In reaksie op Sakkie Spangenberg se boek: Wat die Waarheid is

  • 17

“Radical simply means ‘grasping things at the root’.” – Angela Davis

In sy lesersindruk van Spangenberg se Die Bybel, Die Christelike godsdiens en die waarheid vra Koos Kombuis as ons dan weet wat die waarheid nie is nie, wat is dit dan? Ek het in my vorige twee artikels probeer demonstreer dat Spangenberg verkeerd is oor wat die waarheid nie is nie, maar dit sal nie deug om daar te stop nie, want selfs al sou ons weet wat die waarheid nie is nie, bly Koos se vraag steeds onbeantwoord. Hiermee dan die laaste in ’n trilogie van reaksies op Spangenberg se boek.

Destyds, in 2003 tydens die God-debat op LitNet, het Spangenberg geskryf: “Slaag mens [...] om afstand te doen van die meesterverhaal, is daar niks minder as musiek in hierdie tekste nie.” Ek het die musiek van die hand gewys, want as hy reg is en die teks waarvan hy praat gestalte gegee het aan die grootste klug in die geskiedenis van die mensdom, is daar geen plek vir musiek daarin nie. Die teks is óf ’n rumoer uit die hel self óf dit is die temamusiek van die mooiste verhaal ooit. Jesus was óf ’n bedrieër van die laagste orde óf hy was wie hy gesê het hy is. Daar is geen middelgrond nie.

Nou, in die slothoofstuk van Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid skryf Spangenberg dat die pragtige katedrale en kerke nie saam met die sterwende Christendom na die ashoop gekarwei hoef te word nie, want hulle het darem kultuurwaarde. Weer eens, nee dankie. As die kerk, soos beskryf in die Nuwe Testament, ’n lewende organisme is, is sy nie hierdie lewelose, mensgemaakte strukture nie en sal dit dalk beter wees as hulle wel na die ashoop gekarwei word, want hul blote bestaan skep verwarring oor wat die kerk werklik is, die meeste van almal by Christene self.

........
Ek stem wel met Spangenberg saam dat daar fout is met die kerk, maar nie met wat dit is nie. Die probleem lê nie by die Christelike leerstellings of by die meesterverhaal nie, maar by die kerk self.
........

Ek stem wel met Spangenberg saam dat daar fout is met die kerk, maar nie met wat dit is nie. Die probleem lê nie by die Christelike leerstellings of by die meesterverhaal nie, maar by die kerk self.

Dis ’n drastiese stelling, maar laat my asseblief toe om te verduidelik.

Die kerk in krisis

“Om jouself te ken is die begin van alle wysheid.” – Aristoteles

Volgens Jim Davis en Michael Graham, skrywers van The Great Dechurching, het meer as 40 miljoen mense in Amerika alleen die kerk in die afgelope 25 jaar verlaat. Die boek is geskryf vanuit ’n evangeliese perspektief, maar dit bevat statistieke oor denominasies heen. Mense loop weg van basies elke vertakking van die Christendom; ook Pinkster- en sogenaamde mega-kerke toon ’n afname in lidmaattal. Die skrywers benadruk dit egter dat baie van die mense wat opgehou het om kerk by te woon, nie evangeliste is nie. Trouens, baie identifiseer steeds as Christene met perfek-ortodokse Christelike oortuigings. Hulle gaan net nie kerk toe nie.

Introspeksie skop gewoonlik eers in wanneer ’n kerk ’n krisis in die gesig staar, gewoonlik in die vorm van ’n kwynende lidmaattal en die gevolglike finansiële probleme. Hierop volg daar dan krisisbeheer en word daar “kreatief” gedink aan oplossings. Dalk word kerkprogramme aangepas om ’n veranderende wêreld meer doeltreffend te bereik. Dalk word daar met ’n ander kerk saamgesmelt om hulpbronne te kombineer. Dalk is daar uitreikprogramme, fondsinsamelings, beslis ’n kerkbasaar. Geen menslike poging sal egter die verdiepende krisis kan afweer as die kerk self nie die werklike rede vir haar krisis verstaan nie.

.......
Maar wat as die kerk self nie meer verstaan waaroor kerk gaan nie? Wat as die werklike krisis van die kerk nie net te vinde is in eksterne omstandighede en invloede nie, maar primêr in haar eie identiteitskrisis?
.......

Dit kan sekerlik geredeneer word dat baie moderne Christene aan oordrewe individualisme ly, aandag-afleibaar is in ’n digitale era, respek vir gesag verloor het en gewoon nie meer verstaan waaroor kerk gaan nie. Maar wat as die kerk self nie meer verstaan waaroor kerk gaan nie? Wat as die werklike krisis van die kerk nie net te vinde is in eksterne omstandighede en invloede nie, maar primêr in haar eie identiteitskrisis?

 Die ware krisis

Ecclesia reformata, semper reformanda! ’n Hervormde kerk moet altyd hervorm. (Oorsprong: Jodocus van Lodenstein, 1674)

Die 20ste eeu het op ’n baie optimistiese noot begin. Nuwe wetenskap, tegnologie, industrieë, medisyne en dies meer het die toekoms rooskleurig laat lyk. Sedert 1910 het die stemming egter aansienlik verander met oorloë, natuurrampe, armoede, ekonomiese resessies en die misbruik van tegnologie. Die opkoms en rampspoedige gevolge van ideologieë soos fascisme, nazisme, kommunisme, kapitalisme en neoliberalisme het blywende letsels gelaat.

In ’n poging om ’n mate van invloed en mag te behou, het die kerk dikwels verkeerde antwoorde gegee, haar aan die verkeerde kant geskaar en selfs teologiese en etiese regverdiging aan onreg en geweld verskaf. Baie Christene was ontnugter deur die kerk se gebrek aan integriteit en klaarblyklike diensbaarheid aan politieke agendas. Die bruid van Christus het oënskynlik die diensmeisie van allerlei wêreldse agendas geword. Al was daar sedert haar ontstaan ontnugterdes, het die kerk nou in een eeu heeltemal gemarginaliseer geraak en het mense haar in groot getalle begin verlaat. Groeiende skeptisisme is een van die kenmerke van die hedendaagse samelewing. Baie van wat eens as “heilig” beskou is, word vandag aan dekonstruksie en logika onderwerp, ook die kerk.

.........
Dit is ’n riem onder die hart om te onthou dat die kerk nog nooit vir ’n lang tyd gefloreer het sonder om een of ander ernstige krisis in die gesig te staar nie. Die kerk is altyd op ’n pelgrimsreis op pad na die Nuwe Jerusalem, altyd in opposisie met ideologieë en altyd onder bedreiging.
.........

Die kerk staan verleë oor haar eie onvermoë om op ’n gepaste wyse op die groeiende krisis te reageer. Kerkgroeitegnieke het geen betekenisvolle of blywende effek gehad om die agteruitgang te stuit nie. Die persepsie dat die kerk se groei bestuur of georganiseer kan word, is verkeerd bewys.

Die nuwe millennium konfronteer die kerk dus met haar eie mislukkings en dit is ’n saak van dringendheid dat sy haarself sal onderwerp aan eerlike introspeksie om te verstaan tot watter mate sy vir haar eie krisis verantwoordelik is en waarom sy haar aanvanklike vuur verloor het. In haar huidige gedaante sal sy dit baie moeilik vind om betekenisvol in ’n hiper-sekulêre samelewing te oorleef.

Dit is ’n riem onder die hart om te onthou dat die kerk nog nooit vir ’n lang tyd gefloreer het sonder om een of ander ernstige krisis in die gesig te staar nie. Die kerk is altyd op ’n pelgrimsreis op pad na die Nuwe Jerusalem, altyd in opposisie met ideologieë en altyd onder bedreiging. Hierdie eksterne bedreigings is egter onbeduidend in vergelyking met ’n bedreiging van binne, sou dit toegeskryf kan word aan ’n onvermoë om te weet, te wees en te bly wat sy veronderstel is om te wees. Dit is gewoonlik die diskrepansie tussen die ware aard en die empiriese manifestasie van die kerk wat lei tot krisis, verlies aan integriteit en regressie.

Semper reformandum is die beginsel dat ons altyd moet poog om terug te keer na die oorspronklike geloof, juis omdat die kerk so gereeld daarvan wegstap. Dit gaan oor die radikale nakoming van die Skrif. In hierdie sin is protes ’n geskenk aan die kerk. Dit is die protestante wat die kerk voortdurend met ’n heilige jaloesie herinner aan haar ware identiteit en aan wie sy behoort.

Om die status quo te bevraagteken

“A truth’s initial commotion is directly proportional to how deeply the lie was believed. It wasn’t the world being round that agitated people, but that the world wasn’t flat. When a well-packaged web of lies has been sold gradually to the masses over generations, the truth will seem utterly preposterous and its speaker a raving lunatic.” – Dresden James

“Some institutions are allowed to grow so old and venerable that the idea of scrapping them is unthinkably sacrilegious.” – FF Bruce

Dit is baie moeilik om ’n ding wat jy eers gesien het, op ’n ander manier te sien. As jy byvoorbeeld na ’n fliek wat op ’n boek gebaseer is, kyk en jy lees die boek daarna weer, is dit baie moeilik om jou die karakters heeltemal anders voor te stel as hoe hulle in die fliek gelyk het. Sodra iets vir jou gedefinieer is, sal jy dit selde bevraagteken. Net so word ons in die wêreld gebore met dinge wat werk soos hulle werk en wat ons as gegewe aanvaar, dinge soos die onderwysstelsel, die ekonomie, die regeringstelsel ... en die kerk. Nes ’n skool ’n hoof, onderwysers, leerlinge en klaskamers het, het die kerk ’n leraar/dominee/pastoor, ouderlinge en diakens, lidmate en kerkgeboue. Dis net hoe dit is, ongeag watter skool of kerk jy bywoon.

........
Net omdat iets tans ’n sekere voorkoms het, of op ’n sekere manier gedoen word, beteken egter nie dat dit altyd so was of altyd so hoef te wees nie. Trouens, die kerk wat ons vandag sien, is radikaal anders as die kerk van die Nuwe Testament.
........

Net omdat iets tans ’n sekere voorkoms het, of op ’n sekere manier gedoen word, beteken egter nie dat dit altyd so was of altyd so hoef te wees nie. Trouens, die kerk wat ons vandag sien, is radikaal anders as die kerk van die Nuwe Testament. Daar is so baie verskille wat so diepgaande is dat dit moeilik is om die twee modelle – die oorspronklike en die huidige – met mekaar te versoen. En dalk is hulle onversoenbaar.

Vergun my nou ’n kort geskiedenisles, want ek moet darem ’n bietjie lyf gee aan die groot stellings wat ek maak.

’n Beknopte kerkgeskiedenis

“When the Greeks got the gospel, they turned it into a philosophy; when the Romans got it, they turned it into a government; when the Europeans got it, they turned it into a culture; and when the Americans got it, they turned it into a business.” – Richard Halverson

Die Rooms-Katolieke Kerk dateer sy ontstaan terug na Pinksterdag in die bovertrek in Jerusalem. Volgens die Katolieke tradisie is die kerk ’n voortsetting van die vroeë Christelike gemeenskap wat deur die dissipels van Jesus gestig is. Die Rooms-Katolieke Kerk beskou sy biskoppe as die opvolgers van Jesus se apostels met die kerk se leier, die biskop van Rome (ook bekend as die pous), as die enigste opvolger van St Petrus wat in die eerste eeu nC in Rome in die bediening gestaan het na sy aanstelling as hoof van die kerk deur Jesus.

Die term Katolieke Kerk (Wêreldwye Kerk) is in 110 nC vir die eerste keer gebruik deur Ignatius van Antiochië in ’n brief aan die kerk in Smirna. In hierdie en ander briewe het hy aangedring op die belangrikheid van die biskoppe in die kerk. Teen die einde van die tweede eeu is die meeste kerke deur ’n enkele biskop regeer.

Protestante protesteer dat daar geen bybelse of historiese bewyse bestaan vir die Rooms-Katolieke Kerk se bewerings dat Petrus die eerste pous was nie of dat daar selfs ’n pous in die eerste eeu was nie. Selfs Katolieke historici gee dit toe. Daar is geen melding van Petrus wat ooit wes van Jerusalem of selfs naby Rome was nie, aangesien Paulus gesê het dat hy nie gepreek het waar enige van die dissipels gepreek het nie. Eamon Duffy, emeritusprofessor in die geskiedenis van die Christendom aan die Universiteit van Cambridge, stel dit duidelik in sy Saints and sinners: A history of the Pope:

Nie Petrus of Paulus het die kerk in Rome gestig nie, want daar was Christene in die stad voordat enigeen van die apostels hul voete daar gesit het. Ons kan ook nie aanvaar, soos Irenaeus gedoen het, dat die apostels ’n opeenvolging van biskoppe daar gevestig het om hul werk in die stad voort te sit nie, want al die aanduidings is dat daar vir byna ’n eeu na die dood van die apostels geen enkele biskop in Rome was nie.

........
Oornag het die Christendom die mees begunstigde ontvanger van die byna onbeperkte hulpbronne van imperiale gunste geword. ’n Geloof wat in nederige strukture vergader het, is skielik in manjifieke openbare geboue gehuisves – die nuwe kerk van Sint Petrus in Rome is geskoei op die basilikavorm wat vir keiserlike troonsale gebruik is.
........

Die eerste “wêreldwye” kerkraad van Nicaea in 325 nC het uit sowat 150 biskoppe bestaan, almal met dieselfde gesag. Toe keiser Konstantyn die hulpbronne van die ryk egter agter die kerk (en biskop) van Rome geplaas het, het dit die de facto standaard van ortodoksie geword. Konstantyn het die Christendom dus van ’n voetsoolvlakbeweging verander in ’n instelling wat beheer is deur ’n elite. Konstantyn het die massiewe staatsfinansiering waarvan die heidense tempels nog altyd afhanklik was, na die Christene herlei. Oornag het die Christendom die mees begunstigde ontvanger van die byna onbeperkte hulpbronne van imperiale gunste geword. ’n Geloof wat in nederige strukture vergader het, is skielik in manjifieke openbare geboue gehuisves – die nuwe kerk van Sint Petrus in Rome is geskoei op die basilikavorm wat vir keiserlike troonsale gebruik is.

Tog was daar in dié tyd nog geen pous soos dit vandag verstaan ​​word nie en is die titel eers tydens die tweede ekumeniese konsilie van Lyon in 1274 geskep en terugwerkend ook aan die vorige biskoppe van Rome toegeken. Tydens hierdie konsilie het die biskoppe verklaar dat die Katolieke Kerk aan die pous “volle, opperste en universele mag oor die hele kerk” toeskryf. Dit is meer as ’n duisend jaar nadat Jesus en Petrus gesterf het.

Dit alles het ’n paar beduidende implikasies. Dit stel vrae oor die hele idee van apostoliese opvolging deur die biskoppe. Meer nog, die oortuiging dat biskoppe net ouderlinge onder ’n ander naam was, word nie net deur Protestante gehuldig nie, maar ook deur Katolieke owerhede en deur die meeste sekulêre historici. As biskop en ouderling sinonieme is, dan is priester ook nie ’n afsonderlike kategorie van leke en biskop nie.

In die Nuwe Testament kom die woord presbyteros meer as 60 keer voor (Handelinge 14:23; 20:17; 1 Timoteus 5:17). Hierdie woord beteken eenvoudig ouderling of ’n ouer man. Die ouderlinge of presbiters van die eerste-eeuse kerk was ouer en volwasse Christene wat aangestel is om toesig te hou oor en om as herders te sorg vir die gemeente (Titus 1 en 1 Timoteus 3). Daar was ’n veelheid ouderlinge in elke gemeente en hulle het nooit as tussengangers tussen God en die kerk opgetree nie.

Die Griekse woord vir priester is hiereus en dit kom meer as 30 keer in die Nuwe Testament voor (Matteus 8:4; Handelinge 4:1; Hebreërs 7:1). Dit is die Griekse woord vir ’n man wat as tussenganger tussen God en mens optree. Maar ’n ouderling (presbiter) in die kerk is nooit ’n priester (hiereus) genoem nie. Met ander woorde, hierdie twee woorde is nie verwant of as sinonieme gebruik in die Nuwe Testament nie.

Wie word in die Nuwe Testament priesters genoem? Hier is die mense op wie hierdie woord toegepas is:

  • Levitiese priesters – Leviete het afgestam van Aäron (die broer van Moses) wat onder die Ou Testamentiese Wet aangestel is om in die tempel te dien (Matteus 12:4–5; Lukas 5:14; Handelinge 4:1).
  • Heidense priesters – Afgodeaanbidders wat as tussengangers tussen heidense mense en hul mitologiese, heidense gode opgetree het (Handelinge 14:13).
  • Melgisedek – ’n Priester in die Ou Testament wat op Jesus Christus gewys het (sien Hebreërs 5–7).
  • Jesus – Jesus word ons Hoëpriester genoem (Hebreërs 2:17; 3:1; 4:14; 5:1–10; 5:20). Hy is die een wat as ons enigste tussenganger dien.
  • Alle Christene – Petrus het geskryf dat alle Christene ’n “koninklike priesterdom” uitmaak (1 Petrus 2:9) en die apostel Johannes het geskryf dat alle Christene van sonde bevry is en tot priesters gemaak is (Openbaring 1:6–7).

In die Nuwe Testament word die woord priester nooit toegepas op ’n persoon wat ’n bepaalde amp in die kerk beklee nie.

Die hiërargiese struktuur (heilige ordening) van die Rooms-Katolieke Kerk wat bestaan uit pous, kardinaal, aartsbiskop, biskop, priester en diaken, skyn dus nie op goddelike of bybelse gesag te berus nie, maar op tradisie en menslike praktyke.

Wat dan van die Protestantse kerke wat op hul beurt hul oorsprong in die Rooms-Katolieke Kerk het – hoe skriftuurlik is hul eie strukture en praktyke?

Die reformasie van die sestiende eeu was die gevolg van groeiende ontevredenheid met die pous en biskoppe se toenemende misbruik van geestelike mag vir politieke en persoonlike gewin. Uit dié hervorming het die vyf solae gevolg wat die hervormers onderskei het van die leerstellings van Rome.

Van die Latynse solus, wat alleen beteken, word die solae die beste verstaan ​​as beklemtonings, nie leerstellings per se nie, wat deur die meeste van die verskillende Protestantse groepe bely word, al verskil hulle oor die spesifieke maniere waarop hierdie prioriteite in hul leerstellige formulerings uitgedruk moet word.

Die meeste van die vroegste artikulasies van die solae het die volgende drie gespesifiseer: Sola scriptura (skrif bo tradisie), Sola fide (geloof bo werke) en Sola gratia (genade bo verdienste). Elkeen is bedoel om ’n belangrike onderskeid te verteenwoordig wat afstand tussen hulle en die leerstellings van die Room-Katolieke Kerk geplaas het. Daarmee het hulle ontken dat daar enige reddingswaarde in boetedoenings, sakramente of goeie werke is.

Voeg daarby Solus Christus, of “slegs Christus”, wat die priesterlike klas oorbodig maak vir sakramentbedienings omdat Christus die enigste middelaar tussen God en mens is, en laaste maar nie die minste nie Soli Deo gloria, of “eer aan God alleen”, ​​wat in opposisie staan met die verering van Maria, die moeder van Jesus, die heiliges of engele.

Dit lyk dus of die reformasie al die belangrike hervormings gemaak het. Maar het dit?

Meer van dieselfde

“Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.” – Mattheus 23:8–10

Die reformasie het wel van biegsessies, die verering van Maria en heiliges, van altare, heiligdomme, standbeelde en loodglasvensters ontslae geraak, maar dit het die fondament van die kerkstruktuur ongeskonde gelaat. Dit het nie die organiese praktyke wat die leer van die priesterskap van alle gelowiges beliggaam, herstel nie. Die hervormers se siening van die priesterskap van alle gelowiges was individualisties, nie korporatief nie. Dit was beperk tot soteriologie (redding) en het nie ekklesiologie (die kerk) behels nie. Die reformasie het die grondgebied vir ’n gelowige priesterskap herwin, maar sonder om dit te beset, en het dit in werklikheid gereserveer vir die priesterskap van ’n nuwe eksklusiewe klas heiliges. Laat ek verduidelik.

Die leierskapstruktuur van Protestantse kerke wat ons vandag ken, is afgelei van ’n posisionele ingesteldheid wat van die Rooms-Katolieke Kerk geërf is: Daar is poste om te vul, posbeskrywings om uit te voer, titels om uit te deel en range om te trek. Terme soos pastoor, profeet, dominee, kapelaan, predikant en apostel is titels wat kerklike ampte verteenwoordig. Hulle is beroepe, soos onderwyser en prokureur. Jy kan nog op die skoolbanke sit en reeds besluit dat dit die beroep is vir jou, dat dit is wat jy gaan swot. Al wat tussen jou en jou loopbaan staan, is eksamens om te slaag, karaktertoetse kom nie ter sprake nie.

Die skeiding tussen geestelike leiers (soos pastore en dominees) en leke (gewone lidmate) is ’n direkte oordrag van pre-reformasie-Rooms-Katolisisme en is ’n terugslag na die Ou Testamentiese priesterskap. Die idee is dat slegs “heiliges” – professionele, geordende predikante, pastore en diesulkes – gekwalifiseer en verantwoordelik is vir kerkleierskap en bediening.

Die Bybel toon egter onwrikbaar dat ’n veelheid van ouer manne (ouderlinge) toesig gehou het oor die aktiwiteite van die vroeë kerke. Daar was geen enkelleiers nie. Nuwe Testamentiese leraars het onderrig op dieselfde voet as alle ander lede. Hulle het nie die vergaderings van die kerk gemonopoliseer nie. Ouderlinge was bloot geestelike volwasse mans – voorbeeldige Christene. Dit was hulle wat gebid het met hul oë oop, hul geestelike antennas voortdurend gelig. Hulle was allermins organisatoriese boegbeelde of gehuurde geestelikes.

.......
Die topswaar, hiërargiese kerkstrukture soos ons dit vandag ken, is eenvoudig nie versoenbaar met die primitiewe eenvoud van die organiese kerk van die Nuwe Testament nie.
.......

Ouderlinge het altyd organies na vore getree lank nadat ’n kerk gebore is. ’n Kerk stel nie ouderlinge aan nie. Dit produseer ouderlinge. Die ouderling se opleiding was nie akademies, formeel of teologies met kwalifikasies afkomstig van professionele skole of lisensies nie. Dit is gekweek binne die konteks van die organiese, kerklike lewe. Ouderlinge was nie beroepspredikante nie, maar selfonderhoudende gesinsmanne met sekulêre werke (Handelinge 20:33–5). Paulus het aan die ouderlinge in Efese gesê om sy voorbeeld te volg en nie geld van die gemeente te vat nie, maar om te werk sodat hulle aan ander kan gee. Omdat Paulus ’n rondreisende apostoliese werker was, het hy die reg gehad om volle finansiële ondersteuning te ontvang, en tog het hy telkens daarvan afstand gedoen.

Paulus het altyd die (hele) kerk self aangespreek, nie ’n leier of ouderlinge van die kerk nie. Toe Paulus probleme in die gemeente van Korinthe aangespreek het, het hy nooit ’n beroep op die ouderlinge gedoen nie. Hy spreek die “broeders” aan asof daar geen ouderlinge bestaan ​​nie. Jakobus, Johannes en Judas het in dieselfde strekking geskryf. Die rol van leiers is grootliks afgeskaal.

Broeders – snelskrif vir die verwysing na alle gelowiges in die kerk, beide vroue en mans – word 346 keer in die Nuwe Testament gebruik, 134 in Paulus se sendbriewe. Ouderlinge kom slegs vyf keer in Paulus se briewe voor, opsieners slegs vier keer en pastoor net een keer (as ’n metafoor). Dit gaan in die Nuwe Testament oor korporatiewe verantwoordelikheid. Dit is die gelowige gemeenskap wat geroep is om pastorale funksies te verrig, geskouer deur die hele liggaam, nie gelei deur ouderlinge nie en beslis nie deur predikante nie. Die topswaar, hiërargiese kerkstrukture soos ons dit vandag ken, is eenvoudig nie versoenbaar met die primitiewe eenvoud van die organiese kerk van die Nuwe Testament nie.

Die kerk van die Nuwe Testament

“Simplicity is the most difficult thing to secure in this world; it is the last limit of experience and the last effort of genius.” – George Sand

’n Institusionele kerk is hoogs gestruktureerd, tipies gebou-gesentreerd en bestuur deur professionele persone (predikante byvoorbeeld) wat deur vrywilligers (leke) bygestaan ​​word. Dit het dikwels professionele musikante en/of ’n koor. Dit benodig personeel, geboue, salarisse en administrasie. Die lidmate kyk een of twee keer per week passief na ’n godsdienstige optrede wat hoofsaaklik deur een persoon gelei word – dieselfde persoon week na week – waarna elk terugkeer huis toe om hul individuele Christelike lewens te gaan lei. In hierdie model is daar ’n aktiewe paar en die res.

Die kerk van die Nuwe Testament, daarenteen, was ’n geestelike organisme en nie ’n organisasie nie. Iets wat organies is, leef. Die kerk het haar lewe – die Heilige Gees – op Pinksterdag ontvang toe sy gebore is. Dit is met dieselfde lewe wat die Seun uit die Vader leef en die Vader uit die Seun, met die Seun wat die Vader verheerlik en die Vader wat die Seun verheerlik. Daar bestaan geen hiërargie nie.

As sulks is die kerk deelgenote aan die goddelike natuur en toon dit dieselfde eienskappe as die drie-enige God: Daar is wedersydse liefde, wedersydse gemeenskap, wedersydse afhanklikheid, wedersydse eer, wedersydse onderwerping, wedersydse inwoning en outentieke gemeenskap. Nes die drie-eenheid leef almal in harmonie saam. Elkeen is wat hy is net in verhouding tot die ander. Daar is geen skeiding, geen bo en onder, geen eerste, tweede of derde in belangrikheid nie. Geen regerende beheer nie. Geen posisie van bevoorregting nie. Daar is net gemeenskap en gemeenskap van gelykes wat alles deel wat hulle is en het, wat elkeen saam met en vir die ander leef in wedersydse openheid, met selfopofferende liefde en ondersteuning, elkeen vry, nie van mekaar nie, maar vir mekaar.

Kerkbyeenkomste

........
Vroeë Christene het kerk nie as ’n plek beskou om heen te gaan nie. Hulle was die kerk.
........

Nòg kerk toe gaan nòg kerkdiens kom in die Nuwe Testament voor. Vroeë Christene het kerk nie as ’n plek beskou om heen te gaan nie. Hulle was die kerk. Hulle het ook nie hul byeenkomste as dienste gesien nie. Hierdie byeenkomste was radikaal anders as vandag se Sondagdienste. Daar was geen charismatiese pastoor of dominee wat preek met almal wat passief luister nie. Geen preekgerigte, kansel-tot-kerkbank, gehoor-gestileerde kerkdiens nie. Daar was geen vaste liturgie nie. Vir die eerste paar honderd jaar was daar nie eens ’n Nuwe Testament om uit te lees nie. Nòg preek nòg prediker was die middelpunt van die aandag.

Daar was ook geen lekebedienings soos om gras te sny, sitplekke aan te wys, hande by die kerkdeur te skud, Sondagskool te gee, of in die koor te sing (as jy goed genoeg is) nie. Die spontane byeenkomste was ligjare verwyder van die professionele eredienste van vandag.

Die doel van byeenkomste was gewoon wedersydse opbouing. Elkeen het beurtelings iets bygedra: ’n psalm, ’n onderwysing, ’n taal, ’n uitleg (1 Korinthiërs 14:26). Die byeenkomste was ook die plek waar Christene inspraak in mekaar se lewens gehad het (Kolossense 3:16). Die Nuwe Testament gebruik die woord mekaar byna 60 keer. Elkeen het na die vergadering gekom met die wete dat hy of sy die voorreg en verantwoordelikheid gehad het om iets by te dra. Dit was nie vir enigiemand om ander “toe te laat” om aan verrigtinge deel te neem nie.

As die Gees ooit ’n tipiese institusionele kerk sou verlaat, sou sy afwesigheid ongemerk verbygaan. Die steierstruktuur sou ongeskonde bly. Die preek sou gepreek word en die doksologie sou gesing word. Die gemeente sou met die godsdiensprogram aangaan, sonder om te weet dat die Here vertrek het. Aanbidders sou voortgaan om hulle offers na die leë altaar te bring, sonder om te sien dat God nie daar is nie. Die strukture van ons kerke verteenwoordig die fossilisering van tradisie deur praktyk. Tradisie, belydenisskrifte en kanons kan die sement wees wat lede bymekaar hou.

Gestroop van altaargildes, predikers, liturgie, kerkraadsvergaderings, huisbesoeke, kollektes, rituele, vaste eiendom, belydenisskrifte, programme, kerkbasaars, fondsinsamelings en dies meer sal ons net mekaar en God hê. Ons sal blootgestel wees, ons geestelike erns sal getoets word en ons sal vinnig uitvind hoe diep die sondeval gaan. ’n Lewende organisme is wel ’n eenwording van glorie en bloed, maar as die Lewe, die Gees, die kerk verlaat, sal dit heeltemal in duie stort en sterf.

(Die selgroep is nie vergelykbaar met ’n huiskerk nie en is deel van die hiërargiese model, net met ’n langer leiband. Dink aan selleiers wat aan die pastoor of kerkraad moet terugrapporteer. Die selgroep is bloot nog ’n program van die kerk.)

Die nagmaal

Die nagmaal in die Nuwe Testament was ’n normale maaltyd. Mense het by ’n tafel aangesit, en op ’n gereelde basis. Tafel, vertaal, is ’n tafel waarop ’n volle maaltyd bedien word. Dit was ’n gekuier, ’n gesellige, informele ete wat brood en wyn ingesluit het. Dit was, in kort, agape – ’n liefdesfees – wat deur Christus self ingestel is.

Deur saam te eet, word daar nie net saam onthou nie, maar word die liggaam ook gevoed. Handelinge 2:46 lees: “En terwyl hulle brood van huis tot huis gebreek het, het hulle met blydskap en opregtheid van hart hul voedsel geëet.” Die blokkie brood en slukkie wyn wat ons vandag vir die nagmaal aansien, is byna ’n heidense rite ontneem van enige intieme huislikheid.

Die vergaderplek

Die kerk van Jesus het vir die eerste 300 jaar van sy bestaan ​​in die huise van sy lidmate vergader (Romeine 16:3, 5; Kolossense 4:15; Filippense 2). En as ’n kerk te groot geword het, is daar in verskeie huise vergader. Die vroeë kerk was in wese ’n netwerk van tuisgebaseerde byeenkomste en die Christelike geloof het dramaties gegroei vir die eerste 300 jaar – alles sonder die gebruik van “kerkgeboue”.

Die gelowiges is die kerk, nie die gebou nie. In Judaïsme is die tempel die geheiligde ontmoetingsplek. In die Christendom is die gelowige gemeenskap die tempel. Die Here se volk bestaan ​​uit die lewende stene van God se woning.

Wat ’n huis fasiliteer, is koinonia (gedeelde lewe): wedersydse deelname, die beoefening van geestelike gawes, aangesig tot aangesig interaksie, ’n gedeelde identiteit en die saamsement van gedeelde lewens. Jy kan nie maklik onsigbaar wees in ’n huis nie. Die huis verteenwoordig nederigheid, natuurlikheid en suiwer eenvoud. Die huiskerk trotseer die onbybelse ontkoppeling van wat heilig en sekulêr is en meng hulle saam.

Winston Churchill het gesê: “Eers vorm ons ons geboue. Daarna vorm hulle ons.”

.......
Die gunstelingmetafoor wat die Skrif vir die kerk gebruik, is dié van ’n familie. Paulus gebruik, soos reeds vermeld, die familieterm broeders meer as 130 keer in sy sendbriewe. Vandag is die kerk ’n disfunksionele gesin.
.......

Die standaardkerk is gebou met ’n verhoogde preekstoel vir die doel van eenrigting kommunikasie, prediker na gemeente, nes ’n lesingsaal of bioskoop. Gelowiges word gedwing om vir ’n uur of twee met die agterkop van iemand gemeenskap te hê. Hoeveel beter sou ons mekaar nie verstaan het as ons in mekaar se huise gekom het nie?

Die gunstelingmetafoor wat die Skrif vir die kerk gebruik, is dié van ’n familie. Paulus gebruik, soos reeds vermeld, die familieterm broeders meer as 130 keer in sy sendbriewe. Vandag is die kerk ’n disfunksionele gesin. Die familielede ken mekaar nie. Hulle gee nie vir mekaar om nie. Hulle is meermale geïsoleerd, selfgesentreerd, individualisties en onafhanklik. Daar is min toegeneentheid of ’n sin van wedersydse verantwoordelikheid vir mekaar. Hebreërs 3:13 sê ons moet mekaar bemoedig, maar vandag groet mense mekaar skaars by die kerk, en dit net een of twee keer per week. “Draai om en groet die mense agter jou” is ’n jammerlike afwatering van die ware gemeenskap van mense wat mekaar werklik ken en met lewensadvies bedien, saam speel, saam werk en persoonlike probleme saam uitstryk.

Denominasies

In die Nuwe Testament het al die gelowiges binne ’n sekere gebied aan dieselfde kerk behoort. Vroeë kerke het altyd die naam van die stad aangeneem. Dat die kerk van baie vroeg in die tweede eeu Katoliek genoem is, wat universeel beteken, is ’n stilswyende erkenning van die baie verskillende kulture wat dit omvat het. En tog was dit een kerk. Vandag het die een kerk in nagenoeg 45 000 verskillende denominasies wêreldwyd versplinter. Hoe het dit gebeur?

Reeds in die eerste eeu was daar verdeeldheid. In 1 Korinthiërs 1:11–3 vra Paulus: “Is Christus verdeeld?” Hy het in kritiek ontplof teen die Korintiese Christene toe hulle hulself in ’n aparte kamp geplaas het en ’n sirkel om hulself getrek het wat kleiner was as die liggaam van Christus. Gewortel in die derde-eeuse in twee skeur van die priesterskap van alle gelowiges in ’n lekeklas en geestelike klas het verskeie geestelikes onder mekaar verdeeld geraak oor teologiese sake. Die res is geskiedenis.

Die noemenswaardige kenmerk van ’n sekte is dat mense bymekaarkom rondom ’n leier of leerstelling of die een of ander gemene deler wat nie Jesus Christus alleen is nie. Dis soos om ’n eie franchise te begin, een met sy eie kenmerkende geestelike smakie. En so kompeteer elke McChurch met die res om lede/kliënte te werf.

Denominasionalisme maak verdeeldheid in die liggaam van Christus aanvaarbaar. Indien ’n groep Christene enigiets van ’n persoon vereis vir lidmaatskap buiten ’n geloof in Christus, is daardie groep nie ’n kerk in die bybelse sin van die woord nie. Dit is ’n sekte. Gelowiges moet aanvaar word omdat hulle reeds lede is. Mense word deur God aanvaar omdat hulle tot geloof gekom het en dis genoeg en finaal.

Oor wie se leerstellings is jy bereid om die liggaam van Christus te verdeel? As jy sê die leerstellings van die Bybel, word die vraag dan of daardie einste Bybel nie liefde en eenheid bo alles stel nie? ’n Persoon kan dus ’n ketter met die waarheid wees as hy dit gebruik om die liggaam van Christus op te breek. ’n Obsessie met sekondêre geloofskwessies tot ’n punt van verdeeldheid is onskriftuurlik.

In 1 Korinthiërs 13 staan ​​daar onder meer: ​​“Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks [...] Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.” Efesiërs 4:2–4 spoor gelowiges aan om “lankmoedig te wees, mekaar in liefde te verdra en daarna te streef om die eenheid van die Gees in die band van vrede te bewaar, want daar is een liggaam”. En die Bybel waarsku dan ook teen diegene wat deur ’n trotse, foutvindende gees regeer word (Judas 16; Openbaring 12:10). Die meeste verdeeldheid spruit uit hoogmoed en nie uit heiligheid nie.

Dink daaroor: Die denominasionele stelsel bevorder dwaalleer – die einste ding wat dit veronderstel is om te bekamp. In ’n selfregerende gemeente sal die verspreiding van dwaling sterk gelokaliseer wees. Maar wanneer ’n denominasionele hoofkwartier met ’n valse lering besmet is, sal elke kerk onder daardie vlerk met dieselfde valsheid besmet wees.

Deur die eeue was die sentrale boodskap net dit: dat Jesus God en mens is, dat Hy uit ’n maagd gebore is, dat Hy vir ons sondes gekruisig is, dat Hy opgestaan het ​​uit die dood en dat Hy weer sal kom. Hierdie kernoortuigings behoort aan geen enkele kerklike tradisie of denominasie nie. Dit was ten alle tye die oortuiging van byna alle Christene. En gelowiges stry nie regtig hieroor nie. Dis oor “die res” wat daar tot skeuring toe getwis word.

Ons kan verskil oor allerlei goed soos vertalings en interpretasies, maar na 2 000 jaar sit ons met die brondokumente wat ons het en tensy daar iets splinternuut in ’n grot ontdek word, sal ons ooreen moet kom om te verskil. Solank ’n gelowige die vyf solae bely, is die res detail wat in liefde verdra moet word.

Natuurlik moet alle lewe vorm hê. ’n Organisme sonder vorm is siek en sterf; dit kan homself nie onderhou nie. Die vyf solae verskaf hierdie vorm.

In Johannes 17:20–3 bid Jesus vir alle gelowiges, toe en nou, “dat hulle een mag wees net soos Ons een is, Ek in hulle en U in My”. Daar is ’n verenigde diversiteit in die drie-enige God – ’n pluraliteit in een-wees. Hierdie gemeenskap het nie ten doel om alle diversiteit te oorkom nie, maar eerder om dit te omhels in ’n dinamiese, relasionele en groeiende band van liefde en begrip.

Die heining, die doringdraad tussen ons, moet heeltemal afkom. Die enigste basis vir Christelike gemeenskap is die liggaam van Christus plus niks. Minus niks.

Besluitneming, rekenskap en gesag

Die Nuwe Testamentiese kerkmodel was nie gesaghebbend, leierloos of egalitêr nie. Dit was nie diktatories of demokraties nie. Dit was konsensueel binne ’n klimaat van eensgesindheid. Besluite was in die hande van alle broers en susters met leiding deur elkeen vir almal en deur almal vir elkeen. Daar was eenheid voor aksie. Selfs Paulus het nooit bevele uitgedeel nie. Hy het altyd probeer om ander te oorreed om God te gehoorsaam en het ’n beroep gedoen op ander se geestelike volwassenheid.

Winston Churchill het geskryf dat konsensus die ergste vorm van besluitneming in die kerk is, behalwe vir al die ander. Konsensus kom teen ’n prys. Dit lê verantwoordelikheid op alle lidmate om die Here self te soek. Dit vereis dat gelowiges geduldig met mekaar sal worstel om die Here se wil saam te vind. Dit beteken dikwels dat vinnige besluite uitgestel moet word sodat wedersydse vertroue eers gebou kan word. En watter geleentheid vir saambou bied dit nie! Hoeveel geduld kweek dit nie. Watter uitdrukking van wedersydse liefde en respek ontsluit dit nie. Watse beoefening van Christelike gemeenskap verg dit nie. Van kruisdra. Van selfbeheer. Van sterf aan eie agendas. Is die karakter wat dit kweek, nie die moeite werd nie? Die proses is so belangrik as die uitkoms. Hoe ons mekaar behandel terwyl ons saam besluite neem, is net so belangrik, dalk selfs belangriker, as wat ons uiteindelik besluit.

Volgens Efesiërs 5:21 moet die broeders “uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig wees”. Wedersydse onderwerping is gewortel in die nederige dog realistiese besef dat ons die insette van ons medebroeders nodig het; ons kan nie alleen goeie Christene wees nie. Deur ander te verwelkom om inspraak in ons lewens te hê, maak ons die deur oop vir die Here se bemoediging, motivering en beskerming.

Die uitoefening van goddelike gesag is altyd in liefde gebed. Liefde is geduldig, respekvol en sagmoedig. Dit is nooit strak, vernederend of diktatoriaal nie. Dit dra die stempel van sagmoedigheid. Liefde is nie sentimenteel nie, maar neem skerp waar en oordeel kundig. Dit manipuleer of dwing nooit sy eie wil af nie. Dit dreig of eis nooit nie. Liefde beweeg ons om verantwoordelikheid te aanvaar om ons broer se wagter te wees. Maar dit verbied ons om opdringerige inmengers te word. Liefde beoordeel nie die motiewe van ander se harte nie. Dit dink ook nie die ergste van almal nie. Tensy daar goeie rede is om te vermoed dat ’n broer/suster in erge sonde lewe, is dit uiters onchristelik om jou neus in hul persoonlike en huishoudelike sake te steek.

Sover dit interkerklike rekenskap aangaan, was die Nuwe Testamentiese kerke altyd outonoom (onafhanklik) en selfregerend, maar broederlik verwant. Kerke het verantwoordelikheid vir hul eie interne probleme aanvaar, maar het saamgewerk, by mekaar geleer en mekaar gehelp.

Daar is geen bewyse in die Skrif dat ’n kerk die reg het om die sake, die leerstellings of praktyke van ’n ander gemeente te reguleer, te beheer of in te dring nie. Finale gesag word nooit aan ’n denominasionele hoofkwartier oorgedra nie, maar uitsluitlik aan God.

Die kerkraad van Handelinge 15 word dikwels gebruik om die idee van ’n moederkerk te verdedig, maar wat die samekoms in Jerusalem genoodsaak het, was ’n valse lering wat deur sommige van die Jerusalemse kerke ingevoer is. Paulus en Barnabas het Jerusalem besoek om dit plaaslik te gaan hanteer. Dit het nie van die Jerusalemse kerk ’n moederkerk gemaak nie. As die valse lering elders kop uitgesteek ​​het, sou Paulus en Barnabas daarheen gegaan het om dit die hoof te bied.

Wat is die waarheid dan?

“The two most important days in life are the day you are born and the day you discover why.” – Mark Twain

Ons neem byna vanselfsprekend aan dat ons die hoofrede is waarom Christus aan die kruis gesterf het. Hy moes ons kom red. Maar wat as ons nie met onsself begin nie, maar met wat God voor die grondlegging van die aarde in die oog gehad het? Wat as verlossing nie die einddoel is nie, maar net ’n “herset” is van die Skepper se oorspronklike program?

In Genesis 1:26–7 lees ons: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers [...].”

Laat ons. Laat hulle. God se ewige doel is intens korporatief. Die taak om God se beeld te dra is nie aan enige individu gegee nie. Dit is aan hulle gegee. God wou ’n korporatiewe uitdrukking van Homself op die aarde hê wat Sy heerskappy sou uitoefen. En hy sal dit uiteindelik hê.

........
Dink aan die eerste twee hoofstukke van Genesis en aan die laaste twee hoofstukke van Openbaring. Die begin en die einde. In Genesis is daar ’n tuin, ’n boom en ’n rivier wat weer in manjifieke prag in Openbaring verskyn. Die eerste hemel en aarde maak plek vir ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde.
........

Dink aan die eerste twee hoofstukke van Genesis en aan die laaste twee hoofstukke van Openbaring. Die begin en die einde. In Genesis is daar ’n tuin, ’n boom en ’n rivier wat weer in manjifieke prag in Openbaring verskyn. Die eerste hemel en aarde maak plek vir ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. Die eerste Adam was ’n lewende wese; die laaste Adam kom as die lewendmakende Gees (1 Korinthiërs 15:45–58). Eva is aan Adam gegee as bruid; die bruid van die laaste Adam is die kerk – haar naam is Ekklesia (Romeine 5:14).

Die kerk leef van iets en na iets wat groter is as die kerk self. Daardie iets is God en sy ewige doel. Dit is die waarheid agter alles. Die rede vir alles.

Wat as?

Godsdienstige instellings is gewoonlik vrygestel van belasting omdat die aanname bestaan dat hulle nie-winsgewend bedryf word ten bate van die publiek. Die meeste liefdadigheidsorganisasies bestee net sowat 15%–25% van hul begroting op hul administratiewe uitgawes. Die ander 75%–85% word dan aan die werklike liefdadigheidsprogramme spandeer. Charity Navigator (een van die top-liefdadigheidsevaluerende organisasies) sê: “Ons glo dat die organisasies wat minder as 33% van hul begroting op hul liefdadigheidsprogramme spandeer, eenvoudig nie hul missies nakom nie. Liefdadigheidsorganisasies wat sulke growwe ondoeltreffendheid toon, ontvang ’n 0-ster-gradering.”

So, hoe vergelyk die gemiddelde kerk? ’n Studie wat deur die Evangelical Christian Credit Union gedoen is, toon dat kerke 83% van hul begroting aan administratiewe uitgawes bestee en slegs sowat 5% aan liefdadigheidsprogramme. Enige ander liefdadigheidsorganisasie wat so min liefdadigheid het om te toon, sal as uiters nalatig beskou word.

........
Die wêreldwye kerk met sy miljoene lidmate behoort een van die beste voertuie vir menslike en maatskaplike ontwikkeling in die wêreld te wees. 
........

Die wêreldwye kerk met sy miljoene lidmate behoort een van die beste voertuie vir menslike en maatskaplike ontwikkeling in die wêreld te wees. Selfs China Petro-Chemical, die grootste korporasie ter wêreld met ’n arbeidsmag van ongeveer 1 190 000 werknemers, is steeds klein relatief tot die kollektiewe lidmaatskap van die kerk. Hierdie globale liggaam het ’n netwerk van plaaslike kerke in feitlik elke nasie wat soos are deur stede en dorpe loop. Daar bestaan dus die potensiaal om miljoene vrywilligers te mobiliseer wat met uiteenlopende kundigheid en ’n intieme kennis van hul gemeenskappe kom.

Die meeste kerke beskik potensieel oor die hulpbronne wat nodig is om klein en grootskaalse inisiatiewe koste-effektief te ondersteun of te implementeer. As hulle nie 83% van hul finansies op hulself spandeer het nie, sou daar finansiële hulpbronne daarvoor wees. As lidmate hulself as die kerk gesien het met die verantwoordelikheid wat dit behels, sou daar menslike hulpbronne daarvoor wees. As kerkgeboue heraangewend kon word vir gemeenskapsprojekte, sou daar fisiese hulpbronne daarvoor wees. Dan sou die kerk die wêreld weer op sy voete kon draai. Dan sou die kerk weer die radikale, geestelike voetsoldate wees wat dit veronderstel is om te wees.

Wat dan?

Die kreet Sola Scriptura (Skrif alleen) spreek ’n radikale navolging van die woorde van die Skrif uit as die enigste en finale norm of standaard waarvolgens Christene die waarheid kan oordeel – selfs om die kerk se leerstellings reg te stel of teen te staan, indien nodig.

Die kerk het van haar oorspronklike roeping afgewyk, nie ontwikkel nie. Die institusionele kerk kan nie van binne na buite vernuwe word nie. Vernuwing sonder strukturele verandering is slegs veldiep. Ware vernuwing moet radikaal wees. Dit moet tot by die wortel gaan. Dit sal ongetwyfeld teen ’n prys kom, maar dit behoort nie as ’n verrassing te kom dat die Christelike lewe opoffering verg nie. Ons het dit die heeltyd geweet.

Is daar dan ’n lewensvatbare alternatief op die institusionele kerkervaring? Kan ons ’n kerk herverbeel wat organies is in sy konstruksie, verhouding-gesentreerd in sy funksionering, skriftuurlik in sy vorm, Christus-gesentreerd in sy werking, trinitaries in sy vorm, kommunitêr in sy lewenstyl, nie-elitistiese in sy houding en nie-sektaries in sy uitdrukking? Dit blyk dat die huiskerk die beste model daarvoor is.

Natuurlik het die institusionele kerk deur die eeue ’n positiewe invloed op tallose mense en gemeenskappe gehad en het die meeste kerkleiers waarskynlik net die beste bedoelings gehad en hulself in diensbaarheid uitgestort. Maar dit is eers wanneer die kerk weer kerk word dat haar volle potensiaal ontsluit sal word.

.........
Kan ons ’n kerk herverbeel wat organies is in sy konstruksie, verhouding-gesentreerd in sy funksionering, skriftuurlik in sy vorm, Christus-gesentreerd in sy werking, trinitaries in sy vorm, kommunitêr in sy lewenstyl, nie-elitistiese in sy houding en nie-sektaries in sy uitdrukking? Dit blyk dat die huiskerk die beste model daarvoor is.
.........

Spangenberg skryf: “Min Christene dink na oor die godsdiens wat hulle beoefen. Hulle aanvaar eenvoudig die vanselfsprekendheid van hulle oortuigings.” En dáármee stem ek volkome saam, behalwe dat ek dink Spangenberg die fout maak om te veronderstel dat die meeste Christene oortuigings het. Hulle glo in kerk toe gaan, in Kersfees, in Paasfees, in die Bybel, ensovoorts, maar moenie moeilik wees en vra presies wat hulle glo en waarom hulle dit glo nie. Min kerkgangers praat oor Jesus buite die kerk. Of selfs binne die kerk. Dis die dominee se werk.

En dis die probleem. Professionele kanselwerk is die rede waarom lidmate selde hul geestelike kinderskoene ontgroei. Die blote teenwoordigheid van ’n professionele leraar het ’n dodelike effek van kondisionering op die res van die gemeente om passief en afhanklik te bly. Hulle word nooit groot nie. Dit is makliker om ’n godsdiensspesialis (wat gelyktydig administrateur, sielkundige en orator moet wees) aan te stel om in die behoeftes van die gemeente te voorsien as om jouself diensbaar te maak.

Wanneer die lidmate van ’n kerk nie verstaan wat hulle glo nie, nie bely wat hulle glo nie en nie doen wat hulle glo nie, kan dit nog kerk genoem word? Is die getal ware Christene nie baie, baie kleiner as wat sensusopnames toon nie? Is dit nie die Sondagkerk waarvoor die kerk aangesien word wat beide kerklose gelowiges en ongelowiges so afsit nie? Sou die kerk nie beter af wees sonder hierdie indringer nie?

In Nehemia se tyd het Israel die Wet van God pas herontdek nadat hulle vir baie jare daarsonder was. En toe dit eers ontdek is, moes dit herverduidelik en herinterpreteer word. Dink aan die woorde van Nehemia (8:8): “Hulle het uit God se wetboek voorgelees en mooi verduidelik wat dit beteken. Hulle het seker gemaak die mense verstaan wat gelees is.”

Net so moet een-en-twintigste-eeuse Christene die taal van die Skrif herleer – die vele bybelse terme soos kerk, predikant, pastoor, huis van God, nagmaal, bediening, bruid van Christus, gemeenskap en ander terme wat gebuk gaan onder institusionele bagasie – en terugkeer na die interpretasie wat spreek van die eenvoudige, outentieke, Gees-afhanklike, Christus-gesentreerde, geestelik-dinamiese, wedersyds deelnemende gemeenskappe van die vroeë kerk – die einste kerk wat die wêreld omgekeer het.

Dink ook aan God se oproep aan Israel om Babilon te verlaat en na Jerusalem terug te keer. Slegs ’n oënskynlik onbeduidende oorblyfsel het na Jerusalem teruggekeer om die tempel te herbou, maar die profeet Sagaria het die moedeloses tereggewys met: “Wie het die dag van klein dingetjies gering geag?” Ten spyte van die feit dat die oudstes van Israel in wanhoop gehuil het toe hulle sien hoe die klein oorblyfsel die onindrukwekkende fondament neerlê, was God daarin (Esra 3:12).

Die oproep van God om die eenvoud van die organiese kerklike lewe te herstel vereis dat ons op ’n heeltemal nuwe grond bou. En daardie grond is Christus met gelowiges as die lewende stene.

Die organiese paradigma verteenwoordig die terugwen na God van gewone dinge en die ontheiligmaking van dinge wat deur mense heilig gemaak is. Ons hoef niks te herontwerp nie, ons het net die moed nodig om terug te keer na die oorspronklike bouplan.

Lees ook:

As alles niks word: ’n lesersindruk van Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg

In reaksie op Koos Kombuis se lesersindruk van Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg

Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid: ’n lesersindruk van Sakkie Spangenberg se epistomologie, hermeneutiek en Christologie

Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg: ’n resensie

  • 17

Kommentaar

  • Anita Stander

    Baie stof tot nadenke! Mens het regtig nodig om vanuit alle hoeke hierna te kyk. Dankie vir die insigvolle artikel.

  • Ek het al drie artikels gelees en dit interessant gevind.
    Dit laat mens dink.
    Dis 'n taai een die. Ek sal dit in my kop moet rondrol.

  • Ek is een van daardie gelowiges wat lankal nie meer kerk toe gaan nie. Dalk is huiskerk 'n opsie, maar waar begin 'n mens?

  • Barend van der Merwe

    Gelukkig tog die feit dat daar wetgewing is wat kosbare ou geboue bewaar. Selfs hier in Afrika het ons sulke wette. Ongelukkig word hulle nie goed geïmplementeer nie. As kulturele Christen en ateïs, is my Christelike erfenis vir my kosbaar. Hoewel ek as verloopte Calvinis skynbaar nooit 'n ware Christen was nie. Ek verneem die Here verkies dat Sy volgers onderdompel word, nie besprinkel soos ons was in die NG kerk nie. Dit het my aanvanklik gepla dat ek nooit 'n ware Christen was nie, maar mettertyd het ek dit gewoond geraak en verkies dit nou so. My agtergrond is die Calvinisme, wat 'n Christen-sekte is. En ek stem saam met Izak Spangenberg dat die erfenis bewaar moet word.

    Jou storie wat jy hier skryf oor die kerk, was omtrent 'n maraton, gelaai met definisies en verduidelikinge, die meeste van die dinge het ek tog wel geweet. En dit was nie maklike leesstof nie. By uitstek ken ek die kerk as 'n plek van 'n see van leë woorde, wat dalk slegs deur die politiek se pogings oortref word. Trouens, die hele relaas van jou het my laat herinner aan die hernuwing waarmee die ANC nou al vir so baie jare mee besig is, asook aan daardie party se "integriteitskommissie". Miskien kan die kerk ook so 'n kommissie vir hulleself saamstel. Die kerk lief mos kommissies!

    Godsdienste leen maar so bymekaar. Die Christendom is 'n mengsel van klomp godsdienste. Dis belangrik om iets daarvan te bewaar. Ons moet weet hoe ons voorouers aan hulle godsdienste gekom het. Woorde kan ook meer as een betekenis hê. 'n Kerkgebou is ook 'n kerk. Al word ons tot satwordens toe herinner deur gelowiges dat die kerk is die mense, verander dit nie die eienskap van woorde om verskillende betekenisse te kan hê nie.

    Die Bybel is so 'n konkoksie van feite en fiksie, en is boonop so gruwelik misbruik in die verlede (vir apartheid, kolonialisme, patriargie, slawerny, geweld ens), dat ek altyd met verstomming die gemak waarmee mense in 2024 nog Bybelverse aanhaal gade slaan. Duidelik geen sweempie van wantroue in die eie interpretasie nie. Ek sien in die nuutste uitgawe van Bart Ehrman se potgooi weer hoe die stories van Jesus obviously klomp verdagte details bevat:

    https://www.youtube.com/watch?v=hap8ZGDNtTM

    Tussen wat werklik gebeur het, en wat opgeteken is, is daar reeds geweldige gate en probleme. Dan is daar die volgende laag van chaos, die verskillende interpretasies van wat wel opgeteken is. Uiteindelik kan mens die gevolgtrekking maak, enige mens wat beweer dat hulle weet wie Jesus was, wat Jesus gedink het en wat presies Jesus se idees was en wat hy wou opteken en wat nie, so persoon is maar besig met toneelspel. Van Jesus weet ons eenvoudig te min. En ek kry die indruk uit Izak se boeke dat mens nooit die historiese konteks van die verhale moet vergeet nie. Soos wat gelowiges gerieflik en konstant doen. Die konsep van die Joodse messias, wat dramaties verskil van die Christelike interpretasie van die messias konsep. Presies net soos Jesus se konseptualisering van God waarskynlik ook totaal sou verskil het van die triniteitsleer van Christene, die triniteitkonsep wat nêrens in die Bybel eers opgeteken is nie.

    Joodse konsepte, gemeng met Griekse filosofie. Later verfyn deur die ander kerkvaders. Baie van die protestante steun ook maar sterk op Augustinus, al gee hulle so hoog en laag op oor SOLA SCRIPTURA. En Augustinus het weer klomp idees oorgeneem by Zoroaster, via die Manicisme. So is godsdiens, 'n konkonsie.

    'n Offerkultus, glo ek, begin op so tipe manier:

    Een mooi dag brou die Israeliete lekker koringbier. Ma Israeliet lê weg, en gaan in 'n trans in. Sy begin in tale praat. Later sê sy vir kleinboet, boeta, vat van ons bier, so twee of drie bekers, en gooi dit op die jaart uit. Dit sal die gode behaag. Nou word dit tradisie. Later is dit nie net bier nie. Nou word daar diere geoffer. Uiteindelik kom die brainwave, moet ons nie dalk vir ouboet aan die gode offer nie? Dink net hoe sal dit die gode behaag en sal hulle ons bless as ons een van ons eie kids aan hulle offer. Maar, dis darem maar vreeslik! Wat as God so awesome is om sy EIE seun in die plek van ons seuns te offer?

    Klink sooooo much better as om vir ouboet te gaan staan offer!

    Die kerk se storie, kan evolusionêr verklaar word. Hierdie storie is, en nou gaan ek 'n fancy woord gebruik, bietjie uit my karakter, en dit is antroposentries. Dis hy daai. Die kerk se storie is antroposentries. Volgens die kerk se storie, draai die hele bestaan van die aardbol om die mens. Nou dit is goed vir die spesie se oorlewing om sulke stories vir hulleself te vertel. Maar die mens is tog duidelik net nog 'n spesie. Een wat eventueel weer gaan uitsterf. Nes al die spesies voor hom. En al die spesies na hom.

    Ek dink nie die kerk gaan verdwyn nie. Die kerk staan sterk. Veral hier in Afrika. Izak se boeke is egter kosbaar, want dit leer 'n mens dat dit okay is om nie meer aan godsdienste se leerstellinge vas te klou as jy nie wil nie. Dis normaal.

  • Lica Blomerus

    True Christian ideals are radical, and are inherently antithetical to a large, organised institution that is paired with the status quo. A religion cannot seek to remake the world while being coupled with the power structures that rule the world as it is.

  • Marthinus Willemse

    Wat van die Ortodokse Christene? Die Russe is in 988 nC reeds gekersten, en hulle hele kultuur is oorgedra vanaf Konstantinopel [die tsaar is getroud met n lid van die keiser]. Toe Konstantinopel val in 1453, het die Russe aanvaar: die tweede Rome het geval, Moskou is nou die derde Rome, daar sal nie 'n vierde Rome wees nie. En tot vandag toe is hulle diepgelowiges. [70 jaar van kommunisme was 'n toets; ook, was net 'n handvol werklik kommuniste]. 'n Ateïs, Michail Gorbatsjof, het hulle aangemoedig om in 1988 'n duisend jaar van kerstening te vier. Onder Poetin gedei die kerk. As daar en land is waar die meerderheid ateïste moet wees, is dit Rusland, en tog, is ateïste slegs 'n klein minderheid.

  • Daar is niks nuut onder die son nie. Die kerk was van sy ontstaan tot vandag altyd onder bespreking. Persoonlik dink ek 'n mens moet anders na die saak kyk.

    Dit is eenvoudig so dat niks ewig is nie. Alles wat 'n begin het, het 'n einde.
    So ook die heelal waarin ons ruimteskip die aarde sy gang gaan.
    Jy kan dus op 'n ruimteskip klim en jou êrens anders gaan vestig as jy dit kan bekostig.

    Dit gaan nie help nie, want die plek het ook 'n begin en einde.
    Omdat ons heelal ook 'n einde het, moet dit duidelik wees dat die hemel en hel en al sy inwoners en ook die Skepper nie in ons heelal woonagtig is nie, want dan sou dit saam met die heelal eenvoudig ophou bestaan en geen mens sou daarvan bewus gewees het nie.

    Die vraag onstaan dan: is alles dan te vergeefs. Al die gespook en gespartel. Al die wetenskap ruimtereise bewoning van maan en mars 'n illusie? 'n Vergeefse poging
    'n mors van tyd.

    As Jesus dan praat van 'n ewige lewe, kan dit nie in verganklike heelal wees nie, want die ewige kan nie in die verganklike bestaan nie.

    Ons moet dus anders na Jesus se boodskap oor die ewige lewe en 'n nuwe hemel en aarde kyk. Iets wat gebore gaan word uit die chaos van die verganklike.

    'n Nuwe begin. Hoe dit gaan werk weet ek nie, want dit is 'n geloofsaak en nie 'n wetenskapsaak nie, want geloof is tog niks meer as 'n vaste vertroue dat al God se beloftes vervat in die Bybel vervul sal word nie.

    En dit is saam met die Evangelie genoeg vir my.

  • Erika Blomerus

    Die skouspel van godsdiens kan diep ontroerend wees. Om in Kings Chapel, Cambridge, te sit en te luister na 'n wêreldklaskoor wat gesange sing sing, in 'n 700 jaar oue, loodglaskerk is diep roerend, maar dit roer mens soos wat kuns mens roer, nie as 'n geestelike ervaring nie. Die mees geestelik roerende kerkervarings wat ek gehad het, was in 'n huiskerk met 'n veearts wat vir 'n klein groepie ware gelowiges gepreek het. Ons het niemand nodig om dit vir ons op te stel nie. Ons kan maar net begin ontmoet en saam die Bybel te bespreek en saam te bid.

  • Annora Eksteen

    Ons sterf. Dit is die waarheid. Voor ons was, was niks, en na ons sterf: is niks. Wat nagelaat word is wel iets, maar net tydelik. Ek het dit aanvaar as die volkome en absolute waarheid. Wat dit is. Musiek en alle literatuur het ontwikkel. Net soos evolusie. 'n Filosofie van goedheid is mooi. Ons lewe 'n elegie. Asem. Asem. Mooi.


    Ōṁ

  • Maryna Blomerus

    Vir Marthinus Willemse

    Die Russies-Ortodokse Kerk het lank reeds 'n hegte, selfs simbiotiese verhouding met mag, selfs gedurende die Sowjettye. Wladimir Poetin se regime het die tradisionele alliansie tussen Kerk en Kremlin inderdaad voortgesit, maar teen watter koste vir die Kerk? Die Kerk en sy eminensies het in materiële terme baie goed hieruit gevaar, maar het in effek nog 'n staatsbeheerde onderneming geword wat die risiko loop om sy morele mandaat te verloor.

    Soos jy skryf, het die Russiese Kerk na die val van Konstantinopel in 1453 verklaar dat dit die laaste ware bastion van die Ortodokse Christendom is, met Moskou as die 'Derde Rome'. In 1547 het Ivan die Verskriklike die rolle van beide meester en voog van die Kerk op homself geneem. Die Kerk het op sy beurt nie net voorregte en beskerming vir homself verkry nie, dit het dit as sy 'n plig beskou om Moskou te ondersteun as die laaste bastion van Ortodoksie.

    Hierdie noue verhouding, met die Kerk dikwels as die geestelike cheerleader van die Kroon, het tot 1917 geduur toe die Bolsjewiste, met goeie rede, die priesters net soveel as hul vyande behandel het as die aristokrate. Marxisme-Leninisme het die nuwe legitimerende geloof geword. Toe die koalisie onder leiding van Duitsland, Italië en Japan die Sowjet egter in 1941 binnegeval het, het Stalin haastig probeer om elke hulpbron tot sy beskikking te mobiliseer, insluitend beide Russiese nasionalisme en Ortodoksie. Kerke is geopen, priesters uit arbeidskampe vrygelaat, en skielik was godsdiens weer aanvaarbaar. Slegs tot op 'n punt, natuurlik, en slegs onder staatsbeheer.

    Toe die Sowjetunie in duie gestort het, het die Kerk 'n herlewing ervaar, beide vanweë die geestelike en ideologiese leemte wat die ineenstorting van die kommunistiese eksperiment gelaat het, en ook danksy direkte ondersteuning van Boris Jeltsin se regering. 'n Restitusieprogram het daartoe gelei dat kerke en ander eiendomme teruggekeer het na sy beheer en hulle het weereens vrylik regoor die land begin funksioneer. Dit was egter onder Wladimir Poetin dat die Kremlin-Kerk-alliansie die opvallendste was.

    Oor die algemeen het die Russies-Ortodokse Kerk die rol van nie net 'n staatskerk aangeneem nie, maar ook die van 'n godsdienstige konglomeraat. Sowel as kerke, kloosters, kweekskole en ander godsdienstige instellings, bedryf die kerk ook fabrieke wat godsdienstige goedere verskaf wat op hul beurt vir gelowiges aanbeveel word. In 2007 het dit die TV-kanaal Spas op die been gebring, en dit is deel-eienaar van 'n advertensie-agentskap. Maar dit is nouliks die grense van die Kerk se sakeryk. Dit het BMW-motors verhandel as medestigter van BMW Rusland, dit besit en bestuur hotelle in Moskou en 'n rekenaarsentrum in Novokuznetsk. Dit het selfs vroeër 'n granietgroef besit. Verder ontvang dit direkte ondersteuning van die regering sowel as private skenkers, met die bou van 'n kerk wat blykbaar die goedgekeurde manier geword het om gelyktydig lojaliteit en invloed te demonstreer.

    Op baie maniere funksioneer die Kerk soos 'n FGUP, 'n Federal State Unitary Enterprise, 'n kenmerkende struktuur wat gevestig is vir sleutelkombinasies wat op die grense van staat en besigheid werk, soos Pochta Rossii (Russian Post) en Atomflot (kern ysbrekers). FGUP RosBog (Russiese God) is beslis 'n byna natuurlike toevoeging tot die kommersiële pantheon.

    Soos die meeste korporasies, handhaaf 'RosBog' 'n verskeidenheid van eie verhoudings, onafhanklik van sy vertikale een met die Kremlin. Dit is byvoorbeeld in wisselwerking met talle ministeries. Sergei Shoigu, minister van verdediging, het vinnig 'n bereidwilligheid getoon om saam met die kerk te werk, en priesters het missiele geseën en geleer om gepantserde voertuie te bestuur.

    RosBog moes sy gewig ook gooi agter Shoigu se grootse projek om die hoofkatedraal van die Russiese weermag by die Park Patriot militêre uitstallingsentrum buite Moskou, die land se derde hoogste katedraal, te bou. Dat Shoigu daarin geslaag het om soveel skenkers aan die projek op te lyn, insluitend Poetin self wat na bewering die hoofikoon gefinansier het, sowel as oligarge en groot korporasies, demonstreer die ministerie van verdediging se verweefdheid met die Kerk.

    'n Aantal prominente oligarge en minigarge is nou verbonde aan die Kerk. Drie nuwe kerke word elke dag in Rusland gebou – en tog bly die bou van behuising en ander infrastruktuur agter die skedule wat Poetin in 2018 aangekondig het.

    Wat van Protestantse kerke? Baie Evangeliese (Protestantse) gemeenskappe het nie aparte persele vir aanbidding nie. Dit beteken dat dit logies en normaal is om in 'n huis bymekaar te kom. Maar die praktyk staan uiteraard buite staatsbeheer en is daarom 'n kopseer vir die staat. Volgens 'n artikel wat in November 2024 gepubliseer is, probeer die Russiese Parlement huiskerke verban. Dit moet 'n aanduiding wees van die invloed en die groei van Protestantse huiskerke. Lees gerus https://cne.news/article/4504-russian-parliament-tries-to-ban-house-churches.

  • Andries Calitz

    Dankie vir ‘n interessante 8000-woord uiteensetting dat die Christelike “kerk” 2000 jaar van hervorming agter die rug het en nou in krisis is.

    Maar - in net 300 woorde - dis nie die Christelike kerk wat in krisis is nie, maar die Christelike geloof.

    Die ontstaan van die heelal - of deur 'n Big Bang (die ateïstiese siening), of deur 'n Skepper-God (die deïstiese siening) - 14 biljoen jaar gelede, die ontstaan van lewe op Aarde - deur kans (die ateïstiese siening), of deur 'n Skepper-God (die deïstiese siening) - 4 biljoen jaar gelede, vyf uitwissings van lewe deur meteoriete en vulkaniese uitbarstings (eenstemmige siening), en die ontwikkeling van spesies insluitend die mens - of deur evolusie (die ateïstiese siening) of deur kreatiewe ontwerp (die deïstiese siening), het totaal onversoenbaar geraak met die teïstiese Christelike geloof.

    Die teïstiese Christelike geloof is - in tydsvolgorde - gebou op:

    Een - 'n letterlike of figuurlike Genesis-konstruksie van die skepping 4000 jaar gelede

    Twee - 'n letterlike oorspronklike sondeval deur die mens in Eden ('n figuurlike sondeval pas nie juis nie),

    Drie - 'n eksklusiewe verbond tussen die Skepper-God en die Israeliete, aangegaan op 'n stadium toe al ses die kontinente reeds Homo Sapiens bewoon is

    Vier - die Judaïese konstruksie van die Skepper-God wat dan so 4000 jaar gelede die tien gebooie aan Moses op Hebron gedikteer het (en wat Amerikaanse evangeliste nou weer in skool klaskamers wil hang!)

    Vyf - die Nuwe Testamentiese Drie-Eenheidskonstruksie met maagdelike geboorte, wonderwerke, en opstanding, en opvaring van Jesus wat deur die Genesis-God gestuur word om daardie oorspronklike en ander sondes te verlos - nou verbredend vir die hele mensdom - vir 'n ewige lewe in die Hemelse hiernamaals

    Ses - die leerstuk van vrye menslike wil om te kies tussen goed en kwaad en vir geloofsredding, maar met al die gepaardgaande botsings van almagtigheid van die Skepper-God, Satan, uitverkiesing en “predetermination”.

    Die “geloof” is nou ongelooflik in 'n wetenskaplike, geo-politieke, etniese, argeologiese en sosiale sin. Die Christelike “geloof”, en nie die kerk nie, is in krisis. En daar is nie meer hervormingsruimte oor sonder om die ses pilare uitmekaar te haal nie; die geloof is nou onhervormbaar; figuurlike interpretasies van vroeëre letterlike begrippe help nie meer nie. Die enigste troos (so anders as die Heidelbergse Kategismus) is dat Judaïsme en Islam hulle in dieselfde situasie bevind. Die mensdom is besig om die teïsme van die drie Abrahamitiese gelowe en Hinduïsme te verlaat, in sommige gevalle via Boeddhisme, om aan te skuif na deïsme en ateïsme en nie-godsdienstige spiritualisme.

    Lees of review gerus my “Life beyond the gods” [https://amzn.eu/d/5DQuo3J] vir ‘n meer omvattende uiteensetting.

  • Maryna Blomerus

    Vir Andries Calitz

    Baie van jou stellings word aangespreek in my vorige twee artikels waarin ek op Spangenberg se boek gereageer het. Dit geld veral vir jou stelling “…geloof is nou ongelooflik in 'n wetenskaplike, geo-politieke, etniese, argeologiese en sosiale sin. Die Christelike geloof, en nie die kerk nie, is in krisis.” Ek sal egter tog (omdat dit my troetelonderwerp is) iets byvoeg omtrent die wanpersepsie dat moderne wetenskaplikes geloof soos een man die rug toegekeer het.

    In sy boek Science at the doorstep to God val die skrywer Robert Spitzer weg deur die eeu-oue persepsie dat die meeste wetenskaplikes God verwerp, te weerlê in die lig van die jongste opnames wat toon dat "'n supermeerderheid jong wetenskaplikes en dokters in God of 'n hoër geestelike krag glo."

    Daar is verskeie redes waarom jong wetenskaplikes toenemend na geloof in God of 'n hoër transendente krag terug beweeg:

    Eerstens soek jong fisici na 'n verduideliking - iets soos transendente intelligensie - vir die uiters onwaarskynlike voorkoms van die fyn-ingestelde aanvanklike toestande en konstantes tydens die Oerknal wat nodig was vir die ontwikkeling van lewe. Die kans vir lae entropie by die Oerknal is dieselfde as 'n aap wat die hele korpus van Shakespeare perfek tik deur die ewekansige getik op die sleutelbord in 'n enkele probeerslag, en die kans dat ons kosmologiese konstante 'n waarde sal hê wat lewe sal toelaat, is verfyn tot een deel in 'n triljoen, triljoen, triljoen, triljoen, triljoen, triljoen, triljoen, triljoen, triljoen, triljoen. Hierdie is maar twee van baie ander voorbeelde van fyn-instelling vir die lewe. Gekombineer met die verstommende wiskundige verstaanbaarheid van ons heelal (van die mees mikroskopiese tot die mees makroskopiese vlakke), blyk hierdie verstandelike basis van ons heelal intelligent te wees.

    Tweedens glo min jong wetenskaplikes in die materialistiese/fisiese verduideliking van ons heelal. Kwantumfisika is gewoon onversoenbaar met materialisme en dui daarop dat 'n "verstandelike" dimensie van die heelal meer fundamenteel is as bloot fisiese prosesse.

    Derdens is die bewyse vir 'n transfisiese basis van bewussyn wat buite die liggaam kan bestaan en kliniese dood kan oorleef, algemeen bekend aan jong dokters en neurowetenskaplikes (sien byvoorbeeld die 2022 New York Academy of Sciences Annale, wat dit erken).

    Vierdens het baie jong wetenskaplikes hulle gedistansieer van ou vooroordele teen godsdiens wat te wyte is aan onvolledige of oordrewe weergawes van die Galileo-aangeleentheid en die eertydse konflik tussen godsdiens en wetenskap. Dit is algemeen bekend dat in die geval van die Katolieke Kerk, meer as 150 Katolieke geestelikes betrokke was by die ontwikkeling van alle gebiede van die wetenskap, insluitend Nicolaus Copernicus (die eerste om heliosentrisme wiskundig te regverdig), Roger Bacon (een van die vroegste formuleerders van wetenskaplike metodologie), Georges Lemaître (die eerste wat die Oerknal-teorie wiskundig regverdig het), Gregor Mendel (die vader van kwantitatiewe genetika), en biskop Nicolas Steno (die vader van kontemporêre stratigrafie/geologie).

    Vyfdens staan baie bioloë, genetici en biochemici toenemend in verwondering oor die DNA-molekule en sy verwante bestanddele binne die sel, asook oor die uiters, uiters komplekse programmering op die genoom wat nie eers teen die vinnigste natuurlike tempo moontlik in vier biljoen jaar (die ouderdom van lewe op die aarde) kon plaasvind nie. Dit word nie net erken deur teïstiese wetenskaplikes nie (soos dr. Francis Collins, Direkteur van die Human Genome Project, in The Language of God), maar ook deur selfverklaarde skeptici, soos Thomas Nagel (in sy boek, Mind and Cosmos : Why the Materialistic Neo-Darwinian Conception of Nature Is Almost Certainly False).

    Sesdens is daar empiriese bewyse vir 'n transfisiese oorsprong van bewussyn en intelligensie. In 'n studie deur John Lorber van 600 hidrokefaliese pasiënte het vyf persent van die pasiënte van wie meer as vyf en negentig persent van hul brein vervang is deur spinale vloeistof in die skedel (hidrokefalus) 'n beduidende IK (meer as 100) gemeet, en sommige van hulle het 'n geniale vlak getoon, insluitend een man wat feitlik geen brein gehad het nie, maar wat 'n IK van 143 gemeet het.

    Ek kan aangaan.

    https://www.theguardian.com/books/2019/jan/31/four-horsemen-review-what-happened-to-new-atheism-dawkins-hitchens - Hierdie artikel in The Guardian handel oor die opkoms en val van die sogenaamde nuwe ateïsme. Baie mense ly nog aan 'n hangover van hul indoktrinasie deur Dawkins, Hitchens, Dennett en Harris, die apostels van ateisme, aan wie die media vir lank, maar nie meer nie, ‘n onverdiende platform toegestaan het. Dit is regtig tyd dat hulle nugter begin dink.

    Nee wat, jy gaan vreeslik lank wag vir geloof om te verwelk en die gees te gee.

  • Daar is stadig maar seker 'n verskuiwing besig in die kerk oor omstrede sake soos evolusie.
    In Agustus 2004 stel die Rooms Katolieke kerk die volgende verklaring vry.
    Dit kom ook nadat die oorlede Pous die mening uitgespreek het dat sekere vertalings nie in enkelvoud maar in meervoud vertaal moet word.
    Soos in Egels: God created humanity. Male and female He created them. Adam and Eve:
    Adam, Eve, and Evolution.
    The controversy surrounding evolution touches on our most central beliefs about ourselves and the world. Evolutionary theories have been used to answer questions about the origins of the universe, life, and man. These may be referred to as cosmological evolution, biological evolution, and human evolution. One’s opinion concerning one of these areas does not dictate what one believes concerning others.
    People usually take three basic positions on the origins of the cosmos, life, and man: (1) special or instantaneous creation, (2) developmental creation or theistic evolution, (3) and atheistic evolution. The first holds that a given thing did not develop, but was instantaneously and directly created by God. The second position holds that a given thing did develop from a previous state or form, but that this process was under God’s guidance. The third position claims that a thing developed due to random forces alone.
    Related to the question of how the universe, life, and man arose is the question of when they arose. Those who attribute the origin of all three to special creation often hold that they arose at about the same time, perhaps six thousand to ten thousand years ago. Those who attribute all three to atheistic evolution have a much longer time scale. They generally hold the universe to be ten billion to twenty billion years old, life on earth to be about four billion years old, and modern man (the subspecies homo sapiens) to be about thirty thousand years old. Those who believe in varieties of developmental creation hold dates used by either or both of the other two positions.
    The Catholic Position
    What is the Catholic position concerning belief or unbelief in evolution? The question may never be finally settled, but there are definite parameters to what is acceptable Catholic belief.
    Concerning cosmological evolution, the Church has infallibly defined that the universe was specially created out of nothing. Vatican I solemnly defined that everyone must “confess the world and all things which are contained in it, both spiritual and material, as regards their whole substance, have been produced by God from nothing” (Canons on God the Creator of All Things, canon 5).
    Concerning biological evolution, the Church does not have an official position on whether various life forms developed over the course of time. However, it says that, if they did develop, then they did so under the impetus and guidance of God, and their ultimate creation must be ascribed to him.
    Concerning human evolution, the Church has a more definite teaching. It allows for the possibility that man’s body developed from previous biological forms, under God’s guidance, but it insists on the special creation of his soul. Pope Pius XII declared that “the teaching authority of the Church does not forbid that, in conformity with the present state of human sciences and sacred theology, research and discussions . . . take place with regard to the doctrine of evolution, in as far as it inquires into the origin of the human body as coming from pre-existent and living matter—[but] the Catholic faith obliges us to hold that souls are immediately created by God” (Pius XII, Humani Generis 36). So whether the human body was specially created or developed, we are required to hold as a matter of Catholic faith that the human soul is specially created; it did not evolve, and it is not inherited from our parents, as our bodies are.
    While the Church permits belief in either special creation or developmental creation on certain questions, it in no circumstances permits belief in atheistic evolution.
    The Time Question
    Much less has been defined as to when the universe, life, and man appeared. The Church has infallibly determined that the universe is of finite age—that it has not existed from all eternity—but it has not infallibly defined whether the world was created only a few thousand years ago or whether it was created several billion years ago.
    Catholics should weigh the evidence for the universe’s age by examining biblical and scientific evidence. “Though faith is above reason, there can never be any real discrepancy between faith and reason. Since the same God who reveals mysteries and infuses faith has bestowed the light of reason on the human mind, God cannot deny himself, nor can truth ever contradict truth” (Catechism of the Catholic Church 159).
    It is outside the scope of this tract to look at the scientific evidence, but a few words need to be said about the interpretation of Genesis and its six days of creation. While there are many interpretations of these six days, they can be grouped into two basic methods of reading the account—a chronological reading and a topical reading.
    Chronological Reading
    According to the chronological reading, the six days of creation should be understood to have followed each other in strict chronological order. This view is often coupled with the claim that the six days were standard 24-hour days.
    Some have denied that they were standard days on the basis that the Hebrew word used in this passage for day (yom) can sometimes mean a longer-than-24-hour period (as it does in Genesis 2:4). However, it seems clear that Genesis 1 presents the days to us as standard days. At the end of each one is a formula like, “And there was evening and there was morning, one day” (Gen. 1:5). Evening and morning are, of course, the transition points between day and night (this is the meaning of the Hebrew terms here), but periods of time longer than 24 hours are not composed of a day and a night. Genesis is presenting these days to us as 24-hour, solar days. If we are not meant to understand them as 24-hour days, it would most likely be because Genesis 1 is not meant to be understood as a literal chronological account.
    That is a possibility. Pope Pius XII warned us, “What is the literal sense of a passage is not always as obvious in the speeches and writings of the ancient authors of the East, as it is in the works of our own time. For what they wished to express is not to be determined by the rules of grammar and philology alone, nor solely by the context; the interpreter must, as it were, go back wholly in spirit to those remote centuries of the East and with the aid of history, archaeology, ethnology, and other sciences, accurately determine what modes of writing, so to speak, the authors of that ancient period would be likely to use, and in fact did use. For the ancient peoples of the East, in order to express their ideas, did not always employ those forms or kinds of speech which we use today; but rather those used by the men of their times and countries. What those exactly were the commentator cannot determine as it were in advance, but only after a careful examination of the ancient literature of the East” (Divino Afflante Spiritu 35–36).
    The Topical Reading
    This leads us to the possibility that Genesis 1 is to be given a non-chronological, topical reading. Advocates of this view point out that, in ancient literature, it was common to sequence historical material by topic, rather than in strict chronological order.
    The argument for a topical ordering notes that at the time the world was created, it had two problems—it was “formless and empty” (1:2). In the first three days of creation, God solves the formlessness problem by structuring different.aspects of the environment.
    On day one he separates day from night; on day two he separates the waters below (oceans) from the waters above (clouds), with the sky in between; and on day three he separates the waters below from each other, creating dry land. Thus the world has been given form.
    But it is still empty, so on the second three days God solves the world’s emptiness problem by giving occupants to each of the three realms he ordered on the previous three days. Thus, having solved the problems of formlessness and emptiness, the task he set for himself, God’s work is complete and he rests on the seventh day.
    Real History
    Even if Genesis 1 records God’s work in a topical fashion, it still records God’s work—things God really did. It is impossible to dismiss the events of Genesis 1 as a mere legend. They are accounts of real history, even if they are told in a style of historical writing that Westerners do not typically use.
    Adam and Eve: Real People
    It is equally impermissible to dismiss the story of Adam and Eve and the fall (Gen. 2–3) as a fiction. A question often raised in this context is whether the human race descended from an original pair of two human beings (a teaching known as monogenism) or a pool of early human couples (a teaching known as polygenism).
    In this regard, Pope Pius XII stated: “When, however, there is question of another conjectural opinion, namely polygenism, the children of the Church by no means enjoy such liberty. For the faithful cannot embrace that opinion which maintains either that after Adam there existed on this earth true men who did not take their origin through natural generation from him as from the first parents of all, or that Adam represents a certain number of first parents. Now, it is in no way apparent how such an opinion can be reconciled that which the sources of revealed truth and the documents of the teaching authority of the Church proposed with regard to original sin which proceeds from a sin actually committed by an individual Adam in which through generation is passed onto all and is in everyone as his own” (Humani Generis 37).
    The story of the creation and fall of man is a true one, even if not written entirely according to modern literary techniques. The Catechism states, “The account of the fall in Genesis 3 uses figurative language, but affirms a primeval event, a deed that took place at the beginning of the history of man. Revelation gives us the certainty of faith that the whole of human history is marked by the original fault freely committed by our first parents” (CCC 390).
    Science and Religion
    The Catholic Church has always taught that “no real disagreement can exist between the theologian and the scientist provided each keeps within his own limits. . . . If nevertheless there is a disagreement . . . it should be remembered that the sacred writers, or more truly ‘the Spirit of God who spoke through them, did not wish to teach men such truths (as the inner structure of visible objects) which do not help anyone to salvation’; and that, for this reason, rather than trying to provide a scientific exposition of nature, they sometimes describe and treat these matters either in a somewhat figurative language or as the common manner of speech those times required” (Leo XIII, Providentissimus Deus 18).
    As the Catechism puts it, “Methodical research in all branches of knowledge, provided it is carried out in a truly scientific manner and does not override moral laws, can never conflict with the faith, because the things of the world and the things the of the faith derive from the same God. The humble and persevering investigator of the secrets of nature is being led, as it were, by the hand of God in spite of himself, for it is God, the conserver of all things, who made them what they are” (CCC 159). The Catholic Church has no fear of science or scientific discovery.
    ________________________________________
    NIHIL OBSTAT: I have concluded that the materials
    presented in this work are free of doctrinal or moral errors.
    Bernadeane Carr, STL, Censor Librorum, August 10, 2004
    IMPRIMATUR: In accord with 1983 CIC 827
    permission to publish this work is hereby granted.
    +Robert H. Brom, Bishop of San Diego, August 10, 2004

  • Barend van der Merwe

    Andries, goeie uiteensetting daar. Fritz Gaum, wat onlangs oorlede is, was een van die min gelowiges wat ek van weet, wat evolusie aanvaar het. Sy idees was 'n vreemde besigheid. Hy het dit in sommige van sy boeke uiteengesit. Basies het God die fauna en flora sy gang laat gaan en toe op 'n stadium ingegryp en Sy spesiale asem in die mens ingeblaas. Aldus Gaum. Dit bots natuurlik heeltemal met die kreationiste se uitlegte. Om nie te praat van die 6-dag tradisionaliste nie.

    Gegewe hierdie drie artikels deur Blomerus, die toon en die aard daarvan, kan ek nie sien hoe koel beredeneerdheid spoedig op groot skaal sal seëvier nie. Vrees en fiksie sal nog lank mense se denke dikteer.

    Baie gelowiges verwyt ook vir Gaum dat hy die NG kerk geskeur het weens sy omswaai oor homoseksualiteit. Nadat sy eie seun se seksuele voorkeure uitgelap was in die koerante.

    Die ou koloniale kerke soos die protestantse kerke, is skynbaar wel sterwend. Maar inheemse kerke soos die Sioniste en andere floreer.

    Op sensusdag beskou Christene mekaar graag as Christene. Maar op ander dae kompeteer hulle vir voete en erken nie waarlik mekaar se geloof nie. Die Sioniste word tipies beskou as mense wat voorvaders aanbid in my ou kerk. Soos wat Katolieke vir Maria aanbid volgens baie tipiese oortuiginge. Grootdopers soos Baptiste en AGS voel weer die "bababesprinkelaars" is nie regte Christene nie. Die kerk is 'n maatskappy wat opereer onder die dekmantel van 'n organisasie. Die sakesektor is dinamies, aanpasbaar en innoverend. Kerke is gevolglik dikwels op die voorpunt van innovasie en gebruik tegnologie ook besonder knap. Kyk hoe is sosiale media ingespan tydens die COVID 19-inperkinge.

  • Johannes Froneman

    By my bewondering vir Maryna se wye kennis en perspektiewe, wil ek tog sê hoe jammer ek is dat haar skerp (gefundeerde) kritiek op Spangenberg toe oorgegaan het in 'n kritiek op "die kerk". Om met ongelowiges oor die kerk in gesprek te tree (want dit is wat die drieluik op neerkom) is tog sinneloos.

    Op vele punte sou ek Maryna kon aanvat. Die kern daarvan is dat sy myns insiens 'n strooipop afskiet. Sy raak dinge kwyt soos: "Die topswaar, hiërargiese kerkstrukture soos ons dit vandag ken, is eenvoudig nie versoenbaar met die primitiewe eenvoud van die organiese kerk van die Nuwe Testament nie."

    In 'n reformatoriese kerkverband is elke gemeente volledig kerk van Christus. Hulle tree vrywillig in verband met ander gemeentes/kerke. Hier is geen sprake van 'n oordonderende leierskap nie, hoewel dit natuurlik al voorgekom het en steeds kan gebeur. Daar is geen hoofkwartier soos by Checkers nie.

    Die gemeente waarvan ek lidmaat is, is een waar gelowiges mekaar met hul gawes dien. Daar is 'n groot mate van gesamentlikheid. Dis 'n lewende organisme wat ook die strande skoonmaak, siekes ondersteun en broodjies vir kinders maak. En soveel meer. Nee, ons sit nie net een keer per week ek kyk in iemand se agterkop vas terwyl die professionele leraar ons toespreek nie.

    Uiteindelik kom Maryna na vore as 'n voorstander van huiskerke. Nou het ek vrede daarmee, maar om die gebruik af te skiet waar gelowiges in doelmatige geboue ("kerke") saamkom, is nie nodig nie. Liturgie is, soos sy goed weet, 'n deurdagte manier om God te aanbid, lof aan hom te bring deur sang en boonop 'n boodskap aan te hoor. En soms is daar 'n "onbybelse" orrel wat jou siel verhef. In sommige gemeentes is die struktuur meer formeel, in ander losser.

    Die punt is dat selfs binne een denominasie daar 'n wye spektrum van spiritualiteite en aanbibbingswyses voorkom. Uiteindelik sou Maryna se artikel as 'n voorspraak vir huisgemeentes soveel waardevoller gewees het as dit nie gebou is op 'n kritiek van 'n bepaalde idee (persepsie) van hoe "die kerk" sou lyk nie. Dit spreek ongelukkig nie van kennis van hoe die kerk op vele plekke funksioneer nie.

  • Maryna Blomerus

    Vir Johannes Froneman

    Jy sê: Om met ongelowiges oor die kerk in gesprek te tree… is tog sinneloos.

    Ek antwoord: My trilogie was in antwoord op Koos Kombuis se menings aangaande Spangenberg se boek; dit sluit af met wat die waarheid dan is as dit nie is wat Spangenberg voorgee dit nie is nie. Koos, vermoed ek, is 'n draadsitter (dalk soos vele ander lesers), nog nie gereed om geloof af te sweer nie, maar ook klaar met “die kerk”. Met die artikel vra ek dat die regte Kerk sal opstaan sodat ongelowiges, draadsitters, gelowiges en die hele lot van ons kan besluit wat om van haar te maak.

    Jy: In 'n reformatoriese kerkverband is elke gemeente volledig kerk van Christus. Hulle tree vrywillig in verband met ander gemeentes/kerke. Hier is geen sprake van 'n oordonderende leierskap nie, hoewel dit natuurlik al voorgekom het en steeds kan gebeur.

    Ek: Wat maak ek dan met 'n koerantberig soos “NG Kerk se sinode besluit Donderdag oor gays”? Is dit nie die sinode wat oor al die belangrike beleidskwessies vir die hele NG Kerk besluit nie?

    Vergelyk dit met 'n hipotetiese huiskerk wat n gelowige gay paartjie insluit. Hierdie twee menses sal name hê. Hul lewens – hul geloof, waardes, trou en liefde - sal bekend wees aan al die huisgenote wat daarom sekerlik in die beter posisie sal wees om uitsprake oor hulle te maak.

    Op gemeentevlak is dit tog die kerkraad wat byvoorbeeld sal besluit wie die gemeente moet beroep, hoe hulpbronne aangewend moet word of hoe die kerkprogram lyk?

    Ek is jammer, die struktuur is glad nie so plat as wat jy dit uitmaak nie. En jy weerspreek jouself as jy skryf daar is “geen sprake van 'n oordonderende leierskap nie, hoewel dit natuurlik al voorgekom het en steeds kan gebeur.” As dit kan gebeur, sal dit gebeur.

    Jy: Die gemeente waarvan ek lidmaat is, is een waar gelowiges mekaar met hul gawes dien. Daar is 'n groot mate van gesamentlikheid. Dis 'n lewende organisme wat ook die strande skoonmaak, siekes ondersteun en broodjies vir kinders maak. En soveel meer. Nee, ons sit nie net een keer per week ek kyk in iemand se agterkop vas terwyl die professionele leraar ons toespreek nie.

    Ek: As God se hospitaal in die wêreld is dit nie die kerk se werk om hier 'n pleister op te plak en daar 'n pil uit te deel nie. Heling sluit liefdadigheid in (broodjies, byvoorbeeld), maar dit gaan verder. Die einddoel is nie net tydelike verligting nie, maar restorasie. Dit verg n holistiese, langtermyn betrokkenheid by 'n gemeenskap. Die strukture van die kerk inhibeer egter die omvang van wat vermag kan word omdat dit meeste van die hulpbronne (finansies, veral) vir homself toeëien.

    Kom ek vra jou: watter persentasie van die lidmate in jou kerk maak strande skoon, ondersteun siekes of maak broodjies vir kinders? Is jy byvoorbeeld betrokke? Is daar nie die gevaar dat meeste mense op die kantlyn staan en applous gee vir wat “die kerk” vermag nie?

    Jy: … om die gebruik af te skiet waar gelowiges in doelmatige geboue ("kerke") saamkom, is nie nodig nie. Liturgie is… 'n deurdagte manier om God te aanbid, lof aan hom te bring deur sang en boonop 'n boodskap aan te hoor… Uiteindelik sou Maryna se artikel as 'n voorspraak vir huisgemeentes soveel waardevoller gewees het as dit nie gebou is op 'n kritiek van 'n bepaalde idee (persepsie) van hoe "die kerk" sou lyk nie. Dit spreek ongelukkig nie van kennis van hoe die kerk op vele plekke funksioneer nie.

    Ek: My kritiek teen “die kerk” is nie ligtelik of ondeurdag gemaak nie. Nes jy moes ek vra of dit werklik nodig is. Ek het tot die slotsom gekom dat dit is. Die huiskerk is die Bybelse model. Dit behoort genoeg rede te wees, tensy jy kan demonstreer hoe die hiërargiese, gebou-gebonde, program-gebonde, liturgie-gebonde opset meer soos ‘n lewende liggaam funksioneer as die kommunitêre, nie-elitistiese, verhouding-gesentreerde huiskerk? Vir watter rede sou jy nie die beter, skrifgebaseerde model verkies nie?

    Een van my grootste probleme met “kerkdienste” is juis die liturgie. Verskillende predikante besluit seker verskillend waaroor hulle van Sondag tot Sondag sal preek. Hulle besluit dalk op 'n reeks temas, dalk reeds aan die begin van die jaar, 'n bietjie soos 'n onderwyser wat deur 'n kurrikulum moet werk. Maar hoe kan so 'n boodskap relevant wees vir elke indiwiduele lidmaat wat dit aanhoor en inspraak lewer in elkeen se persoonlike, unieke uitdagings op daardie oomblik? In 'n huiskerk loop 'n groepie mense die pad saam en kan die Woord tree vir tree lewend vir mekaar gemaak word, soos nodig, wanneer nodig.

    As 'n gelowige kerk toe moet gaan om 'n boodskap te hoor, het hy 'n probleem. Elke gelowige is 'n priester. As volwasse Christen kan ek my eie Bybel lees, my eie navorsing doen, my eie dinkwerk doen. Die gemeenskap van die heiliges bied dan die geleentheid om verder daaroor te gesels en mekaar met wysheid, kennis en insig te bedien. Hiervoor laat jou soort kerk wat lidmate lepelvoer geen ruimte nie.

    Ek hoef nie te weet hoe kerke indiwidueel funksioneer om te weet wat die skriftuurlike model is nie. Ek was vir die beste deel van my lewe intens betrokke by die kerk. Ek het baie diensbare, gelowige mense in aksie gesien, maar ook diegene vir wie kerk nie veel meer as tradisie of kultuur is nie, 'n boks om te tiek, sentiment om te koester, 'n kuiertjie om in te kry. Als en als ken ek min kerkgangers wat by ‘n bedelaar sal stilstaan of sy kleed aan iemand sal gee wat nie een het nie. Maar hulle sal dalk toebroodjies maak as deel van die kerkprogram.

    Of die twee modelle nie maar langs mekaar kan staan nie? Vir wat? Waarom nie in die spore van die oorspronklike gelowiges loop nie? Kyk wat het hulle vermag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top