In my vel deur Azille Coetzee: uit die perspektief van iemand met haar voete op twee vastelande

  • 1

’n Mens kan jou eie plek in die wêreld op velerlei maniere bevraagteken. Azille Coetzee doen dit al skrywend in haar debuut, In my vel. Sy het ’n PhD in filosofie aan die Vrije Universiteit Amsterdam verwerf en is nou ’n nadoktorale navorser aan die Universiteit Stellenbosch. Haar navorsingsbelangstellings sluit feministiese filosofie, Afrika-filosofie en dekolonisasie in. Sy woon in Kaapstad en was vanjaar ’n gas by die Prince Albert Leesfees.

Azille Coetzee (Foto: Menán van Heerden)

In my vel is ’n fassinerende reis van Suid-Afrika na Nederland en terug. Onderweg het sy haar afkoms bevraagteken, ook wat dit beteken om wit en Afrikaans te wees ... en om uit en weer ín haar vel te klim. Coetzee stel dwingende vrae oor of sy werklik ooit in Nederland sal kan aanpas. Van kleins af het sy daarna gehunker om ’n nuwe lewe in dié land te begin.

Wat het haar uiteindelik laat besluit om na Suid-Afrika terug te keer? Om dit te verstaan, sal jy die boek moet lees – want behalwe die baie filosofiese bepeinsinge, is dit ook ’n mooi geskrewe liefdesverhaal.

My opinie van In my vel het tydens die leesproses soos ’n pendulum heen en weer geswaai ... van cliché tot persoonlik, van naïef tot vlymskerp. Daar is in die eerste deel, wat haar verblyf in Nederland beskryf, te veel beklemtoning op die teenstelling tussen die “donker” kontinent waarvandaan sy kom en die “helder” Europa van haar voorouers. Die swart-wit cliché!

............

“Tydens die lees van In my vel het ek die gevoel gekry dat Coetzee in Amsterdam in ’n borrel geleef het en nie deel geword het van die gelaagde, veelrassige samelewing met sy baie sub-kulture – wat so eie aan Europa is – nie.”

............

Clichés oor Nederland is oordonderend aanwesig. Onskuldige vooroordeel is dat Nederlanders “regelneefjes” (beheervrate of control freaks) is wat hulle neus in alles steek en dikwels ’n vinger na jou sal wys as jy jou fiets verkeerd parkeer, of te hard praat en lag, of te baie “kankerverwekkende” braaivleis eet. Hulle kan lang preke afsteek oor die gruwel van apartheid. Ons Belge is Boergondies en nie-gereformeerd en sien ons noordelike bure ook gereeld deur dieselfde bril.

Nog ’n erger cliché is die stelling dat ’n wit vel jou in Suid-Afrika steeds toegang gee tot alles van die beste. Wat van die rassehiërargie en die gepaardgaande regstellende aksie? Wat van al die grootouers wie se nasate na die buiteland moet uitwyk omdat daar nie meer werkgeleentheid in hul eie land is nie?

Coetzee is opgetoë oor die reën in Europa, maar vergeet dat dit suurreën is wat op ons koppe neerdonder; opgetoë oor die openbare vervoer se stiptelikheid, maar vergeet dat die treine baie keer vertraag word omdat die kraglyne gesteel is of omdat ’n arme mens homself voor ’n trein gewerp het.

Dis nie net wit Suid-Afrikaners wat skuldgevoelens het nie. Ek as Europeër dra net so swaar aan die las: Wat van my besmette koloniale verlede as Belg? Ek is nie trots op die wandade van Koning Leopold II nie! Ek is nie trots daarop dat wapenprodusente uit België kindersoldate in Afrika van wapens voorsien nie. Ek is nie trots daarop dat daar in my stad, Antwerpen, ’n burgemeester in beheer is wat sy eie volk voortrek én sonder enige skuldgevoelens teen nuwelinge, of inkommers, diskrimineer nie.

............

“’n Vraag wat Coetzee stel, het wel baie weerklank by my gevind: Bly ons lekker in Nederland (en België), maar verlang na Suid-Afrika – veral in die nat, koue Europese somers – omdat ons dáár al die voordele kan geniet wat ons nog steeds as wit middelklasvroue het?”

............

Tydens die lees van In my vel het ek die gevoel gekry dat Coetzee in Amsterdam in ’n borrel geleef het en nie deel geword het van die gelaagde, veelrassige samelewing met sy baie sub-kulture – wat so eie aan Europa is – nie. Op hierdie vasteland is witheid ook nie homogeen nie. Die een is witter as die ander.

Sy skryf asof iedereen daar dieselfde toegang tot geld, materiële goed en kultuur het. Asof ons in Europa nie gekonfronteer word met migrasie nie. In mý stad woon meer immigrante as oorspronklike inwoners. Daar is baie kinders wat in armoede leef en mense wat op straat of in skeepsvraghouers slaap.

Maar die groot verskil is dat die Europese welvaartstaat nie in vrees veranker is nie. Die huidige politici wil ons laat glo ons moet bang wees vir migrasie, maar uiteindelik kan ek tog nog in Antwerpen laat saans met my fiets huis toe ry of ’n fliek of teateropvoering bywoon sonder om ’n verkragter om elke hoek te vrees. Daar word ek nie gedwing om agter diefwering te leef nie.

’n Vraag wat Coetzee stel, het wel baie weerklank by my gevind: Bly ons lekker in Nederland (en België), maar verlang na Suid-Afrika – veral in die nat, koue Europese somers – omdat ons dáár al die voordele kan geniet wat ons nog steeds as wit middelklasvroue het? Volg vroue eenvoudig maar net hul Suid-Afrikaanse mans terug na hulle tuisland as hulle moeg gereis is (in die geval van Azille) of afgetree het (in my geval)? Of word ons in Suid-Afrika deur skrynende ongelykheid, ongeregtigheid en kompleksiteit uitgedaag om dinge te doen wat ons nooit in die gerieflike Europa sou doen nie?

Coetzee se migrasieverhaal het my laat nadink ... partykeer lekker laat lag. En dit het ’n snaar gepluk wat diep in my geresoneer het.

Lees ook 

Mercy Kannemeyer skryf oor Azille Coetzee se In my vel

In my vel deur Azille Coetzee: ’n skrywer wat haarself blootlê sodat ons onsself kan sien

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: In my vel deur Azille Coetzee

Kyk ook 

Video: Stellenbosch-bekendstelling van In my vel deur Azille Coetzee

Lees ook op Voertaal

Video: Kaapstad-bekendstelling van In my vel deur Azille Coetzee

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top