Titel: Toe als groen was
Skrywer: An-Mari do Carmo
Uitgewer: LUCA
ISBN: 9781776357574
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Vandat ek ouer is, wonder ek al meer oor die ding van reg en verkeerd. As ek dit reg het, is die grootste deel van ons land se mense Christene. Die meeste van ons is grootgemaak met die kerk en die Bybel as riglyn vir jou lewe.
Ek wil hierdie konsep of siening uitdaag. Is my waarheid dié waarheid? Hoe seker is ek, ek is nie besig om teen die verkeerde muur uit te klim nie, net om bo te kom, en te besef dit was die verkeerde leer?
Die pandemie het ’n groot impak gemaak op ons tradisionele manier van godsdiensuitoefening. Ek kon nie na ’n gebou toe gaan om meer van God te leer nie. Die alternatief was om deur middel van sosiale media na predikers en kerkdienste te kyk en te luister; mense van regoor die wêreld en van verskillende kerke. Ek het ook met ’n hengse ontnugtering besef dat my verhouding met die Here niks te doen het met die sogenaamde kerk nie, die gebou, instansie, in baie gevalle, die onderneming. Ek wil my verstout deur te sê meer mense as ooit het begin bid en na God gesoek as voor die pandemie. Ek glo dat daar ’n verdieping in die meeste mense se verhouding met God plaasgevind het. Als sonder die “kerk”.
Ek as Christen glo dat ek die waarheid ken. Daar is geen ander waarheid nie. Of is ek dalk net verkeerd? Wat van al die ander gelowiges van ander gelowe? Is hulle op pad hel toe omdat hulle nie Christene is nie?
***
Teen hierdie tyd is jy al seker goed moerig vir my, of jy het ’n duisend redes waarom jy my dringend moet kontak. Byt asseblief net nog so ’n bietjie vas.
An-Mari het grootgeword op ’n plaas naby KwaSizabantu in KwaZulu-Natal. Haar ouers was lede van die sending, en sy het vir drie jaar by haar ouma op die sending gewoon. Ek self was al by hierdie sendingstasie. Baie goeie goed word daar gedoen, maar dit is op die oppervlak. Wat gebeur onder die oppervlak?
In Suid-Afrika het ons al meer as een keer beleef dat korrupsie hand aan hand gaan met mag en beheer. Dit is asof die duiwel sit en wag vir iemand om op die troon te sit. Dis volgens berigte ongelukkig ook die waarheid van KwaSizabantu.
Die Bybel word gebruik om mense te beheer. Kontak tussen mans en vroue is geheel en al verbode, en sou jy hierdie reël oortree, is daar drakonies teen jou opgetree. Dit het volgens berigte onvermydelik gelei tot ’n vrugbare teelaarde vir geslagsgeweld, molestering en mishandeling; dit te midde van ons stryd teen geweld teenoor vroue en kinders in Suid-Afrika.
Ek weet dat ek spesifiek gevra het waarom mans en vroue van mekaar geskei word. Die antwoord was dat die Zulu-kultuur voorhuwelikse seks en losbandigheid ondersteun, en dit is teenstrydig met die lering in die Bybel.
Uit my beperkte verwysingsraamwerk van ’n laerskooldogtertjie was dit nie ’n antwoord nie, eerder ’n verskoning. Vandag maak daardie ongemak vir my sin, of eerder onsin. As jy ’n kind, wat ’n diabeet is, nooit blootstel aan die bestaan van suiker nie, gaan dit hom of haar keer om te weet wat suiker is? Dit is belaglik! Dit is niks anders as beheervergrype nie.
***
Hoe werk plekke wat ander met godsdiens beheer?
Daar is “councillors” vir elke persoon op die sending, wat jou geestelike mentor is en ’n leier by wie jy gereeld jou sondes moet gaan bely. (Dit is reeds teenstrydig met die Woord: “As Ek jou vry gemaak het, is jy waarlik vry…”)
Word niks dan uit liefde gedoen nie? Is alles vreesgedrewe en met straf afgedwing? Omdat dit daardie mense se opvoeding is, is dit hulle waarheid:
- Ek mag nie wêreldse flieks kyk nie,
- ek mag nie romans lees nie,
- ek mag nie na popmusiek luister nie,
- ek mag nie verleidelike klere dra nie,
- ek mag nie romantiese gedagtes kry nie,
- ek mag nie nié gaan bely nie,
- ek mag nie wees wie God my as mens geskape het nie,
- ek moet doen wat daar vir my voorgeskryf word.
Met ander woorde: Dink en doen wat daar vir jou gesê word. Moet om Vadersnaam net nie vir jouself dink nie, en behoede jou as jy iets verkeerds doen. Dan is die gort gaar!
Hoe ontwikkel jy as mens in sulke omstandighede?
- Wie is ek?
- Waar pas ek in?
- Waarvan hou ek?
- Hoe kry hierdie instansies dit reg om van die see ’n visdam te maak?
In hierdie vreeslike, kunsmatige perfeksie skuil daar skynbaar altyd een of meer monster wat net wag om toe te slaan. Dit is gewoonweg die slagoffer se skuld as daar molestering, verkragting of mishandeling plaasvind. Dit word ’n inwendige besering wat later jou hele wese besmet met skuldgevoelens en oordeel.
Hierdie siek dade word klaarblyklik by kultusgroepe deur die leiers gepleeg en dit word nooit ontbloot nie. Kriminele en kindermolesteerders is skynbaar in beheer van onskuldige slagoffers, en hulle behou hierdie posisies omdat dit geregverdig word met ontkenning deur die beheerliggaam.
Waarom daar nie krimineel teen sulke mense opgetree word nie, weet ek nie.
Ons het verseker die beste grondwet met die minste trefkrag in die wêreld.
Is dit hoe Suid-Afrika is? Hoe vrotter jou psige, hoe groter is jou huis, jou pens en hoe blinker jou motor?
Dit neem jare en hope van ons belastingbetalers se geld om ’n krimineel agter tralies te kry. En as, ’n baie groot “as”, die betrokke persoon daar kom, word dié kwansuis beter behandel as die meeste van ons bejaardes en haweloses in ons land.
***
An-Mari vertel die verhaal van Marné wat wegloop en by haar tannie gaan bly om weg te kom van die sending. Sy word gekonfronteer met normaliteit wat nie deel is van haar verwysingsveld nie. Die klere wat ander mense dra, veroorsaak dat sy mense met die eerste oogopslag veroordeel. Sy leer ook ’n God van liefde ken, wat met genade na haar kyk en vergifnis gee sonder oordeel en verdoeming.
Sodra sy die onderskeid kan maak tussen dogma, mensgemaakte wette en die waarheid, vind sy haar menswees en vryheid in God.
***
Hoe weet jy, jy ken die waarheid?
Die antwoord is binne-in jou. Jy weet. ’n God van liefde dwing niks op mense af nie. Hy lei jou, en Hy sal altyd vir jou wag as jy nou en dan van die pad af dwaal agter ’n sappige appel aan. Hy is altyd dieselfde, dis mense wat verander, en dit is soos dit hoort.
Wat is jou maatstaf? Liefde of straf? Soos ek reeds gesê het, dis nog altyd daar, dit gaan altyd daar wees, dieselfde gister, vandag en môre; al is daar iets of iemand wat hierdie mistieke, ongelooflike waarheid misbruik en probeer aanpas tot voordeel van hul eie boosheid en gierigheid. Die waarheid sal altyd seëvier.
***
An-Mari do Carmo, baie dankie vir hierdie boek. Ek vermoed ek het meer emosies beleef terwyl ek Toe als groen was gelees het, as wat ek dalk in my hele lewe moes konfronteer. Ek meet ’n boek aan die tipe vrae wat dit oor my eie sienings ontketen. Gaan dit van my ’n beter weergawe van myself maak? Beslis!
Lees ook:
Toe als groen was deur An-Mari do Carmo – resensie en onderhoud



Kommentaar
Meeste semi-geletterde mense weet van KwaSizabantu sending danksy die dokumentêre program van News24 en Erika Bornman se aktivisme.
Ongelukkig stel mense meer belang oor of hulle watertjies genoeg sink en magnesium in het as in die kinders daar op die Sendingstasie se welstand. So die Sendingstasie se produkte verkoop soos soetkoek in elke groot winkel. So word die waansin gefinansier.
Ek was in die NG kerk. Jy kan sê die NG kerk is soos jou KwaSizabantu infinite laaights. Jy mag darem Vrydagaand die moewie gekyk het as jou pa M-Net gehad het. Jy mag oor girls gedroom het. Maar nie oor ander ouens nie (dis nou nog so in meeste gemeentes, so hoor ek).
WONDERLIKE BOEK! Ek maak 'n nota en gaan ernstig oorweeg om dit te koop en te lees. Dankie vir jou lesersindruk.