
Sandra Jacobs (foto: Innibos)
Sandra Jacobs van Innibos: media en bemarking, praat met Naomi Meyer oor dié fees, wat aan die einde van Junie afskop.
Sandra, ek sien Innibos skop oor ‘n paar weke af. Wat is vir jou hoogtepunte op vanjaar se program?
..........
Ek is veral opgewonde oor die feit dat ons vir die eerste keer sedert Covid weer ’n volwaardige fees kan aanbied met ’n feesterrein stampvol goeie vermaak en ’n heerlike toneel- en musiekprogram buite die feesterrein.
...........
Ek is veral opgewonde oor die feit dat ons vir die eerste keer sedert Covid weer ’n volwaardige fees kan aanbied met ’n feesterrein stampvol goeie vermaak en ’n heerlike toneel- en musiekprogram buite die feesterrein. Dit is vir ons altyd ’n hoogtepunt om ook ’n paar debute op die feesprogram in te sluit. Die musiekteater-en-woordkuns-produksie De Priester, De Slippers en De Gin, met Jak de Priester, Bibi Slippers en Heinrich Pelser, het sy oorsprong in een van Innibos se huiskonserte in 2021, waar ons hierdie twee kunstenaars uitgenooi het om vir die eerste keer saam iets aan te bied. Hulle dinamika het net gewérk, en ons het hulle gevra om dit tot ’n volwaardige produksie te verwerk vir Innibos 2023. Dan is daar Kuns in Die Liedjiebos, wat digkuns, musiek, die beeldende kunste en selfs dans saamsnoer in een unieke belewenis. Op die toneelfront debuteer Frank Opperman met Reünie uit die pen van Dana Snyman. Dié twee vorm reeds jare lank ’n gedugte span om vars, nuwe werk te skep. Met de Klerk Oelofse in die regisseurstoel is dit iets waarna ek besonder uitsien. Hans gee Herklaas horings, die opvolg op die skreeusnaakse Hans steek die Rubicon oor, is nog ’n debuut waarna ons uitsien.
Die feesprogram lyk stampvol as ek na julle webtuiste kyk. Watter afdelings is daar wat jy wil uitsonder en hoekom?
Komedie is altyd die kern van ons toneelprogram. Veral na wat ons almal deur is die afgelope twee jaar, is so ʼn bietjie ontvlugting in die teater heerlik. Daar is Laerskool Noord, Magda Louw, die klug My vrou se man se vrou en Lizz Meiring in Van die rak af. Ernstiger werke soos Sandra Prinsloo se Kamphoer en die dramakomedie Mirakel met oa Dawid Minnaar sorg egter vir genoeg vleis om die toneelprogram. Op die musiekfront is daar Grensloos met Coenie de Villiers en André Schwartz – ʼn wenkombinasie op die verhoog. Daar is ook ’n klassieke program op Sondag 2 Julie met ’n wye verskeidenheid kunstenaars en die Harvard-universiteit se a capella-groep die Krokodiloes wat Innibos op hul wêreldtoer insluit.
Op die feesterrein is populêre musiek die hoofbestanddeel met groot konserte op die hoofverhoog waar die room van Suid Afrika se kunstenaars elke aand optree. Daar is egter ook kuierverhoë met alternatiewe musiek, ’n bietjie ligte klassiek en opkomende kunstenaars. Dan is daar kinderteater by Spar Woelwaters en klein brokkies teater by die opelug- Laevelder Boma Kuierteater. Daar is regtig iets vir almal!

Niemand wil oor Covid praat nie, behalwe dalk om daarop te wys dat die fees ten spyte daarvan oorleef het. Nou moet mens noem dat beurtkrag ’n kopseer is ... Hoe maak julle planne en beplan jul om uitdagings hok te slaan?
Ja, dit was inderdaad ’n baie moeilike twee jaar waarin ons oorleef het deur klein borgskappe te bekom en miniproduksies aan te bied wat ons binne die regulasies suksesvol kon doen. Beurtkrag is, soos jy tereg sê, nou weer ’n nuwe uitdaging. Ons maak voorsiening vir kragopwekkers by al ons venues en is besig om met die stadsraad te onderhandel oor tydelike verligting van beurtkrag. Die fees bring jaarliks ’n ekonomiese inspuiting van meer as R80 miljoen na die Laeveld, en dit is daarom in die stad se belang om die fees by te staan waar hulle kan.
Waarom ’n kunstefees, ten spyte van alles?
Bansky, die bekende Amerikaanse graffitikunstenaar, het gesê: "Art is the greatest form of hope." Sonder die kunste verarm ons op alle terreine.
Laat weet asseblief ’n paar praktiese sake: pryse van kaartjies, waar julle is, venues en verblyf.
Die volledige program en skakels na kaartjieverkope is op www.innibos.co.za. Kaartjiepryse wissel tussen R100 en R300 (hierdie kaartjie sluit ’n ligte ete in) per produksie buite die feesterrein. Feesterreinkaartjies, wat al die vermaak, konserte en aanbiedings op die feesterrein insluit, is R200 (Donderdag 29 Junie), R225 (Vrydag 30 Junie) en R250 (Saterdag 1 Julie).
Kaartjies kan ook gekoop word deur direk na Computicket te gaan: https://innibos.computicket.com.
Lees ook:
Marc Bamuthi Joseph: video of the keynote address, Tribuo arts conference, 3 June 2023

