Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid: ’n lesersindruk van Sakkie Spangenberg se epistomologie, hermeneutiek en Christologie

  • 12

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid
Skrywer: Sakkie Spangenberg

ISBN: 9781067234270
Uitgewer: Naledi

Agtergrond:

Koos Kombuis het die volgende lesersindruk oor Sakkie Spangenberg se Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid geskryf.

Maryna Blomerus het soos volg hierop gereageer.

Hier onder volg Maryn Blomerus se persoonlike lesersindruk van Spangenberg se boek.


“We live in a society exquisitely dependent on science and technology, in which hardly anyone knows anything about science and technology.” – Carl Sagan

“Die waarheid sal letterlik niks anders wees as die skadu’s van beelde nie.” – Plato

“Die dwaas sê in sy hart: ‘Daar is geen God nie.’” – Psalm 14:1

Waarheid en sekerheid

Selfs as ’n mens vas oortuig is van iets, is dit nie slim om openbare uitsprake daaroor te maak wat gelaaide woorde soos waarheid, finaal, beslis, ongetwyfeld en dies meer insluit nie. ’n Bekende voorbeeld van ’n oorversekerde opinie wat later tot ’n rooi gesig verdoem is, is dié van Albert Abraham Michelson, Amerika se eerste Nobelpryswenner, wat in 1903 met vertroue verklaar het dat die belangrikste fundamentele ontdekkings waarskynlik reeds gemaak is en dat die kans dat hulle ooit aangevul sou word as gevolg van nuwe ontdekkings uiters skraal is. Die wetenskap het skaars tyd gehad om nes te skop in hierdie snoesige wete toe Einstein se teorieë van algemene en spesiale relatiwiteit soos ’n skoot uit ’n dubbelloop geknal het en Newton se wette flenters geskiet het.

’n Ander voorbeeld is Francis Fukuyama se boek The end of history and the last man. Fukuyama sal onthou word as die man wat verklaar het dat die geskiedenis in 1989 geëindig het toe die toppunt van menslike ideologie bereik is in die vorm van liberale demokrasie. Dalk het hy dit nie presies so bedoel nie, maar dit is die vloek van ’n frase wat byval vind: Die skrywer word vir alle ewigheid gedwing om te verduidelik wat hy eintlik bedoel het. Wat ons weet, is dat die geskiedenis nie in 1989 geëindig het nie. Demokrasieë wankel om ons, Amerika segregeer, nie-demokratiese China word magtig, Rusland doen voort op sy eie manier en min historici waag dit vandag om ’n punt agter enigiets te plaas. Die geskiedenis is so lewendig as ooit.

Wanneer ’n mens dus van ’n boek te hore kom met die titel Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid daal daar ’n gevoel van déjà vu oor jou neer. Vir iemand wat die ontwikkeling van ’n “historiese sensitiwiteit” hoog aanprys, spreek Spangenberg se keuse van ’n titel myns insiens van ’n historiese geheueverlies. Waarheid is ’n groot woord. Dit is nie net uit sy keuse van ’n titel nie, maar uit sy herhaaldelike gebruik van die woord waarheid in sy boek dat ’n mens die gevoel kry dat Spangenberg dalk te vrypostig met die konsep omgaan.

’n Sentrale tema en basiese uitgangspunt van die boek is dat waarheid en geskiedenis intiem vervleg is en dat waarheid “onweerlegbaar” deur die eeue toeneem danksy ’n opeenvolging van progressiewe paradigmaskuiwe. Hy redeneer dat die meesterverhaal van die christelike godsdiens nie net uit die staanspoor opgemaak is om die skrywers se agendas te pas nie, maar dat dit deur hul intellektueel ongesofistikeerde kultuurgenote geglo is, omdat laasgenoemde onbekend was met hoe die wette van die natuur eintlik werk. Hy vra dan: “Het die groei in kennis die waarheid van die meesterverhaal nie dalk ingehaal soos die geval was met die geosentriese wêreldbeeld [nie] [...]?”

Die illusie van vooruitgang

Buckminster Fuller het in 1982 van die “kennisverdubbelingskromme” gepraat. Hy het beraam dat menslike kennis in 1900 ongeveer elke 100 jaar verdubbel het, dat die koers teen die einde van 1945 tot elke 25 jaar gedaal het en dat die verdubbeling teen 1982 elke 13 maande sou plaasvind. Met die koms van die internet word dit nou op elke 12 uur gestel.

Wonderentstowwe, slimfone, herbruikbare vuurpyle en ’n konstante vloed van tegnologiese uitvindings skep inderdaad die indruk van onmiskenbare en onoortreflike wetenskaplike vooruitgang. Tog meld ontleders nou dat die algehele pas van werklike deurbrake oor die afgelope amper driekwart eeu dramaties gedaal het.

Die tydskrif Nature het onlangs ’n verslag gepubliseer waarin navorsers vertel hoe hul studie van miljoene wetenskaplike referate en patente toon dat uitvinders relatief min deurbrake en innovasies gemaak het in vergelyking met die wêreld se groeiende berg wetenskaplike en tegnologienavorsing. Die skrywers rapporteer ’n bestendige daling van 1945 tot 2010 in baanbrekersontdekkings wat daarop dui dat wetenskaplikes vandag meer geneig is om inkrementeel te vorder as om intellektuele spronge te maak.

........
Ons behoort in ’n goue era van nuwe ontdekkings en innovasies te wees, maar ons is nie. Een van die hoofredes wat aangevoer word, is dat kwantiteit bo kwaliteit geprioritiseer word.
........

Ons behoort in ’n goue era van nuwe ontdekkings en innovasies te wees, maar ons is nie. Een van die hoofredes wat aangevoer word, is dat kwantiteit bo kwaliteit geprioritiseer word. Die akademiese omgewing word dikwels beskryf as een met ’n evangelie van “publiseer of vergaan”. In onlangse jare het die aantal referate wat gepubliseer word, eksponensieel gegroei. In 2016 is ongeveer 1,92 miljoen referate geïndekseer en in 2022 het dié getal tot 2,82 miljoen gestyg. Laer verwerpingskoerse en vinniger omkeertye is potensiële aanwysers van gehalte wat verswak en van onbetroubare data wat weens tydsdruk nie deur behoorlike verifiëring opgespoor kan word nie. Publikasies wat obsene winsmarges najaag, word geblameer vir die druk om ten alle koste te publiseer.

So ’n onontsyferbare waas van nuwe inligting kan gewoon nie meer samehangend met mekaar verbind word nie. Eweknie-beoordelings deur oorgespesialiseerde wetenskaplikes word toenemend bemoeilik omdat data nie langer interpreteerbaar is deur mense buite eng nisgebiede nie. Niks hieromtrent is bevorderlik vir noukeurige wetenskap nie. Soos Will Durant dit stel: “Data oorval ons van alle kante soos die lawa van Vesuvius; ons versmoor onder ongekoördineerde feite; ons word oorweldig deur wetenskappe wat broei en vermeerder in gespesialiseerde chaos weens ’n gebrek aan sintetiese denke en ’n verenigende filosofie. Ons is almal blote fragmente van wat ons kan wees.”

Peter Higgs, die Britse fisikus wat sy naam aan die Higgs-boson gegee het en ’n Nobelprys vir sy werk ontvang het, twyfel of ’n soortgelyke deurbraak in vandag se akademiese kultuur gemaak kan word vanweë die verwagtinge van akademici om konstant te publiseer ten koste van die noodsaaklike kopspasie om diep oor enigiets te kan besin.

Dit is ’n redelike afleiding om te maak dat die vrag van nuwe “kennis” wat geproduseer word, nie swaarder op die weegskaal weeg nie as die min maar ware Eureka!-oomblikke van vorige eeue wat gevolg het na lang en moeisame studies en eksperimentering. Die wetenskap van vandag is nie beter of meer waardevol as dié van gister nie.

Die gebrek aan nuwe deurbrake in fundamentele kennis in die wetenskap kan verder daaraan toegeskryf word dat daar steeds ’n kultusagtige toewyding aan materialisme by vele akademiese instellings bestaan waar wetenskaplikes beloon en gestraf word vir hoe getrou hulle konformeer met die geïnstitusionaliseerde dogma van materialisme al dan nie. Hierdie instellings gaan pragmaties om met kwantummeganika en die ongeëwenaarde sukses daarvan wanneer dit by tegnologiese aanwendings kom, maar hulle ignoreer die verreikende teoretiese implikasies daarvan in hul navorsing. Die studie van enigiets wat nog onverklaarbaar is of na metafisika lyk, word met antagonisme en agterdog bejeën. Enige geloof in God of ’n onsigbare wêreld word bespot en geneem as ’n teken van lae intelligensie. Dit is tyd om verby wetenskaplike materialisme te beweeg vir die baie eenvoudige rede dat dit as ’n verouderde paradigma inhiberend en kontraproduktief is. Dit is geen wonder dat die wetenskap nie vordering maak nie.

Dit is ironies en selfs lagwekkend dat soveel moderne wetenskaplikes volkome inkoop op die bruikbare suksesse van die reuse op wie se skouers hulle staan, maar kies om die soort metafisiese oortuigings wat hulle gekoester het, te ignoreer of selfs te bespot. Einstein het byvoorbeeld in Spinoza se God geglo en Schrödinger in een kosmiese brein waarvan ons almal deel is. Darwin was nie godsdienstig nie, maar hy het steeds geglo dat God die uiteindelike wetgewer was; hy was ook oortuig van die bestaan ​​van God as ’n Eerste Oorsaak en het gevoel dat hy verdien het om ’n teïs genoem te word. Baie Nobelpryswenners in fisika het geglo dat bewussyn en nie materie nie die fundamentele werklikheid is. Die reuse was spiritueel en kon juis daarom, anders as die dwerge, buite die boks van hul tyd sien.

Spangenberg het nie net wetenskaplikes in gedagte wanneer hy glo dat die een-en-twintigste eeu een is waarin wetenskap die septer swaai nie. Hy glo dit ook van die konsensuswaarhede wat deur gewone mense gevorm word. Wat ons egter vind as ons ons gordyne ooptrek en kyk wat ons besig is om met ons fantastiese tegnologie te doen, sluit dit die volgende in:

  • ’n Aarde wat enersyds deur winsgedrewe korporasies geplunder en gestroop word, welke siellose kortsigtigheid andersyds deur aptytgedrewe en gemaksugtige verbruikers bemoontlik word op ’n skaal en teen ’n tempo wat net beskryf kan word as kollektiewe selfmoord. Hierdie geslag het ’n haas onomkeerbare planetêre krisis in die vorm van aardverwarming geskep wat nog nooit tevore in die menslike geskiedenis gesien is nie, terwyl baie wetenskaplikes aardverwarming steeds afmaak as ’n klug;
  • die daaglikse lyding van biljoene diere in batteryplase wat spreek van kollektiewe wreedheid en apatie wat nog nooit voorheen gesien is nie;
  • die beheer en manipulasie van digitale kommunikasie wat gelei het tot die misleiding en polarisering van die massas;
  • meer lewensjare (danksy medikasie) wat in swakker gesondheid deurgebring word as in enige tyd in ons geskiedenis met geprosesseerde kosse wat vetsug en allerlei nuwe kankers tot gevolg het;
  • meer angs, depressie en sosiale en sielkundige probleme as wat in enige ander geslag ervaar is;
  • ’n winsgedrewe militêre nywerheidskompleks wat kragtiger is as ooit – wêreldwye konflikkoerse het in 2023 met 12% toegeneem met meer as 15 000 bykomende aanvalle, bomaanvalle en aanrandings vergeleke met 2022, dikwels sonder enige respek vir internasionale wette en basiese menseregte, en wat een uit elke ses van ons in ’n gebied van aktiewe konflik plaas;
  • reuse-, winsgedrewe farmaseutiese maatskappye wat almal herhaaldelik skuldig bevind is aan bedrog en die bemarking van skadelike – dikwels noodlottige – dwelms wat goedgelowig gesluk word deur verbruikers;
  • die verval van demokrasie in selfs ’n ongekende aantal ryk lande wat vroeër gesien is as immuun daarteen, as gevolg van dinge soos mis- en disinformasie, asook ’n oplewing van outoritarisme en fascisme regoor die wêreld.

Spangenberg se optimisme omtrent die “moderne mens” skyn erg misplaas te wees. Alles inaggenome kan daar eerder geredeneer word dat ons ’n nuwe donker eeu betree het en dat die beskawing sy kop verloor het ten spyte van al sy baie kennis.

........
Die illusie van ons vooruitgang word deur min dinge duideliker geïllustreer as die verlies van basiese vaardighede wat die “moderne” tyd kenmerk. Hoewel ons vandag byna enigiets teen die spoed van witlig aanlyn kan koop en verkoop – dink aan klere, kuns, meubels en kos – het daar relatief min mense oorgebly wat hul eie kommoditeite kan vervaardig, hul eie kuns kan skep of self kan boer.
........

Die illusie van ons vooruitgang word deur min dinge duideliker geïllustreer as die verlies van basiese vaardighede wat die “moderne” tyd kenmerk. Hoewel ons vandag byna enigiets teen die spoed van witlig aanlyn kan koop en verkoop – dink aan klere, kuns, meubels en kos – het daar relatief min mense oorgebly wat hul eie kommoditeite kan vervaardig, hul eie kuns kan skep of self kan boer. Gesentraliseerde massaproduksie het ons, sover dit oorlewingsvaardighede aangaan, dommer gemaak as die wewers, pottebakkers, smede, leerlooiers, boekbinders, glasblasers, bakkers, boere en kruiedokters van weleer.

Ons kan onsself troos en dink dat ons sulke vaardighede vervang het met ander moderne vaardighede wat meer toepaslik is vir ons moderne lewens, maar ons bluf onsself as ons dink dat ons moderne toebehore ons meer gevorderd maak. Wie van ons kan die rekenaars, slimfone, internet of enige van die tegnologie wat ons gebruik, self bou? Wie van ons weet hoe die elektrisiteit of die internet waarsonder ons nie kan klaarkom nie werk? Ons is gereduseer tot verbruikers.

Hoe meer tegnologie en kunsmatige intelligensie daar uit die hand van ’n handjievol uitvinders kom, hoe dommer word die massas. Ons hoef nie eens meer self te skryf, te vertaal, te bereken, te ontwerp of te proeflees nie. Dit is net ’n kwessie van tyd en ons sal ook nie meer self hoef te bestuur nie.

Geloof as ’n funksie van die wetenskap en kultuur

Sosiale epistemologie spreek die manier aan waarop gemeenskappe hul kennis verkry. Byna al ons kennis word passief en tweedehands verkry vanaf bronne soos sosiale media, televisie, boeke, tydskrifte of die internet. Niefiksieboeke wat die beste verkoop, is biografieë, outobiografieë en memoires, terwyl boeke oor selfhelp en persoonlike ontwikkeling ook goed doen. Dan is daar resepteboeke en boeke oor tuinmaak. Wetenskapboeke suig aan die agtertiet. ’n Mens hoef net in Exclusive Books te gaan soek na iets meer onlangs of minder algemeen as Stephen Hawking se Theory of everything of Bill Bryson se A short history of everything om te besef hoe klein die aanvraag na enigiets meer onlangs of meer gewigtig in Suid-Afrika moet wees. Dieselfde voorkeure word weerspieël in waarna mense op televisie kyk.

Dit sal dus ’n fout wees om te dink dat ons geslag deurdrenk is van wetenskaplike kennis wat ons besluite en gedrag influister. Dink daaroor. Daar was nog nooit ’n geslag wat oor so baie inligting omtrent voeding beskik het nie en tog het vetsug wêreldwyd onder volwassenes meer as verdubbel sedert 1990, en vervierdubbel onder kinders en adolessente (5 tot 19 jaar oud). Daar was ook nog nooit ’n geslag wat danksy sosiale media so bewus moet wees van hoeveel diere met ons en met mekaar gemeen het in terme van intellek, persoonlikheid, ’n kapasiteit vir pyn, vrees en stres, ensovoorts nie en tog word troeteldiere al hoe beter behandel, terwyl daar meer vleis as ooit geëet word en daar gevolglik daagliks biljoene diere in die allerhaglikste omstandighede in batteryplase mishandel word.

Die mens is nie ’n logiese spesie nie. Besluite word eerder gevorm deur wat bekend, goedkoop of gerieflik is en verander omtrent net as ’n saak van praktiese noodsaak. Iemand sal byvoorbeeld eers ophou om goedkoop klere van swak gehalte uit die Ooste te koop indien nuwe belastings dit te duur maak en nie omdat fast fashion sleg is vir die omgewing nie.

........
As dit vandag die geval is dat die gesonde oordeel van mense nie ’n funksie van wetenskaplike kennis is nie, was dit waarskynlik ook nie in vorige eeue of kulture nie. Ook nie in Jesus se tyd nie.
........

Die gemiddelde mens het beswaarlik ’n epistemologie van sy eie en gaan met die stroom saam sonder veel skeptiese ontledings van wat reg of verkeerd of waar of vals is. Wanneer iemand wel iets “glo” is dit waarskynlik in die navolg van ’n sosiale modegier of ’n gerespekteerde mentor of uit lojaliteit aan of vereenselwiging met ’n politieke of intellektuele etiket soos christelik, liberaal, progressief, behoudend of wat ook al.

As dit vandag die geval is dat die gesonde oordeel van mense nie ’n funksie van wetenskaplike kennis is nie, was dit waarskynlik ook nie in vorige eeue of kulture nie. Ook nie in Jesus se tyd nie. Wanneer Spangenberg beweer dat Jesus se tydgenote in ’n maagdelike geboorte of in ’n fisiese opstanding geglo het, omdat hulle nie die voordeel van vandag se wetenskap gehad het nie (hoe vrouens swanger raak of wat met lyke gebeur), moet jy besluit of jy wil lag of huil. Hulle het geglo wat mense wat hulle geken en vertrou het hulle vertel het. Wetenskapkennis het toe so min ’n rol gespeel as wanneer iemand vandag deur sosiale media daarvan oortuig sou word dat die verdwene Kate Middleton vermoor is en met skeppings van KI vervang is.

Spangenberg gebruik die term drieverdieping-heelal om te illustreer hoe mense van die Bybel geglo het in ’n geestesrealm daar bo, die plat aarde waarop lewende siele woon en die onderwêreld wat bewoon word deur die siele van afgestorwenes. Die rede, skryf hy, waarom mense in ’n letterlike Vader in die hemel geglo het of in ’n letterlike doderyk waarin Jesus neergedaal het, is omdat hulle nie geweet het hoe groot die heelal is of dat daar nie ’n onsigbare wêreld bestaan nie. Hy gebruik die drieverdieping-heelal herhaaldelik om talle dinge mee te illustreer en laat dit nooit na om die leser daaraan te herinner dat ons vandag beter weet nie.

Die “God-probleem” wat Spangenberg skets – die intellektuele uitdaging om selfs die idee van die een of ander almagtige, alwetende wese wat op geheimsinnige maniere met ons omgaan ernstig op te neem – is egter nie ’n probleem met die onwetenskaplikheid van die Bybel nie; dit is eerder ’n funksie van die ontkenning van die rol wat metafore speel in ons denke oor God. Ons voorvaders het in hul eie tyd ’n ryk palet van metafore gebruik om hul ervaring van die goddelike te vorm, metafore wat direk tot hul alledaagse ervarings gespreek het.

Hoe meer ons van die menslike brein leer, hoe meer verstaan ​​ons dat die metafoor fundamenteel is vir hoe ons alles verstaan ​​en daaroor praat – veral die meer abstrakte dinge in ons lewens. Ons gebruik beelde en strukture uit ons fisiese, beliggaamde ervaring – basiese fisiese ervarings soos OP en AF en IN en UIT – om meer abstrakte emosies en idees te verstaan ​​en daaroor te praat. Ons praat byvoorbeeld steeds van die son wat OP-kom, hoewel niemand dink hy staan uit sy bed uit op nie.

Soos hul Oosterse bure, het die skrywers van die Hebreeuse Bybel metafore uit die menslike en natuurlike wêreld gebruik om hul ervaring van die goddelike te beskryf, insluitend Stem, Vuur, Kryger, Arend, Ouer, Wetgewer, Water, Rots, en vele meer. Soos met enige metafore, moet ons onthou dat dit nie definisies van God is nie; hulle is poëtiese toegangsweë tot iets wat ’n menslike ervaring transendeer.

........
Toe Jesus na homself verwys het as die lig van die wêreld, die brood van die lewe, die goeie herder of die ware wynstok sou net ’n idioot hom letterlik opgeneem het. Jy het geen wetenskap nodig om ’n metafoor te verstaan nie – jy put gewoon uit ’n gedeelde menslike ervaring.
........

Toe Jesus na homself verwys het as die lig van die wêreld, die brood van die lewe, die goeie herder of die ware wynstok sou net ’n idioot hom letterlik opgeneem het. Jy het geen wetenskap nodig om ’n metafoor te verstaan nie – jy put gewoon uit ’n gedeelde menslike ervaring. Toe Plato gesê het dat die waarheid letterlik niks anders sal wees as die skadu’s van beelde teen ’n grotmuur nie, het hy van dieselfde onderliggende idee (die werklikheid-as-illusie) gepraat as wanneer ek vandag van die kosmos as ’n simulasie praat. Metafore maak dit moontlik om baie komplekse verduidelikings te vermy en net die essensie van wat bedoel word, te kommunikeer. Om dit nie in te sien nie, is ’n groot tekortkoming in iemand wat kultuurgeskiedenis aan ander probeer verduidelik.

Wanneer ons in die Bybel lees van God as Vader of Jesus as Seun is woorde soos Vader en Seun self metafore vir ’n verhouding wat wetenskaplik waarskynlik te kompleks is vir ons verwysingsraamwerk, toe en nou. Wanneer Spangenberg dus besluit wat die drie-eenheid kan en nie kan doen nie (ter helle neerdaal of van Homself verlate wees), spreek dit van ’n verstommende verwarring.

Spangenberg skryf dat die mens gedink het hy is die kroon van die skepping omdat hy nie geweet het presies hoe groot die heelal is nie en dat evolusie en moderne kosmologie hom mooi op sy plek gesit het. Met die voordeel van moderne wetenskap (kwantummeganika) verstaan ons egter vandag dat niks fisies bestaan totdat dit waargeneem word nie. Ook dat ruimtetyd ’n konstruk van die bewussyn is. As ruimtetyd net in my kop bestaan en als daar buite eintlik net hier binne is, of as als net as statistiese moontlikhede of inligting bestaan totdat dit deur my sintuie een werklikheid toegeken word, is ons pretty much die middelpunt van hierdie skepping of simulasie; ek van myne en jy van joune. As ruimtetyd nie onafhanklik van my waarneming bestaan nie, is dit verder misleidend om van die kosmos as “groot” te praat. Trouens, as “groot” verstaan word suiwer as die hoeveelheid inligting wat die kosmos bevat, is elke mens gelyk aan ’n heelal. ’n Diploïede genoom kan 1,5 gigagrepe se data stoor. Die menslike liggaam bestaan uit 100 biljoen selle. Aangesien DNS die vermoë het om 2 bisse per nukleotied te kodeer, kan een gram gedroogde DNS 455 exagrepe data stoor. As Spangenberg dus dink dat die mens nietig is relatief tot die kosmos, is hy verder van die waarheid as iemand wat in die donker eeue geleef het.

Die verband wat Spangenberg tussen geloof, kultuur en wetenskap trek, bestaan gewoon nie. Die meeste mense is verkeerd oor die meeste dinge die meeste van die tyd.

 Die betroubaarheid van die Bybel

“As die enigste gereedskap wat jy het ’n hamer is, is die versoeking groot om alles te hanteer asof dit ’n spyker is.” – Abraham Maslow

“Bad religion is arrogant, self-righteous, dogmatic and intolerant. And so is bad science. But unlike religious fundamentalists, scientific fundamentalists do not realise that their opinions are based on faith. They think they know the truth.” – Rupert Sheldrake

Om wonderwerke en die bestaan van enige onsigbare wêreld as onmoontlik te “bewys” is nie genoeg vir Spangenberg nie. Hy kon daar gestop het, want sonder wonderwerke is ’n maagdelike geboorte, die opstanding en die wederkoms by implikasie nie moontlik nie. Spangenberg wil egter elke spyker waarop hy sy hande kan lê in die doodskis van die christelike geloof kap. Hy poog dus om ook “bo alle twyfel” te demonstreer dat die Bybelskrywers die meesterverhaal omtrent Jesus versin het en dat die Nuwe Testamentiese geskrifte onbetroubare dokumente is.

Drie gebeure in my lewe het my ’n paar nuttige wyshede geleer.

1. Ek en Jean Oosthuizen was vir ’n kort rukkie Facebook-vriende nadat hy as deel van ’n kunstefees se feesprogram met my in gesprek was oor my boek Meer as ’n metafoor. Op ’n dag het ek opgemerk dat iemand op sy blad van mening was dat geloof in die lig van moderne wetenskap van intellektueel agtergeblewenheid spreek. Toe ek kapsie maak, het daar ’n histeriese kakofonie van verontwaardiging in hierdie eggokamer losgebars. Ek is summier uitgemaak as ’n fundamentalis, maar die enigste wetenskap wat deur hierdie mense opgekommandeer is, was dié uit die agtergeblewe paradigma van Newton se materialisme. Die les: Daar bestaan ’n direkte verband tussen onkunde en arrogansie. (Jean Oosthuizen het nie self aan die gesprek deelgeneem nie.)

2.  In November 2021 is ek genooi om deel te neem aan kykNET se dokumentêre program, Wat is waarheid, en om my mening te lig oor die oorsprong van die Covid-19-virus. Het dit uit ’n laboratorium gekom of nie? My mening was dat jy moet vra wat wie te wen of verloor het deur sekere wetenskaplike aansprake te maak en dat, solank daar nog hoogs gerespekteerde wetenskaplikes is wat niks te wen het deur van die konsensuswaarheid te verskil nie, en nie ’n geskiedenis van oneerlikheid het nie, dit voortydig en onverantwoordelik sal wees om finaal te besluit oor wat waar is. Vandag weet ons danksy e-posse wat opgediep is hoe daar deur onder andere Anthony Fauci vir ’n goedgelowige wêreld gelieg is. Fauci het die Withuis se koronavirusreaksie help vorm, maar hy het sy vertrouensposisie misbruik. Die term sameswering is baie effektief deur hom en die media gebruik om andersdenkende wetenskaplikes se reputasies te diskrediteer en selfs te vernietig. Die les: Beteuel jouself en moenie van jou waarheid as Die Waarheid praat solank daar ander gerespekteerde kundiges met goeie reputasies is wat van jou verskil nie. En laat die moontlikheid oop dat daar wolwe in skaapklere rondloop.

3. My dogter het my vanoggend ge-whatsapp met die voorstel dat ons die wyntrein na Nuy Vallei neem op Tweede Kersdag. Ek het geantwoord dat dit ’n goeie voorstel is, “solank ons ’n plan kan maak met Bilbo”. Bilbo is my hond. En toe voeg ek by: “Ek kan hom altyd aan ’n boom by die treinstasie vasbind.” Dit was geensins nodig om met ’n opvolgboodskap aan haar te verduidelik dat ek net ’n grap maak nie. Sy het geweet dis die allerlaaste ding wat ek sou doen, juis omdat sy weet wat sy omtrent my en my hond weet. Iemand anders wat my nie persoonlik ken nie en die boodskap lees, kan egter aflei dat ek wreed is. Die les: Moenie afleidings van jou eie maak op grond van fragmente nie. As dit oor die karakter van iemand gaan, kry sommer jou inligting direk by sy/haar vriende of familie.

Die betroubaarheid van die Nuwe Testament

Spangenberg voer aan dat die Nuwe Testamentiese geskrifte wat van die bybelse Jesus vertel, nie betroubaar is nie. Om sy redenasies te steun, wys hy op verskille en ooreenkomste tussen die evangelies. Hy glo dat die skrywers van Mattheus en Lukas albei afgeloer het by die ouer Markus-evangelie, omdat daar ooreenkomste tussen hulle bestaan, maar omdat nie alles wat in Mattheus en Lukas ooreenstem uit Markus geleen is nie, lei hy af dat beide Mattheus en Lukas uit ’n eksterne bron, die sogenaamde Q-bron, moes leen. Omdat die dele wat dan kwansuis van die hipotetiese Q-bron kom nie vertellings oor Jesus se geboorte, kruisdood en opstanding bevat nie, word jou brein in ’n pretzel geknoop as jy probeer volg hoe dit dan beteken dat daar daarom dalk nie so ’n evangelie in die vroeë fase van die christelike godsdiens in omloop was nie. Wat as Lukas gewoon by Mattheus afgeskryf het? Die punt is dat dit, na 2000 jaar, ten beste raaiwerk is en dat ons regtig nie vandag enigiets met enige sekerheid kan weet nie.

........
Die oëverblindery wat gepleeg word, is om die enorme komplekse proses waardeur die evangelies uiteindelik saamgestel is eenvoudig te laat lyk. Spangenberg noem nie die derduisende kopieë van kopieë wat deur tallose kopieerders met die hand oorgeskryf is nie en hy skep byna die indruk dat ’n groepie mense uit die staanspoor om ’n tafel gesit en saamgekonkel het.
........

Die oëverblindery wat gepleeg word, is om die enorme komplekse proses waardeur die evangelies uiteindelik saamgestel is eenvoudig te laat lyk. Spangenberg noem nie die derduisende kopieë van kopieë wat deur tallose kopieerders met die hand oorgeskryf is nie en hy skep byna die indruk dat ’n groepie mense uit die staanspoor om ’n tafel gesit en saamgekonkel het.

Die volgende is gehaal uit Wikipedia – “Biblical Manuscript”.

Ons weet nie van enige oorspronklike manuskripte van die Nuwe Testamentiese boeke wat oorleef het nie. Wat oorleef het, is afskrifte of kopieë van die oorspronklikes. Beide radiokoolstof- en paleografiese datering gee slegs ’n reeks moontlike datums – datums wat deur radiokoolstofdatering vasgestel is, kan ’n tydperk van 10 tot meer as 100 jaar dek en datums wat deur paleografie vasgestel is, ’n tydperk van 25 tot meer as 125 jaar.

Die vroegste manuskrip van ’n Nuwe Testamentiese teks is ’n besigheidskaartjie-grootte fragment uit die evangelie van Johannes wat so vroeg kan dateer as die eerste helfte van die 2de eeu. Die evangelie van Mattheus word aangegee as ouer as dié van Lukas en Markus. Die res van die Nuwe Testamentiese boeke dateer byna almal uit die 2de en 3de eeu.

Gary Habermas word aangehaal:

“[...] die Nuwe Testament [het] baie meer manuskripbewyse uit ’n veel vroeër tydperk as ander klassieke werke. Daar is net minder as 6000 NT-manuskripte, met kopieë van die meeste van die NT wat net 100 jaar of so na die skryf daarvan dateer. Klassieke bronne het feitlik altyd minder as 20 kopieë elk en dateer gewoonlik van 700–1 400 jaar na die samestelling van die werk. In hierdie opsig word die klassieke werke nie so goed bewys nie. Alhoewel dit nie die waarheid waarborg nie, beteken dit dat dit baie makliker is om die Nuwe Testamentiese teks te rekonstrueer.”

Na raming bevat die gemiddelde manuskrip sowat 71 variasies, alhoewel sommige van hierdie manuskripte die ekwivalent is van etlike honderde bladsye teks, handgeskrewe. Die aantal variante is boonop minder betekenisvol as wat mag voorkom, aangesien dit ’n vergelyking oor taalgrense heen is. Belangriker skattings fokus op die vergelyking van tekste binne tale. Daardie variasies is aansienlik minder. Die oorgrote meerderheid hiervan is toevallige foute wat deur skrifgeleerdes gemaak word, en word maklik as sodanig uitgeken: ’n woord wat weggelaat is, ’n duplikaatreël, ’n spelfout, ’n herrangskikking van woorde. Sommige variasies behels oënskynlik opsetlike veranderinge, wat dit dikwels moeiliker maak om te bepaal of dit korreksies is van in die lig van beter voorbeelde en of dit ideologies gemotiveer is. Vir meer as 250 jaar het christelike geleerdes aangevoer dat geen teksvariant enige christelike sleutelleerstellings beïnvloed nie.

Wat ek hiervan maak, is dat, gegewe hoeveel keer daar gekopieer is en dat die oorspronklikes op die vertellings van getuies staatgemaak het, dit eintlik gerusstellend is dat daar hier en daar verskille is, want daarsonder sou die hele meesterverhaal veel meer gefabriseer gelyk het. Soos Mark Twain geskryf het: “Waarheid is vreemder as fiksie, maar dit is omdat fiksie verplig is om geloofwaardig te lyk. Waarheid nie.”

Die bibliografiese geloofwaardigheid van die Nuwe Testament staan soos ’n paal bo water en om dit met pedantiese foutsoekery te probeer diskrediteer, spreek van desperaatheid. Bibliografiese betroubaarheid beteken natuurlik nie dat wat geskryf en behoue gebly het, geglo moet word nie. Meer hieroor later.

Hier volg nog een of twee voorbeelde van vele ander probleme wat Spangenberg met die Nuwe Testament het. Let daarop dat net een betroubare opinie wat van Spangenberg verskil, voldoende is om te demonstreer dat die laaste woord nog lank nie gespreek is nie.

1. Jesus het voorspel dat Jerusalem “aan die brand gesteek” sou word (Mattheus 22:7). Jesus het sy dissipels vooraf gewaarsku: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingel sien, erken dan dat sy verwoesting naby is [...]. Jerusalem sal deur die heidene vertrap word” (Lukas 21:20, 24). Spangenberg argumenteer dat die evangelies onmoontlik voor 70 nC kan dateer, want daar was geen manier dat Jesus sulke voorspellings kon maak nie. Hierop sou ’n mens met die volgende kon antwoord.

      • Indien Jesus was wie Johannes gesê het Hy is (die Skepper), staan Jesus buite tyd (want tyd het saam met die skepping begin) en lê alle tyd voor hom oop soos ’n boek wat reeds geskryf is, maar deur ons bladsy vir bladsy gelees word. Hy sou kon weet.
      • Indien die Nuwe Testament na 70 nC geskryf is, sou die Nuwe Testament-outeurs mos die vervulling van hierdie voorspelling opgeteken het. Maar hulle het nie. Lukas teken die vervulling van Agabus se voorspelling van ’n hongersnood onder keiser Claudius op (Handelinge 11:28), maar hy noem nooit die vervulling van Jesus se voorspelling oor die tempel nie! Dit is werklik verstommend dat Lukas die vervulling van ’n persoon van geen belang opteken, maar dan versuim om dit te doen met een ​​van Jesus se bekendste voorspellings.
      • Indien die Nuwe Testament na 70 nC geskryf is, sou die skrywers baie meer akkurate inligting gegee het. Jesus het byvoorbeeld vir sy dissipels gesê om “te bid dat dit nie in die winter mag gebeur nie” (Markus 13:18). Titus het die tempel in die somer vernietig.

2. Volgens Spangenberg kon daar nie ’n sonsverduistering van drie uur plaasgevind het nie, want ons weet die verskynsel duur slegs enkele minute. Dis onnodig om nog ’n sirkelredenasie uit te wys; ons laat ook dié een daar. Daar bestaan wel eksterne verifikasie vir die gebeure.

      • Thallus het ’n geskiedenis van die oostelike Mediterreense wêreld sedert die Trojaanse Oorlog opgeteken. Hy het sy streekgeskiedenis in ongeveer 52 nC geskryf. Alhoewel sy oorspronklike geskrifte verlore gegaan het, word hy spesifiek aangehaal deur Julius Africanus, ’n bekende derde-eeuse historikus. Africanus stel dit: “Thallus verduidelik in die derde boek van sy geskiedenisse die duisternis as ’n sonsverduistering – onredelik soos dit vir my voorkom.”

        Blykbaar het Thallus gepoog om ’n naturalistiese verklaring aan die duisternis tydens die kruisiging toe te skryf.

      • Phlegon was ’n Griekse historikus wat ’n uitgebreide chronologie rondom 137 nC geskryf het: In die vierde jaar van die 202ste Olimpiade (dit wil sê 33 nC) was daar “die grootste sonsverduistering” en “dit [het] nag geword in die sesde uur van die dag [met ander woorde die middag] sodat sterre selfs in die hemel verskyn het. Daar was ’n groot aardbewing in Bitinië, en baie dinge is in Nicaea omver gewerp.” Phlegon verskaf kragtige bevestiging van die evangelieverslae. Hy identifiseer die jaar en die presiese tyd van die dag. Daarbenewens skryf hy van ’n aardbewing wat met die duisternis gepaardgaan, wat spesifiek in Mattheus se evangelie opgeteken is (Mattheus 27:51). Soos Thallus, probeer hy egter om die duisternis te interpreteer as ’n direkte effek van ’n sonsverduistering.
      • Africanus het ’n vyfvolume geskiedenis van die wêreld omstreeks 221 nC saamgestel. Hy was ook ’n heidense bekeerling tot die Christendom. Sy historiese geleerdheid het die Romeinse keiser Alexander Severus so beïndruk dat Africanus met die amptelike verantwoordelikheid toevertrou is om die keiser se biblioteek by die Pantheon in Rome te bou. Africanus skryf: “Oor die hele wêreld het daar ’n vreeslike duisternis gekom en die rotse het geskeur as gevolg van ’n aardbewing en baie plekke in Judea en ander streke is afgebreek. Hierdie duisternis noem Thallus in die derde boek van sy geskiedenis ’n sonsverduistering.”

In sy lesersindruk van Spangenberg se boek, skryf Koos Kombuis: “Veral Spangenberg se opvatting [van] die historiese Jesus [...] as ’n politieke aktivis, ’n eerste-eeuse rolspeler wat die Israelse volk wou bevry van Romeinse politieke oorheersing, voel vir my soos ’n gruwelike mistasting.” Koos Kombuis se onsinverklikker was hard aan die werk. Wanneer Spangenberg sy reeds dun argumente te ver strek om elke moontlike front te dek, raak dit gaterig en sien ’n mens daardeur.

Kom ons kyk hoe Spangenberg ’n Jesus-as-aktivis uit die bladsye van die Nuwe Testament toor.

  1. Die rede agter die voed van die skare met vyf brode en twee vissies (’n wonderwerk wat volgens hom versin is), was glo om die konsep van mededeelsaamheid te illustreer. As ’n bonus het Jesus sommer ook die siekes op die toneel genees, siekes wat bes moontlik ondervoed was en van sosiale onreg bevry moes word.

Waarom, o waarom, sou mededeelsaamheid in die oë van almal wat die vermeerdering aanskou het, die kollig van ’n wonderwerk steel wat duidelik bedoel is om Jesus se Godheid te demonstreer? Waarom nie maar net sy brood gewoon met ander gedeel het nie eerder as om ’n hele scene daarvan te maak en die gevaar te loop dat almal Hom vir die Messias sou aansien? Al het dit ook gegaan oor sosio-politieke ingryping, was hierdie hand-out genoeg om ’n verskil te maak? Jesus het self gesê: “Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie” (Mattheus 26:11). Dit het oor Hom gegaan, nie oor die armes nie.

  1. Spangenberg interpreteer Markus 10:45, wat gaan oor Jesus wat sy lewe as losprys vir ons gee, as dat dit nie oor sonde gegaan het nie; Hy wou net sy liefde vir ander beklemtoon en vir sy dissipels wys hoe selfloosheid werk deur aan die kruis te sterf.

As ’n gewone sedeles was sy kruisdood natuurlik ook ’n bietjie ekstreem, maar dit daar gelaat. In 1 Korinthiërs 15:3–5 skryf Paulus: “Christus het vir ons sonde gesterf, volgens die Skrifte. Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” Met “die Skrifte” verwys Paulus waarskynlik na Jesaja 53:8–9, Hosea 6:2, Psalm 16:10 en Jona 1:17. Spangenberg ag homself bekwaam genoeg om te sê Paulus “lees meer in die tekste as wat hulle oorspronklik gekommunikeer het”. Paulus beskryf homself in Handelinge as “’n Fariseër, gebore uit Fariseërs”. As een van die mees gerespekteerde skrifgeleerdes van sy tyd was Paulus, ’n Joodse rabbi, goed vertroud met Judaïsme en goed onderlê in die interpretasie van die Hebreeuse geskrifte.

Spangenberg ontken dat die profesieë in Jesaja op ’n Messias of op Jesus dui. ’n Mens kan enkele ander rabbi’s se interpretasie van Jesaja aanhaal (besoek http://www.hearnow.org/isa_com.html vir die ellelange lys):

    • Rabbi Moses (11de eeu): “Van die begin af het God ’n verbond met die Messias gesluit en vir Hom gesê: ‘My regverdige Messias, die wat aan jou toevertrou is, hulle sondes sal jou onder ’n swaar juk bring.’ En Hy antwoord: ‘Ek neem dit alles met graagte aan sodat nie een van Israel verlore sou gaan nie.’ Onmiddellik het die Messias alle verdrukking met liefde aanvaar, soos geskrywe is: ‘Hy is onderdruk en hy is verdruk.’”
    • Rabbi Moses Alschech (1508–1600): “Ons rabbi’s het die mening met een stem aanvaar en bevestig dat die profeet van die Messias praat, en ons sal self ook dieselfde siening aanhang.”
    • Abraham Farissol (1451–1526) sê: “In hierdie hoofstuk blyk daar aansienlike ooreenkomste met en sinspelings te wees op die werk van die christelike Messias en na wat beweer word met Hom gebeur het, sodat daar geen ander profesie is waarvan die kern en onderwerp so onmiddellik op Hom toegepas kan word nie.”
  1. Jesus was kwansuis ’n aktivis wat politieke verandering verkondig het, nie ’n geestelike koningryk nie.

In Johannes 14:1–31 beloof Jesus dat hy vooruit gaan om die Vader se huis gereed te maak vir sy dissipels sodat hulle na die wederkoms ook kan wees waar hy is. Dit spreek duidelik van ’n woning/koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie. Spangenberg reken trouens dat Jesus se dissipels die wederkoms versin het omdat hulle so geheg was aan hom, asof Jesus nie self na sy wederkoms verwys het nie.

Daar is niks in die Nuwe Testament opgeteken oor Jesus Christus wat hom uitspreek teen enige van die politieke kwessies van sy dag nie. Niks in sy leringe gee selfs die geringste aanduiding dat hy enige politieke betrokkenheid gehad het nie. Trouens, Jesus het geweier om enige politieke beweging te lei. Hy het weerstand gebied toe die mense Hom koning wou maak (Johannes 6:15). Hy het geweier om in ’n politieke debat verstrengel te raak. Op die vraag of dit reg is om belasting aan Caesar te betaal of nie, het hy dwarsdeur die strikvraag gesien en gesê: “Julle huigelaars, hoekom probeer julle my vang? Wys my die muntstuk wat gebruik word om die belasting te betaal.” Hulle het vir hom ’n penning gebring en hy het vir hulle gevra: “Wie se portret is dit? En wie se opskrif?” “Caesar s’n,” het hulle geantwoord. Toe sê Hy vir hulle: “Gee aan die keiser wat die keiser s’n is, en aan God wat God s’n is” (Mattheus 22:15–22).

Jesus het onomwonde aan Pontius Pilatus verduidelik: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat Ek nie aan die Jode oorgelewer sou word nie; maar soos dit is, is my koninkryk nie van hierdie ryk nie” (Johannes 18:36–7).

  1. Na die dood van Jesus wat letterlik aardskuddend was, het ’n verskrikte Romeinse wag verklaar: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” Nee, maak Spangenberg kapsie, Seun moes eintlik as seun vertaal word met bloot die bedoeling dat Jesus ’n goeie man was.

Die vertaling maak minder saak as dat die Romein se woorde die gebeure rondom die kruisiging bevestig. En tog, wanneer iemand na ’n stelling se akkuraatheid verwys, sal hy nie sy eie interpretasie daaraan heg nie. Die wag sou die verhoor van Jesus gevolg het en geweet het dat die Jode Hom wou kruising, omdat Hy homself aan God gelykgestel het.

Dit neem ons terug na die feit dat die bibliografiese betroubaarheid van die Nuwe Testament geen waarborg is vir die geloofwaardigheid van die aansprake wat daarin gemaak word nie. Ek sal nie probeer bewys dat Jesus wel God is nie of dat Hy wel uit die dood opgestaan het of weer terug sal keer nie. Daar is nie genoegsame rede in die Bybel alleen om dit te glo of nie te glo nie. Dit bly ’n saak van geloof, nes dit ’n saak van geloof bly om dit nie te glo nie. Wat ek wel wil uitwys, is dat die derduisende kopieë van die Bybelboeke wat vandag bestaan, en dit in vele tale en uit alle uithoeke van die aarde, en waartoe daar daagliks bygevoeg word, tog sekerlik moet spreek van gebeure wat ’n geweldige indruk op ’n geweldige klomp mense gemaak het in Jesus se tyd. Dit was aardskuddend in meer as een sin. Sedepreke en ’n mislukte sosio-politieke opstand verklaar dit eenvoudig nie.

........
Dit is egter wanneer Spangenberg Jesus probeer skets as ’n man met ’n sosio-politieke agenda dat hy te ver gaan en nie net verkeerd is nie, maar doelbewus oneerlik. Koos Kombuis het die woord cheat gebruik.
........

Mense was oortuig daarvan dat Jesus was wie Hy gesê het Hy is en van die gebeure rondom sy kruisdood oortuig genoeg om wreed vir hul geloof te sterf. Dit sou boonop vreemd wees om evangelieskrywers te vind wat, wetende dat hulle leuens gefabriseer het, bereid was om vir hul leuens vir die leeus gevoer te word of lewend verbrand te word. Gesonde verstand, nie fênsie goed soos hermeneutiek of Christologie nie, sal ons beter dien wanneer ons besin oor al die opgetekende gebeure en aansprake. Wil jy weet of jy Jesus of sy dissipels se woord op gesigswaarde kan neem, vra die mense wat daar was, wat hulle geken het.

Spangenberg gebruik Descartes se metodiek van ondersoek as voorbeeld van hoe ’n moderne mens behoort te dink. Ten spyte van al sy metodiek het hierdie selfde Descartes nie geglo dat ’n dier pyn kan voel nie. Hoe kon hy iets so ooglopend, so eenvoudig, miskyk? Het hy nooit sy metodiek eenkant toe gestoot en in die oë van ’n dier gekyk nie, het hy nooit ’n vark gehoor wat geslag word nie?

Opsomming

Om in sy doel te kon slaag en die fondamente van die christelike geloof eens en vir altyd met sy “totale aanslag” te vernietig, moes Spangenberg die volgende bo alle twyfel kon bewys:

  1. dat daar nie ’n onsigbare werklikheid bestaan nie en dat wonderwerke nie moontlik is nie. Drie pilare van die christelike godsdiens sal daarmee saam omtuimel: die maagdelike geboorte, die wederopstanding en die wederkoms;
  2. dat daar nie ’n letterlike, historiese Adam en Eva geleef het nie, want sonder hierdie duo kan die vierde pilaar ook nie bly staan nie. ’n Mite sal gewoon nie werk vir die leer van erfsonde nie;
  3. dat die getuienisse omtrent wonderwerke onbetroubaar was omdat hulle kultuurgebonde was en dus uit ’n plek van onkunde gekom het;
  4. dat Jesus geen profesieë vervul het nie en dat Ou Testamentiese profesieë verkeerd geïnterpreteer is;
  5. dat dit nie Jesus se bedoeling was om mense van hul sonde te bevry nie, maar van hul sosio-ekonomiese juk.

Spangenberg het klaaglik daarin misluk om te bewys dat daar nie ’n onsigbare wêreld is nie of dat wonderwerke onmoontlik kan gebeur nie. Ek sal nie herhaal waarom die ander punte ook nie bewys is nie. Wat Spangenberg reggekry het, en sonder twyfel met baie moeite, was om ’n web van argumente te weef uit ’n vreeslike klomp baie dun drade. Nodeloos om te sê dat so ’n web wel ’n paar vlieë sal vang, maar dat dit nie water sal hou nie.

.........
Feodalisme self is aan flarde geskeur en het verrot in die Middeleeue, en die eerste en varsste energie in daardie nuwe vryheid was die ou godsdiens. Feodalisme het verbygegaan en Sy woorde het bly voortbestaan.
.........

Koos Kombuis skryf: “Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid is ’n baie belangrike bydrae tot ons geestelike insigte, en dit gaan bes moontlik reusagtige implikasies hê in hoe ons onsself intellektueel probeer posisioneer in die een-en-twintigste eeu en verder.” Mag ek my hand opsteek en sê dat ek verskil? Spangenberg het niks nuuts gesê nie. Dalk nuut vir ’n Afrikaanse leser, maar nie nuut nie. Ou argumente is afgestof en heruitgestal. Reusagtige implikasies? Ek dink nie so nie. Sy aannames is verkeerd, sy wetenskap is verouderd en sy logika is vol sirkelargumente. Niks daarvan inspireer ’n intellektuele herposisionering nie. Sy waarheid is so duursaam en waardevol soos toiletpapierorigami. ’n Toeris van die georganiseerde godsdiens, ten volle ontnugter deur die ervaring, mag dalk gereed voel om beïndruk te word deur ’n werk van die hoogste pretensie, ’n ode aan dwaasheid.

Ek haal Spangenberg aan: “Die Christelike godsdiens se verhaal van sondeval-verlossing-eindoordeel het hom in die twintigste en een-en-twintigste eeu vasgeloop. Dit word tans vervang met ’n verhaal van geboorte-groei-sterwe [...]. Alles het ’n begin en ’n einde [...]. Wie vertroud is met die geskiedenis van godsdienste weet dat ook húlle kom en gaan.” Soos ek gesê het, lei Spangenberg klaarblyklik aan historiese geheueverlies.

Christus het gesê dat die hemel en die aarde sal verbygaan, maar Sy woorde sal nooit verbygaan nie. In die lang nag van die Donker Eeue was feodalisme so alledaags dat geen man homself sonder ’n heer kon indink nie, en godsdiens was so verweef in daardie stelsel dat geen man kon droom dat dit uitmekaargeskeur kon word nie. Feodalisme self is aan flarde geskeur en het verrot in die Middeleeue, en die eerste en varsste energie in daardie nuwe vryheid was die ou godsdiens. Feodalisme het verbygegaan en Sy woorde het bly voortbestaan.

.........
Waarheid en kennis is nie dieselfde ding nie. Waarheid impliseer ’n volledigheid. Kennis is inherent onvolledig; daar is altyd ’n oneindigheid van kennis oor om te ontdek. Die ontdekkingsreis het nog skaars begin.
.........

Die hele Middeleeuse orde het mettertyd op sy beurt verweer, maar Sy woorde het oor die afgrond van die Renaissance beweeg en is binne 50 jaar gebruik vir die lê van nuwe geloofsfondasies. Sy woorde was veronderstel om uiteindelik te verwelk en te verdor in die lig van die Eeu van Rede; dit was veronderstel om heeltemal te verkrummel in die aardskuddende Eeu van Revolusie. Wetenskap het dit wegverklaar, maar dit was steeds daar. Dit is in die verlede begrawe en dit het in die toekoms verrys.

Ongelowiges, met al hul aanvalle op die Bybel en die Christendom, maak so min indruk as ’n man wat die piramides van Egipte met ’n hamer bykom. Die hamers van ongelowiges het vir eeue getimmer aan die boek en sy mense is steeds daar. Voltaire het die dood van die Christendom en die Bybel binne 100 jaar voorspel. Slegs 50 jaar na sy dood het die Geneva Society se drukkery sy huis gebruik om stapels Bybels te produseer.

Wat is die kans dat Spangenberg uiteindelik gaan slaag waar ander misluk het?

Ek haal aan uit die boek se slotparagraaf: “[G]oeie opvoeding bring bevryding mee – bevryding van onkunde, vooroordele en fanatisme.” Uiteindelik stem ons saam oor iets. Maar wat sal goeie opvoeding ons leer? Dat ons nader aan die begin van die reis aan die waarheid bly as wat ons gedink het. Waarheid en kennis is nie dieselfde ding nie. Waarheid impliseer ’n volledigheid. Kennis is inherent onvolledig; daar is altyd ’n oneindigheid van kennis oor om te ontdek. Die ontdekkingsreis het nog skaars begin.

Lees ook:

As alles niks word: ’n lesersindruk van Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg

In reaksie op Koos Kombuis se lesersindruk van Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg

  • 12

Kommentaar

  • Uitstekende repliek op die alombekende, onoortuigende argumente van die nieu-ateïstiese beweging.

  • Kobus Engelbrecht

    Ek het beide Koos en Maryna se stukke (in keurige prosa verwoord) gelees, en hoe verder ek gelees het, hoe ooglopender het dit geword dat hulle nie genoegsame kennis dra van die kollektiewe resultaat van Bybelwetenskaplike navorsing (en gepaardgaande nuwe insigte) oor veral die laaste 50 jaar nie. En weens 'n gebrek aan kennis mbt tot hierdie kwessie, kan 'n mens verstaan hoekom hulle steeds die meesterverhaal van die ortodokse Christendom aanhang en krampagtig verdedig in hoogdrawende en emosiebelaaide skrywes wat wemel van beledigings en persoonlike aanvalle. Daarenteen stel Spangenberg sy standpunte - gebaseer op die navorsingsresultate waarna ek hierbo verwys - nugter en in eenvoudige taal. Dis duidelik dat sy boek die werk van 'n kundige akademikus is, in sy geval 'n Bybelwetenskaplike wat sy hele lewe aan die bestudering van die Bybel gewy het. Spangenberg sou sy skrywe maklike kon verkort en dit omskep in 'n wetenskaplike artikel vir 'n wetenskaplike joernaal. Dit kan 'n mens nie sê van Koos en Maryna se skrywes nie. Ek is seker Spangenberg - of enige ander gerespekteerde Bybelwetenskaplike - sal hul verwerdig om op enige skrywes van bogenoemde twee te reageer nie. Ek wou nie, maar kom ek haal tog iets aan wat my Pa by geleentheid gesê: "Kobus, in 'n gesprek met 'n oningeligte of onkundige of beterweterige mens oor 'n onderwerp waarin jy 'n kundige is, kan daar net een wenner wees…” Met die implikasie dat dit nie ek - die kundige - gaan wees nie.

  • Dankie, Maryna, ek het lekker gelees.

    Indien ons dié speletjie met 'n Super Mario of toentertyd se Dave vergelyk, is enigiets teoreties gesproke moontlik. Die speletjie het wel ingeboude natuurwette wat sekere dinge soos 'n hemelvaart 'n groot onwaarskynlikheid sou maak. Die moontlikheid bestaan ook dat die tafel vir elke vlak reeds vooraf gedek is, en daarom is die dinosourus, Jesus, ens as realiteit dalk 'geplant'. Ook elke apokaliptiese 'einde'. Onthou: Kaptein Kirk in die paradys. Indien daar wel vlakke ('n moeilikheidsgraad) betrokke is, sou vorige ervaring (reïnkarnasie) as 'groei' beskou kon word wat spelers onderskei - sommige spelers al heel verveeld, maar te bang om self die onbekende in te spring. (Nog 'n groot toets?) Daarenteen is dit seker ewe moontlik om die verhoog te betree met 'n vooraf verstelling van hoë ervaring met die wete dat jy dit vir jouself makliker gemaak het. Next time. Is die programmeerder 'n losstaande, bose entiteit wat die spelers dophou, of is ons self die skeppers van 'n wêreld wat ons dan in liggaam (die lig in die liggaam) betree? Yin en Yang lyk nogal aan die orde van die dag, so 50/50. Ja, die soet en suur van nou en hier. My gevoel is wel dat 'n sg 'ontwaking' 'n stelselmatige losmaak van die spel behels, 'n afskeid van alles hier, insluitend taal, geloof en kultuur. Selfs yskoue bier en sensuele plesier. (Oukei, nou raak ek net laf.)

  • Maryna, ek is al telkens daarop gewys dat mense nie meer kortverhale lees nie, en dis jammer, want 'n kortverhaal probeer soms iets sê of vra. Ek merk op LitNet jy is self 'n skrywer van kortverhale en verwys jou graag na iets wat ek onlangs geskryf het. As 'n mede-speler oorpeins ek 'n ewe omstrede vraagstuk op dié verhoog. Ek verstaan Judas het homself gehang en Jesus het ánder so kwaad gemaak dat hulle hóm hang. Indirekte selfdood, dus, oftewel, suicide by cop. Wat 'n wêreld, nè?

    https://www.scribd.com/document/788208836/Die-Grysland

  • Kobus Engelbrecht

    Aan Constant (en ander wat jubel en juig oor Maryna se skrywe). Ek is seker Sakkie sal homself nie as 'n ateïs beskou nie, maar eerder as 'n Bybelwetenskaplike wat die Bybel (en verwante dissiplines) reeds vir 40-50 jaar bestudeer het, en steeds bestudeer, en daardie kennis in 'n oopgesprek met rasionele en nadekende mense wil deel. En let op as jy/julle sy boeke of artikels lees, dat daar amper altyd 'n volledige bibliografie is wat sy standpunte onderlê. En dit is 'n lys van gerespekteerde Bybelwetenskaplikes, nie van skrywers, of digters of sangers of rekenmeesters of ander leke (op die gebied van die Bybelwetenskappe) nie; Bybelwetenskaplikes soos Spangenberg, Craffert, Wolmarans, Crossan, Spong, Borg, Funk en ander lede van die “Jesus Seminar” wat, nes gerespekteerde wetenskaplikes, Heilige Koeie slag as dit moet. Lees gerus van hierdie geleerders se werke en artikels, asook Sakkie se artikels op die webwerf van die NHN. Om in die huidige tyd steeds te glo in 'n drieënige godheid waarvan een lid van die driemanskap die Aarde besoek het, gesterf het, opgestaan het en in linnekleed (verbeel jou!) opgevaar het na die “hemel”, wat dit ookal vir Christene beteken, is om steeds te glo dat die Aarde plat is. Die mitologiese elemente in die Jesus-verhaal is ooglopend. Bv, ons weet vandag dat jy, of 'n voorwerp wat die hemelruim wil bereik, teen 'n snelheid van 28 000 km (of meer) per uur (of wat die Aarde se ontsnapsnelheid ookal is) moet beweeg. Daarby is die suurstof daar bo maar skaars, hoor ek. Ek skryf bogenoemde as iemand wie se een hoofvak op universiteit Ou en Nuwe Testamentiese Wetenskap was, OTW 1, 2 en 3 / NTW 1,2 en 3. Hoewel die Christelike etiek steeds 'n belangrike element van my lewe is, het die dogmatiek van die Kerk (Protestantse Kerk) heeltemal in duie gestort, gegewe die resultate van Bybelwetenskaplike navorsing, asook natuurlik biogenesis/ewolusie, die oerknal, ens. Is ek 'n ateïs of 'n nieu-ateïs omdat ek glo dat die godheid van die Bybel 'n menslike skepping vir bepaalde doeleindes was en is, nes al die ontelbare godhede wat voor hom (nogal, nie 'n sy nie!) gekom het? Dink aan die godhede van die Grieke en Romeine en die Babiloniërs en die Perse en die Ammelikiete, Hetiete ensovoorts? Wel jy kan my noem wat jy wil: ateïs, ongelowige, satanskind ens, maar dit verander niks aan die feit dat die godheid (godhede) van die Bybel net in die koppe van die mense bestaan wat dit sonder enige bewyse glo nie. Buitendien, watter een van die vele godhede wat vandag aanbid word, is die “ware” een: Israel se godheid of die godheid van die Christene of dalk die Mohammedane? Gelukkig is ek van hierdie dinge / wesens bevry wat ek nie met behoud van my rasionele wete / integriteit kan verdedig dat hul bestaan nie.

  • Ek het 'n baie dikker boek as Sakkie s'n uitgegee. Sakkie het die voorwoord geskryf en ons het soos die boek ontwikkel het, daaroor gesels. Maryna sal baie meer ongelukkig wees nadat sy "Die Godsdienskokon" gelees het. Ek bespreek die term "waarheid" in detail. Ek dink dat Sakkie lesers net wil wys dat groot dele van die Bybel nie die waarheid is nie en met ander oe en begrip gelees moet word.

  • Luan Staphorst

    Beste Kobus
    1. Ek dink jy is korrek wanneer jy sê dat Spangenberg nie homself as 'n ateïs sou beskryf nie, maar eerder as 'n Bybelwetenskaplike. Natuurlik kan mens beide wees. En hier is die vraag of Spangenberg se uitings by 'n ateïstiese wêreldsiening inpas. Hy, soos jy in jou kommentaar hier, maak die geloof in 'n Godheid af naïef, simpel, en irrasioneel. Is dit nie die kern van die ateïstiese wêreldsiening nie? Dra die mantel met trots, indien julle wel seker is in jul (on)geloofstandpunte. Om daaroor te kibbel, voeg niks waarde tot die debat toe nie. Om agter die woord "wetenskaplike" te skuil, klink baie soos voormalige Apartheidsagente wat voor die Waarheid en Versoeningskommissie gedaag is: "Ek was bloot 'n polisieman/klerk/minister, nie 'n rassis nie".
    2. Die lys Bybelwetenskaplikes wat Spangenberg aanhaal en waarna jy verwys ter ondersteuning van sy gesag as navorser is oortuigend. Ja, hy is 'n wetenskaplike en hy werk met akademiese bronne. Natuurlik is daar ander Bybelwetenskaplikes wat eweneens akademies met hul bronne omgaan wat 'n ander siening as Spangenberg en kie huldig. Indien jy vir een oomblik dink dat daar absolute eenstemmigheid onder Bybelwetenskaplikes die wereld oor is, weet jy niks van die wetenskap as sodanig nie. Daar is altyd uiteenlopende sienings, kampe, en debatte. Om voor te gee asof Spangenberg en kie noodwendig "die waarheid" beet het aangaande die Bybel en die Christelike godsdiens vanweë hulle statuur as "Bybelwetenskaplikes" is onsin. Dit is bloot nie hoe sake binne die geesteswetenskappe in die breë daar uitsien nie. Teenoor die natuurwetenskappe waar daar telkens meer vaste paradigmas en "feite" navore kom, is daar baie meer verdeling en onafgehandelde gesprekspunte in die geesteswetenskappe. Die ironie is dat indien jy na die saak kyk as afgehandel, berus jou standpunt eintlik ook op geloof - siende dat jy nog nie genoegsame akademiese vakartikels gelees het om insig in wetenskaplike diskoers te kry nie. Jy GLO dis die waarheid, want jy het nog nie empiries na die volle gesprek geluister nie. En of jy nou met Maryna se skrywe saamstem of nie, haar sienings verteenwoordig so 'n ander standpunt. En indien jy GLO dat sy nie 'n reg het om aan die gesprek deel te neem nie bloot vanweë die feit dat sy nie 'n Bybelwetenskaplike is nie, grens jou standpunt baie naby aan outoritêre, epistemiese fascisme - en daar is niks rasioneel daaraan nie (behalwe vir die een wat dink dat hulle alle mag, of is dit nou waarheid, in pag het). Hiermee probeer ek glad nie impliseer dat alle sienings ewe geldig is nie - daar is goeie beredenerings en inlegkundige ontledings. Die meriete van 'n standpunt word nie gemeet aan die aantal bronne of na wie verwys word nie, maar die aard, omvang, en opbou van die analise en die geldigheid van die gevolgtrekkings wat bereik word.
    3. Ek is 'n Christen, maar respekteer jou opnoem van ander gelowe as deel van wat jy as irrasionele oortuigings bestempel. Waarom? In die geval van Spangenberg hoor ek slegs 'n tirade wat teen die Christelike godsdiens uitgedruk word. Moontlik het hy homself al elders oor Islam, Boedhisme, of Animistiese geloofsoortuigings uitgespreek, maar ek weet nie daarvan nie, en indien wel vra ek by voorbaat nederig om verskoning. Maar, die titel van sy boek onder bespreking heet immers "Die Bybel, die Christelike godsdiens, en die waarheid"; nie "Geloof en die waarheid" nie. Dis belangrik vanweë die gevolgtrekkings wat Spangenberg bereik. Indien godsdiens as sodanig die "probleem" is, wat deur sy bespreking geïmpliseer word, waarom net op die Christelike godsdiens fokus? Waarom nie trots en met sekerheid en oortuiging godsdiens in die breë futloos verklaar nie? Ek dink dis omrede Spangenberg dalk bang is vir die moontlike gevolge indien hy wel, byvoorbeeld, Islam as onsin sou bestempel. Waar eietydse Christene grootliks met skaamtelose, uitlokkende kritiek op hul geloof saamleef (nie uitsluitlik nie, maar grootliks), is daar 'n groter taboe op die vraagstuk van Islam en Mohammed, byvoorbeeld. Hier moet ook rekening gehou word met die gegewe dat die Afrikaanse taalgemeenskap uit grootliks twee geloofsgemeenskappe bestaan, naamlik die Chistelike geloof en Islam. Beide sou dus relevant gewees het vir 'n studie wat in Afrikaans geskryf is. Maar van die twee is Christenskap 'n sagte teiken. En daar verloor hy, myns insiens, heelwat geloofwaardigheid (verskoon die woordspel) as objektiewe wetenskaplike. Dit lyk dan veel nader aan 'n persoonlike vendetta teenoor die Christelike geloof as 'n akademiese soektog na die "waarheid".

  • Kobus, jou skrywe verwys.

    Jou bewering dat, omdat sommige Bybelgeleerdes soos Spangenberg en kie skepties is oor die waarheid van die Bybel dit hul argument summier waar maak, is 'n alombekende logiese fout (dws 'n sogenaamde 'foutiewe argument van gesag'). Net omdat sommige individue 'n sekere oortuiging het (al is hulle 'Bybelwetenskaplikes'), maak dit nie daardie oortuiging noodwendig waar nie. Daar is byvoorbeeld baie gerespekteerde Bybelkenners wat die teendeel glo - dat die Bybel se inhoud en boodskap waar is. Daar is te veel om te noem, maar gaan lees gerus die werke van Lane Craig, Achtemeier, Bartlett, Carson, McGrath, Schreiner, Swain, Bock, Lennox en Wallace.

    Jou voorbeeld oor die gebrek aan suurstof in die 'hemelruim' en die 'ontsnapsnelheid van die Aarde' is misplaas. Dit verteenwoordig 'n misverstand oor die konsep van, onder andere, die hemel in Christelike leerstellings. Die hemel word beskryf as 'n geestelike, meta-fisiese ryk buite die fisiese heelal, nie gebind deur dieselfde natuurwette as ons fisiese wêreld nie. Dit word onderstreep deur die algehele teïstiese siening dat die Logos/Summum Bonum/God buite tyd, ruimte en materie bestaan.

    Verder is die Drie-eenheid 'n Christelike leerstelling om die aard van God te verstaan, en is jou vergelyking van 'geloof in 'n plat aarde' in hierdie konteks onjuis. Die konsep van die Drie-eenheid, hoewel ingewikkeld, is nie inherent onlogies nie, aangesien dit een God in drie persone daarstel. Die leerstelling van die Drie-eenheid poog om die eenheid en diversiteit binne die Godheid te versoen, en word ondersteun deur verskeie gedeeltes in die Bybel (Matteus 28:19, Johannes 1:1-3, 2 Korintiërs 13:14). Maar gaan lees gerus Thomas Aquinas se 'Summa Theologica' wat dit mooi uiteensit, asook moderne werke, onder andere 'The Deep Things of God' deur Fred Sanders en 'Simply Trinity' van Matthew Barrett.

    Laastens, oor jou onsekerheid oor watter God dan nou die ware een is, sal ek dit vir jou maklik maak: Begin by die God waaroor daar in meer as 25 100 manuskripte geskryf is (die meeste van enige antieke gebeurtenis), die Een oor wie se lewe daar in talle historiese bronne buite die Bybel berig is (waaronder Josefus, Tacitus, Suetonius en Mara bar Serapion), en die Een wat deur 500 ooggetuies gesien is ná sy dood.

  • Hans Richardt

    Met al die menslike spekulasies wat al vir eeue en dekades aan die gang is, het niemand nog by 'n punt van tasbaarheid uitgekom nie.
    In die Groot Marico NHK kerkvergadering in 1870's rond, is geskryf dat na baie argumente oor ronde of plat aarde, het die destydse kerkraad die volgende besluit gemaak: 'In Groot Marico is aarde plat en dit kan in die res van die wêreld rond wees'! Nou ja, mampoer maak man se kop rond in die koppies, berge en valleie rondom Groot Marico.
    Ek het nog altyd gewonder oor denkers in die na 1994 SA, wat ook nog steeds oor die Russiese Federasie dink en praat as kommunisties en weier om bv Alexandr Dugin se Vierde Politieke Teorie te lees, wat die nou in die Russiese Federasie beskryf.

    Ek dink dat "wokeness" insluip in baie se denke, soos ook by Sakkie Spannenberg.

  • Barend van der Merwe

    Ek sê nie in my hart daar is geen God nie. Ek sê dit sommer oop en bloot. Die kerkbanke het ook baie mense wat so dink. Maar hulle speel maar saam. Elke Sondag. Uit vrees.

    Godsdiens werk goed. Want dit gebruik vrees uiters effektief. Nie net vrees vir die hel nie. Ook verwerping deur andere.

    Terug by God. Die beste bewys dat God nie bestaan nie, is die hoeveelheid gode wat deur die mens gekonseptualiseer was deur die jare. Elke kultuur het tipies 'n eie god of gode. Soveel so dat mens kan stel dat elke liewe mens wat al ooit geleef het, 'n ateïs was in iemand anders se godsdiens. Insluitend die eerste Christene. Hulle was as ateïste beskou deur die owerhede.

    Daar is baie arrogante ateïste. Daar is baie arrogante gelowiges. Die mens se godsdienstige idees definieer nie hulle karakter nie.

    Izak se boeke is duidelik nie vir u bedoel nie. Probeer gerus Solly Ozrovech. Of Willie Marais. Willie Marais het 'n boek geskryf: Die hemel en hoe om daar te kom. Izak Spangenberg noem altyd tereg, ons moet eerder boeke lees oor die aarde, en hoe om hier te woon. Want die dag as mens sterf, dan is alles verby. En al wat oorbly, is die mense wat na ons nog hier hulle lewens moet leef in die wêreld wat ons agterlaat.

    Daar is geen punt om oor God te redeneer, as mens nie met mekaar saamstem oor die Bybel nie. Ek en jy stem beslis nie saam oor die Bybel nie. Oor wat dit is nie. Vir my is dit net nog 'n boek. Alle boeke is die produk van mense en hulle kulture en ja ek dink ook net soos Izak dat Jesus 'n politieke figuur was.

    Die verwarring kom in by die konsep "messias". Die Christendom het van die Joodse messias 'n globale, kosmiese messias gemaak. Dit was briljante teologiese innovasie. Bart Erhman en andere wys tereg daarop dat Jesus se teologie drasties verskil het van Paulus se teologie. Hoekom sou Jesus ook sy volgelinge beveel om swaarde te koop, soos in die evangelie van Lukas? As mens die Bybel enigsins kan glo, dan is Jesus terreggestel met die boodskap KONING VAN DIE JODE aan die kruis aangebring. Ek dink nie dis toeval nie. Mens sien ook in die evangelies hoe die Roomse owerhede progressief meer verontskuldig word. En die Jodendom word progressief meer aangeval. Tot die punt waar Jesus kwansuis, volgens die sogenaamde evangelie volgens Johannes, die Jode tot "kinders van die duiwel" verklaar - sy eie etniese groep dus...Dis nie toeval nie. Die twee groepe, Christen en Jood, was in kompetisie vir aanvaarding by die owerhede.

    Vir gelowiges het die Bybel betekenis. Vir my nie meer op dieselfde manier nie. In baie opsigte het dit betekenis verloor. Ek hoef nie my lewe te reël volgens wat daar geskryf staan nie. Die fancy woord is mos normatief. Dis nie 'n normatiewe boek nie. Dis wel interessante stories van lank terug en dis baie soos ons eie Boere-mites. Jan van Riebeeck die "volksplanter". So is hulle stories oor Abraham maar net daai gemeenskappe se volksverhale gewees.

    Ek sien uit daarna om self ook Izak se boek onder oë te kry. Daar is uitstekende gronde om ateïsties te leef. Dink daaroor, watter godsdiens beoefen die meeste mense? Hulle beoefen tipies die godsdiens waarmee hulle van kindsbeen af mee geïndoktrineer was. Hindoes se kinders word merendeels Hindoes. Islam bly Islam. Katolieke bly tipies Katolieke. Ens.

    Natuurlik gaan Izak se boek nie die einde van gode meebring nie. Ek dink nie dit is ook die doelwit nie.

  • Pieter Albertyn

    Een van die beste artikels wat ek in jaaaaare gelees het. BAIE dankie Maryna vir 'n wel deurdagte, begronde geloofsverklaring wat die onveranderlike God se koningskap in perspektief stel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top