
...
Uiteindelik is ons almal maar net weerlose weerlose mense. Jy is een van min wat jou skuld bely het en daarvoor eer ek jou.
...
Jean Oosthuizen skryf op Facebook:
Ek wou eers niks sê of skryf oor sy dood nie. Dis ook seker nie nodig dat ek dit doen nie. En tog is dit op ’n manier ook deel van my komvandaan, al maak ek wat. Adriaan Vlok was seker die politikus wat ek persoonlik die heel beste van almal uit die apartheidsdae geken het.
Na sy eerste vrou se selfdood, het ek hom uit my woonstel in Mouille Point gebel en saam met hom gehuil. Ek kon met hom goed daaroor uit my eie lewe deel wat ek met niemand anders kon deel nie, so goed het ek hom geken.
Of gedink ek het hom geken.
Die dinge wat ná 1990 op die lappe gekom het en sy betrokkenheid daarby het my na my asem laat snak.
Sedertdien het ons nooit weer met mekaar gepraat nie. Wat hy gedoen het, bly onverskoonbaar. Maar die lewe is meer gekompliseerd as wat dit op die oog af lyk.
Vandag, na sy dood, blaai ek deur my dokumente. Op die een kiekie staan ek hand om die lyf saam met hom in kamoefleerdrag tydens ’n medianaweek. Aan sy anderkant staan Tim du Plessis.
Enige iets wat ek nou daaroor sê, sal na teenoorgestelde kante toe anders vertolk word deur mense wat nie self daar was nie, so dit pla my nie.
In my album is ook briewe van sy kantoor om dankie te sê vir gelukwense van my kant deur sy loopbaan elke keer as hy bevorder is.

En dan is daar sy volledige voorlegging aan die Waarheid- en Vesoeningkommissie, wat ek ook het.
Dele daarvan is in sy eie handskrif bygevoeg. Daardie dokument in my besit lees soos ’n riller. En al het ek glad nie saamgestem met sy voetewassery en oordrewe godsdienstige bekering aan die einde van sy lewe ná apartheid nie, verstaan ek iets daarvan as ek dit alles lees.

Dit is maklik om te oordeel, maar as iemand sy aandeel in onreg erken en bereid is om pa te staan daarvoor, terwyl die meeste van jou kollegas dit nie doen nie, kan dit nie maklik wees nie. Dit sê tog seker ook iets van die mens?
Daarom bring ek hulde aan Adriaan Vlok, die mens; wat ek as méns geken het, en nie die politikus waarvoor hy homself aan die einde van sy lewe self geskaam het nie.
RIV, Adriaan Vlok. Uiteindelik is ons almal maar net weerlose weerlose mense. Jy is een van min wat jou skuld bely het en daarvoor eer ek jou.


Kommentaar
As iemand vanuit die nie-wit komponent het Adriaan Vlok nederige respek by my afgedwing vir sy durf om sy aandeel in verdrukte verlede te erken en te bely. Vele andere het die hiernamaals betree asof hul doodonskuldig aan hul gewraakte dade was. Mens gewete kan slegs skoon gewas word met die soeke na vergifnis.