Abstrak – Kaaps in fokus-simposium: Verrekening van variëteite in die onderwys

  • 0

Enige lewende taal word gekenmerk deur die feit dat die taal in sy struktuur op verskillende grammatiese vlakke variasie vertoon (Van Rensburg 1997:11). Oor die begrip standaardtaal, en veral oor Standaardafrikaans, is daar al baie gedebatteer. By sommige deelnemers aan die debat is dit duidelik dat dit ’n emosionele saak is wat hervorming benodig. Volgens Deumert (2004:9) was die standaardisering van die taal ’n strategiese en beplande herskikking van die Kaaps-Hollandse taalvorme en variëteite. Roberge (1990, 1992) is van mening dat die geskiedenis van Afrikaans ten nouste verband hou met Afrikaner-nasionalisme en die ontstaan van die apartheidsideologie en sou die vroeë pogings van standaardisering die basis lê om Afrikaans as witmanstaal te vestig, en dus deel te maak van die karakter van die Afrikaner se identiteit. Daarteenoor is die ander variëteite van Afrikaans afgemaak as substandaard.

Volgens Van Rensburg (1997:17) was dit juis een van die redes waarom veral sprekers van Kaapse Afrikaans hulle aan die einde van die tagtigerjare van die 20ste eeu sterk uitgelaat het oor die verhouding tussen die soort Afrikaans wat hulle gepraat het en die Standaardafrikaans wat hulle op skool moes leer (Esterhuyse 1986). Van hul besware was dat voorgeskrewe werke ’n ander leefwêreld voorstel as dit waaraan kinders met ’n bepaalde variëteit van Afrikaans bekend was. Die debat herinner sterk aan die huidige debat oor moedertaalonderrig. Ironies is dieselfde mense wat in die vorige eeu ‘n onreg gepleeg het teenoor mede-Afrikaanssprekendes wat Kaaps gepraat het, nou aan die ontvangkant: die skoen is nou aan die ander voet. Suid-Afrikaners wat ’n Afrikataal (insluitend Afrikaans) by die huis praat, word in die skool met Engels gekonfronteer. Dit is die debat wat tans in die Afrikaanse pers gevoer word. Maar die media swyg oor die feit dat duisende Afrikaanssprekende leerders wat met Kaapse Afrikaans grootgeword het, al hul skoolwerk in ’n ander soort Afrikaans moet doen. Die gevolg is die lae slaagsyfer, en lae vlakke van geletterdheid en gesyferdheid, waarvan ons so dikwels in die media lees. Maar hoe los ons die probleem op? In hierdie referaat bekyk ek hierdie probleem en is daar ‘n robuuste, maar eerlike, soeke na antwoorde.

Lees die volledige program van die Kaaps in fokus-simposium.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top