Jannie du Toit: Een kunstenaar (en sy vriende) = een kunstefees

  • 0

http://optree.janniedutoit.com/

Jannie du Toit vertel vir Naomi Meyer van 'n kunstefees waar hy deel is van ál die produksies op die fees.

Ek sien hier’s binnekort ‘n kunstefees – en enig in sy soort. Wil jy vertel hoe jy die idee gekry het om betrokke te wees by 'n volledige kunstefees met vier produksies op een dag?

Hierdie jaar voltooi 30 jaar sedert Christa Steyn en ek ons eerste toer na die Lae Lande onderneem het - toe met ons program oor die ontwikkeling van Afrikaanse musiek getitel BLIK EN SNAAR. Na vele daaropvolgende besoeke voel dit vir my asof hierdie een, op meer as een manier, as 'n hoogtepunt beskou kan word: sien maar die lys optredes op www.janniedutoit.com. Dit is myns insiens van die uiterste belang om die toer aan die groot klok te hang en dit voel vir my asof hierdie "kunstefesie" net die regte manier is om die waters vier maande voor ons vertrek 'n bietjie te roer. (Terloops, ek skryf hier van die boot af waar ons Brel-aanbieding deel van die Oppiwater-kunstefees is.)

Wil jy dalk iets van elkeen van die produksies vertel, asseblief?

Die beplanning vir die “gebeurtenis” by die Atterbury-teater op 7 Mei lyk soos volg:

  • Die program begin om 10h00 met ’n ontbyt in Stephnie’s Restaurant, reg langs die teater, waar ek die gewilde CORDON BROERS SE KOSSêRT saam met my jare lange vriend, Lochner de Kock, aanbied. Lochner gesels oor, en maak kos, vertel staaltjies en sing – ek sing en speel kitaar en roer die potte in hierdie produksie wat oor die afgelope vyf jaar al by talle kunstefeeste, skole, kerke en teaters gate uit geniet is.
  • Om 14h00 volg KIEKIES – LUCAS SE LIEDJIES saam met die sanger/kitaarspeler Thean Kotzé en die musiek van een van die grootste name ooit in Afrikaanse musiek. Die program word vir baie konsertgangers ’n ontdekkingsreis deur die wonderlike wêreld wat deur Lucas se pen en musiek daargestel is. Uit ’n twintigtal liedjies, vertellinge en selfs een van sy kortverhale word dit duidelik hoe ’n warm en besondere kunstenaarsiel die “ou Groot Beer”, soos sy vriend Coenie de Villiers hom genoem het, eintlik was.
  • In BONJOUR MONSIEUR BREL om 17h00 sing ek Jacques Brel se beeldryke tekste in vier tale – Frans, Afrikaans, Engels en Nederlands. Hy word begelei deur ’n musiek-ensemble uit die boonste rakke. Susan Mouton is die tjellis en Coenraad Rall bespeel die klavier en akkordeon. Paul Boekkooi, skryf in Beeld: “…een van die blinkste Brel-aanbiedinge wat tot nog toe in Suid-Afrika op die planke was. Ons het lank vir so ’n gehalte-aanbieding gewag.  Ervaar die grensloos magiese daarvan”. Hierdie produksie kom pas terug van RSG se “Oppiwater-kunstefees” af.
  • Die dag van “kleinkuns en kos” word om 20h00 afgesluit met die tweede program wat die toer na die Lae Lande meemaak, DOEP IS NIE DOOD NIE. Dit is ’n eenman-aanbieding met teks- en musiekgrepe oor die lewensbeskouing en werk van Koos du Plessis wat in Januarie 1984 op jeugdige leeftyd oorlede is. Hy het ’n  rykdom van wysheid en onsterflike tekste en musiek nagelaat. Dié program is al nagenoeg 200 keer landswyd aangebied en Susan Mouton speel weer die tjello terwyl Chanie Jonker as pianis en akkordeonis optree. Mariana Malan skryf in Die Burger “Wanneer jy begin luister na Jannie du Toit se vertolking van net meer as 20 van Koos Doep se liedjies… weet jy daar is geen kans dat sy woorde sal sterf nie…”     

Jy praat en sing in baie tale. Waarom?

Ek weet van kleins af dat my passie vir musiek en taal presies ewe groot is. Ek sing in meer tale as wat ek praat, en ek het geen twyfel dat 'n mens se ervaringsveld verbreed word deur elke taal wat jy beleef nie. Ek kan nie een sin in Frans leer voordat ek die hele sin woordgewys en grammatikaal volledig verstaan nie. My lieflingsvak op skool en universiteit was Latyn, en dit help baie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top