Innibos 2021-persverklaring: Gaan Bos inniMall en lag vir ’n korona-kielie

  • 0

Westley van der Westhuizen en Schalk Bezuidenhout (foto: verskaf)

Laat die swaarmoedigheid van die afgelope uitdagende tyd bietjie links lê en kom kikker jou gemoed op by een van die komedies van die Korona-kielie tydens Gaan Bos inniMall.

i’langa Mall in samewerking met Standard Bank Innibos bring ’n kunstefees in die kleine na hul winkelsentrum van 23 tot 25 September. Alle kaartjies vir dié vertonings by Ster Kinekor kos slegs R100 en is te koop by i’langa Mall se bestuurskantoor (naby die Mugg & Bean-ingang). Beperkte sitplekke ingevolge die huidige regulasies, so roer die litte vir jou kaartjie!

’n Besliste hoogtepunt is Steeds Donkie, uit die pen van Dana Snyman. Frank Opperman is die uitgebrande, suwwe en gebombardeerde skoolhoof van Hoërskool Hans Oosthuizen. Hy oorweeg dit selfs om te bedank, maar een Maandagoggend tydens saalopening besluit hy om keel skoon te maak en sy kant van die saak te stel.

Dit is ’n produksie met soveel humor, fyn waarneming en subtiele kommentaar dat iedereen hulle daarin sal verkneukel. Frank Opperman is weer eens meesterlik. Steeds Donkie is Donderdag, 23 September, om 10:00.

In Schalk sing sleg smee komediant Schalk Bezuidenhout kragte saam met die musikant Wesley van der Westhuizen om Afrikaanse stand-up komedie en vlymskerp oorspronklike liedjies en musiek te kombineer. Hy weier om met backtracks op te tree soos die een of ander snotkop met ’n snor en onderneem sy liedjies sal jou laat mis, eet, slaap, herhaal én skater. Die vertoning is om 16:00 op Saterdag, 25 September.

Dowwe Dolla wou al verlede jaar koebaai sê, maar toe ry antie Corona en haar niggie Nkosozana als in die wiele. Nou gaan sy regtig haar lollie op Gumtree verkoop, maar nie voordat sy mond skoonmaak oor wokeness, Cyril se paddas in die pot en Ace se plot nie.

Saam met Margit Rödenbeck-Meyer as Dolla is Coenraad Rall op klavier. Koop jou kaartjie vir Donderdag, 23 September, om 18:00.

Vrydag, 24 September, om 12:00 is dit Wynand von Vollenstee se beurt om almal se keelvolheid komies te verwoord in Geen salf te smeer. Sakkie is keelvol, want onder meer is maskers nie gemaak vir vet mense nie en sy drome lê aan skerwe nadat hy as onderwyser besluit het om die lat uit die kas te haal. In sy nuwe loopbaan as verslaggewer tref ’n tornado vir Mooinooi en die poppe begin dans ... Dit is lekker vars komedie van dié veelsydige teater- film- en televisieakteur.

Lees ook:

Persverklaring: Innibos 2021 – Kom na i’langa en Gaan Bos inniMall!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top