Jong filmvervaardiger bied jou die kans om deel te hê aan sy sukses

  • 0

Gareth Green is ’n jong, onafhanklike rolprentvervaardiger. Hy het in 2020 aan AFDA gegradueer met ’n BA in regie en draaiboekskryf. Sy kortfilm Men at war is gekies om aan internasionale gehore vertoon te word. Hy is nou besig om saam met sy pa, die skrywer RR Ryger, ’n nuwe film te vervaardig. Vir so min as R2 000 kan enige belegger ’n aandeel koop in die film. Izak de Vries het met hom gesels.

Gareth, jou vorige sukses was in Engels. Nou is jy besig om ’n kortfilm in Afrikaans te maak. Hoekom?

Ek het heel gemaklik geraak om in Engels te werk ná ek in 2023 ’n satiriese kletsrymalbum vrygestel het, Life and times of Garry G (beskikbaar op Spotify!). Engels is ’n gemaklike taal om te spellcheck, daarom wou ek ’n bietjie moeite doen om my Afrikaanse woordeskat op te knap deur ’n kort draaiboek te probeer skryf. Een ding het gelei na ’n ander en voor ek my oë kon uitvee, was ek besig om oudisies vir hoofrolle te hou.

Dit is wetenskapfiksie, is ek reg?

Korrek, tog lyk dit eers soos ’n familiedrama. Die storielyn behels ’n jong man op soek na ’n gesonde verhouding met sy vervreemde pa, maar hy vind op die moeilike manier uit dat sy pa ’n goeie rede het om homself van die gesin af te verwyder.

Die titel gee reeds iets weg: My pa, die alien. Soos enige goeie regisseur sal weet: ’n Mens kan baie betekenislae pak in die woord alien, nie waar nie? Wil jy die sluier so effens lig?

Deesdae het mense ’n vreemde beheptheid met ruimtewesens, dalk is dit ons groeiende gehegtheid aan tegnologie wat ons meer en meer uit plek laat voel op ons eie planeet. Ek voel persoonlik soos ’n alien binne my eie kultuur, sowel as binne my eie land. Maar moet nou nie dink dat ons nie gaan deliver op die ALIEN in My pa, die alien nie!

Hier is die voorprent.

Waar gaan julle die film vervaardig?

Ons het ’n onderhandeling met The Willows Resort in Gqeberha (Port Elizabeth) aangegaan en sal die meerderheid van die film in een van hul chalets langs die strand afneem. Ongelukkig het ons ’n streng afneemskedule en sal daar geen tyd wees om die vreedsame seelewe en die verskeie aktiwiteite te geniet nie.

Nou goed: As ek reg is, het jy R20 000 nodig. Dis minder as wat Hollywood op kaviaar spandeer. Hoe maak ’n mens ’n film met so min geld?

Sowaar! Maar dit is niks nuuts nie. Ek skiet al van kleins af in die agtertuin en in die garage. Oor die jare het ek kaste vol toerusting bymekaar gemaak, terselfdetyd het ek myself geleer om te werk met ’n klein of geen budget. Onder andere skiet en edit ek ook self, maak my eie musiek, props en selfs kostuums, wat geld bespaar. Ek het vinnig geleer dat meer geld nie noodwendig lei tot ’n beter eindproduk nie.

Jy bied nou aan beleggers die geleentheid om vir so min as R2 000 in jou film te belê. Sal hulle ooit iets terugkry?

Ek gaan die film vir twee jaar inskryf vir nasionale en internasionale filmkompetisies; enige prysgeld of inkomste gaan verdeel word tussen beleggers. Ons hoop om beleggers meer terug te gee as wat hulle belê het, ook met die doel om bande te bou vir toekomstige projekte.

Hoe kontak mense jou wat wil belê?

Mense kan my email by: greentokolosh@gmail.com

Of stuur ’n boodskap na: 060 526 3785

Kom ons hoop jy kry vinnig die R20 000 bymekaar. Wanneer kan jy begin skiet, en wanneer sal ons die film kan sien?

Ons het reeds ’n afneemskedule vir die einde van Augustus en is tans besig om alles in orde daarvoor te kry. Net nou die dag het ek my hande vreeslik vuil gemaak toe ek ’n paar liter fake blood moes aanmaak (sien foto). Met of sonder R20 000, die film is sterk op pad om geskiet te word, al moet ek ’n arm en ’n been verloor. Op die heel laatste, sal die film reg wees vir kompetisies teen die einde van Januarie 2025.

Is jou film Men at war iewers te sien?

Dit is verniet op my persoonlike YouTube-kanaal beskikbaar: @garethgreen3097

Nog van my werk en nuwe idees oor die film is beskikbaar op my sosiale media:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top