IziNdlovu deur Div de Villiers en Adrienne Carlisle in die Baai bekendgestel

  • 0

Titel: IziNdlovu, the story of Africa’s greatest rhino poaching case
Skrywers: Div de Villiers en Adrienne Carlisle
Uitgewer: New Voices
ISBN: 9781049203270

Fogarty’s sal die boek verskeep

Op 3 Desember is Div de Villiers en Adrienne Carlisle se boek IziNdlovu in die Baai bekendgestel. Die geleentheid is aangebied deur Fogarty’s-boekwinkel en die plaaslike tak van Wessa.

Lorien Pichegru het die verrigtinge geopen. Sy is ’n hoogleraar in marinebiologie aan die plaaslike universiteit en is ’n nie-uitvoerende direkteur van Wessa.

Die boek handel oor renosterstropery, maar veral dan die suksesvolle vervolging van die Ndlovu-sindikaat. Om hierdie manne, al drie met die van Ndlovu, agter tralies te kry het speurwerk gekos wat Bennie Griessel sou laat handeklap.

Dis waremisdaad hierdie, en die storie is fassinerend.

De Villiers was van 2007 tot 2023 die direkteur van die Groen Skerpioene in die Oos-Kaap. Hy het ook ’n M in dierkunde en ’n PhD van die Rhodes-Universiteit.

Sy medeskrywer is Adrienne Carlisle, wat reeds vir meer as 30 jaar lank ’n joernalis is en vir baie lank hofverslaggewing gedoen het.

De Villiers het tydens die verhoor van die Ndlovu-bende aan haar genoem dat hierdie saak uniek is en dat die manier waarop die vervolging die bewyse moes benader, nog nie tevore beskryf is nie. Dis waar hulle begin gesels het oor die idee om hierdie unieke saak te boekstaaf.

As jy hou van ’n speurstorie wat boonop heeltemal waar is, kry IziNdlovu vir jou!

Renosterbewaring

De Villiers het begin deur ’n oorsig van renosterbewaring te gee.

Gedurende 1820 en 1890 is renosters voor die voet geskiet. Teen 1890 is geglo dat daar nie eers meer een witrenoster in Suid-Afrika oor is nie.

In 1895 het ’n jagter twee “swartrenosters” geskiet naby die Umfolozi-rivier in die ou Natal. Kenners het egter besef dat dit witrenosters was en toe is daar verwoed gesoek na nog lewendige witrenosters.

’n Swartrenoster (links) en ’n witrenoster

Terloops: Wit- en swartrenosters is albei grys. Die witrenoster het egter ’n wye mond en vreet hoofsaaklik gras. Hulle is groter as die swartrenoster, wat ’n gepunte bolip het en hoofsaaklik ’n blaarvreter is.

Ná 1895 is moeite gedoen om witrenosters op te spoor en toe daar ongeveer 50 diere getel is, het die bewaringsgesindes Umfolozi, Hluhluwe en St Lucia as wildparke laat proklameer.

In 1952 het Ian Player betrokke geraak by Natal Parke en het baie moeite gedoen om renosters te bewaar. In 1953 het hy ’n lugsensus laat doen en die aantal witrenosters in Suid-Afrika het toe op 437 gestaan.

Player en talle ander het toe moeite gedoen om die genepoel uit te brei, renosters te hervestig en om seker te maak dat die bevolking groei.

Renosters is na talle plekke in Suid-Afrika, ook oorsee, geskuif.

Tans word die witrenosters se getalle op ongeveer 20 000 geskat, met om en by 90% van die diere wat in Suid-Afrika is.

Stroping

Die sukses van die renosterteelprogramme het egter ’n nuwe wending geneem toe bendes horings begin lewer het aan sindikate in China en Viëtnam.

Renosterhorings is reeds sedert 200 jaar voor die algemene era beskryf as ’n kuur vir talle probleme in China.

China is deesdae ryk; daar is groot geld te betale vir renosterhoring. Smokkelnetwerke is gestig en hulle maak dit baie aanloklik vir stropers om renoster se horings in die hande te kry.

Voor 2007 was die hoeveelheid horings wat in Suid-Afrika gestroop is, redelik min. Kenners dink dat minder as 10 renosters per jaar in Suid-Afrika gedood is vir hul horings op daardie stadium. In 2007 het dinge verander, want beter smokkelnetwerke is tot stand gebring om horings uit Suid-Afrika na kopers in ander lande te smokkel.

Die renosters in die Oos-Kaap is egter eers gespaar.

Tog in 2009 is drie renosters in die Oos-Kaap gestroop; landswyd is 122 doodgemaak vir hul horings.

In 2010 is vier renoster in die Oos-Kaap gedood, 333 landswyd.

In 2010 is M99, ’n narkosemiddel, die eerste keer gebruik. Dié middels word gewoonlik deur veeartse gebruik om diere aan die slaap te maak. Dit is ’n baie kragtige middel en word baie fyn gedoseer, ook net as daar ’n teenmiddel is om die dier weer wakker te maak.

Stropers gebruik egter baie hoë dosisse en geen teenmiddel nie. Die narkose maak dus uiteindelik die dier dood.

Waarom die gebruik van M99?

De Villiers het verduidelik dat diere op enige plek geskiet kan word wanneer M99 gebruik word. In die boud, op die been, dit maak nie saak nie. Die dier sal gaan lê.

Met ’n koeëlgeweer moet ’n mens besonder akkuraat wees. Hulle breine is klein. Sou jy die diere in die longe of elders tref, sal hulle nog ’n hele ruk lank hardloop en geraas maak.

M99 is egter nie aan gewone mense te koop nie, so die stropers moet dit onwettig invoer of onwettig van veeartse bekom.

In 2011 is daar 11 renoster in die Oos-Kaap gedood, en 448 landswyd.

In 2012 het die Oos-Kaap sewe renosters verloor; landswyd is 668 gestroop.

Teen 2016 was die getalle baie hoog. 1 054 diere is in Suid-Afrika gestroop; 19 van hulle was van die Oos-Kaap.

Een van die diere wat in 2016 gestroop is, se naam was Campbell. Campbell was ’n ou bul met ’n horing van 72 cm wat op Buckland Game Farm geloop het, ’n privaat gebied neffens die Visrivier-natuurreservaat. Campbell was baie bekend en baie geliefd onder toeriste. Hy is op 17 Junie 2016 gedood en sy horing is afgekap.

Sy dood, hoe hartseer ook al, het egter ’n deurbraak gebring. Daardie selfde nag het die polisie drie mans in hegtenis geneem wat in besit was van ’n renosterhoring van 72 cm, ’n pylgeweer, narkosemiddels, sae, messe en kamptoerusting.

Die drie mans was Jabulani Ndlovu, Forget Ndlovu en Sikhumbuzo Ndlovu.

Enige iemand wat die nuus volg, sal weet dat ’n suksesvolle inhegtenisname nie noodwendig lei na ’n skuldigbevinding en tronkstraf nie. Dit is waarom IziNdlovu geskryf is. Die hofsaak was opspraakwekkend en die polisie se vermoë om stap vir stap bewyse teen die Ndlovus in te span, indrukwekkend.

Die titel

In Zoeloe beteken -ndlovu olifant. Een olifant is indlovu, meer as een olifant sal izindlovu wees.

Die voorvoegsels i- en izi- is egter nie van toepassing op mense nie, slegs op diere. Vir mense gebruik ons u- en ama-. Normaalweg sou daar dus nie na drie mense met die van Ndlovu verwys word as iziNdlovu nie.

Die ongekende wreedheid waarmee die bendes renosters stroop en dikwels hulle horings verwyder terwyl hulle nog leef, het gemaak dat ’n boer by geleentheid na stropers se gedrag verwys het as dierlik.

En so, op ’n vreemde manier, het die voorvoegsel izi- ’n verskyning gemaak wanneer na die Ndlovu-bende verwys is.

Baie bloed, maar ook baie om op trots te wees

Renosterstropery is ’n liederlike storie. Daar is baie bloed by betrokke. Hierdie boek skram nie weg daarvan om dit uit te stal nie.

Die Ndlovu-bende het ook ’n uitstekende advokaat gehad wat hulle verdediging hanteer het. Daar is groot geld in stropery. Die staat is altyd onderbefonds.

De Villiers en Carlisle toon egter wat toegewyde mense kan doen teen ’n oormag.

’n Mens mag trots wees.

Teen die einde van die boek is daar ook ’n waarskuwing: Fondse om hierdie werk te doen word al hoe minder. Terwyl die kaders gemaklik leef, word bewaring en polisiëring se fondse gesny.

IziNdlovu is ’n boek wat die leser laat trots voel op dit wat in Suid-Afrika moontlik is. Lees dit gerus saam met Eben Venter se roman Decima.

Lees ook:

Huldigingswoord: Hertzogprys vir prosa aan Eben Venter

LitNet Akademies-resensie-essay: Decima deur Eben Venter

Tweespraak van Yves T’Sjoen met Eben Venter: "Aan die vrese het egter niks verander nie"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top