Is duck ’n dive ’n vereiste om president te wees?

  • 1

Foto van Bettina Wyngaard: Izak de Vries

“Insanity is doing the same thing over and over, expecting a different result.” Is dit nie ook die definisie van onnoselheid nie? wonder ek soms.

Ek kan aan geen ander rede dink hoekom ons Suid-Afrikaners keer op keer vet om  die oë gesmeer word, en keer op keer verbaas, ontsteld en verontwaardig is daaroor nie. Ons kies dit mos, dan nie?

Zuma word, op sy aandrang, geleentheid gegee om in persoon voor die hof te verskyn om sy saak te stel. Hy word “siek”, en verwag nou van die hof om die saak uit te stel. Maar het ons dit nie al vantevore met hom gesien nie? Die voorspellings dat hy sy vonnis in een of ander hospitaal eerder as in die selle gaan uitdien, is tog gemaak selfs voordat hy sy eerste dag in aanhouding begin het, ook deur my. Hy het nog nie een enkele keer sedert die Khwezi-saak hofverrigtinge bygewoon of teenwoordig gebly nie. Dis dan hoekom hy in die eerste plek gevangenisstraf opgelê is. Hoekom hom weer die kans gee om dieselfde te doen, as dit nie malligheid of onnoselheid is nie?

Dalk is hy dié slag regtig siek, reken mense. Dr Phil het gesê: “The best predictor of future behaviour is past behaviour”, en Zuma se optrede in die verlede was nog altyd om te duck ’n dive en verantwoordelikheid vir sy dade te ontduik. Bonuspunte as hy een of ander demokratiese instelling in die proses in die hek kan laat duik.

Dus: Zuma is in die hospitaal vir toetse en/of operasies en/of ontduiking van die gevolge van sy dade. En hy giggel lekker, daarvan is ek doodseker. Ons kan seker nie anders verwag nie. ’n Jakkals, so vertel die spreekwoord ons, verander immers van haar maar nie van snaar.

Dan is daar my geliefde Uncle Cyril. Voor die Zondo-kommissie het hy ook maar lekker geduck en gedive. Dat hy geskok sou wees oor al die korrupsie en staatskaping wat reg onder sy neus aan die gang is, dié het ek verwag. Uncle Cyril was nog altyd in die verlede geskok. Maar die behendigheid waarmee hy duck ’n dive moes my seker nie geskok het nie.

.......

As Zuma se duck ’n dive ’n pantsula is, dan is Uncle Cyril s’n ’n statige wals. Die effek is dieselfde: Ons as onwillige dansmaat en verstomde toeskouer word elke keer met leë arms en meer vrae as antwoorde gelaat. En steeds dans ons voort. En steeds kies ons dieselfde dansmaat. Malligheid of pure onnoselheid, ek weet nie aldag meer nie.

.........

As Zuma se duck ’n dive ’n pantsula is, dan is Uncle Cyril s’n ’n statige wals. Die effek is dieselfde: Ons as onwillige dansmaat en verstomde toeskouer word elke keer met leë arms en meer vrae as antwoorde gelaat. En steeds dans ons voort. En steeds kies ons dieselfde dansmaat. Malligheid of pure onnoselheid, ek weet nie aldag meer nie.

Dalk het dit tyd geword dat ons ander danspassies aanleer. Flamenko vir passie? Of dalk is die riel meer gepas, sodat ons ook ’n slag stof in hulle oë kan skop.

Gaan dinge ooit verander tensy ons dansmaats uitruil? Maar wie? is die groot vraag. Al die ander potensiële dansmaats het twee linkervoete, en die behendigheid van ’n kleuter wat so pas leer loop het.

Dan maar voortfoeter met dieselfde dansmaats en hul bekende passies, en besef dat daar nie noodwendig ’n keuse te maak is tussen mal en onnosel nie. Dit kan al twee wees.

Of dalk, ten spyte van Uncle Cyril se versekering aan sy Maandag love letter, is state capture glad nie iets van die verlede nie. Is ons nie immers almal gecapture deur sy wals nie?

  • 1

Kommentaar

  • Ek is glad nie 'n politikus nie. Om die waarheid te sê, het ek my voorheen min gesteur aan politiek. Covid-19 het dit alles verander. Ek kyk nou gereeld nuus en weet meer van wat in ons eie land en die wêreld aangaan as ooit tevore. Al wat ek op hierdie berig wil sê is die volgende: Zuma is ten minste tronk toe. In my wildste drome sou ek dit nooit glo nie. Cyril krap korrupsie oral oop en die mense word aanspreeklik gehou. Ek het vir die eerste keer sedert Nelson weer hoop vir ons land. En as ek dit op die maat van 'n statige wals moet doen, dan wals ek definitief saam.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top