
In die tronk (Foto: Herman Verwey)
...
Ek ken net die man wat die kassier vriendelik groet en vir hawelose en eksgevangenes herberg gee.
...
Ek sit by die Sanctuary met my kantoordeur toe sodat niemand my oë kan sien blink nie. Ek wou gister heeldag iets skryf, maar elke bladsy lê opgefrommel, want my niere het na drank geskree sodat my kop nie hoef te onthou en my hart nie hoef te voel nie. Dit was gelukkig nie ’n Sunday morning coming down nie, al was trane al woorde wat my siel gister kon verstaan.
Ek wens ek kon eerder nou in ’n tronksel sit, waar ek die mure weer kan voel druk, druk en druk, terwyl ek my herinneringe oor ons saamlooppad herroep. Want dit was in ’n tronksel waar Oom – onbewustelik – my lewe vir die eerste keer aangeraak het.
Oom se Gideonsbybel aan oom Gene [Eugene de Kock] het die kompas geword van my versoeningspad. En watter lang moeisame pad was dit nie.
Ek weet, ek weet. Oom Gene het baie gesê Oom en die generaals moes óók bandiet, en soms as ek hom so gebroke op sy bed aan ’n Lunch Bar sien knaag het, het ek ook so gevoel. Jammer. Oom weet hy was ook my vriend en ek het hom sien sterf met asem in sy longe.
Met my eie versoeningspad besef ek Oom se kruis was ’n emmertjie en ’n botteltjie water. Op Oom se knieë so asof Oom nie vergifnis vra nie, maar vir vergifnis bid.
Die mense wat Oom so spot, weet nie van Oom se selfkruisiging nie. Hulle het nie geluister hoe ons oor versoeningsdade gesels nie, mekaar se klankborde.
WWJD?
Hoe verduidelik ’n mens aan die wêreld dat versoeningdade nie bloot net die regte ding is om uit te leef nie? Ook nie bloot as Christene nie, maar veral vir ons land? Tog sou Oom ook vir die klipgooier bid en as hulle wou, hul voete was. Vir Oom was die Bybel nie ’n Sondagpreek nie, maar ’n leefwyse.

Ons kon oor rugby, potholes of beurtkrag praat, maar het verkies om oor die kompleksiteit van versoening te debatteer.
Ek hoor weer Oom se stem opbreek in Saxby se koffiewinkel: “Wat ons gedoen het, was nie reg nie … Apartheid was ’n sonde teenoor God … Daar’s nog soveel mense vir wie ek jammer moet sê … maar my tyd is min.”
“Nee wat, Oom! Oom lyk so goed, ek het gedink Oom oefen vir nog ’n Comrades-marathon!”
Oom het geskaterlag, so uit die maag. Maar ons albei het geweet Oom staan op die hemel se stoep. Elke keer as ons groet, weet ek dit kan die laaste keer wees wat ek Oom se hart teen myne voel klop.
Toe Oom my bel om te help met ’n plaasvervanger, toe sing die engele “Amazing grace” hard en duidelik. Oom wou seker wees iemand gaan die kos optel, want die vroue in Olivenhoudtbosch het dit so nodig.
Was dit nie vir Oom nie, het ek nooit by Feed a Child betrokke geraak nie. Dankie dat Oom my leer dien het waar niemand dit raaksien nie.
As ek wou luister, was Oom altyd vol wysheid.
Dit is moeilik om te glo dat daardie sagte man wat vir my die kardeur oopgemaak het, vroeër jare vrees ingeboesem het. Ongeag die omstandighede het ek nooit ’n oomblik van daardie man in Oom raakgesien nie. Ek ken net die man wat die kassier vriendelik groet en vir hawelose en eksgevangenes herberg gee. “Want Jesus het hulle na my gestuur.”
Oom doen soveel moeite met mense. Voor Oom getuig, bedank Oom almal, van die mooi musiek tot die skoonmaker. Lag altyd verleë wanneer iemand Oom wil bedank.
Ek sit nou YouTube harder, sodat die mense nie my bors kan hoor ruk nie. Ek doen geen moeite meer om die traanspore af te vee nie.
Oom Adriaan, sê my, wie gaan my nou bel as ek in die media was om my aan te moedig vir die kritiek wat hierop gaan volg? En wie gaan dan vir my sê: “Ek’s trots op jou”?
Wie gaan my gelukwens op my verjaarsdag deur te begin met: “Is dit ’n geleë tyd om te praat?” Oom glo mos nie in WhatsApp nie, Oom bel.
Maar ek sal Anschen se raad volg en elke keer wanneer ek in die spieël kyk, die man raaksien wat Oom gesien het.
Dankie dat ek ’n deel van Oom se erflating aan Suid-Afrika is. En sal voortbou op wat Oom se voetspore aan my geleer het.
Mag my trane jou voete was en weet: My siel gaan jou mis.
Rus sag, geliefde vriend.
Lees ook:
Elders gesien: Daarom bring ek hulde aan Adriaan Vlok, die mens


Kommentaar
Goeie fok. Stefaans, ek kan nie deur my trane lees nie. Jy is een van die beste mense wat óóit oor my drumpel geloop het. óóit.
Dankie, Stefaans. Ek en my oorlede man het ook die man geken van wie jy skryf. Lank voordat hy in die politiek beland het.
Stefaans, dankie dat jy hierdie uit-jou-hart-geskryfde-eerbetoon met ons gewone mense deel. Dit is werklik spesiaal.
ADRIAAN VLOK IS DOOD
Ek het gemengde gevoelens oor hom.
Anders as sommige van sy tydgenote het hy darem gaan getuig voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie.
Hy was volgens SA History Online in sy posisie as Minister van Wet en Orde direk verantwoordelik vir die inhegtenisneming van 30 000 mense, sommige sonder verhoor.
Van hulle is dood tydens detensie.
Hy het na bewering briewe gestuur waarin hy lede van sy 'hit squads' gelukwens met die mense wat hulle 'geïllimineer' het.
Hy het waarskynlik ook geweet van en dalk toestemming gegee dat my kamermaat, Anton Lubowski in 1989 vermoor is in Windhoek.
Hy is later skuldig bevind aan poging tot moord.
Hy het na bewering opdrag gegee dat bomme by die hoofkantore van die Raad van SA Kerke en Cosatu geplant word.
Hy het ten minste 17 anti-apartheid organisasies verban, insluitende die UDF.
Adriaan Vlok en vele ander wat deel was van die vorige regering se sekuriteit -en polisiemagte kan hulself baie gelukkig ag dat Suid-Afrika nie 'n Nuremberg-tipe tribunaal gehad het na '94 nie.
Soos die Nazi leiers sou hulle verseker lewenslange tronkstraf gekry het.
Ongelukkig loop sommige van sy mede kabinetslede en ander handlangers wat die apartheid apparatus in stand gehou het vandag nog vrylik rond. Baie is reeds oorlede.
Ek sal die vorige regering en hul handlangers nooit vergewe nie vir die terreur en verlies aan mense lewens wat hulle beplan en met reëlmaat uitgevoer het.
Vlok was 85 jaar oud.
Nie 'n kwessie van vergifnis nie. Nie vir my nie. Ek kyk na dié geval en sien net die onreg. Politici hoef darem net nooit pa te staan vir hulle keuses nie. So is dit met die politici. Hulle het nie beurtkrag nie. Hulle krag word vir hulle gekoop. Hulle kan enige snert verkoop tydens verkiesings. En, as dinge ooit verkeerd loop, dan is dit amnestie en mediese parool.