Kallie Kakkerlak se sewe kaskenades en Creepy/O, goeiste! – ’n onderhoud met Riana Scheepers en Engela Duvenhage

  • 0

Titel: O goeiste! ’n Boek vol glibberige, grillerige en vreemde kreature in Suider-Afrika
Skrywer: Engela Duvenage
Illustreerder: Zinelda McDonald

ISBN: 9780637008921
LAPA

Titel: Kallie Kakkerlak se sewe kaskenades
Skrywer: Riana Scheepers

Illustreerder: Elsabé Ebersohn
ISBN: 9780637012652
Uitgewer: LAPA

Kallie Kakkerlak se sewe kaskenades en Creepy/O, goeiste! – ’n onderhoud met Riana Scheepers en Engela Duvenhage

Elsibé McGuffog praat oor Kallie Kakkerlak se sewe kaskenades en Creepy/O, goeiste!, twee kinderboeke deur onderskeidelik Riana Scheepers en Engela Duvenage wat onlangs verskyn het.

Boeke moet slim en catchy titels hê, wat julle boeke het. Wat het eerste gekom? Die storie of die titel?

Riana Scheepers (RS): Kallie het gekom as ’n uitdaging en ’n opdrag. Iemand uit die gehoor het tydens die Stilbaai Boekefees vir my gesê my Gogga-boeke is baie oulik, die spinnekoppie en die akkedissie en die verkleurmannetjie, maar sy wil NIKS weet van ’n kakkerlak nie! Nou ja, toe besluit ek net daar en dan dat my Kakkerlakkie oulik gaan wees en lekker poetse gaan bak. Met my navorsing oor kakkerlakke vind ek toe mooi uit hulle is goggas met superkragte! Fantasties! Dit titel het gekom om te pas by die Sewe-reeks wat ek oor wonderlike goggas skryf.

Engela Duvenhage (ED): Met O, goeiste en Creepy het ek beslis eers die idee gehad om oor grillerige, stinkerige, vreemde plante en diere te skryf – en hier en daar ook oor mense wat meer oor hulle uitvind. Terugvoer na my vorige boeke Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika en sy Engelse weergawe Inventors, bright minds and other science heroes of South Africa het my terdeë laat besef dat daar kinders (en veral seuns) is wat regtig nie oor fiktiewe eenhorings (unicorns), feetjies, ruimtemannetjies of ridders wil lees nie. Hulle is eerder feitevrate wat wag op die regte boek. En as hulle in die proses ook bietjie kan “oeee”, “ah” en “jig”, soveel te beter! Daarom skryf ek toe eerder ’n nie-fiksie-boek waarin hulle kan lees oor eenhoringvisse, diere wat glim, blink of stink en ander vreemde Suider-Afrikaanse kreature soos feetjiegarnale, koringkrieke, miervreters, krimpvarkie-spinnekoppe en seeperdjies.

Beide julle boeke het ’n gril-aspek. Vertel ons van ’n ware verhaal waar jy self gegril het.

RS: Ek gril my vrek vir ... ’n sprinkaan. Op laerskool het Bennie Pretorius ’n kriewelende sprinkaan by my skoolrok se rugkant ingegooi. Die verpestelike ding het gekriewel en gekraak – en tot vandag toe is ek bang vir sprinkane.

ED: Op besoek aan my Engelse granny en grandpa in die Kaap het my suster en oudste broer slakke uit die tuin in ’n leë sjokoladeboksie gesit. En gemaak asof hulle iets spesiaal vir my gaan koop het by die nabygeleë kafee. Toe ek die boksie met ’n bly gesig oopmaak, het die slakke en hul tentakeltjies vir my geloer! Soveel vlakke van teleurstelling dat ek nou nog skepties is as mense vir my ’n boks sjokolade aanbied.

Watter storie of bladsy in die boek dink jy gaan lesers die meeste laat gril?

........
Ek hoop my lesers gril en kry lekker op elke bladsy.
.........

RS: Ek hoop my lesers gril en kry lekker op elke bladsy. Maar ek dink dat ’n kakkerlak wat jy onverwags vind op ’n stukkie toiletpapier, die verskriklikste ding ooit moet wees ... Brrr!

ED: Ek stem saam, elke bladsy het sy eie besonderse spesie – daar is van klein Drakensbergse blomme wat soos opgooi ruik en snotslange in tot vraatvisse wie se mae deurskynend raak as hulle te veel vreet! As ek tog een moet kies, dan’s dit toemboevlieë – veral as die lesers ook YouTube-video’s daarmee saam kyk. Hul larwes word mangowurms genoem. Dié broei in honde se lywe uit en begin hulle vreet. Mens kan die mangowurms voel beweeg in besmette diere. Veeartse in die noorde van die land sukkel baie daarmee en moet die larwes een vir een soos ’n ryp lewende puisie uit die swere druk om die diere te probeer gesond kry.

Jul teikenlesers: Boeke vir jong lesers word dikwels deur ouer lesers ook geniet. Wat is die ouderdomsgroep vir jou boek volgens jul uitgewer? En hoe ver sou julle dit rek om op ’n wyer groep van toepassing te wees?

RS: Ek weet dat my lesers strek van 3 jaar tot 80 – want hulle reageer. Ek dink ouer mense het waardering vir ’n kinderverhaal wat slim geskryf is, wat hulle weer soos ’n kind kan laat lekkerkry. Ek skryf hoofsaaklik boeke wat ek sou wou gelees het toe ek ’n kind was, dus geniet ek my eie boeke ook. Maar kinders geniet dit ook; dit word bewys deur die Veertjie-toekennings wat die boeke gekry het. Die jurie is kinders wat vere voel vir die skrywer, maar die boek geniet!

ED: Volgens die uitgewer is die teikenmark 9 tot 11 jaar oud, maar ek reken dit sal soos Uitvinders ook geniet word deur ’n volwasse gehoor wat verwonderd staan oor wat alles in Suid-Afrika te vinde is.

Hoe dink julle verskil humorsin vir kinders in terme van hul ouderdomme? Byvoorbeeld, wat is vir ’n sesjarige kind snaaks teenoor ’n twaalfjarige? Is daar verskille vir seuns teenoor meisies? En kultuur? Vind Afrikaanse kinders iets snaaks wat Engelse, Zulu- of Xhosa-kinders nie sal snaaks vind nie?

RS: Humor is ’n wonderlike tema vir ’n gesprek, omdat dit so eiesoortig, so uniek, so spesie-spesifiek is. Daar is ’n uitstaande tesis geskryf oor humor in kinderliteratuur deur my eie uitgewer Nandi Lessing-Venter. Daarin wys sy op die verskillende vorme van humor, watter ouderdom lesers aanklank vind by sekere soorte humor en hoe dit leesbevordering bewerkstellig. Behalwe dat humor ouderdomsgedrewe is, verskil dit ook by verskillende kulture. Dit het ek eerstehands beleef toe ek dosent was by die Universiteit van Zululand. Ek het verstom gestaan oor wat my studente laat lag. En natuurlik moet mens nooit vergeet dat elke leser ook sy eie soort humor het nie – dit is moeilikheid soek om te dink dat een soort humor vir almal snaaks is, want dit is nié.

ED: Jonger laerskoolkinders (en veral seuns) het beslis meer van ’n “toilethumor” en vind winde, ander lyflikhede en grillerighede vreeslik snaaks. Hulle giggel oor woorde soos snot en bollie – ek kan net sien hoe hulle sal giggel as hulle die woord snotslang (’n regte seedier wat jy net in Suider-Afrikaanse waters kry!) raaklees.

Wat is die snaakste kinderboek deur ’n ander skrywer wat jy self nog gelees het?

RS: Snaaks is miskien die verkeerde woord, want ek kry vreugde en ek lag vir boeke wat nie noodwendig “snaaks” is nie. ’n Storie wat slim is, wat my horison verbreed, wat hiperbolies is, wat avontuurlik is, laat my lekkerkry en lag. Soos WO Kühne se allermooiste Die wonderlike avonture van Barnabas Bombas. In kombinasie met die illustrasies, bly dit vir my een van die vreugdevolste boeke ooit.

ED: Die fyn humor van Roald Dahl se langer kinderstories bly my by, en onder korter bedtydstories onthou ek vir Die storie van die molletjie wat wou weet wie op sy kop gedinges het.

Wat is jul filosofie – moet kinderboeke hul lesers voorberei vir die werklike lewe, of moet dit hulle ’n alternatiewe realiteit bied met ander ideale?

RS: Agge nee, wat, ek het nie ’n filosofie nie. ’n Boek moet ’n storie hê en jou kan wegvat na ’n plek waar alles moontlik is, in die mooiste taal, met die lekkerste karakters, met die grootste pret. ’n Boek moet jou lewe verryk en verruim en verras. As dit jou op die lewe voorberei, dan is dit ’n bonus. As dit ’n alternatiewe realiteit bied, ook goed. Moet net nooit ooit vir ’n kind probeer preek nie. Vertel ’n storie!

ED: Ek skryf nie-fiksie, so dis ’n ander storie! Ek bied aan hulle die werklikheid, maar probeer dit op so ’n manier verpak dat dit nie soos ’n skoolteksboek voel nie.

.........
Ek skryf nie-fiksie, so dis ’n ander storie! Ek bied aan hulle die werklikheid, maar probeer dit op so ’n manier verpak dat dit nie soos ’n skoolteksboek voel nie.
.........

Is daar ’n gevaar dat volwassenes hul eie belange op kinders kan afdwing in kinderliteratuur? Indien wel, hoe voorkom julle dit?

RS: Ja, seker is dit moontlik ... Ek toets my boeke by my eie kleinkinders. Hulle is meedoënloos in hulle kritiek. Ek weet nou al, moet nooit oneerlik of prekerig of slim probeer wees nie – kinders se shit detectors (soos wat Hemingway dit so akkuraat beskryf het) is dodelik akkuraat.

ED: Sommige boeke is baie blatant daarmee. Ek probeer dit vermy deur nie voor te sê oor hoe die natuur bewaar moet word nie; ek bied eerder brokkies detail daaroor aan sodat kinders in die proses hopelik in verwondering daaroor sal staan, en die natuur waardeer.

Riana, dit is oulik dat jy in jou boek die gebruik van gifstowwe afkeur. Kan koeksoda of boraks kakkerlakke doodmaak of bloot afsit?

RS: Koeksoda is ’n goeie afskrikmiddel vir ’n lakkie wat hom nie maklik laat afskrik nie. Ek het nog nooit ’n kakkerlakkie met koeksoda toegegooi nie, gaan ook nie ... Ek het groot waardering vir kakkerlakke gekry – hulle is seksie en slim en het superkragte! Moenie so dom wees om jou kragte teen hulle te meet nie; jy gaan tweede kom. Hulle kan selfs vir ’n rukkie sonder ’n kop leef!

Riana, die baba in jou boek het ’n baie grênd naam. Enige rede hoekom jy juis daardie naam gekies het? My eie kind van 12 wou weet of daardie baba op sy eie mag wees, terwyl sy ma so lank in die badkamer vertoef. Is dit iets wat jonger lesers sal bevraagteken? En hoe sou jy so ’n vraag debatteer?

RS: Ja, daardie grênd naam van die arme baba sê eintlik maar net hoe pretensieus en uit voeling met die natuur die ma is. Sy spuit ’n bytjie dood, maar wil vir haar kind heuning voer.

Wat betref die afwesigheid van die ma: ’n Skrywer hoef nie al die mindere detail in die fynste besonderhede uit te spel nie – soos in ’n roman. Die belangrikste is die momentum van die storie. Die ma is dalk nie so lank in die badkamer nie. Daar kan ook ander mense in die huishouding wees wat na die baba kyk, of hy kan doodgewoon slaap.

Riana, wanneer het jy besef dat die blare van die olienhoutboom soos kakkerlakvlerke lyk? Is dit ’n spesifieke boom wat jou die idee gegee het?

RS: Ek het gaan soek na ’n boom! In my eie tuin is ’n pragtige olienhoutboom, en sowaar, gaan kyk maar, ’n droë blaartjie lyk nes ’n vlerkie.

Het julle al voorheen met die illustreerders op ander boeke gewerk? Vertel ons van die proses.

RS: Ek het ook al saamgewerk met Cora Coetzee, Vian Oelofsen, Dalke Blanckenberg en andere. Elsabé Ebersöhn illustreer die Gogga-reeks en die Feetjie-reeks. Ek het uitsonderlike eerbied vir die talent en werk van illustreerders, met elkeen het ek net die beste ervaring gehad. Die illustreerder skep die beeld; hulle bring hul eie energie na die teks. Ons het mekaar naderhand so goed leer ken dat ek glad nie meer voorskriftelik is nie. Lekker!

ED: Die mooie sketse van al die mense in die 102 stories in Uitvinders is geskep deur Tumi K Steyn. Vir O, goeiste en Creepy het my uitgewer en redakteur Shawna-Leze Meiring my laat kies uit drie name. Een daarvan was Zinelda McDonald, illustreerder van die Tippie-reeks, en soos ek ’n Wellingtonner! Ek het ’n grafiese werk van haar in my kombuis en kon nie anders as om die mantra van “ondersteun plaaslik” uit te oefen nie. Met haar speelse aanslag, voeg Zinelda ekstra humor tot die boek: rooi hoëhakskoene vir bromvoëls wat op hul tone loop, brille vir die hamerkophaai en ’n karategordel vir ’n skoppende soort padda! Ek het vooraf van haar aanvanklike sketse gesien en was toe reeds verstom oor haar ligte aanslag vir die voorblad en die agt soek-kleurpanele agterin. Dit skram beslis weg van ernstige biologieboeksketse. Silhoeëtte in die teks dra by tot die geheel.

Hoe doen jy self navorsing om agter te kom watter tipe illustrasies kinders van hou?

RS: Nee, ek vertrou my intuïsie – en die onverbiddelike goeie oordeel van my uitgewer Nandi Lessing-Venter.

ED: Ek’s baie bly ek was nie in beheer daarvan nie! Dit sou hopeloos uitgekom het!

Indien jy enige illustreerder in die wêreld kon kies, wie sou jy kies?

RS: Die Poolse kinderboekillustreerders lewer fabelagtige werk. Die Vlaamse illustreerders ook. Maar as ek moet kies? Die een met wie ek nou werk.

ED: Ek sal beslis nie omgee om weer met Zinelda saam te werk nie! Sy het so ’n aanvoeling vir plante en diere.

Ons het nou onlangs gestem. Dink julle dat ons land se politieke partye genoeg doen vir die natuur se welstand? Oftewel, wat is vir julle van die belangrikste goed waarna politici moet kyk as dit kom by natuurbewaring?

RS: (Ag, aarde – die politici doen niks.) Jinne, dis nou ’n klip-in-die-bos-vraag! Los belangrike werk tog maar asseblief vir diegene wat nie dink hulle is belangrik nie; los dit vir regte mense met regte kennis en regte deernis en ’n onverdrote passie vir die natuur. Nié vir daai klomp napraters wat salaris trek en niks doen nie.

ED: Ditto.

Hoe bemagtig julle kinders in jul boeke?

RS: Ek vertel stories.

ED: Ek gee detail oor die wêreld en die mense rondom hulle, deur die inligting lig te hou.

Riana, jou antagonis Tannie Chané is baie bang vir kakkerlakke. Ek het al gehoor dat mense bang is dat kakkerlakke sal vlieg en dalk dan in hulle sal vasvlieg. Doen hulle dit?

RS: Ja, hulle kan. Vlermuise nié.

Ek kry die idee dat Tannie Sannie nie kakkerlakke noodwendig doodmaak nie. Dink jy kinders word grootgemaak om te glo sekere goggas mag lewe, maar ander nie? Watter insekte sou jy self beslis doodmaak?

RS: Ek maak absoluut nie een gogga in my tuin of in my huis dood nie. Maar ek klap ’n muskiet dood!

Die woord kakkerlakke kom baie voor. Op bladsy 36 sê Tannie Chané “per toeval” die woord so – “kak … kakker … lakke”. Dink jy die leser en die kinders gaan lag wanneer hulle dit hardop lees? Veral as mens ’n pouse skep na die eerste drie letters. Hoe besluit jy op sulke snaaksighede?

RS: Dis nie die skrywer nie; dis ons taal wat so wonderlik is!

Riana, dink jy die boek sal kinders aanspoor om die mens se geneigdheid te bevraagteken om die natuur te oorheers?

RS: Ek hoop uit die diepte van my hart dat dit sal gebeur!

Riana, is daar ’n styl van illustrasie waarvan jy glad nie hou nie?

RS: Ek hou beslis nie van ’n romantiese, geïdealiseerde styl nie ... daardie dromerige, pienkerige feetjies en grootoog-diertjies met traantjies. Al my karaktertjies is bietjie “lelik” – hulle kan skewebek trek; hulle het sproete en groen hare; een het skeel ogies en die ander een is bietjie plomp ... beslis nie airy fairy nie!

Engela, ek lees tans jou boek in Engels. Daar is taamlik cheeky woorde in jou lekkerleesboek. Soms is dit slang, informele taal (colloquial/omgangstaal), soos barf of baby’s bum, en ander is wetenskaplik, soos anus. Wat is jou maatstaf vir die tipe taal wat kinders sal geniet?

ED: Anus, die amptelike, regte naam vir “daardie” gedeelte van ’n mens se lyf, is die amptelike naam, en vir my veel mooier as byvoorbeeld gat. Ek vind dit altyd snaaks as mense verkleinwoorde of versagtende (en dikwels werklik bisarre!) woorde vir iets opmaak wat eintlik reeds sy eie woord het. Dit gesê, is my gebruik van verskillende sinonieme regdeur die boek vir woorde soos boude en mis doelbewus, om sodoende kinders se woordeskat uit te brei. En mens weet ook mos kinders gaan skalks glimlag as hulle sekere woorde lees! Hopelik laat dit hulle aanhou lees op soek na nog!

Engela, voorgeskrewe boeke by skole is dikwels bietjie “preuts” na my mening. Hoe dink jy gaan onderwysers op jou boek reageer?

ED: Baie hang seker af van hoe preuts die onderwyser is! Jaomi Zeeman, ’n laerskoolonderwyseres, het die gesprek met my gelei by my onlangse boekbekendstelling by die Breytenbach Sentrum op Wellington. Sy het my gekomplimenteer met die taalgebruik en hoe dit juis kinders sal intrek in die teks, omdat dit gepas is vir wat hulle snaaks vind op hul ouderdom.

Engela, die kleur in jou boek kom heel agter voor. Om in kleur te druk is natuurlik baie duur. Is die min kleur ’n risiko vir jou ouderdom leser?

ED: Ek dink nie ouer laerskoolleerders verwag noodwendig meer kleur in hul leesboeke nie. Vir my was die agt kleurpanele agterin ’n bonus. Elke spesie het ’n nommer, en dan kan die leser dit rustig gaan soek – hetsy op die bladsye met seekreature of op die fynbos-, woud-, nag-, woestyn- of savannapanele.

Engela, jou boek het duidelik baie navorsing in. Het jou werk as joernalis hiermee gehelp? Of anders gestel, watter ratio van die inligting in jou boek het jy toevallig reeds gehad toe jy aan die idee vir die boek gedink het?

ED: Ja, ek is ’n wetenskapsjoernalis en skryf oor ander mense se navorsing. Van die spesies waaroor ek in O, goeiste skryf, is beslis ’n direkte uitvloeisel van stories wat ek voorheen reeds geskryf het, byvoorbeeld oor Carol Simon se bloedwurmnavorsing of John Midgley se vliegstudies. In die navorsing vir die boek het ek redelik baie verder gaan oplees en verder soek vir ander vreemde spesies.

Engela, die inligting in jou boek is so uiteenlopend. Kinders kan dit gebruik vir skooltake. Kinders wat slegs van insekte hou, kan hul op die insekte toespits, of slegs op seelewe, en so meer. Watter een belangrike les of indruk sou jy graag wou oordra?

ED: Dat die detail in die natuur verstommend is.

Engela, jy moes ’n slim titel vir elke diertjie en goggatjie se storie uitdink. Vertel ons van die proses. Dink jy maklik opskrifte uit?

ED: Opskrifte uitdink is deel van my werk as joernalis. Soms is dit maklik, soms is dit moeiliker!

Engela, hoe het jy die balans tussen opvoeding (feite) en vermaak behou?

ED: Feite is vir my die belangrikste. Dit gesê, ek gebruik humor, vermaak, goeie metafore en beskrywings om die feite vir lesers makliker verteerbaar te maak, sodat dit vir hulle lekkerder en makliker is om te lees as byvoorbeeld ’n swaar biologieboek.

Het jul klankborde; familie of vriende wat luister hoe jy skryf en dan raad gee?

ED: Ek vertel dikwels vir my mense oor die stories waaraan ek werk. So aan die vertel kry ek dikwels meer duidelikheid oor hoe om ’n onderwerp of storie kort en kragtig aan te bied, en wat die interessante aspekte rondom dit is.

Engela, jou boek sê agterop duidelik dat dit vir kinders wat lief is vir die natuur, ideaal is. Hoe beoog jy om die kinders wat nie juis belangstel nie, ook lus te maak om dit te lees?

ED: Sommige kinders sal dalk die boek lees juis omdat hulle hoor daar’s grillerige dinge daarin! Ek hoop dat oumas en oupas, ma’s en pa’s sal die boek vir hulle koop, en dat die jong lesers in die proses agterkom watter verbysterende detail daar in die natuur is. Ek hoop lesers sal die spesies verder in boeke en op die internet gaan opsoek en self verder daaroor leer. Dis een van die redes hoekom ek die wetenskaplike spesiename ingesluit het – sodat hulle makliker kan google.

Engela, watter deel van jou boek was die moeilikste om te skryf, en wat was die maklikste?

ED: Die moeilikste was om te sorg dat die meeste spesies se brokkies rondom 200 woorde bly, wat ’n lekker lengte is om in skooltekste te gebruik. Die maklikste? Om oorgenoeg spesies te kon kry om die boek vol te maak.

Wat is jul mening? Is feite meer interessant as fiksie, of andersom?

RS: Feite is wonderlik; fiksie ook.

ED: Soms is feite vreemder as fiksie. Neem byvoorbeeld die paddavissiegarnaal. Dit lyk soos ’n ruimtemonstertjie gekruis met ’n groterige paddavissie wat kop eerste in ’n plat krapdop rondswem, en het ’n gestreepte stert en 70 woelige swempootjies.

Is daar ’n spesifieke persoon uit jul kinderjare wat jul humorsin beïnvloed het? Of dalk iemand wat dit meer onlangs geslyp of verfyn het?

ED: Ek dink mens leer ’n groot deel van jou humorsin by jou familie.

Het jul ’n staaltjie oor ’n leser wat iets uit jul boeke geput het wat jul nie self bewustelik geskep of bedoel het nie?

ED: ’n Dramajuffrou van Wellington Alma Nel het haar leerders uitgedaag om ’n monoloog te skryf gebaseer op een van die stories uit Uitvinders. Ek het vooraf gedink die stories kan goed werk as byvoorbeeld begripstoetse of as bron vir mondelinge, maar ek’t nooit gedink dit kon ’n dramateks word nie! By O, goeiste en Creepy se bekendstelling in November in Wellington het Stinkie die Nar (aka Sjaka S Septembir) brokkies uit die boeke ingewerk in ’n storielyn wat die kinders én grootmense laat skater het.

Riana, het jy al ooit ’n karakter geskryf wat jou verras het? Engela, watter verrassings was daar vir jou in die skryf van jou boek?

RS: O, ja! ’n Karaktertjie ontwikkel sy of haar eie lewe, hoor. Christelientjie, die feetjie met Downsindroom, is maar een voorbeeld; sy het haar eie persoonlikheid kom afdruk op die storie. Op ’n dierbare, sjarmante manier.

ED: Ek het self soveel geleer in die proses! Die natuur is vreemd en raar! Daar’s bloedsuiers wat net in die anus van ’n seekoei wil bly, en vlieë wat hul eiers net in termietpoef lê. Anemone is verbysterend aggressief en Suid-Afrika het die meeste soorte langtongvlieë ter wêreld. Van die laaste feite waarop ek afgekom het, was dat mense cerise-pienk en oranje kolle op ’n springhaas se lyf sien as jy ’n UV-lig daarop skyn.

Wat kan volwassenes by kinders leer?

RS: ALLES van verwondering en eerlikheid. En ware vreugde.

ED: Ditto.

Gee ’n rowwe idee van hoe lank dit geneem het om hierdie boek te skryf.

RS: Enigiets van een nag met vier uur se stilte, of weke lank ...

ED: Die idee kom al minstens drie jaar lank en ek het stuk-stuk daaraan geskryf. Die vertaling is daarna gedoen.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top