Mercy Kannemeyer skryf oor Azille Coetzee se In my vel

  • 1

Video: Stellenbosch-bekendstelling van In my vel deur Azille Coetzee

Mercy Kannemeyer het onlangs met Azille Coetzee oor haar debuut In my vel gesels. Mercy skryf haar eie gedagtes oor dié gesprek. 

“Ek is te wit vir Afrika, maar nie heeltemal ‘wit’ genoeg vir Europa nie,” skryf Azille Coetzee in haar debuut, In my vel. In hierdie eerlike, skreeusnaakse en boeiende boek wat onder andere handel oor wit-wees, identiteit en liefde, neem Azille lesers saam met haar op haar reis deur Amsterdam.

Ek het die wonderlike voorreg gehad om met Azille te gesels vir die Stellenbosse bekendstelling van haar boek wat op 3 Augustus by Protea Boekwinkel plaasgevind het. In die stampvol boekwinkel kon ek agterkom Azille is iemand wat dink oor wat sy sê. Sy wil ook graag ’n aktiewe landsburger wees, en daarom laat sy nie haar identiteit toe om haar te verhoed om indringende vrae te vra nie. Sy gebruik haar identiteit, sowel as dié van haar mense, as ’n katalisator om broodnodige kwessies aan te spreek. In haar Instagram-biografie beskryf sy haarself as ’n “filosoof, feminis en skrywer”.

In ’n onderhoud wat ek met haar gevoer het, sê sy:

Feminisme is ’n teoretiese raamwerk en ’n praktiese manier van leef wat onderdrukking bestry. Feminisme ondersoek hoe mag funksioneer. Dit vra wie word uitgesluit, stilgemaak, en hoekom. As ’n teoretiese raamwerk ondersoek die feminisme veral hoe die samelewing met verskil omgaan, hoe die samelewing mense verskillend posisioneer en hanteer op grond van liggaamlike verskil. Die feminisme vra wat die reëls is waarvolgens ons mense in kategorieë en hiërargieë indeel en hoe sulke reëls funksioneer om sekere mense van mag te voorsien en ander te onderdruk. Op ’n filosofiese vlak vra feminisme dus fassinerende vrae met uiters belangrike konkrete, politieke implikasies. Dit is ’n filosofiese projek wat geanker is in politieke realiteite.

Azille se agtergrond met hierdie begrippe vorm deel van die tematiek van haar boek. Daarin vra sy vrae oor haar agtergrond en plek in die samelewing en wend ’n dapper poging aan om oor wit-wees te skryf. Teen die agtergrond van moderne identiteitspolitiek, waar daar gereeld bekgevegte is oor wie wat mag sê, wie waar mag hoort, wat aan wie toekom, is dit verfrissend dat ’n jong stem soos Azille s’n diep delf in kwessies waaroor sommige eerder sou wou hê ’n mens moet swyg.

In ’n neutedop handel In my vel oor Azille wat Amsterdam toe trek om ’n PhD aan die Vrije Universiteit te gaan doen. In Amsterdam begin sy vrae oor haar wit vel vra. Daar voel sy nie wit genoeg nie, maar in Afrika voel sy weer te wit. Sy ontmoet ander mense wat haar deur haar tog help. Uiteindelik besluit sy om terug te keer na Suid-Afrika, want sy wil tuishoort.

Alhoewel Azille swaarwigtige onderwerpe in die boek aanspreek, is dit steeds ’n lekkerleesboek wat jou plek-plek gaan laat giggel. Al is dit ook net vir klein kultuurverskille soos Suid-Afrikaners wat nie weet van hul skoene uittrek wanneer hulle in ’n huis kom nie.

In my vel is noodsaaklike leefstof vir almal wat worstel met hul vel, wit bevoorregting en wit skuld. Op ’n toeganklike en intellektuele manier ontbloot Azille hierdie onderwerpe en gee sodoende aan ander die geleentheid om ook introspeksie te gaan doen. Die boek probeer glad nie om enigiemand of hul kultuur te veroordeel nie. Dit bied eerder geleentheid om vrae te vra en pogings aan te wend om tuis te hoort, saam met almal wat so graag wíl tuishoort.

Video: Kaapstad-bekendstelling van In my vel deur Azille Coetzee

In my vel deur Azille Coetzee: ’n skrywer wat haarself blootlê sodat ons onsself kan sien

  • 1

Kommentaar

  • Stem saam met haar. Solank sy in gedagte hou dat die die VOIC van die grondleggers was van wat tot Apartheid ontwikkel het. Daar is geen volk met skoon hande nie en ons ou landjie het ook niks uit die geskiedenis geleer nie. Hartverskeurend-nou identiteitskrisis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top