Kunstefees in die kleine met Jannie du Toit en vriende

  • 0

Kunstefees in die kleine
in en om die Atterburyteater, Sondag 7 Mei 2017

Op Sondag 7 Mei sorg Jannie du Toit vir ’n uitsonderlike kuns en kulinêre geleentheid waartydens hy nie minder nie as vier verskillende produksies aanbied. Hy doen dit saam met verskeie kunstenaars wat gereeld saam met hom optree en hy stel daardeur sy toer deur die Lae Lande in September/Oktober vanjaar bekend. Nie alleen vir Jannie nie, maar ook vir Atterburyteater is hierdie gebeurtenis – Kunstefees in die kleine – ’n eerste en hy bewys daarmee sy veelsydigheid as uitvoerende kunstenaar. Tydens die toer beplan hy om sy twee eenmanproduksies – Doep is nie dood nie en Bonjour Monsieur Brel in 20 konserte oor die lengte en breedte van Nederland en Vlaandere aan te bied. Die toer kan beskryf word as die hoogtepunt van sy konsertreise oor dertig jaar in dié wêrelddeel. Die eerste optrede vind op Vrydag 22 Setember by Herman van Veen se Kunstesentrum in Soest plaas en verdere hoogtepunte is optredes in Gent, Brugge, Antwerpen en die Zuidafrika-huis in Amsterdam.

Die beplanning vir die “gebeurtenis” by die Atterburyteater op 7 Mei lyk soos volg:

Die program begin om 10h00 met ’n ontbyt in Stephnie’s Restaurant, reg langs die teater, waar Jannie die gewilde Cordon Broers se kossêrt saam met sy jarelange vriend, Lochner de Kock, aanbied. Lochner gesels oor en maak kos, vertel staaltjies en sing – Jannie sing en speel die kitaar en roer die potte in hierdie produksie wat al by talle kunstefeeste gate uit geniet is.

Om 14h00 volg Kiekies – Lucas se liedjies saam met die sanger/kitaarspeler Thean Kotzé en die musiek van een van die grootste name ooit in Afrikaanse musiek. Die program word vir baie konsertgangers ’n ontdekkingsreis deur die wonderlike wêreld wat deur Lucas se pen en musiek daargestel is. Uit ’n twintigtal liedjies, vertellinge en selfs een van sy kortverhale word dit duidelik hoe ’n warm en besondere kunstenaars-siel die “ou Groot Beer”, soos sy vriend Coenie de Villiers hom genoem het, eintlik was.

In Bonjour Monsieur Brel om 17h00 sing Jannie Jacques Brel se beeldryke tekste in vier tale – Frans, Afrikaans, Engels en Nederlands. Hy word begelei deur ’n musiekensemble uit die boonste rakke. Susan Mouton is die tjellis en Coenraad Rall bespeel die klavier en akkordeon. Paul Boekkooi, skryf in Beeld: “… een van die blinkste Brel-aanbiedinge wat tot nog toe in Suid-Afrika op die planke was. Ons het lank vir so ’n gehalte-aanbieding gewag. Ervaar die grensloos magiese daarvan”.

Die dag van “kleinkuns en kos” word om 20h00 afgesluit met die tweede program wat die toer na die Lae Lande meemaak, Doep is nie dood nie. Dit is ’n eenman-aanbieding met teks- en musiekgrepe oor die lewensbeskouing en werk van Koos du Plessis wat in Januarie 1984 op jeugdige leeftyd oorlede is. Hy het ’n rykdom van wysheid en onsterflike tekste en musiek nagelaat. Dié program is al nagenoeg 200 keer landswyd aangebied en Susan Mouton speel weer die tjello terwyl Chanie Jonker as pianis en akkordeonis optree. Mariana Malan skryf in Die Burger “Wanneer jy begin luister na Jannie du Toit se vertolking van net meer as 20 van Koos Doep se liedjies … weet jy daar is geen kans dat sy woorde sal sterf nie …”

Benewens die kulinêre aanbieding saam met Lochner, werk twee van die restaurante in die Lynnwood Bridge-sentrum waar die teater geleë is (Stephnie’s en Col’Cacchio) met die kunstenaars saam. Hulle het die hele dag lank spesiale ete-aanbiedinge vir kaartjiehouers van enige van die Atterbury-vertonings. Besprekings vir al vier optredes kan by Computicket gedoen word met navrae by Atterburyteater op 012 471 1700. Groot kortings geld vir enigiemand wat meer as een van die verhoogproduksies bywoon.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top