In gesprek met Vickie de Beer oor Kombuistaal

  • 0

Vickie de Beer se nuutste kookboek is op kinders gerig. Die titel is Kombuistaal. Izak de Vries dink dis so netjies geskryf, selfs grootmense kan dit verstaan. Lees sy gesprek met De Beer.

...
Regte kos, met heel bestanddele, is nie skadelik nie; dit voed jou liggaam en maak dit sterk.
...

Vickie, terwyl ek hier sit en tik, is daar ’n broodjie aan’t afkoel wat ek gebak het uit My low carb-kombuis, ’n vorige kookboek van jou. Ja, ek het dit gebak, selfs ek kan jou boek volg. Ek sien dieselfde eenvoud in Kombuistaal. Tog is die resultate heerlik. Wil jy dalk iets sê oor eenvoudige resepte vs haute cuisine?

Kosmaak is maklik en lekker. Ek voel soms asof mense so ver verwyderd geraak het van basiese kooktegnieke dat hulle bang geraak het vir kook. Om weer jou eie kos te maak – van uie en knoffel kap tot om hoender in die oond gaar te maak – is een van die mees belangrike goed wat jy vir jou gesondheid kan doen. Ek probeer dit weer eenvoudig maak en ek dink dit is belangrik vir gesinne om saam te kook. Dit is hoe kinders die beste leer.

Die titel van die jou boek, Kombuistaal, is heerlik plooibaar. Dis Afrikaans, maar daar is ook vele definisies wat kinders die taal van die kombuis leer, nie waar nie? Ek het byvoorbeeld gelees wat blansjeer beteken.

Dit bring my weer terug by die verlies aan kookvaardighede. As ons kinders van kleins af by die kookproses betrek en hulle leer hoe om kos te maak, gaan hulle gesonder volwassenes word wat eendag vir hulleself kan kook. Kosmaak het sy eie taal en ek wou dit weer eens afbreek en meer verstaanbaar maak.

Wat het jou geïnspireer om ’n kookboek spesifiek vir kinders te skryf, en dan boonop een wat suikervry en glutenvry is?

Gesonde voeding was nog altyd vir my van uiterste belang. My seun, Lucca, is op agtjarige ouderdom met tipe 1-diabetes gediagnoseer. Ná jare se navorsing het ons besef dat ’n lae-koolhidraat- en suikervrye dieet nie net vir hom belangrik is nie, maar vir ons almal. Kosse met verfynde wit stysels en verwerkte produkte bevorder inflammasie in ons liggame; ons fokus eerder op goeie bronne van proteïen vir ’n gesonde liggaam. Vir my is dit belangrik om hierdie kennis op ’n eenvoudige, verstaanbare manier aan kinders oor te dra, sodat hulle dit werklik in hul eie lewens kan toepas.

Hoe pas jy tradisionele Suid-Afrikaanse resepte, soos jou frikkadelle (jy noem hulle “frikkies”), aan om suiker- en glutenvry te wees?

Die meeste tradisionele resepte, soos frikkadelle of selfs hamburgers, bevat brood of meel as bindmiddel. Die resepte in Kombuistaal vermy egter gluten en verfynde stysels. Ek vervang dit met gerasperde kaas om die gereg steeds lekker sappig te hou.

Jy lê baie klem op vars kos wat ’n mens self kook, in plaas van winkelkos. Waarom?

Winkelkos wat in sakkies en pakkies verkoop word, is verwerk. Verwerkte kos word in fabrieke vervaardig en bevat meestal chemiese bymiddels soos geur-, kleur- en bindmiddels. Hierdie stowwe is skadelik vir ons gesondheid; dit dryf inflammasie in jou liggaam en beskadig die maagwand. Regte kos, met heel bestanddele, is nie skadelik nie; dit voed jou liggaam en maak dit sterk.

Is ouers gereed vir die suiker- en glutenvrye resepte wat jy ontwikkel het?

Ek hoop so! As jou kinders se gesondheid vir jou belangrik is, behoort jy daaroor na te dink om ten minste die hoeveelheid verfynde wit stysels en suikers in julle dieet te verminder. Die langtermyn gevolge van ’n dieet wat hoofsaaklik uit verwerkte kos, wegneemetes, saadolies en stysels bestaan (wat uiteindelik as suiker in jou liggaam omgeskakel word), is uiters groot en skadelik vir jou kinders se gesondheid.

Die boek is propvol wenke aan die jongmense oor wat om in die kombuis te doen. Maar het jy enige wenke aan ouers wat bang is om hul kinders te help met die voorbereiding van maaltye?

Om saam te kook is een van die lekkerste dinge wat jy saam met jou kind kan doen. Dit hou hulle weg van skerms en gee vir julle kosbare tyd saam. Beplan die kooksessies vooraf, maak seker dat al die nodige bestanddele gekoop is en dat al die toerusting gereed en maklik bereikbaar is. Ontspan, daar is nie ’n regte of verkeerde manier nie; selfs ’n “floppie” smaak nog steeds lekker! Dit gaan oor die saamwees, nie oor ’n perfekte, netjiese kombuis nie.

Balans is ’n tema in die boek. Jy skryf in detail hoe belangrik balans is vir bakterieë in jou derms. Jy sê ook: “As jou dermbakterieë gelukkig is, voel jy ook gelukkiger!” Vertel ’n bietjie meer vir grootmense wat nog nie Kombuistaal gelees het nie.

Jou maag, eintlik jou derms, speel ’n baie belangrike rol in jou gemoedstoestand. Sekere kosse, veral dié met baie suiker, versteur die balans van jou mikrobioom in jou derms, en dit kan ’n direkte invloed hê op jou immuunstelsel, energievlakke en gemoed. ’n Gebalanseerde dieet wat op goeie proteïne en vette en ’n verskeidenheid veselryke groente gebaseer is, hou jou mikrobioom in balans.

Daar is ook QR-kodes in die boek. Ek het hulle gevolg. Jy verduidelik nogal in detail hoe die liggaam werk. Wie het jou met daardie navorsing gehelp?

Ek doen al jare navorsing oor gesonde voeding en is tans besig met ’n hand-/kookboek oor dermgesondheid saam met Stephen Schmidt wat vroeg volgende jaar verskyn. Hy het my ongelooflik baie geleer oor gesonde eetgewoontes en veral oor die belangrikheid van ’n gesonde dermbioom.

Suiker- en glutenvry beteken nie vaal nie. Daar is byvoorbeeld ’n fudge-resep wat ek wil probeer – al is dit een van die moeiliker resepte in die boek. Hoe het jy seker gemaak die resepte is prettig en aantreklik vir kinders? Ons weet talle kinders is kieskeurige eters.

Baie van die resepte is ons eie gunstelinge wat mettertyd staatmakers in ons kombuis geword het. My seun is nou al heelwat ouer, maar ons volg al die afgelope 10 jaar ’n lae-koolhidraatdieet. Die resepte waarvan die seuns 10 jaar gelede gehou het, is steeds van ons gunstelinge – en dit is juis dié wat ek in die boek ingesluit het. Die boek is nie spesifiek gerig op kinders met outo-immuunsiektes soos Lucca nie, maar op gesonde kinders, daarom word daar ook meer vrugte in die resepte gebruik.

Jy leer die kinders om spritzers en gegeurde water te maak, in plaas daarvan om gaskoeldranke te drink. Waarom?

Gaskoeldranke bevat van die mees skadelike bestanddele. Versoeters soos aspartaam en acesulfaam beskadig die maagwand en versteur die mikrobioom. Water, of natuurlik-gefermenteerde koeldranke soos kombucha, is ’n baie gesonder keuse vir kinders én volwassenes.

Daar is ook klem op lekker eet, wanneer jy wil. Verskeie resepte, soos die klapperballetjies, vra die kleingoed om die finale produk in die yskas te stoor en dan staan daar: “Hap een as jy meer woema nodig het!” Kan jy die konsep verduidelik?

Almal se energievlakke kan deur die dag wissel en dit is beter om ’n gesonde peuselhappie in die yskas gereed te hê as om na lekkers te gryp. Die klapperballetjies bevat spesifiek goeie proteïene en vette wat help om jou energievlakke konstant en hoog te hou.

Ek is die ere-oupa van ’n vyf maande oue tweeling. Hulle mammas weet reeds dat ek Kombuistaal vir hulle gaan koop. Maar ek is oud. Het jy al terugvoer ontvang van kinders en ouers wat jou resepte probeer het?

Ek het! Maar meestal van grootmense wat dit vir hulleself gekoop het! Dankie dat jy die boek gaan koop.

Kombuistaal is meer as resepte. Dit is ook ’n handleiding wat die filosofie van gesond wees verduidelik. Is daar enige bepaalde bestanddele wat jy dink enige kombuis moet hê om heerlike, gesonde geregte te skep?

Net regte bestanddele – niks uit pakkies, sakkies of botteltjies nie. Gebruik goeie vette soos botter, avokado-olie en olyfolie, en vermy saadolies soos kanola- en sonneblomolie. Begin elke maaltyd met ’n goeie bron van proteïen, soos maalvleis of eiers, en bou die res van die ete daarvandaan op.

Gepraat van filosofie: Waarom vra jou kóókboek dat kinders minder op hulle selfone moet speel?

Skerms weerhou kinders daarvan om buite te speel, boeke te lees en kreatiewe maniere te vind om hulleself besig te hou. Kinders raak minder aktief en dit is nie goed vir hul gesondheid nie.

Kan jy die proses beskryf wat jy gebruik om jou resepte te toets en te verfyn om seker te maak dat hulle beide gesond en lekker is?

Soos genoem, is die meeste van die resepte al vir baie jare ons gunstelinge, sommige het ek effens aangepas en verfyn vir Kombuistaal.

Roelien Immelman se sketse is wonderlik en Antjie Krog het ook bygedra tot die boek. Was dit pret om al die elemente te sien bymekaarkom?

Dit was ’n ongelooflike lekker projek om aan te werk. Renthia Buitendag, die uitlegkunstenaar, het dit regtig pragtig bymekaargebring.

Het jy enige planne vir toekomstige kookboeke of projekte wat fokus op gesonde eetgewoontes vir kinders in Suid-Afrika?

Ja, gesonde eetgewoontes vir kinders is my passie. Ek sal altyd aanhou om ouers aan te moedig om hulle kinders daarvan te leer.

Lees ook:

Boekresensie: My low carb-kombuis deur Vickie de Beer

My low carb kitchen by Vickie de Beer: reader impression

Nuut by Human & Rousseau: Suid-Afrikaanse leefstylgids vir Diabetes deur Vickie De Beer, Kath Megaw en David Segal

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top