Kaaps in fokus-referaat: Ekonomiese bemagtiging in Kaaps – ’n geletterdheidsperspektief

  • 0

Ekonomie word in die HAT as volg omskryf: “Wetenskap wat hom toelê op ’n studie van die organisasie wat in die mens se stoflike behoeftes voorsien.”

As ons dus praat van ekonomiese bemagtiging in Kaaps vanuit ’n geletterdheidsperspektief, moet daar verwys kan word na hoe die taal, in hierdie geval Kaaps, in die stoflike behoeftes van sy sprekers kan voorsien.

In Suid-Afrika is daar ’n voortdurende voortsetting van ’n taalgesprek, insluitend die sosiale betekenis van die taal, in hierdie geval Afrikaans, of dan vir ons doeleindes, Kaapse Afrikaans. Ek sien hierdie simposium as ’n bydrae tot hierdie Suid-Afrikaanse debat, gegee die “nieamptelike” status van Kaaps asook die posisie van Kaaps in die breër debat en in hoofstroom-Afrikaans. Daar word verwys na die feit dat Kaaps eintlik as ’n voedingsbron van Standaardafrikaans moet dien en as sulks erken moet word.

Kaapse Afrikaans: ’n Sosiolinguistiese profiel

Dit is nie die bedoeling om Kaaps taalkundig te beskryf nie, maar tog is dit nodig vir taalbeplanners om kennis te neem van enkele eienskappe van Kaaps. Daar word verwys na  informele variëteite van Standaardafrikaans, sowel as sosiaal-geografiese variëteite, in hierdie geval Kaapse Afrikaans. Dis onseker hoeveel sprekers Kaapse Afrikaans het. Volgens ’n ruwe skatting is dit dalk 5% van die Kaapse bruin bevolking. Ten spyte van die klein getalle en die klein taalverskille verskil Standaardafrikaans en Kaaps sosiopolities aansienlik.

Die konflik tussen Standaardafrikaans en Kaaps is nogal ernstig en moet deur taalbeplanners in ag geneem word. ’n Aspek van belang is die sosiolinguistiese status van Afrikaans en hoe die taal deur verskillende groepe bejeën word. Hierdie aspek is ietwat problematies in die geval van Afrikaans, omdat die taal in sommige gemeenskappe ’n hoë aansien het en in ander weer sterk gestigmatiseer en gepolitiseerd is.

Ekonomiese basis van Kaaps

Die ekonomiese basis van Kaaps is sterk, alhoewel daar ’n persepsie is dat Kaaps geen ekonomiese waarde het nie. Dit beskik egter oor die potensiaal om ’n ekonomiese mag in die Wes-Kaap te word waarmee rekening gehou moet word. ’n Groot deel van die sprekers van Kaaps is arm werkersklasmense. Daar is egter ’n paar moontlikhede wat in die geval van Kaaps in gedagte gehou moet word, omdat dit ’n bepaalde teikenmark het. Kaaps begin al hoe meer ’n rol speel in die media, waarvan ’n paar voorbeelde genoem word.

Die radio

Gemeenskapsradiostasies in die groter Skiereiland gebruik Kaaps  vrylik in hul daaglikse uitsendings. Radio Atlantis, met ’n luisteraartal van 90 000, is ’n goeie voorbeeld hiervan. Hierdie radiostasie maak geen geheim daarvan dat hulle in Kaaps uitsaai nie en dat hul heel gemaklik daarmee is. ’n Nuwe gemeenskapsradiostasie is ook onlangs in die suidelike voorstede gestig: Radio Kaapse Punt. Die programinhoud is 60% Afrikaaps en die res sal aan isiXhosa en Engels gewy word. Plaaslike advertensies word  uitgesaai en word op ’n keurige wyse in Kaaps gedoen.

Bush Radio het op ’n stadium ’n afname in hul luisteraartal getoon. Navorsing het bevind dat ’n groot persentasie van die luisteraars Kaaps as uitsaaitaal verkies. Nodeloos om te sê, het die getal luisteraars weer gestyg ná hul verandering van die taalinhoud van hul programme.

RSG is tot onlangs nog aangedryf deur die uitgediende geloof dat die hele Afrikaanse taalgemeenskap gedien word deur die vragte byna onafgebroke suiwer Afrikanergerigte diskussie teen die agtergrond van boeremusiek. Dit is egter verblydend om te sien dat RSG so getransformeer het om nou selfs Kaaps op ’n klein skaal te akkommodeer deur byvoorbeeld ’n program oor hip-hop, waar Simon Witbooi die program heel gemaklik en rustig in Kaaps aanbied. Tot  op datum het ek nog nie gehoor van ernstige besware teen die gebruik van Kaaps in sekere programme nie.

Die toegang van Kaaps op RSG word nog kwaai beperk. Dit is voorwaar aangenaam om Donderdagaande na Islam in fokus te luister. Kaaps word vrylik gebruik en is nie ’n steurnis op die oor van baie Afrikaanssprekers nie. Moontlik het die tyd aangebreek om ’n weeklikse program aan Kaaps af te staan – iets soos Kaaps in fokus – en op hierdie wyse mede-Afrikaanssprekers bewus te maak van die gebruik van Kaaps. Ek is seker dat dit sal meewerk om die stigma rondom die gebruik van Kaaps af te breek. Dit is ook interessant om te merk dat RSG spog met ’n skerp styging in hul luisteraartal oor die afgelope paar jaar.

Gedrukte media

Die Burger en Beeld is gevestigde dagblaaie met tradisionele lesers.  Hul nuus is egter grootliks wit-georiënteerd en, aansluitend hierby, so ook dié van ’n tydskrif soos Huisgenoot. Die verskyning van poniekoerante soos die Son en die Daily Voice het ’n nuwe leser geskep wat in Kaaps van gebeure in en nuus uit hul gemeenskappe lees. Dit het ’n kultuur van lees hervestig, en die Son is ’n dagblad wat ’n reusesukses is. Mense kan identifiseer met die taalgebruik, want hulle verstaan die inhoud daarvan. Dit is interessant om te merk dat die Son nie in Gauteng ’n sukses was nie. 

Kuier is ’n tydskrif wat ook sekere artikels in ’n sekere mate in Kaaps publiseer. Hul leserstal het die afgelope jaar met meer as 300% gegroei.

Musiek

Sedert die tagtigerjare is daar gereeld opnames van liedjies in Kaaps gemaak. Hierdie liedjies het egter nooit enige lugtyd op die Afrikaanse radiostasies geniet nie,  maar was baie gewild onder die mense van die Kaapse Vlakte. Hier dink ’n mens onwillekeurig aan Al Etto en Rico White, wat bekend gestaan het as Groove Station.

Ek glo van u sal nog “Kom dans vanaand met my”, “Fiela se kind” en “Sak en pak” uit Distrik 6 onthou. Kaaps is groot van toeka se tyd. Deesdae lees ek advertensies in Afrikaanse koerante van musiekkonserte wat aangebied word onder die vaandel van “Afrikaans is groot”, maar ongelukkig is die kunstenaars slegs wit Afrikaanse sangers, en daar is geen verwysing na kunstenaars soos Emo Adams en ander nie. Afrikaans kan slegs groot wees as daar ’n plek vir al die variëteite is, soos by hierdie geleentheid geskep kon word. Miskien moet dit verander word na “Afrikaans is duidelik”. Die Rockets, ’n bekende musiekgroep in die Kaap, het onlangs hul eerste CD in Afrikaans uitgebring. Ek hoor van die liedjies op RSG, en dis baie gewild. Jack Parow en Die Antwoord is bekende rymkletsers wat groot sukses behaal in Kaaps.

Jaarliks word groot Maleierkoorkompetisies op die Vlakte gehou. Daar word in keurige Afrikaans en Kaaps en selfs Nederlands gesing. Weer sien ons dat daar geen prominensie op nasionale radio of TV aan hierdie kultuur gegee word nie. Stigmatisering kan slegs afgebreek word as daar groter waardigheid aan Kaaps verleen word.

Advertensiebedryf

Die advertensiebedryf het vinnig die ekonomiese waarde van Kaaps besef, en die advertering van sekere produkte in Kaaps is oral op die Kaapse Vlakte te sien. “Maakie jol vol” is die advertensie van ’n bekende koeldrankmaatskappy. Jy sien dit veral in die Ravensmead-, Elsiesrivier- en Michell’s Plain gebied. Op Bellville-stasie lees die advertensie van mayonnaise: “Ek smaak ’it stukkend.” Selfs RSG is op ’n stadium geadverteer as  “Jou ma se stasie” en “Almal se pêl”.

Amoré Bekker van RSG-faam het ’n resepteboek uitgegee waarin sommige opregte Kaapse resepte gepubliseer is. Dis jammer sy kon dit nie in die oorspronklike Kaaps publiseer soos die luisteraars dit aan haar deurgegee het nie.

Die advertering van produkte in die informele mark moet ook genoem word. Ry deur die woonbuurte en u sal verbaas wees oor hoe dinge bemark word, vanaf groente tot snoek. Ek het onlangs ’n advertensie gesien van leergordels wat as “leerbelde” geadverteer word.

Drama

Kanna hy kô hys toe is die grootste drama ooit in Afrikaans geskryf. Hein het gister verwys na Small, wat prominensie aan Kaaps gegee het. Ek dink aan die Cape Flats Players, Peter Braaf en ander wat gereeld dramas geskryf deur Melvin Whitebooi opgevoer het en nooit die erkenning daarvoor gekry het wat hulle verdien het nie. Joe Barber is ’n ander voorbeeld van ’n suksesvolle drama wat in Kaaps opgevoer word. Some like it vrot, met Mark Lottering en Christo Davids in die hoofrolle, is onlangs in die Baxter-teater opgevoer en was net so suksesvol. Daar is ’n geweldige bewustheid en toename in belangstelling in produksies wat in Kaaps opgevoer word. Waarom?

Die sprekers van Kaaps kan hulle vereenselwig en inleef in die rolle soos deur die verskillende karakters uitgebeeld, want dit vorm deel van hul ervaringswêreld.

Kaaps en die onderwys

In 1981 is voogestel dat Kaapse Afrikaans in bepaalde skole as voertaal vir nieamptelike taalvakke gebruik word en dat Standaardafrikaans in die taalklasse onderrig word (RGN 1981:41). Hierdie voorstel is egter nie aanvaar nie.

Navorsing het ook bewys dat daar ’n verband is tussen taal en swak skolastiese prestasie. Die debat rondom die invloed van taal op skolastiese prestasie is tans besig om uit te kring. Daar word verwys na die konflik tussen skooltaal en huistaal, en daar word voorgestel dat Kaaps as onderwystaal in laerskole ingevoer behoort te word. Leerders word op skool gekniehalter omdat Standaardafrikaans as norm geld. Vrye teuels behoort gegee te word aan die taal soos die mense dit beleef sodat dit kan ontwikkel en in die toekoms gerespekteer kan word. Erkenning behoort dus aan Kaaps gegee te word om aan leerders die geleentheid te bied om hulle in Kaaps uit te druk. Dit sal taalvervreemding minimaliseer, leerders se selfbeeld ontwikkel en die kwaliteit van onderwys verhoog.

Ten spyte van hierdie voordele is daar ook ’n bewustheid van die beperkinge van Kaaps as onderrigtaal. Vanweë die ingesteldheid van die gemeenskap teenoor Kaaps sal dit die leerders se geleenthede ten opsigte van volle toegang tot die sosiale en beroepswêreld beperk.

’n Ander aspek wat ook in gedagte gehou moet word, is dat leerders onderpresteer omdat – só word geteoretiseer – die leerders  daarvan oortuig is dat hulle gemeet word aan aan die “skooltaalnorme” en dat hulle “verkeerd praat” – die leerders is dus linguisties onseker.

Hierdie linguistiese onsekerheid hou implikasies in wat as ’n negatiewe selfbeeld beskryf kan word. Dit kan ook gedeeltelik toegeskryf word aan die onderwyser se eksplisiete afkeuring van die manier waarop leerders praat en waardeur die indruk by hierdie leerders gewek word dat hulle kognitief en kultureel agterlik is.

Hierdie negatiewe selfbeeld en linguistiese onsekerheid word versterk deurdat die skoolkurrikula kultuurinhoude, norme en waardes uitdra wat verskil van dié van die buiteskoolse kultuur van die kinders wat binne die akademiese milieu onderpresteer. Die gebruik van Standaardafrikaans as skooltaal in gemeenskappe waar Kaaps gebruik word, het in hierdie gemeenskappe ’n negatiewe konnotasie. Standaardafrikaans verteenwoordig dus ’n kulturele wêreld wat vir hierdie kinders vreemd is. Die gevolg is dat hulle nie vrylik deelneem aan klasbesprekings nie, omdat die medium van hierdie besprekings vir hulle gestigmatiseerd is en hulle bang is dat hulle “verkeerd” sal praat.

Kaaps en taaleenheid

Het die tyd nie dalk aangebreek vir eenheid tussen Standaardafrikaans en Kaaps nie? Waarom kan Kaapse variante van  Standaardafrikaans nie op grond van ’n beginsel van taaleenheid in woordeboeke opgeneem word nie?  Ek het onlangs na die program Monitor geluister, waar daar elke Vrydag ’n nuwe woord voorgestel word om in die HAT opgeneem te word. Groot was my verbasing toe die woord “poenankies” genoem word as die sogenaamde nuwe woord. Dit is ’n woord wat in die algemene omgangstaal byna  daagliks gebruik word. Hoeveel van u was nie ook al poenankies toe u ’n baba of tjokkertjie was nie? Só bestaan daar ’n magdom woorde en uitdrukkings in Kaaps wat daagliks gebruik word en in die HAT/WAT opgeneem kan word.

Die verskille tussen Standaardafrikaans en byvoorbeeld Kaaps is onnodig groot. Dit kan wel verklein word. Geen taal ter wêreld word op ’n eenvormige manier deur sy sprekers geskryf soos dit gepraat word nie. As daar meer van die kenmerke van  Kaaps in Standaardafrikaans opgeneem word, sal die basis van Standaardafrikaans verbreed word en die taalgaping vernou word.

’n Nuwe, gedemokratiseerde Afrikaans sal die resultaat wees.

Ten slotte

Hierdie simposium het die fokus weereens op Kaaps geplaas. Mense kyk met nuwe oë na die gebruik van Kaaps as ’n moontlike ekonomiese mag en ook as ’n taal wat ’n wesentlike bydrae kan lewer tot die ekonomiese bemagtiging van ’n groot aantal Afrikaanssprekers wat nie die geleenthede gegun word om tot hul volle potensiaal te ontwikkel nie. Ons kan met reg sê dat Kaapse Afrikaans die siel van Afrikaans is. In isiXhosa word Afrikaans as “isiBulu” beskryf – “die wit man se taal”. Afrikaans is nie isiBulu nie. Laat ons die waardigheid van die sprekers van Kaaps erken en op hierdie wyse stereotipes afbreek.

Ek dank u.

Danie van Wyk

Uitvoerende Hoof: SBA

Klik hier vir foto's van die simposium.
Klik hier om Gunther Pakendorf se verslag oor die simposium te lees.
Klik hier om Dmitri Jegels se abstrak te lees.
Klik hier om  Michael le Cordeur se abstrak te lees.
Klik hier om Ernst Kotzé se abstrak te lees.
Klik hier om Christo van Rensburg se abstrak te lees.
Klik hier om Hein Willemse se abstrak te lees.
Klik hier om Anastasia de Vries se abstrak te lees.
Klik hier om ’n onderhoud met Ria Olivier te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top