Jaco Jacobs, wenner van twee ATKV-Woordveertjies: 'n onderhoud

  • 0

Foto: Izak de Vries

Jaco Jacobs is weer met twee ATKV-Woordveertjies bekroon. In die Voorleeskategorie: Graad RR–1 het hy die toekenning ontvang vir Sasha word stil (LAPA) en in die Selfleeskategorie: Graad 2–3 is hy bekroon vir Monsterpizza (LAPA). Izak de Vries het met hom gesels.

Aangesien ek vir baie jare agter die skerms betrokke was by die ATKV-Veertjies se seremonie, het ek al talle aanbieders gehoor sluk oor die aantal keer dat die naam Jaco Jacobs genoem word. Ek gaan nie vir jou vra hoeveel ATKV-Veertjies daar al in jou kas is nie. Die antwoord is: “Baie”. Ek gaan wel vra: Bly dit lekker en raak die druk om aan te hou jou beste lewer nie elke keer groter nie?

Ek het in 2004 my eerste Veertjie gewen, vir Liefde laat jou Rice Krispies anders proe, en dit bly steeds, 16 jaar en nog 30 Veertjies later, ’n gróót lekkerte om op dié manier vereer te word. Maar ek moet eerlikwaar sê, ek het nog nooit gevoel die toekenning as sulks – of enige ander toekenning – plaas druk op my om aan te hou presteer nie. Dit is natuurlik lekker om vir ’n mens se werk vereer te word, maar dit is régtig nie waarom ek doen wat ek doen nie. Ek leef daarvoor om stories te vertel en rympies op te maak, om boeke te skep wat myself eindelose plesier verskaf en wat kinders hopelik ook sal vermaak. Dít probeer ek doen so goed as ek kan; eerstens omdat ek respek het vir die kreatiewe proses, maar ook omdat ek eindelose respek het vir die jong lesers wat my teikenmark is.

Jy was ’n joernalis en toe gebeur kinderboeke. Dit was baie lank voor jy jou eie kinders gehad het. Hoe het dit gekom dat jy dié passie ontdek het en wat was Miemie du Plessis se bydrae tot jou vormingsjare?

Ek het op skool reeds geweet ek wil ’n skrywer word, en aan die einde van matriek het ek my eerste kinderboekmanuskrip voltooi, wat later gepubliseer is. Die vraag was net: Sou ek ’n bestaan daaruit kon maak? Joernalistiek het vir my na ’n soort middeweg gevoel – ’n manier om te skryf én ’n salaris te verdien. Ek het Miemie ontmoet toe ek nog op universiteit was, en sy het my eerste boeke gepubliseer, my skrywerskap onder haar vlerk geneem en my eindeloos baie van die kinderboekbedryf geleer. By nabetragting het sy dalk in daardie beginjare meer vertroue in my skryftalent gehad as wat ek self gehad het. Dit was sy wat my later van die joernalistiek weggerokkel het om haar kollega by LAPA Uitgewers se kinder-en-jeugboek-afdeling te word, waar ek sowat 13 jaar lank gewerk het.

Nou is daar twee van jou eie kinders en volgens jou sosiale media is hulle baie kritiese lesers. Skryf jy dalk anders as voor hulle jou begin lees het?

Mmm, nee, ek twyfel. Toe my oudste, Mia, in 2012 gebore is, het ek reeds jare lank boeke vir kleuters, beginnerlesers en tieners geskryf. My eie kinders se reaksie op my skryfwerk is vir my interessant om dop te hou, en dis pret om soms idees op hulle te toets, maar ek probeer doelbewus om hulle nie nét aan my eie boeke bloot te stel nie – en om nie net vír hulle te skryf nie. Dit is wel lekker om hul ontwikkeling dop te hou, veral ten opsigte van hoe hulle begin lees – Mia is nou agt en Emma ses – en te toets of die dinge wat ek oor die jare oor geletterdheid en so aan gesê het, steek hou.

Die goeie ding van die ATKV-Woordveertjies vir kinder- en jeugboeke is dat dit die kinders in daardie ouderdomsgroep is wat self die beoordeling doen. Sasha word stil gaan oor ’n meisie wat akuut bewus word van die klanke om haar. Dit is ’n beeldskone boek en betrek ook uiteindelik ’n persoon in ’n rolstoel. Gewoonlik het jou stories ’n baie duidelike lyn, maar hierdie een is anders, want dit het minder woorde en vra die leser om Angela Banks se illustrasies te interpreteer. Hierdie tegniek sien ons dikwels in die Europese kinderboeke. Is dit lekker om te weet die jongklomp kon verstaan wat jy wou sê?

Ek het nie vir een oomblik daaraan getwyfel dat kinders die boek sou verstaan nie. Angela Banks se illustrasies in hierdie boek is eenvoudig briljant – elkeen is ’n skildery uit eie reg – en daar is soveel vir kinders om daaruit te neem en te interpreteer en mee rond te speel.

Sasha word stil sou as terapie kon dien vir grootmense. Ek het onlangs met ’n psigiater gesels wat hierdie soort kuns as “grounding” bestempel het; jy het die cliché van stop om die blommetjies te ruik in kuns omskep. Van waar hierdie, baie anderse, boek?

Ek skryf en publiseer baie; in sowat twintig jaar het ek meer as 180 titels die lig laat sien. Die gevaar daarvan is natuurlik dat ’n mens jouself kan begin herhaal. Een manier waarop ek daarvan probeer wegskram, is om doelbewus nuwe dinge te probeer. Die kinderboekgenre is gelukkig heerlik uiteenlopend – tussen prenteboeke vir kleuters aan die een kant en boeke vir tieners aan die ander kant lê daar ’n magdom subgenres en vertakkings, elkeen met sy eie kreatiewe uitdagings om te verken. Sasha word stil was doelbewus so effens anders as my ander prenteboeke – ’n stiller, dromeriger, meer liriese boek (wat wel op die ou end nogal lawaaierig raak!).

Monsterpizza gaan oor ’n meisie wat baie graag saam met haar pa wil gaan as hy op sy rooi bromfietsie pizzas aflewer. Jy kry dit dus nog eens reg om uit gewone werkersklasmense se realiteite ’n besonderse storie te skryf. Is dit die joernalistiek wat jou geleer het om gewone mense se verhale raak te sien?

Ek het nog nooit regtig so daaroor gedink nie. Dalk is dit maar net so eenvoudig soos: Die beste stories is dié waarin doodgewone mense ongelooflike dinge doen. Ek het in die Karoo grootgeword, waar mense mekaar se stories ken, en dit het van kleins af ’n groot indruk op my gemaak.

Daar is, soos dikwels in ’n Jaco Jacobs-boek, tog iets magies in die pizza ... En die kinders is slim genoeg om dit te verstaan. Hoe voel jy daaroor?

Slim genoeg om dit te verstaan? Maar natuurlik, ja! Moet nooit, ooit die fout maak om kinders te onderskat nie, veral nie wanneer dit by hul begrip van stories en fantasie kom nie. Grootmense? Dis ’n ander storie ...

Jy sou by ’n seremonie waar die ATKV-Veertjies voor ’n gehoor toegeken word, altyd iets sê oor die kunstenaars wat jou boeke illustreer. Ek gee jou dus die laaste woord ...

Dit is so jammer dat ons bedryf dikwels illustreerders miskyk of hul rol geringskat. Een van my gunstelingdinge omtrent kinderboeke skryf het niks met die skryfproses uit te waai nie – dis die dag wanneer ek die eerste keer die illustrasies vir ’n nuwe boek sien. Ons het ongelooflike talent in Suid-Afrika, en ek voel geëerd om saam met kunstenaars soos Angela Banks (Sasha word stil) en Yolandi Prins (Monsterpizza) te kan werk. Ek hoop regtig om in die toekoms nog baie van hul werk op kinderboekrakke te sien.

Lees ook:

Jaco Jacobs (1980–)

Jaco Jacobs wen twee Akademiepryse

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top