In memoriam: Kevin Athol Ehrenreich

  • 2

Kevin Athol Ehrenreich (foto: verskaf)

Kevin is gebore op 9 November 1950 in Benoni aan die Oos-Rand. Hier het hy sy skoolloopbaan begin. Kevin voltooi standerd 8 op Hoërskool William Hills en die laaste twee jaar van sy skoolloopbaan te Hoërskool Oos-Rand. Die Ehrenreich-familie, soos talle ander bruin families, was verplig om in 1964 na Reigerpark, Boksburg te verhuis.

Kevin was ’n ywerige sportondersteuner. Hy was versot op F1-motorwedrenne en ’n ondersteuner van die Britse voetbalklub Newcastle. Hy het graag gaan visvang en ook motorfiets gery. Kevin trou met Elizabeth (Liz) Fisher op 31 Augustus 1978. 

Kevin was ’n persoon met durf, energie en altyd ’n glimlag. (Sy motorfietsregistrasie was tereg Smaail GP.) Sy liefde vir die kunste, die teater, beoefen hy van kleins af. Op laerskool het hy met groot sukses aan verskeie Eisteddfods deelgeneem. 

Op hoërskool het hy en sy vriende Johnny Issel en Ambrose du Plessis in 1969 hul aktief teen die verkiesing vir die Verteenwoordigende Kleurlingraad (VKR) beywer. 

Kevin was ’n lid van die Oos-Rand Alumnivereniging tussen 1985 en 1995. Hier was hy veral betrokke by die jaarlikse beroepsinligtingweek. Hy het ook die kleuters van die Alumnivereniging se voorskool by hul jaarlikse gradeplegtigheid vermaak. Sy groot teleurstelling was dat die Alumnivereniging nie sy aspirasie vir ’n gemeenskapsradiostasie ondersteun het nie. Hy wend hom toe tot sy passies, die kunste en die Afrikaanse taal, en bereik daar baie hoogtes en eerstes. 

Tussen 1996 en 2006 was hy deeltyds by die teater en verskillende televisieprojekte betrokke. In 2006 bedank hy sy werk op die jeugdige ouderdom van 56 jaar, om hom voltyds op die kunste toe te spits. In 1996 het Kevin en sy span sy eerste toneelstuk Gatiepie sien sy gat by die Grahamstown-kunstefees opgevoer. Hier verwys gat na ’n oop graf. En net so terloops, dit was vir Kevin ’n saak van eer om sy Afrikaans suiwer en vry van vloektaal te hou. Daarna is sy komedie Oz pêl Gatiepie gaan visvang in die Staatsteater in Pretoria opgevoer. Met die verkiesing in 2004, volg Erections 2004 – vote vir Gatiepie. Die illustrasie op die plakkaat was ’n sirkustent! Vir die Chainouqua Kunstefees in Worcester verander hy hierdie toneelstuk na Gatiepie word president

In 2005 is hy en Leonard Petersen (Skinny) Namibië toe met sy tweemanstuk Gatiepie sien vrou-spoke en daarna word dit opgevoer by die Kunstekaap-teater, Artscape in Kaapstad. Hier het hy ’n vriendskapsband met die Pionierskool in Worcester, die Skool vir Blindes, wat die opvoering bygewoon het, gesmee. Hy en Leonard is na Worcester genooi om die leerders op hul eie verhoog in aksie te sien. Op hul versoek het hy ’n kort drama Steek aan die kers oor ’n periode van vier jaar vir hulle geskryf. 

Gatiepie kry ’n baby was die begin van ’n nuwe fase toe hy vir die eerste keer ’n borgskap ontvang het van die ATKV. Hy en Leonard het ook by die KKNK en die Kuierfees op Upington opgetree. Sy boek Gatiepie se groot grapboek is in 2012 deur LAPA Uitgewers gepubliseer. Van die materiaal het ook in die Brailorama-tydskrif vir blindes verskyn. 

Dan was daar sy televisiewerk. Agter die mynhoop was ’n 13-episode-reeks op kykNET oor die mense van Reigerpark. Die reeks is gebaseer op sy boek Maar net mens, wat onder andere oor die soet en suur van Reigerpark handel. Hy kon nie die boek gepubliseer kry nie, maar was suksesvol met die televisiereeks. 

Kevin het Krismis in Reigerpark vir kykNET geskryf en aangebied, en daarna Hospitaal op horings. Hy het ook rolle in die reeks Ons stories op kykNET & kie vertolk. Sy eerste filmrol was in Karate Kallie in 2009. In dieselfde jaar het hy in die speelfilm Rainbow skellums gespeel, en selfs ’n paar van die gags, die grappige tonele, geskryf. Dan het hy ook gags vir Leon Schuster se Your country needs you en Schuks! Pay back the money geskryf.

Kevin doen ’n loodsprogram oor Reigerpark vir e.tv se reeks Kasie, my Kasie. Vir kykNET doen hy ’n program Hoe om ’n steelkamera movie te maak. Hy was die skrywer, aanbieder en hoofkarakter, en André Scholtz die regisseur. 

Na Covid-19 het hy ’n paar nuwe idees probeer; hy wou graag iets vir die nuwe geslag nalaat. Een daarvan was animasie, sodat Gatiepie in ’n nuwe formaat kon voortleef. 

In Augustus 2022 eindig Kevin Ehrenreich sy bydrae vir die boek Reiger Park: home to many / ’n tuiste as volg af: 

Skoppensboer raak ’n realiteit, maar daar is nog dinge wat ek wil doen. Ek het ’n digbundel, Sloffies en Skoenfieters, wat al vir jare lê en stof optel en nou terug in die pyplyn is en ek droom om eendag ’n rol in Raka van NP van Wyk Louw te vertolk. Na alles, en vir my hele lewe kan ek, Kevin van’ie ‘Kasie van Gousblomstraat, Reigerpark aan my pa, Martin Ehrenreich, sê: U bly my held, want u was my pottebakker. En ten slotte: aan my Skepper alle eer. 

Na ’n suksesvolle en soms opdraande pad as kunstenaar het Kevin die tydelike met die ewige verwissel op 20 September 2025. Hy word oorleef deur twee sibbe, sy vrou, twee seuns, twee dogters en ses kleinkinders, met nog een op pad. Hy het sy droom uitgeleef, sy familie omarm, die gemeenskap gedien en was ’n vriend, voorbeeld en mentor vir baie. 

Tot ons weer ontmoet.

Cecil Morden
24 September 2025

Lees ook:

Hostel deur Hein Willemse: ’n lesersindruk

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top