle sondes te bekeer en in Hom te glo (Matt 28:19). As die kerk dit doen, sal hy ook die sout van die aarde en die lig van die wêreld wees (Matt 5:13-1." Uit die 1DIE GESONDE LEER Prof P J de Bruyn
    Daarom moet die Christelike geloof ook daadwerklik in ons daaglikse lewe tot openbaring kom.
    'n Mens is dus dankbaar dat die hoofregter nie geskroom het om in die openbaar te bid nie, want as Christene bely ons dat alles deur Christus tot stand gekom het en die eer in die eerste plek aan Hom en nie die mens toekom nie.

  • As sekularis dink ek wel dat die hoofregter in sy fundamentalistiese ywer te ver gegaan het.
    Maar wat as die President aangevra het om nie 'n sekulêre inhuldiging te hou nie? Miskien was dit juis sy voorkeur.Ek dink tog Mogoeng moet sy oortuigings by die huis los.

  • "Oath of office or solemn affirmation".Beide is bindend, maar dit is tog opmerklik dat die meerderheid verkies het om die eed af te lê. As jy die eed aflê en sê'' So help me God' roep jy God as getuie van jou vaste voorneme, maar dit beteken ook dat jy jou onderwerp aan die oordeel van God, as jy die eed verbreek.
    As die meerderheid verkies om God as getuie te betrek, waarom moet die hoofregter sy oortuigings by die huis los, veral as daar in die inleiding tot die grondwet, die volgende verskyn:
    “May God protect our people,” wat jou insluit en “God bless South Africa.”

  • Mogoeng se identiteit is in sy Christenskap. Volwasse verdraagsaamheid vereis in Suid-Afrika dat mense ander mense aanvaar vir wie en wat hulle is. Dit wat hy gedoen het, spruit voort uit wie en wat hy is. Hoekom moet hy dit onderdruk net om ander mense tevrede te stel? Of apart hou van sy amp? Wat beteken 'vryheid' van spraak en godsdienstige oortuigings dan nou eintlik?
    Die kritici bewys juis met hulle kritiek van sy optrede hoeveel groei nog nodig is op die pad na verdraagsaamheid. Diversiteit moet erken, omhels en aanvaar word. As jy as grootmens nie vir 'n drieminute-gebed jou gedagtes kan besig hou met iets anders (indien jy nie 'n Christen is nie), is daar veel te sê vir jou volwassenheid en verdraagsaamheid, en die erkenning van 'n ander se vryheid om te sê wat hy wil en sy godsdienstige oortuigings uit te leef soos hy wil (al is dit in amptelike hoedanigheid). Om te besluit jy wil nie daarmee gekonfronteer word nie, is onverdraagsaam en onvolwasse.

  • Ek dink die skrywer ruk die dam onder die eend uit hier. Staat en kerk gaan nie meng hier nie. Bly kalm.
    As ek president is en ’n Moslem-kollega handig ’n kopie van die Qur'an aan my sal ek dit openhartig aanvaar en ek sal moontlik ook sy handtekening vra, selfs al is ek ’n Christen. Sekulêr beteken nie dat godsdiens (enige vorm) onder ’n tafel ingevee moet word nie. Dit beteken dat daar in alle aspekte van die samelewing wedersydse respek, begrip, dialoog moet wees en ruimte gegee word in private hoedanigheid en in die openbaar – dit sluit geloof in!
    Mogoeng wou Ramaphosa ’n geskenk gee. Ramaphosa is ’n Christen. ’n Bybel maak sin. Einde van storie. Dis nie rocket science nie.
    En waarvoor nou op ’n seepkis spring elke keer as jy ’n Bybel sien of iemand op sy knieë sien staan? Regtig? Dit raak nou oud.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top