Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: In my vel deur Azille Coetzee

  • 2

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.

_____________________________________________________________________________

Azille Coetzee

 

Azille Coetzee is ’n postdoktorale navorser aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het in ’n PhD van die Vrije Universiteit van Amsterdam en die Universiteit Stellenbosch. Haar navorsingsbelange sluit in feministiese filosofie, Afrikafilosofie en dekolonisasie. Sy woon in Kaapstad. Haar werk verskyn op Netwerk24 en VryeWeekblad.com.

_____________________________________________________________________________

Opsomming

In my vel
Azille Coetzee
Uitgewer: Tafelberg

ISBN: 9780624087298

Ek is in Amsterdam om ’n PhD aan die Vrije Universiteit te doen. Ek het ’n visum en ’n beurs vir 22 maande, maar het reeds besluit dat ek
vir ewig hier wil bly.

Met haar Nederlandse lover aan haar sy voel Azille Coetzee lig en bevryd. Sy hou van die sosiale gelykheid, die wêreldklas festivals, die
galerye, en lesings deur beroemde filosowe. Sy begin uiteindelik die ellendige taal baasraak.

Van waar dan die hardkoppige ongemak wat haar nie wil laat los nie?
Met In my vel verken Coetzee dwingende aktuele vrae oor Suid-Afrikanerskap op ’n verrassende, persoonlike manier. Dit is sowel ’n
leesbare, dikwels skreeusnaakse liefdesverhaal, as ’n vlymskerp bepeinsing van wat dit beteken om wit en Afrikaans te wees.
“’n Lieflike, noodsaaklike boek. Sowel gesofistikeerde intellektuele besinning as ’n hartstogtelik-persoonlike relaas.” – Francois Smith

“Dié ware verhaal van navigasie, deur twee stede, deur ’n hart, is ’n dokument vir ons tyd. Tydig, snaaks, en nódig.” – Kabous Meiring

_____________________________________________________________________________

Uittreksel

Soos wat ek vandag in die trem sit op pad universiteit toe en uitkyk na die mooi huise in die Rivierenbuurt, tik iemand my op my skouer. Ek kyk om en dis ’n Nederlandse oom met ’n suur gesig en hy snou my iets toe.

“Sorry, kunt u het herhalen?” vra ek, en voel trots op myself dat ek onthou het om die “u” te gebruik. Hy lyk egter glad nie beïndruk nie.

“Doe ... even ... normaal!” spoeg hy dit uit en beduie na my een skoensool wat teen die oortreksel van die sitplek langs my rus. O. Hy is kwaad omdat hy dink ek hanteer die tremsitplekke nie met genoeg respek nie. Dat die oortreksel gaan verweer as dit met almal se skoene in aanraking kom.

Ek ontkruis my bene sodat albei my voete op die vloer van die trem is. Hy stap blasend na sy sitplek agter in die trem.

Dit neem my nog ’n tydjie om die interaksie te absorbeer, voordat ek kwaad raak en toe lelik in die gesig gevat voel. Het hy vir my gesê ek is abnormaal? Hy ken my nie eens nie! En hoe kan ’n mens so iets vir iemand sê op grond van so ’n beuselagtigheid? Ek sit sommer albei my voete op die sitplek voor my en ry die res van die pad so.

In die daaropvolgende maande begin ek besef dat ek daardie dag op die trem niks besonders ervaar het nie, maar bloot aan die ontvangkant was van Nederland se gunsteling- nasionale belediging. “Doe even normaal” (wees normaal, in Afrikaans) word elke dag oor-en-weer gewerp tussen mense, so hou hulle mekaar in lyn. Vat jy ’n draai te wyd op jou fiets, druk jy per ongeluk voor iemand in in die ry in die supermark, reageer jy te emosioneel op iets, praat jy te hard, dan doe je gewoon niet normaal.

“Hoe weet ek wat is ‘normaal’?” vra ek die Nederlandse lede van my boekklub. As deel van die feministiese praxis in die boekklub skep ons uitdruklik ’n “safe space”, so ek kies hierdie ruimte om die vraag te stel.

Ek sien ek vang hulle ontkant.

“Ek bedoel, wat vir my normaal is, is mos nie noodwendig vir jou normaal nie?” probeer ek my gebrek aan begrip verduidelik. “Hoe kan ek weet wat vir almal rondom my normaal is?”

“Hmm, ja ...” sê Eke. “Ek verstaan wat jy bedoel, maar daar is tog dinge wat almal weet is nie normaal nie.” Die res van die lede knik.

“Ja,” sê ek. “Natuurlik is dinge soos om mense aan te val, abnormaal ... Alhoewel, ek weet nie eens of normaliteit daar die regte maatstaf is nie. Dis krimineel. ’n Mens hoef nie eens die vraag van normaliteit daar in te bring nie.”

En, boonop: “Hoe weet ’n mens wat normaal is in ’n Turkse huishouding? Of ’n Franse een? En wat normaal is vir ryk mense is mos nie normaal vir arm mense nie?”

Die boekklublede dink verder na oor die saak.

“’n Mens weet mos maar net,” sê Lieke. Ja! knik die res van hulle.

“Ek het ’n intuïtiewe begrip van wat normaal is,” sê Dieuwertje, “ek verstaan wat jy sê dat daar nie iets is soos universele normaliteit nie, maar ek dink ek verskil van jou. Byvoorbeeld, om voor iemand in te druk in ’n ry is tog nie normaal nie, maak nie saak wie jy is nie.”

Ek probeer ’n ander invalshoek: “Hoekom is dit so ’n probleem as iemand nie ‘normaal’ is nie? Tot so ’n mate dat die aanklag van abnormaliteit so ’n groot belediging is?”

“Ja ... jy is seker reg,” sê Eke.

“Nee, ek veroordeel nie, ek vra! Ek wil weet hoe dit werk!” probeer ek keer dat al die deure weer toegaan.

“Wel,” val Dieuwertje weer in, “daar is mos maar net maniere hoe ’n mens dinge doen en maniere waarop dit nie gedoen word nie. Niemand wil mos abnormaal wees nie.”

Almal lag toe sy weer terugval op die woord, ’n begrip wat klaarblyklik onpenetreerbaar is van buite die lyne van Hollandse kulturele toebehorendheid.

“Ai ja, dis moeilik om te verduidelik!” en daarmee verander Eke die onderwerp.

Later daardie aand praat ek en C hieroor. Dis toe ons nog saam in die Sarphatistraat gewoon het. Hy het vir ons oondskyfies gemaak wat ons toegooi onder romerige Nederlandse mayonnaise. Ons sit op die bank en eet met ons hande. Dis Vrydagaand en ons maak reg vir ’n rustige aand van klassieke Noorweegse misdaadfiksie op televisie.

Ek vertel hom gefrustreerd van die ondeurdringbare sirkels waarin my gesprek oor normaliteit met my boekklub geloop het. Hy dink ’n bietjie.

“Nee, man,” sê hy al kouende. “Dis vir my heeltemal vanselfsprekend.”

“Ja?” vra ek.

“Dis hul homogeniteit. Dis omdat hulle almal dieselfde taal praat, dieselfde televisieprogramme kyk, dieselfde klas is en dieselfde kultuur het. So hulle weet wat normaal is vir hulle, en hulle almal hou mekaar by hierdie nasionale standaard.”

Normaal wees, is Nederlands wees. Of dan om jou soos ’n Nederlander te gedra. Ten minste wit en middelklas. Hy is reg.

En twee jaar later dink ek weer aan hierdie gesprek wanneer Mark Rutte, die premier van Nederland, aan Turkse immigrante, wat hulle volgens hom nie genoegsaam aanpas by Nederlandse waardes nie, sê: “Doe normaal, of ga weg.”

Ons duld in beginsel dat jy anders is, dat jy bruin is, Moslem is, want hierdie is ’n tolerante land, maar wees asseblief net normaal. “Doe maar gewoon, dan doe je al gek genoeg.” Selfs in die aande in die privaatheid van ons huise is ons heeltemal normaal, dit kan jy sien deur ons oop gordyne. “Wie het hoofd boven het maaiveld uitsteekt, word zijn kop eraf gehakt.”

Moenie jou nek te ver uitsteek nie. Volg die reëls.

“In mý land,” sê C, “steek ons ons nekke uit.”

In my land bestaan normaal nie, is dit ’n leë begrip. In my land is ons ’n klomp dinge tegelyk. In my land dink ons buite die boks, buite die lyne. In my land leef ons met soveel dubbelsinnigheid, paradoks en kompleksiteit, met soveel pluraliteit, beweging en verskil, dat ons koppe oopstaan, ons hande reg, ons monde los, ons nekke lank, ons lywe lekker tegendraads.

“Doe even normaal!” sê ek vir C en hy prop sy mond vol tjips, op ’n hoogs abnormale manier. Ons lag.

“Doe even normaal!” en hy spring op en doen ’n dans waar sy hele lyf ritteltits. Hoe meer ek lag, hoe meer rittel hy. En maak bokspronge.

Doe even normaal! klop die benedebure met ’n besem teen hul plafon dat ons moet bedaar.

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Francois Verster

    'n Goeie gevallestudie van hoe mense hulle vooropgestelde lewensopvattinge op die werklikheid kan afdruk, en dan verward raak oor die gevolge

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top