Jy’s seker nie ernstig nie

  • 2

Hierdie lesing (sien die video) is op Saterdag 21 September 2024 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.

Jy’s seker nie ernstig nie

Kom ek spring weg met ’n ongemaklike bekentenis: Hierdie artikel is hoofsaaklik op ’n volwasse lesersgehoor gemik, en ek hou nie juis daarvan om vir volwassenes te skryf nie.

Hoekom nie?

Wel, dis nie naastenby soveel pret of soveel van ’n uitdaging nie.

Jammer.

Die ding is, die meeste volwassenes wat ek ken, is maar redelik vervelig. Hulle doen die hele dag lank vervelige werk, is vasgevang in ’n vervelige roetine, en doen vervelige dinge soos belasting betaal, in toue staan, vorms invul en kaas rasper, en gevolglik is hulle heel tevrede daarmee as jy vir hulle oor vervelige dinge skryf, op ’n vervelige manier. Die meeste volwassenes wat ek ken, is redelik ernstig en kan gesprekke voer oor dinge soos die wêreldpolitiek, inflasie, die prys van ruolie en die onbetroubaarheid van die weer-app, en verwag daarom dikwels van jou om ook redelik ernstig te wees wanneer jy skryf.

So, op ’n ernstiger noot, dalk is my ongemak ten diepste gewortel in die wese van die genre waarin ek wél graag skryf, naamlik kinder- en jeugliteratuur. Toe ek destyds in 2001 as derdejaarstudent my eerste boek gepubliseer het, het een van my letterkundedosente, vir wie ek desondanks steeds baie respek het, verbaas so min of meer die volgende gevra: “Jy’s seker nie ernstig nie. Is dít wat jy dan nou gaan skryf? Hoekom? Gaan jy nou Mammon dien?”

Jy’s seker nie ernstig nie.

Dit was aanvanklik ’n teregwysing wat jare lank by my gespook het, selfs terwyl ek besig was om my voete algaande in die wêreld van die kinder- en jeugboek te vind en dit al hoe meer geniet het. (Ek het natuurlik ook gou ná my eerste tantièmetjek uitgevind daar bestaan véél beter en makliker maniere om Mammon te dien indien dit was wat ek beoog het – maar dit daar gelaat.)

Daardie teregwysing het iewers in my agterkop vinger geswaai elke keer as ek gevra is om ’n volwasse gehoor toe te spreek of my stem op ’n, kom ons sê meer akademiese (lees: ernstige) platform te laat hoor.

Jy’s seker nie ernstig nie.

Dit is een van die redes waarom ek oor die jare al so dikwels nee gesê het vir uitnodigings om by kunstefeeste of skryfskole op te tree of lesings aan te bied. Want ek is nie ernstig genoeg nie, en dit wat ek dóén, is nie ernstig genoeg nie.

In Afrikaans, meer as in baie ander tale voel dit my, word kinder- en jeugliteratuur nie besonder ernstig opgeneem nie. En ongelukkig toenemend so in hierdie dae van koerante wat verdwyn en resensieruimte wat krimp.

Twee dekades gelede, toe ek nog ’n (baie ernstige) student van die letterkunde was, kon jy by Naln in Bloemfontein ’n stewige stapeltjie resensies oor byna enige Afrikaanse kinder- of jeugboek aanvra, genoeg om ’n klein resepsiestudie daarvan te maak of ten minste ’n skaflike derdejaarwerkstuk daaroor in te lewer.

Deesdae verskyn daar, op enkele uitsonderings na, bloedweinig resensies van Afrikaanse kinder- en jeugboeke in die hoofstroommedia. Waar kenners op die gebied van die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur, soos Thomas van der Walt, Betsie van der Westhuizen en wyle Maritha Snyman, vroeër jare nog besprekings van kinder- en jeugboeke gedoen het – dééglike besprekings, waarin hulle ’n boek se meriete kon beoordeel én iets sê oor die plek daarvan binne die groter landskap van die plaaslike en internasionale kinderboektoneel – volstaan boekeblaaie, indien daar wel ’n bespreking van ’n kinder- of jeugboek geplaas word, deesdae alte dikwels met kort lofprysings wat min of meer net sê hoe oulikies alles is en haai-die-prentjies-is-pragtig en ai-die-kindertjies-gaan-dit-nou-só-geniet en ons-het-darem-oulike-ou-boekies-in-Afrikaans. As jy kinders, kleinkinders of peetkinders het, of ten minste net self op ’n tyd ’n kind was, is jy skynbaar goed genoeg gekwalifiseer om ’n boek in dié genre met gesag te resenseer.

Ek het die afgelope paar jaar vir lief begin neem daarmee dat van my boeke behoorlik geresenseer word eers wanneer dit in Nederlands, Engels of Italiaans (dankie, Google Translate) verskyn.

Dit is ’n jammerte, want verstaan my mooi, oor die belangrikheid van die kinder- en jeugliteratuur het ek oor die jare wel baie, baie ernstig geword. Om vir kinders te skryf is ’n plesier en ’n voorreg, maar ook ’n taak wat ek met die grootste erns en respek bejeën.

Die heel belangrikste ding wat ek dalk oor die jare by my uitgewer en mentor, Miemie du Plessis, geleer het, is dat jy altyd, áltyd, altyd jou (jong) leser moet respekteer, en dit doen jy deur in die eerste plek jou storie en karakters te respekteer.

Miemie is die onbesonge heldin wat die Afrikaanse kinder- en jeugboek uit sy destyds prekerige pot-vol-winter tot nuwe, lesergerigte hoogtes gevoer het en ’n leesrevolusie in die kleine bewerkstellig het deur boeke en skrywers na kinders te neem. Vandaar my praatjies by ’n magdom skole en voor tienduisende kinders oor die jare.

Ek was gelukkig genoeg om ook jare lank as kollega saam met Miemie by ’n uitgewery te werk, en by haar het ek geleer om te vra: “Is hierdie storie eerlik geskryf? Is dit regtig iets wat tot jong lesers se leef-, taal- en ervaringswêreld spreek? Is dit goed genoeg geskryf om kinders se aandag te verdien?”

Want jy skryf nie vir kinders omdat dit “maklik” of “oulik” is nie. As jy werklik opreg is in wat jy skryf, skryf jy vir kinders omdat jy besef daar is iets ongelooflik spesiaal en kosbaar en delikaat en skrikwekkend en onbevange en verbeeldingryk aan die leef- en ervaringswêreld van jongmense. Jy skryf vir kinders omdat jy die taal van kindwees waardeer en wil verken. Jy skryf vir kinders omdat jy altyd, iewers, op ’n manier nog in gesprek tree met die jong leser, die kind, die tiener wat jy self was.

En dít is ernstig, en dáároor is ek doodernstig.

Wanneer ek voor ’n saal vol kinders staan, neem ek eweneens my taak baie ernstig op. Ek is besig om jong lesers aan boeke bekend te stel, in ’n land waar bykans 80% van graad 4-leerders nie behoorlik met begrip kan lees nie (aldus die Progress in International Literacy Study [PIRLS] wat telkens skokkende statistiek oor ons land se geletterdheidsvlakke oplewer).1 Ek is besig om kinders te probeer oorreed dat daar iets tussen die bladsye van ’n boek wag wat hul kosbare (en beperkte!) aandag en tyd verdien midde-in ’n wêreld van verbysterende, verslawende, tydvretende tegnologie, oorvol sillabusse en kitsvermaak-op-aanvraag. Ek is besig om kinders te probeer oortuig dat ’n boek nie net skoolwerk is nie, maar dat dit iets is wat jou wêreld groter kan maak – groter as die grense van jou skool of dorp of stad of land; groter as jou vrese of jou verbeelding; groter as die mense wat jy ken of die liggaam waarin jy gebore is; groter as die tydperk waarin jy lewe of die idees waarmee jy in jou grootwordjare stadigaan vasgesement word.

Wanneer ek voor ’n saal vol kinders staan, praat ek nie sommer met enige gehoor nie – ek praat met die volgende generasie lesers, op wie ons enigste hoop op die voortbestaan van die Afrikaanse boek rus. Die boeke wat hulle as kinders lees, en óf hulle as kinders lees, sal bepaal of hulle eendag lesers gaan wees of lesers gaan bly, en hoe ons boekbedryf se toekoms in dié land sal lyk.

Dit is waarom dit so belangrik is dat ons nie hierdie mark geringskat nie. Dit help nie ons vryf net heeltyd oor hierdie outjie se kop en vertel vir hom hoe oulik hy is nie. Die Afrikaanse kinder- en jeugboek verdien om ernstig opgeneem te word; om op eie meriete en met kennis en begrip van sy eie standaarde, uitdagings, norme en eise beoordeel en gekritiseer en bestudeer en bespreek te word.

En wie dít nie ernstig opneem nie, is nie ernstig oor die toekoms van hierdie taal en sy letterkunde nie. Dit is ’n genre wat verdien om nie net in die kollig te wees wanneer iemand ’n omstrede uitlating daaroor maak of ’n boek met ’n sensasionele tema die lig sien nie.

  • Hoe lyk die gehalte van ons Afrikaanse kinder- en jeugboeke deesdae?
  • Kan ons meeding met die oorsese mark?
  • Wat maak ons Afrikaanse kinderboeke uniek?
  • Ontwikkel ons genoeg nuwe, diverse stemme in dié mark?
  • Wat is die spesifieke eise van ons Suid-Afrikaanse kinderboekmark, gegewe ons unieke uitdagings, en hoe maak ons plaaslike boeke daarvoor voorsiening?

Vra iemand nog hierdie vrae?

Bestaan daar nog iets soos behoorlike, akademiese, kritiese gesprekvoering oor kinder- en jeugboeke? Is iemand bereid om die keiser kaal te noem wanneer daar werklik vrot publikasies in die genre verskyn?

En dit bring my terug by daardie woorde:

Jy’s seker nie ernstig nie.

Algaande, oor meer as twee dekades heen, met die skryf van bykans 300 boeke vir kinders en jongmense, het daardie woorde in my kop verander – van ’n teregwysing in ’n soort bevryding.

Jy’s seker nie ernstig nie.

Ja, ek is, soos ek reeds probeer verduidelik het.

En nee, ek is nie.

Ek is nie ernstig nie, en ná baie jare voel dit eindelik of ek nie meer verskoning hoef te vra daarvoor nie

As jy kyk na van die titels van boeke wat ek oor die jare gepubliseer het, is dit trouens redelik duidelik dat my aanslag selde vreeslik ernstig was:

  • My ouma is ’n rock-ster
  • Wiskunde gee my maagpyn
  • Moenie hierdie boek eet nie!
  • Professor Fungus en die skrikwekkende Snotzilla
  • Allergies vir skool
  • Wurms met tamatiesous
  • Ek dink ek het ’n eier gelê!

’n Belangrike, bevrydende ding wat die kinder- en jeugliteratuur my geleer het, is om myself nie te ernstig op te neem nie. As skrywer van boeke vir jongmense het ek myself jare gelede reeds ’n lisensie gegee om soveel pret as moontlik te hê, en basta met wat ander mense daarvan dink. Daar’s net een mening wat tel, en dit is die mening van die lesers vir wie ek skryf. My enigste plig is teenoor die karakters oor wie ek skryf, die storie wat ek vertel en die kinders vir wie ek skryf.

Wanneer ek skryf, skryf ek vir die kind wat ek self was, wat spookstories verslind het en kon skaterlag vir lawwe grappies en vir rympies oor Oupa-en-Ouma-sit-op-die-stoep. Ek skryf vir die tiener wat ek self was, wat op ’n goeie dag vir boomklim hoog in die takke van ’n groot ou bloekom gaan skuiling soek het as die uitdagings van ’n probleem-ouerhuis te veel geword het, of wat gevoel het die wêreld stort in duie as die lewe suurlemoene uitdeel en jou beste pel jou soort-van-meisie afvry. 

Vergun my ’n staaltjie.

Tydens ’n teepouse by ’n baie ernstige geleentheid bevind ek my op ’n keer in ’n baie ernstige gesprek saam met ’n baie ernstige akademikus en ’n baie ernstige digter.

“Watter enkele boek het die grootste invloed op jou as leser en skrywer gehad?” vra een van hulle my (in ’n baie ernstige stemtoon, uiteraard).

“Stephen King se IT,” antwoord ek.

En in die baie ongemaklike stilte wat volg, waarin hulle beleefd hul baie ernstige toebroodjies kou en aan hul tee teug, wens ek daai einste Pennywise die nar wil met rooi ballon in die hand sy opwagting maak en my in ’n stormdrein van verleentheid aftrek, want ek kan aan hulle gesigte sien:

Jy. Is. Seker. Nie. Ernstig. Nie.

Maar ek was, en ek vra nie meer verskoning daarvoor nie.

Terloops, Stephen King is geen skrywer van kinderboeke nie, maar hy is ’n besonder skerp waarnemer van kinders en hul leefwêreld, en ek het ontsettend baie by hom geleer sedert ek as negejarige my eerste Stephen King-boek gelees het. (Ja, ja, ek was dáárdie soort negejarige en ek het dáárdie soort ouers gehad. By nabetragting was dit van die meer verantwoordelike dinge wat hulle tydens my kinderjare gedoen het.)

Daar het reeds 24 jaar verloop sedert my eerste kinderboek verskyn het, en ek dink – hóóp – ek het ’n paar dinge geleer: oor myself, oor wat ek skryf, oor die redes waarom ek skryf, en oor die mark vir wie ek skryf.

Ek skryf nie boeke om belangrike, belese, ernstige mense te beïndruk nie – nie as hulle buitendien uit die staanspoor neersien op die aard en wese van die genre wat ek my lewenstaak gemaak het nie.

Ek skryf boeke vir daai outjie wat pas leer lees; wat sukkel-sukkel die eerste klanke van ’n beginnerleesboek met sy aandagafleibare brein moet baasraak. Ek skryf om vir hom te sê: “Hei, dis oukei. Vergeet nou van jou ma en pa wat bekommerd oor jou skouer loer. Vergeet van jou juffrou en die simpel ou assessering. Kyk, hier’s twee karakters, Krok en Dil, en hulle is vrek snaaks, oukei? Ontspan! Dil dink ook boeke is vervelig, maar ek dink Krok gaan hom verkeerd bewys. Kyk, jy kan dit self lees, probeer net!”

Ek skryf vir die dogtertjie wat van perde hou of danslesse neem. Ek skryf om vir haar te sê: “Kyk, hier’s ’n hele reeks stories oor iemand net soos jy. Iemand wat partykeer probleme met maats het, wie se boeties haar partykeer teen die mure uitdryf, wat ’n bietjie by die skool geboelie word, maar wat slim planne kan maak. Iemand wat hou van pajamapartytjies en skoolkampe en markdae. Ek wed jou jy gaan pret hê terwyl jy dit lees.”

Ek skryf vir die eenkantkind wat wens sy kan deel van ’n normale gesin wees. Ek skryf om vir haar te sê: “Normaal? Hei, wat is normaal? Kyk, hier’s ’n storie oor ’n meisie wat na ’n tennisraket vernoem is. Ja, ernstig – ’n tennisraket! Haar naam is Wilson Fourie. Jis, grootmense doen soms vreemde goed. Oukei, maar luister ‘n bietjie hier: Sê nou maar Wilson ontmoet iemand wat selfs nog vreemder as sy self is … ’n meisie wat gebore is met ’n paar reuse vlerke? Ja, ernstig. Vlerke. Haar twee grootmaakma’s het haar as baba by ’n sirkus weggesmokkel en steek haar al jare lank vir die wêreld weg – maar ’n geheim soos daai kan jy tog nie vir ewig wegsteek nie. Kom ek vertel jou wat gebeur …” 

Ek skryf grappieboeke sodat kinders kan voel hoe dit voel om mekaar te laat skater of hul ouers teen die mure uit te dryf met iets wat uit ’n boek kom. Ja, ’n boek. Daai ding waarvoor soveel kinders deesdae ongelukkig ’n helse vrees het.

Wat is klein en pienk en lek graag jou tone?

’n Vriendelike polonie.

Ek skryf rympies sodat kinders pret kan hê met taal, sodat hulle dit op kunswedstryde kan voordra of daarvoor kan lag wanneer hulle dit hardop voorlees of luister hoe iemand dit hardop vir hulle voorlees.

Hierdie rympie is nie goed vir jou nie2

Hou jy van gedigte
vol groente en vrugte,
met organiese klanke
en strofes vol vesel,
met suikervrye rym
waaraan jy kan peusel,
propvol minerale
en vol vitamiene,
met volgraanverse
en ook miskien ’n
paar laevetwoorde
waaraan jy kan kou
en nog ander goeters
wat goed is vir jou …?
Wel, dan moet jy maar
iewers anders gaan soek,
want dié rympie is
vol roomys en koek,
vol slaptjips en burgers,
vol poeding en vla,
en elke soort soetgoed
waarvoor jy kan vra.
Die verse is volroom,
die klanke soos stroop,
die strofes is in
sjokolade gedoop.
Dis nie die soort rympie
wat goed is vir jou nie.
Jou juffrou of ma
sal dalk nie daarvan hou nie.
Ja, dis goed om
gesonde gedigte te lees …
maar soms moet ’n rympie
tog lekker ook wees,
so geniet hierdie rympie
(dis daarvoor bedoel)
en smul daaraan
sonder om skuldig te voel!

Dít is wat ek skryf.

Dit is dalk nie vreeslik ernstig nie, maar ek is ernstig daaroor, en ek dink dit is deel van ’n genre wat verdien om ernstig opgeneem te word.

Dit is wat ek geniet om te skryf.

Dit is wat ek aanmekaargesit is om te skryf.

Dit is my passie.

En gee ek deesdae om wat mense daarvan dink?

Jy’s seker nie ernstig nie.

Bronne

1 Singh, K. 2023. In numbers: SA produces one of worst global reading results among over 50 countries. News24, 16 Mei 2023. https://www.news24.com/news24/southafrica/news/in-numbers-sa-produces-one-of-worst-global-reading-results-among-over-50-countries-20230516.

2 Uit: Jacobs, Jaco. 2023. Dit is nie ’n boek nie!. Johannesburg: Pan Macmillan Suid-Afrika.

Kyk en lees ook:

Freek Robinson en Jaco Jacobs: Die pad na lesers se harte loop deur hul lagspiere

Anke Theron: Goue lint, my storie begint: Watter boeke koop ek vir my gretige of sukkelende kinderlesers?

Magdel Vorster: Kinderboeke: Terug skool toe met lekkerleesboeke

Wêreldhardopleesdag, 5 Februarie 2025: Jaco Jacobs lees voor uit Dit is nie ’n boek nie

Anke Theron: Leesbegrip? ’n Kinderboek kan jou kind se wêreld oopbreek

Jaco Jacobs: Kinderboeke deur kunsmatige intelligensie geskep?

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 2

Kommentaar

  • Jaco, jy is kosbaar! Geen wonder die woorde gly so van jou pen af nie. Want jou hart praat kindertaal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top