Interskole en die Derby: Steeds ’n tradisie tussen trots en druk?

  • 0

Foto: ©Tahir Xəlfə op Pexels

Daar is ’n bepaalde tyd van die jaar wanneer die Paarl se ritme verander. Die gesprekke op skoolterreine, in personeelkamers en selfs in die gemeenskap begin toenemend om een onderwerp draai: Interskole – die Derby. 

Vir geslagte lank is hierdie jaarlikse ontmoeting tussen skole veel meer as bloot ’n sportkompetisie. Dit is verweef met skoolidentiteit, gemeenskapstrots, herinneringe en ’n sterk gevoel van behoort. 

Vir oudleerders roep die Derby herinneringe van hul eie skooldae op. Vir huidige leerders is dit ’n geleentheid om hul skool se kleure met trots te dra. Vir die breër gemeenskap is dit ’n gevestigde tradisie op die Paarlse kalender.

........
Tog dwing die veranderende werklikheid van moderne onderwys ons om ’n ongemaklike vraag te vra: Het Interskole nog ’n plek in die hedendaagse skool? Indien wel, hoe verseker ons dat die tradisie nie sy doel verloor nie?
.........

Tog dwing die veranderende werklikheid van moderne onderwys ons om ’n ongemaklike vraag te vra: Het Interskole nog ’n plek in die hedendaagse skool? Indien wel, hoe verseker ons dat die tradisie nie sy doel verloor nie?

My antwoord is eenvoudig: Ja, daar is steeds plek daarvoor, maar nie sonder herbesinning nie.

Die waarde van Interskole lê immers nie bloot in die wen van ’n wedstryd of die verower van ’n trofee nie. Sport bied aan jongmense ’n tweede klaskamer waarin dissipline, selfbeheersing, samewerking, deursettingsvermoë en sportmanskap aangeleer word. ’n Leerder leer om ’n nederlaag te verwerk sonder om moed te verloor en om ’n oorwinning te vier sonder om sy opponent te verneder. Só behoort die Derby ’n uitbreiding van die opvoedingsproses te wees.

Die gevaar ontstaan egter wanneer die uitslag die doel word en die kind die middel.

Wanneer skooltrots ontaard in vyandigheid; wanneer wedywering aanleiding gee tot beledigings; wanneer sosiale media gebruik word om jongmense af te kraak; of wanneer volwassenes se emosies groter word as die opvoedkundige waarde van die geleentheid, het ons die kern van die Derby uit die oog verloor. Gesonde mededinging behoort nie respek uit te sluit nie.

Daar is egter ’n ander dimensie van Interskole waaroor veel minder gepraat word: die mense wat dit moontlik maak.

Agter elke span staan onderwysers wat reeds ’n veeleisende dagtaak verrig. Die onderwyser is tegelyk opvoeder, vakspesialis, administrateur, mentor, en dikwels ’n emosionele steunpilaar vir leerders. Wanneer die skooldag eindig, begin die sportprogram. Oefeninge moet beplan word, spanne moet voorberei word, logistiek moet gereël word, en leerders moet begelei word.

Die akademiese masjien moet tog voortgaan. Die sillabus moet afgehandel word. Boeke moet nagesien word. Toetse moet opgestel en gemodereer word. Graad 12-leerders moet voorberei word. Administratiewe verpligtinge wag nie omdat die Derby naderkom nie.

Die verwagting dat onderwysers hulself voortdurend “100%” moet gee, klink op papier bewonderenswaardig. In die praktyk moet ons egter onthou dat agter daardie “100%” ’n mens staan – iemand met ’n gesin, persoonlike verantwoordelikhede, finansiële druk, emosionele uitdagings en, soos enige ander mens, beperkte energie.

Dit is daarom onregverdig om die hele las van ’n gemeenskapstradisie op skole en onderwysers te plaas, terwyl die breër gemeenskap dikwels slegs as toeskouer optree.

Ons lewer baie vinnig kritiek: Die organisasie kon beter gewees het; die fasiliteite is onvoldoende; die kaartjiepryse is te hoog; die span het swak gevaar; die afrigter moes anders opgetree het. Sommige kritiek is uiteraard geldig en skole behoort aanspreeklik te wees, maar kritiek sonder betrokkenheid is selde konstruktief.

Waar is die ondersteuning wanneer daar toerusting benodig word? Waar is die oudleerders wanneer ’n sportprogram finansiële ondersteuning benodig? Waar is die besighede wanneer fasiliteite verbeter moet word? Waar is die vrywilligers wanneer logistieke ondersteuning nodig is?

As ons die Derby as deel van die Paarl se erfenis beskou, moet ons bereid wees om dit ook as ’n gedeelde verantwoordelikheid te aanvaar.

Die toekoms van Interskole behoort daarom nie in die afskaffing van tradisie te lê nie, maar in die herdefiniëring daarvan. Ons moet die passie, skoolgees en gesonde wedywering behou, maar terselfdertyd die welstand van leerders en onderwysers beskerm. Ons moet sport en akademie nie as mededingende belange beskou nie, maar as aanvullende komponente van holistiese opvoeding.

Die Derby het steeds ’n plek.

Daardie plek moet een wees waar tradisie nie ’n las word nie; waar kompetisie nie respek verdring nie; waar kritiek deur ondersteuning vergesel word en waar die mense wat die geleentheid moontlik maak, nie in die proses opgebruik word nie.

Wanneer die laaste fluitjie blaas, behoort die belangrikste vraag nie slegs te wees “Wie het gewen?” nie.

Die belangrikste vraag behoort te wees: “Wat het ons kinders hieruit geleer en wat het ons as gemeenskap gedoen om seker te maak dat hulle môre weer iets het om in te glo?”

Dít is die Derby wat die Paarl se erfenis waardig is.

Lees ook:

Skoleseminaar: Skooltoelatingsvereistes vra vir diepgaande besinning

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top