Hostel deur Hein Willemse: ’n lesersindruk

  • 3

Foto van Hein Willemse: Naomi Bruwer

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het.

Hostel
Hein Willemse (redakteur)
Abrile Doman Publishers, 2018 (329 bladsye)
Outobiografiese narratiewe van die 1975–1980-generasie van die Universiteit van Wes-Kaapland

Met Enrico Pedro, Arrie Izaks, Philip Stalmeester, Francis C Sonn, Alec Booysen, André Muller, Clement Kloppers, John Ockhuizen, Cecil Morden, Michael Willemse, Llwellyn Abdoll, Desmond Grove, Norman Cloete, Nico Koopman, Franklin Larey, Gerty Steenkamp, J Francis, A du Plessis, LR Lundall, Ada James, Nicolette en Myron Leonard, AG Raduate, Gerald Bloem, Selwyn Silent, Brian Wilson, Granwell Smith, Hein Willemse, Wilfred Jaftha, Cecyl Esau, Phil du Plessis, Jim Cerdras, Frank Meintjies, Jacqueline Mouton, en William Murray.

 Hostel

UWK-studente se reis na politieke volwassenheid      

Die afgelope 25 jaar het daar reeds verskeie werke oor die ongeregtighede van apartheid verskyn. So waarom nog ’n boek hieroor, sal die moedswilliges vra. Hoe lank nog voordat die kastyding ophou, sal hulle wat telkens aan die euwels van apartheid herinner word, wonder. Wat het Hein Willemse genoop om hierdie boek te maak?

Die antwoord is doodeenvoudig: totdat elke stukkie van die pyn en hartseer oopgeskryf en uitgepraat is. Dat Willemse 34 gemeenskapsleiers wat 40 jaar gelede ’n koshuis aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) met hom gedeel het, kon oorreed om hul stories te vertel, is bewys dat daar nog baie onvertelde verhale is wat wag om geboekstaaf te word.

Hostel

Laat ek net eers iets sê oor die gebruik van die woord hostel, asook die taalgebruik in die bundel. In die bruin Afrikaanse gemeenskap is die woord koshuis nie alombekend nie en word hostel in sowel Afrikaans as Engels gebruik. Vanuit daardie perspektief is die woord hostel as titel gepas, juis omdat dit gemaklik in die mond van albei tale sit.

Veertig jaar gelede was Afrikaans – in die woorde van Enrico Pedro (16) – ons almal se moedertaal. Mettertyd, en na vele debatte oor Afrikaans as “taal van die verdrukker”, het sommige van ons klasmaats geëmigreer na Engels en skryf hul storie daarin. Willemse skryf bv die voorwoord in Engels, maar sy ervaring oor My 1976, iets wat duidelik ’n emosionele saak vir hom is, skryf hy in sy hartstaal, Afrikaans. Alhoewel hy sy storie in Engels skryf, erken Pedro (16) dat hy nooit gemaklik was met die frase taal van die verdrukker nie.

Hostel is, volgens die redakteur, die produk van ’n idee, naamlik om die ervaringe van ’n groep jong studente wat in die jare sewentig deur die sameloop van omstandighede in ’n koshuis aan die UWK byeengebring is – in 1975 tot 1980, om spesifiek te wees – te boekstaaf. Die bundel narratiewe bestryk ’n tydperk wat aan my bekend is: ek was self tussen 1977 en 1980 ’n student aan die UWK (ek sou later teruggekeer vir verdere studie).

Van ver af

Ek ken dus die meeste van die skrywers en die “legendes” in die boek en kon heelwat put uit my medestudente se emosionele reise. Ek het ook ’n langdurige vriendskap gehad met Russel Botman, wat by Leonardo Appies as studenteraadvoorsitter oorgeneem het toe Appies in die tronk was. Ek was egter nooit in die koshuis nie, want ek (in Wellington) en Willemse (op Worcester) het te na aan Bellville gewoon. Die hostel was, soos Willemse opmerk (273), gereserveer vir diegene wat van ver gekom het.

Willemse kry wel plek in die hostel, maar ek was een van die travelling wanderers wat elke dag om 6 vm ’n trein moes haal na Bellville en weer ’n trein van daar na Unibell-stasie. Soms dink ek ons wat moes travel, was meer benadeel. Dink net vir ’n oomblik hoe vroeg moet jy opstaan en begin stap na Wellington-stasie. Soms was die trein laat en moes ons staatmaak op die goedhartigheid van die inwoners vir ’n rygeleentheid as ons sou duimgooi, maar meestal moes ons die 6 km na die universiteit te voet aflê – winter en somer.

Bulldozers

Universiteitsopleiding vir swart (in die generiese sin) Suid-Afrikaners was feitlik onmoontlik tydens die eerste helfte van die 20ste eeu. Die bestaande universiteite het destyds byna uitsluitlik vir wit Suid-Afrikaners voorsiening gemaak. Sommige van die Engelse universiteite het wel enkele, stedelike swart studente toegelaat, maar dit was te min om enige impak te maak. Gevolglik het die argitekte van apartheid vorendag gekom met die idee om universiteite soos die UWK (vir bruin mense), Zoeloeland (vir Zoeloes), Durban-Westville (vir Indiërs) en Fort Hare (vir swart mense) te skep. Volgens Willemse (7) was hierdie kampusse deur die bank op afgeleë plekke ver van ekonomiese en sosiale infrastruktuur gebou, met min hulpbronne. Die UWK is gebou op die sanderige Kaapse Vlakte, ver van alles en almal.

Willemse vertel nostalgies (11) hoe emosioneel die studente was toe bulldozers in 1977 en 1978 (ek was toe in my 2de en 3de jaar) drie plakkerskampe platgestoot het om plek te maak vir groter geboue. Hoe ironies dat die vooruitgang van die UWK gebou is op die hartseer van 20 000 mense wat haweloos gelaat is. Dit was die wreedheid van apartheid.

Die groot ironie

Studente moes stap na waar hulle wou wees (9). Slegs enkele studente het motors gehad, die minibus-taxi soos ons dit vandag ken, was nog in sy babaskoene en die stad se busdiens was onbetroubaar. Koshuisgangers was dus aangewese op die welwillendheid van vreemdelinge. Daar was geen naglewe of nagklubs nie. Ook nie restaurante waar swart en bruin studente kon gaan uiteet nie. Hulle was aangewese op takeaways. Dwelms was iets waarvan ons in storieboeke gelees het.

Die groot ironie is dat aan ’n al groter wordende groep swart studente van die platteland goeie universiteitsopleiding verskaf is. Dit is dieselfde studente wat begin het om in koshuise teen apartheid te organiseer. Hulle sou ironies die leiding neem met die opstande teen die regering wat hulle daar geplaas het. Die doelwit om UWK te ontwikkel (12) as die kern vir ’n eiesoortige “kleurlingvolk-in-wording” is in geen onduidelike taal nie deur die studente verwerp.

Formidabele leiers

Die UWK sou formidabele leiers oplewer, soos Cecyl Esau (na wie een van die koshuise vernoem is en wat etlike jare saam met Mandela op Robbeneiland aangehou is), wyle Russel Botman, wat rektor van die US geword het, Tyron Pretorius en Brian O’Connell (rektore van die UWK), Hein Willemse (vandag prof by Tukkies), Julian Smith en Nico Koopman (viserektore van die US), Llwellyn Macmaster (moderator van die VG Kerk), Danny Titus (direkteur van die ATKV), Leonardo Appies (studenteraadvoorsitter en later ds Appies), Norman (Nokka) Cloete (bekende skoolhoof in die Weskus), Brian Wilson (die Kaapse Wynlanddistrik se hoofkurrikulumbeplanner), Marlene le Roux, hoof van die Kunstekaap en Margaret Keyser, eerste vrouepredikant, en vele ander.

Die lys is werklik baie lank. Vergewe my dus as ek u naam uitlaat.

Die 1976-opstande

Heelwat van die skrywers deel hul ervaringe van die 1976-opstande. Volgens Willemse en sy medeskrywers het dinge reeds begin broei nadat die destydse minister van Bantoesake, MC Botha, in 1974 wetgewing deurgevoer het wat swart studente verplig het om sekere vakke vanaf standerd 5 (deesdae graad 7) in Afrikaans te leer. Dié tydbom sou op 16 Junie 1976 ontplof. Die opstande het vinnig deur die land versprei. Maar uit die narratiewe van verskillende skrywers word dit duidelik dat die verpligte onderrig in Afrikaans nie die enigste rede vir die opstande was nie (17).

’n Narratief wat soos ’n goue draad deur die bundel loop, is die studente se heilige respek vir die destydse rektor, Richard van der Ross. Sy verbale vermoëns (kyk voorblad) om sy studente onder hierdie uitdagende omstandighede te laat fokus terwyl hy sy hoofsaaklik Boederbondbestuur gelukkig kon hou, het hom die bynaam van Tricky Dickey besorg. Willemse erken dat hy hom bloedig kon vererg as studente disrespekvol teenoor Van der Ross was (275), terwyl Van der Ross self erken het dat hy met die dood gedreig is (49).

In hierdie tyd het die studente van die Bellville Onderwyskollege (BOK) by UWK aangesluit vir moral support (dit is hoe ek my vrou ontmoet het). Verskeie studente (ek inkluis) is in die stryd met die swaargewapende polisie erg beseer. Willemse moes hospitaalbehandeling kry (276). Op die kampus het dosente soos Basil Kivedo, Jakes Gerwel en Ikey van der Rheede lesings oor vryheid en apartheid gehou om studente te kalmeer en gefokus te hou.

Saam met Madiba by Victor Verster

Verskeie studente is in hegtenis geneem en by Victor Verster aangehou. Volgens Wilfred Jaftha was die “Groot Indoena” (Mandela) op daardie stadium ook by Victor Verster. Geen student kon in hul wildste drome voorsien dat hulle soos helde deur die tronkpersoneel behandel sou word nie. Met elke hofverskyning het die studente opgerui en buite die hofsaal gedreunsing. Dit het die studente moed en krag gegee. Maar volgens Willemse was diegene wat voorkomend aangehou is, teen Kersfees 1976 steeds opgesluit (277). Dit het hom genoop om op ’n hongerstaking te gaan ter gedagtenis aan sy vriende in die tronk.

Mooi herinneringe

Daar was egter ook die goeie tye. Een keer ’n jaar het die studente van UWK en die hostels hulle behoorlik geniet wanneer die beurse uitbetaal is. Nadat die universiteit sy klasgelde en boekeskuld afgetrek het, is die restant aan studente uitbetaal. Dan het die studente hulself getreat op die beste lekkernye van Snuffel en Snuif en Kwick Foods. Soms was daar ’n ietsie ekstra vir ’n bier of twee in die Drop Inn of die Belmonte. Terwyl die Travelling Wanderers moes koers kry huis toe, het hostelliete afgekoel met ’n dans in Swanie’s Inn.

Ek het veral my ou vriend, Nokka Cloete, se essay oor die hostel se rugbyliga geniet. Dit bring mooi herinneringe terug. Die rugbyliga was van ’n baie hoë standaard en het spelers van die kaliber van Patric Mettler (Boland), Julian Smith (Tygerberg) asook Eric Sauls (losskakel) en Ronnie Korkee (skrumskakel) opgelewer. Sauls en Korkee was my klasmaats en sou later vir die provinsiale span in die Oos-Kaap uitdraf en het ook SARU-kleure verwerf.

Die hostelliete was reeds van vroeg af ingestel op diversiteit en ander geloofsoortuigings. Op ’n Vrydagmiddag het Moslemstudente die moskee in Kasselsvleistraat bygewoon terwyl die Sewendedag-Adventiste op Saterdae kerk toe kon gaan. Katolieke en Protestantse studente het gewoonlik Sondagoggende laat geslaap, maar was Sondagaande op hul pos as Allan Boesak – pas terug uit Nederland nadat hy ’n doktorsgraad voltooi het oor die kerk en apartheid – in die kweekskool se saal vir die studente gepreek het.

Politieke wasdom

As die bundel narratiewe as ’n eenheid gelees word, kry die leser ’n diepe kyk na een van die belangrikste tydperke in ons land en veral ons taal Afrikaans se geskiedenis. Een van die grootste vraagstukke waarmee ons moes worstel, was dat ons ouers se politieke oortuigings radikaal verskil het van ons s’n (271). Ouers – vasgevang tussen hul eng Christelike oortuigings en gebreinspoel deur ’n regering en sy media – het hul kinders UWK toe gestuur met die hoop dat hul kinders met gelerenteit sal terugkom. Wat inderdaad toe wel gebeur het. Maar hierdie bundel vertel juis hoe studente aan die UWK baie meer as geleerdheid aan die UWK ontvang het.

Die boek bestryk die ervaringe (die hartseer en die mooi oomblikke) en die invloede wat in die stryd teen apartheid beleef is wat uiteindelik daartoe sou lei dat ’n groep jongmense (en ek sluit myself hierby in) vanuit hul armoedige onskuld en politieke naïwiteit sou “groei tot politieke volwassenheid”, as ek Cecil Morden kan aanhaal (263).

As sulks is die bundel ’n noodsaaklike dokument in die strewe om die volle waarheid oor apartheid te verwoord. As jy dus ’n alumni van die Universiteit van die WerkersKlas is, is hierdie boek ’n absolute móét.

Michael le Cordeur is verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch. Hy was van 1977 tot 1980 ’n student aan die UWK en verwerf ’n BA en HOD. Hy keer in 1982–1983 terug vir ’n honneursgraad, maar verwerf die MEd- en PhD-grade aan die US.

  • 3

Kommentaar

  • As 17-jarige kaalvoet tiener van ’n plattelandse Noord-Kaapse dorp, Upington, kan ek getuig van die "armoedige onskuld" en "politieke naïwiteit" waarvan Cecil Morden praat. My patriargale onderwyser-pa het net een droom vir sy slim dogter gehad: universiteit toe om graad te vang. Ek was die enigste van sy dosyn kinders wat nie halfpad uitgeval het om hom te help om brood op die tafel te sit nie. Jou drome, wense, begeertes het nie saak gemaak nie. Daar’s vir jou gedink en besluit en sou jy waag om dit te verontagsaam, was jou voorland hel! Stuur haar nou vir die heel eerste keer in haar lewe ALLEEN Kaap toe ... dis nou vir jou ‘n ding!

  • Die woord "hostel" (die Engelse uitspraak) was algemeen in gebruik onder wit Afrikaanse kinders. Ek weet, ek was in een. Al die gekleurde betekenisse wat dit dan nou sou verteenwoordig, is 'n gevang na vlieë. Die idee dat alle wit studente karre sou gehad het, is soortgelyk 'n poging om voorstellings te maak wat nie bestaan nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top