Persverklaring: Kuns by Innibos kom byeen in die Liedjiebos

  • 0

Die veelsydige musikant Lizanne Barnard het kuns in verskeie genres saamgesnoer vir ’n eenmalige woord-, kuns- en musiekervaring tydens Innibos Kunstefees in Mbombela vanjaar.

Kuns inni Liedjiebos omvat ’n wye verskeidenheid kunsvorme, van woord- tot beeldende kuns, musiek en dans. Die wegspringplek was om mense te vra om gedigte in te stuur waaruit Lizanne musiek kon skep, maar in ’n verdere stap is van dié gedigte ook gegee aan beeldende kunstenaars om fisiek gestalte te gee aan daardie digwoorde.

“Die inhoud van Liedjiebos spreek van ’n wye verskeidenheid. Dit is ’n visueel sterk aanbieding, gerugsteun deur oorspronklike musiek. Dit was belangrik dat die musiek nie slegs my eie styl is nie, daarom het ek instrumentasie ingebring wat elke liedjie tot sy reg sal laat kom in die wye verskeidenheid van genres wat daar is.” Sy gebruik oudergewoonte verskeie instrumente in die uitvoering, waaronder marimba, klavier en harp.

Lizanne glo daarin om haar met talent te omring. Onder die musikante is onder andere Adam Helberg, Vinnie Henrico op tromme (“hy is só veelsydig, vergeet van doem-tjiek-doem-tjiek!”) en Jahn Beukes, saam met wie sy in die verlede ook gewerk het aan die verhoogstuk Uit die bloute. “Jahn is baie goed daarmee om ’n ligte kant in te bring.” Jan Blohm tree as gaskunstenaar op, en sal ook van sy skilderwerk uitstal.

’n Aantal Laeveldse kunstenaars vorm deel van Liedjiebos. Lizanne is deesdae dirigent van die Laeveldse Gemeenskapsorkes en werk dus nou saam met die plaaslike talent. Daarby sal die koor van Laerskool Bergland ook optree. Germandt Geldenhuys gaan ’n gedig voorlees wat in dans geïnterpreteer gaan word, en hy en Lizanne sing ook ’n duet.

Ilona Petzer, Laeveldse skilder, is die kurator wat die kunswerke byeenbring. Volgens Lizanne was dit opwindend om te sien watter gedigte deur die onderskeie visuele kunstenaars gekies is om uit te beeld. “Om inspirasie deur ’n gedig te kry, is nie alledaags nie. Nie alle gedigte was geskik as liedjiemateriaal nie, maar het dan beslis daardie ‘iets’ gehad wat lei tot ’n visuele skepping.” Onder die visuele kunstenaars is Ilona self, Onder die visuele kunstenaars is Ilona self, asook Anton en Hanlie Bosch, Esra Bosch, Mariana Zwaan, Winston Thekiso, Erica Schoeman en Carel de Beer.

Lizanne het ook haar hand aan ’n skilderstuk én ’n beeldhouwerk gewaag. “Die skilderstuk is van ’n gedig wat ek vir wyle regisseur Gerrit Schoonhoven geskryf het om hom moed in te praat op sy sterfbed. Hy het ons altyd aangemoedig met die woorde ‘die lewe is kort, wees briljant’. Dit het in my kop vasgesteek ... ek gebruik dit nou wanneer die Laeveld Gemeenskapsorkes optree, en ek wou dit uitbeeld.”

Dit is ’n “stemryke” produksie, verduidelik Lizanne. “Selfs die digters wie se werk nie in di eeindproduk ingesluit kon word nie, het ’n bydrae gelewer. Dit is ’n vervullende kreatiewe energie waarvan dalk ’n stukke kan saamneem met dié dat die kunswerke ook te koop is.” Die kunswerke word die hele feesweek by Christie’s uitgestal.

  • Kuns inni Liedjiebos is op Vrydag, 30 Junie, om 18:00 by Christie’s at 32 on Russell en kaartjies kos R300 en sluit ’n vingerete, die musiekvertoning, en kunsuitstalling in.
  • Vir die volledige Innibos-program en skakels na die kaartjieverkope, gaan na innibos.co.za. Kaartjies is te koop by Computicket, en ook by die Innibos-kantoor op die hoek van De Villiers- en Anneckestraat by Sonpark-sentrum in Mbombela.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top