Is jy wakker vir die kunste? ’n Onderhoud oor die Tribuo Wawyd-wakker-veldtog

  • 0

https://www.tribuo.co.za/

Cornelia Faasen, hoof-uitvoerende beampte van die Nasionale Teaterinisiatief, praat met Naomi Meyer oor die Tribuo Wawyd-wakker-veldtog wat op 22 Oktober op die Tribuo-webwerf gaan plaasvind. 

Cornelia, ek sien daar’s ’n paar kunstenaars wat gaan wakker bly en geld insamel vir die kunste. Wanneer gebeur dit, waar gebeur dit, en wat gaan hulle doen?

Hallo! Ses akteurs (hulle name en verbintenisse noem ek hier onder by ’n latere vraag van jou) gaan Vrydag 22 Oktober om 12 middag by Atlantic Studios in Kaapstad in ’n ateljee instap en vir 24 uur improviseer en werk om ’n produksie op die been te bring. Dit gaan natuurlik nie so eenvoudig wees nie en ons het heerlike verrassings wat die produksiespan en aanbieders (Frazer Barry en Kabous Meiring) vir hulle deur die loop van die deurnagmarathon beplan.

Ons gaan die volle 24 uur regstreeks op die Tribuo–webwerf stroom, asook die skakel op sosiale media beskikbaar stel. Die doel is om fokus op die uitvoerende kunste te plaas en ondersteuning vir die fonds aan te moedig.

......

Ses akteurs gaan Vrydag 22 Oktober om 12 middag by Atlantic Studios in Kaapstad in ’n ateljee instap en vir 24 uur improviseer en werk om ’n produksie op die been te bring.

........

www.tribuo.co.za    

Laat ek oor geld vra, want ons almal moet rekeninge betaal en kos koop om te eet. Waarheen gaan die fondse wat julle insamel? Wie sal hierby baat?

Die Tribuo–fonds is ’n niewinsgewende organisasie wat in Junie 2020 gestig is deur rolspelers in die vermaak– en uitvoerendekunste–omgewing om ondersteuning te bied toe die feeste een na die ander gekanselleer is. Intussen het meer teaters hul deure gesluit en geleenthede vir kunstenaars en tegnici om ’n  inkomste te genereer is beperk. Die donasies wat deur die publiek en die privaat sektor gemaak word, gaan 100% na die kunstenaars en tegnici. Daar was reeds twee aansoekgeleenthede en deur die ondersteuning van die publiek en privaat sektor kon die Tribuo–fonds reeds R3 miljoen versprei. Die derde aansoekproses is op die oomblik oop met die doel om in Desember weer finansiële verligting te bring. Die derde aansoekproses is gekoppel aan ’n skeppende voorwaarde waar ons kunstenaars en tegnici aanmoedig om in hul onmiddellike omgewing terug te ploeg en blootstelling aan die kunste te bied met hul vaardighede. Ons noem dit die “Paying it forward”–inisiatief en alhoewel ons vra dat kunstenaars en tegnici iets skep, is die finansiële ondersteuning vir hul persoonlike doeleindes. 

.......

Intussen het meer teaters hul deure gesluit en geleenthede vir kunstenaars en tegnici om ’n  inkomste te genereer is beperk. Die donasies wat deur die publiek en die privaat sektor gemaak word, gaan 100% na die kunstenaars en tegnici.

.........

https://www.tribuo.co.za/tribuo–paying–it–forward

Anderdag hoor ek iemand sê dat die verlede nie meer bestaan nie, en die toekoms is al wat ons het. Wat wil die Tribuo Wawyd–wakker–inisiatief vir die toekomstige teater bied? Hoekom beskou julle teater as belangrik?

Die Wawyd–wakker–inisiatief simboliseer die kunstenaars en tegnici wat sedert Maart 2020 slapelose nagte oor hul finansies het, maar ook die uithouvermoë van die kunste. Die Tribuo–fonds is op die oomblik ’n noodfonds, maar die langtermyndoelstelling is om ’n skeppende fonds te word. Hierdie doelstelling sal die werk van jong stemme en gevestigde kunstenaars wil ondersteun, veral in die eerste fases van kreatiewe ontwikkeling. Die uitvoerende kunste in enige vorm, hetsy dit komedie, musiek, dans of drama is, is belangrik, omdat dit ruimtes skep vir gedeelde ervarings en samekoms. Hierdie ervarings bied baie keer vertroosting, bevredig die lus van nuuskieriges, betwyfel, konfronteer en is die broeiplek van belangrike gesprekke.

........

Alhoewel daar moeilike tye voorlê en dit ’n ruk sal neem voor die kunste weer behoorlik op die been is, is daar ook hoop en ruimte vir nuwe dinge en ervarings in hierdie omgewing. Ons noodsaaklikste doelstelling is egter om op die oomblik te verseker dat ons kunstenaars en tegnici saam met ons hierdie nuwe toekoms bereik.

.........

Alhoewel daar moeilike tye voorlê en dit ’n ruk sal neem voor die kunste weer behoorlik op die been is, is daar ook hoop en ruimte vir nuwe dinge en ervarings in hierdie omgewing. Ons noodsaaklikste doelstelling is egter om op die oomblik te verseker dat ons kunstenaars en tegnici saam met ons hierdie nuwe toekoms bereik.

Wie is die ses akteurs wat gaan optree en wil enigeen van hulle iets oor die projek sê, of oor wat hulle beoog? Of oor waarom hulle hierdie inisiatief as ’n belangrike geleentheid beskou?

Die ses akteurs is Wian Taljaard (Lui maar op Belinda, Kraai), Cintaine Schutte (Dinge van ’n kind, Fynskrif), Bennie Fourie (Hotel, Die intermissie) Gary Naidoo (Afgrond, Let’s Mixit 1,2 & 3), Dean John Smith (Suidooster, Die dag is bros), Esther von Waltsleben (Suidooster, #OMGV Seriaas?!)

Suzaan Keyter het die reaksies van Dean John Smith en Wian Taljaard oor die geleentheid uitgevind:

Dean John Smith het geskerts dat hy bang is hy raak op ’n stadium aan die slaap en mis iets. Dean se betrokkenheid is vir hom belangrik omdat hy kan doen waarvoor hy lief is en vir ’n goeie doel. Volgens Wian Taljaard is daar vir hom verskeie redes om deel te neem aan Vrydag. As akteur het hy meer as ’n jaar gelede die geleentheid gehad om te speel en kreatief met die ontwikkelingsproses om te gaan. Hy sien dus baie uit na die proses. Symbiosis beteken dit ook vir hom baie en sien hy Vrydag as ’n homage aan die kunste en kunstenaars se endurance (uithouvermoë) van die afgelope jaar en sewe maande – kunstenaars en tegnici wat die heeltyd moes planne maak om te oorleef in die onsekerheid van die toekoms en werksgeleenthede.

Laat weet asseblief praktiese dinge – soos waar mense kan kaartjies koop?

Die stroom begin om 12 op Vrydag 22 Oktober en ons vra dat die publiek die fonds en akteurs ondersteun deur ’n donasie te maak op die Tribuo–webwerf. Bydraes kan deur privaat persone, korporatiewe instansies of filantropiese skenkers gemaak word en ’n 18A–belastingsertifikaat is op aanvraag beskikbaar.

Besoek www.tribuo.co.za vir meer inligting.

Facebook https://www.facebook.com/tribuofund   

Instagram https://www.instagram.com/tribuo_fund   

Twitter https://twitter.com/Tribuo_fund    

#tribuowawykwakker 

#tribuowideawake

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top