
Luna Paige (Foto: Ansurette Pretorius)
Luna Paige se nuwe album, Die reisigers, verskyn eersdaags. Sy pak alreeds haar tasse om die album landswyd aan gehore bekend te stel. Izak de Vries het vroeër vanjaar ’n vertoning bygewoon waartydens sy die musiek en die stories op gehore getoets het.
Luna, toe ek vroeër vanjaar by jou vertoning was, het jy vir ons stories vertel oor jou ervaring van die Spaanse Camino. Is ek reg dat die nuwe album daardie ervarings gaan weerspieël?
Die nuwe album is ’n musikale vertelling van my reis, ja – hoekom ek die reis aangepak het, dit wat ek beleef het op my reis. Maar merendeels gaan die musikale vertelling oor die innerlike reis waartoe my fisiese reis my op die ou end gelei het.
Vertel ons iets oor die staptog?
Ek het in Junie 2024 in ’n dorpie aan die Noordkus van Spanje begin stap. Ek het vir ’n wyle aan die Noordkus gebly tot ek binnelands gekeer het na Santiago de Compostela. Aanvanklik was die roete wat ek beplan het, 285 km. Met al my belaglike verdwale het ek op die ou end so 330 km gestap oor ’n tydperk van 13 dae. My roete het my verby die volgende wonderlike dorpies geneem (elkeen is soos ’n stempel in my geheue verewig): Cadavedo, Luarca, Jarrio, Ribadeo, Villamartin Grande, Mondañedo, Abadín, Vilalba, Baamonde, Sobrado, Arzua, O, Pedrouzo, en uiteindellik Santiago.
Jou pa is oorlede toe jy pas begin stap het. In jou vertelling was dit prominent. Hoe verpak jy daardie oomblik in jou musiek?
Dit was ’n moeilike tyd en ek moes op verskeie vlakke ’n manier vind om my verlies met my omstandighede te versoen. Soos met alles in my lewe het ek ook dié uitdagende tyd geprosesseer deur daaroor te skryf en dit uiteindelik in musiek om te sit. Die dualiteit van die ervaring (my pa se afsterwe en my Camino) het uiteindelik gelei tot ’n liedjie by name van “Die wonder”. Dit is die vierde liedjie op my album. Ek dink hy vang die veeldimensionele aard van my emosionele wêreld op daai stadium goed vas. Met groot eer aan André Scheepers wat saam met my aan die produksie van die song gewerk het. Ek dink hy het die werklikheid agter die liedjie eerbiedig. Beide van ons het in die finale fases van die album oor ons oorlede pa’s gedroom – dit is vir my beduidend dat ons werklik in sync was met mekaar wat hierdie liedjie en tema betref.
Jou onlangse verhoogproduksie het reeds gehore regoor Suid-Afrika aangegryp. Dit is benoem vir Beste Musiekproduksie tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees (2025). Behalwe vertonings in talle dorpe is dit ook aangebied by die Woordfees, KKNK, Suidoosterfees en die Kalfiefees. Hoeveel het terugvoer vanuit die gehoor bygedra tot die afronding van die album?

Van die begin af was die gehoor meestal vrygewig met insae – veral ten opsigte van hul gunstelingliedjies. Dit het in ’n groot mate vir my gehelp om te besluit met watter liedjies ek wil afskop as enkelsnitte en watter liedjies ek wil terughou tot die volle album uitkom. Hier en daar het mense terugvoer gegee oor hoe ’n spesifieke liedjie, of liedjies, spreek tot hul eie lewe of lewensfase. Dit was vir my hartroerend, en by tye selfs emosioneel. Dit het wel aan my beaam dat my eerlike vertellinge, my rou weergee van my eie ervaring in die musiek, iewers ’n hartsnaar pluk en tot mense spreek. Ek het besef dat die temas wat ek aanraak, werklik universeel is, dat my lewensreis nie uniek is nie. My lewe is bloot ’n skakering van soveel ander mense s’n. Hier en daar was daar ’n brawe vriend of vriendin wat insae gelewer het oor my aanbieding en voorstelle gemaak het van hoe om my aanbieding te verbeter. Dit is altyd moeilik om sulke terugvoer te ontvang, maar terselfdertyd is ek so dankbaar daarvoor. In die kunste streef mens tog altyd na beter doen. Die kuns lê wel daarin om te weet wanneer om op te hou luister na ander, en te vertrou op jou instink en ervaring.
Jou onlangse enkelsnitte “Rustyd en herhaal” (2025), “Die oral” (2026) en “Die lyf” (2026) het heelwat radio- en televisiespeeltyd gekry. Kom jy dit agter in hoe mense reageer tydens jou optredes?
Ja, juis ten opsigte van “Die oral”. Dit was by verre van dag een af die gewildste liedjie onder my gehore. “Rustyd en herhaal” vermoed ek spreek tot baie mense, omdat ons almal so hard werk en min tyd opsy skuif om tyd aan onsself te spandeer. Baie mense is moeg, en besef dit nie eers nie. Wat “Die lyf” betref: Die liedjie laat altyd mense so bietjie lag – veral wanneer ek die storie agter die liedjie deel. Dit sorg altyd vir ’n speelse, ligte oomblik in die vertoning. Weer eens dink ek dit is ’n tema waarmee meeste identifiseer – vroue én mans – omdat ons samelewing nog net so behep met skoonheid en perfeksie is as wat dit eeue terug was. Ons bly onsself pal weeg (pardon the pun). In teendeel tot wat die gesegde spreek, vind onsself meestal te swaar. 😉
Die musiekvideo’s vir “Die oral” en “Die lyf” is beide vir rotasie op kykNET se musiekkanaal gekeur. Help so iets ’n kunstenaar?
Ek moet eerlik wees, ek is nie seker nie. Ek het nog nie werklik ervaar dat die rotasie van my musiekvideo’s op kykNET daadwerklik oorskakel in kaartjieverkope nie. Ek dink die proses is baie meer organies – dit het baie meer te make met “gesien wees”. Ek sal dit baie geniet as mense wat my ontdek het op kykNET my tog sal laat weet. Dalk sal ek so ’n vraag dan beter kan beantwoord. Maar, mens doen moeite met jou musiekvideo’s, en dit is altyd ’n wonderlike gevoel as kykNET jou musiekvideo aanvaar. Dit is ’n pluimpie en open tog deure na ’n splinternuwe luistertal. Ons het nie meer baie plekke in Suid-Afrika waar ons ons musiek werklik ten toon kan stel nie. KykNET is nog een van die laaste platforms, en daarvoor is ek diep dankbaar.
Jy het ook die musiek na Europa geneem met die produksie Droomland. Hoe verskil Europese gehore se reaksie op jou musiek van dié van ’n Suid-Afrikaanse gehoor?
Ek dink nie soseer dat die reaksie op my musiek verskil nie. Die verskil lê meer vir my in bywoning. Die meeste Suid-Afrikaners wat my vertonings bywoon, geniet dit. Daar sal mos maar altyd iemand wees wat dit nie geniet nie (smaak verskil), maar meestal is ontvangs goed en positief. Die uitdaging in Suid-Afrika is eerder om mense te kry om ’n vertoning by te woon of om die bywoon van kultuuraktiwiteite belangrik te ag. My ervaring in Nederland is dat mense minder versigtig is om iets te gaan kyk of vir iemand te gaan luister wat hulle nié ken nie. Nederlanders se smaak is ook dikwels meer divers, of sal ek eerder sê, daar is begrip vir diversiteit in genre en styl, en dat hulle ’n groter waardering daarvoor het. Hulle heg ook baie waarde aan die kunste en die belang daarvan in die samelewing, spesifiek ten opsigte van ontspanning, as opsie vir sosiale samekoms, intellektuele stimulasie, pret (natuurlik), en die behoud van ’n nasie se kultuurryke landskap. In Suid-Afrika is ons gehore nog effe versigtig wat dit betref – bedoelende, ons mense is soms bang om iets te gaan kyk of na iemand te gaan luister wie ons nié ken nie of buite ons verwysingsraamwerk is. Ek skryf baie daarvan toe aan ons ekonomiese toestand – ons het net eenvoudig nie so baie vryelik bruikbare kontant nie. Ons mense moet meer selektief kies hoe ons ontspan en waarop ons bereid is om geld uit te gee. So ja, om te vergelyk voel onregverdig. Ek doen dit wel om my eie voortbestaan te verseker – daarom dat ek tog gereeld Nederland toe gaan om te gaan optree en aanvullende inkomste te verdien. Dit is ook vir my fantasties om daar na teater, shows en so meer te gaan kyk, en om die standaard van my eie werk daaraan te meet. Baie van my vriende in Nederland gaan so veel soos een keer per week teater toe of gaan kyk ’n musiekkonsert van een of ander aard. Daar is soveel opsies. Ek geniet dit vreeslik baie.
Jy was nog nooit iemand wat backtracks en goete gebruik nie, maar onlangs het jy elektroniese komposisies in jou ateljee-opnames én verhoogvertonings begin gebruik. By die vertoning wat ek bygewoon het, is dit goed ontvang. Vertel meer?

Ja, dit was ’n interessante verwikkeling in my lewe. Dit was wel ook doelbewus. Vir baie lank is die gebruik van backtracks ’n skeldgedagte vir die meeste in die kringe waarin ek beweeg. Maar soos die digitale era ontwikkel het, die maak van musiek op elektroniese vlak meer en meer divers, interessant en ook algemeen geraak het, gebruik baie musikante en groot bands deesdae elektronika as aanvulling tot hul lewende optredes. Ek sal nooit ophou om instrumente te speel en akoestiese shows aan te bied nie, maar ek geniet nou die nuwe speelproses van die inkorporering van elektronika, nie net in die skeppings- en opnameproses nie, maar ook op die verhoog. Wat dit my toelaat, is om meer kreatief te raak en myself in nuwe style en genres uit te druk; en dit is meer koste-effektief. Hierdie is alles dinge wat ons as musikante maar moet oorweeg in ’n wêreldindustrie waar ons opnames nie meer veel geld werd is nie – al bly die skeppings- en opnameproses steeds tydsaam en duur. Een ding wat ek vir jou kan sê, is dat ek hierdie nuwe rigting terdeë geniet, en soveel soos wat dit vir my angswekkend was om die nuwe klank aan my ou aanhangers bekend te stel, was dit ook bevrydend en genotvol om te sien hoe my skryf- en sangstyl ontwikkel het binne hierdie nuwe klankwêreld. Ek is baie dankbaar vir die veilige waters wat André vir my beskikbaar gestel het om my toontjies in te dompel.
Wanneer jy Die reisigers bekendstel, gaan Mauritz Lotz op kitaar en André Scheepers op klavier jou begelei. Ek ken jou as die meisie met die klein wit bakkie. Wie gaan voor in die kajuit inbondel en wie gaan agter tussen die toerusting moet opkrul?
Ja, ek voel half sleg. My getroue Bantam gaan by die huis moet bly. Hy is meer ’n one-woman-kind-of-ride. Maar ek vermoed hy is so stilweg verlig, want hy het nou al 500 000+ km gery en hy begin skud en kraak op plekke waar hy voorheen tjoepstil was. Bantam sal waarskynlik iewers in die nabye toekoms moet dink aan aftree. Maar nie een van ons is al reg vir daai move nie. Met die nuwe Reisigers-toer gaan ons wel ’n groter voertuig of twee moet inspan, want nie net Mauritz en André kom saam nie, maar ook Briers Coetzee. Hy is ’n gerespekteerde klankingenieur. Vir die eerste keer het ek besluit ek wil iemand wat in die veld spesialiseer saam met my op toer bring om seker te maak die gehoor kry die beste moontlike klankervaring, waar ook al ons speel. Ons sal maar sien watter interessante stories uit die toerkar uit kom. Dalk hou ons maar die stories op die pad. Daar is mos so ’n reël – what happens on tour, stays on tour. 😉
Grappies op ’n stokkie. Lotz en Scheepers gaan ’n heel nuwe dimensie bring na die verhoogvertonings. Vertel meer?
Ja, Scheepers se rol is om seker te maak dat die klanke wat ons op die album hoor, ook op die verhoog genot verskaf. Ek en André het albei klawerbord gespeel op die album. Wanneer ek nie speel nie, sal André speel. Verder sorg hy vir die elektronika en voeg hy ook glitteragtige klanke met sy sampler by. Mauritz gaan in gesprek tree met die songs, die klaviere, my kitaar en die elektronika. Sy kitaarspel is, soos almal weet, veelsydig en sal op ’n filmiese manier bydra tot die klank wat die gehore gaan ervaar. Ek sien daarna uit om dit met Mauritz te workshop in aanloop tot die toer. Ons begin eersdaags repeteer. Wat ek wel kan sê, is dat wat mense op die verhoog gaan ervaar, effe anders gaan wees as wat hulle op die album ervaar. Die album sal dien as fondasie, maar ons interaksies gaan gedeeltelik geoefen en gedeeltelik geïmproviseerd wees. My droom is tog om van hierdie shows op te neem en as bootlegs op my Bandcamp-profiel beskikbaar te stel na afloop van die toer.
Maar dis nie al nie. (Ek klink nou soos ’n Verimark-advertensie.) Theo Paul Vorster speel ook saam. Vertel meer, asseblief? Ry hy in ’n Venter-sleepwa agter die bakkie?
Ek speel al lank reeds met die idee om saam met Theo Paul Vorster te werk. So twee jaar terug het ek hom genader om die albumkuns van Dis die dors en Harmony te doen. Ek was wel ’n bietjie laat en hy was reeds besig met ’n groot kunsuitstalling vir die Woordfees. Die lewe maak toe eintlik baie mooi met ons. Partykeer plant mens saadjies en spruit hulle op presies die regte tyd. Ek het beplan om Die reisigers in 2026 bekend te stel, en Theo het beplan om sy twintig jaar van werk met lino te vier met die uitstalling The shape of passage. En raai waaroor gaan sy uitstalling? Beweging, tyd, reis, vlug. Ek het by ’n huiskonsert gespeel waar hy ook was. Theo wou my nooi om by sy uitstalling te sing. Ek wou hom nooi om die kuns vir my nuwe projek te maak. En die res is geskiedenis. Theo het sedertdien ’n reeks van tien kunswerke gemaak – een vir elke liedjie wat ek geskryf het. Dié kunswerke is ’n interpretasie van my lirieke en musiek. Die kuns sal waar moontlik op die verhoog geprojekteer word tydens die vertonings. Die kuns word ook in boekvorm saam met die stories agter die liedjies, die lirieke en QR-skakels na my liedjies saamgevat. Tien eksklusiewe afdrukke per kunswerk is ook beskikbaar op bestelling, sou een van die werke tot ’n Luna- en/of Theo-aanhanger spreek. Die oorspronklike linowerke sal op ’n spesiale geleentheid met olie geverf, uitgestal en verkoop word. T-hemde en stickers sal ook beskikbaar wees by my shows.
Die datum waarna almal uitsien, is 4 September. Vertel meer oor jou reisplan?
Daar is twaalf vertonings, van 4 September tot 1 November 2026 in Swellendam, Stellenbosch, Kaapstad, Gqeberha, Oos-Londen, Bloemfontein, Pretoria, Johannesburg, Hilton, Kloof en Durban.
Vrydag 4 September | Miss Ruby Presents | The Teatro at Ten on Main | Swellendam | 19:30 | R250 | Besprekings: Moira by +27 82 448 8166
Vrydag 11 September | Drostdy Teater | Stellenbosch | 19:00 | R100–R250 | Kaartjies beskikbaar by Webtickets | Koop HIER
Woensdag 16 September | The Galloway Theatre | Waterfront Teaterskool | V & A Waterfront | Kaapstad | R200 | Kaartjies beskikbaar by Quicket | Koop HIER
Donderdag 17 September | The Music Kitchen | Gqeberha | R180 | Kaartjies beskikbaar by FIXR | Koop HIER
Vrydag 18 September | The Summit Lifestyle Event Centre | Oos-Londen | 19:00 | R150–R195 | Kaartjies beskikbaar by Quicket | Koop HIER
Donderdag 22 Oktober | Sterrewag | Bloemfontein | 19:00 | R150 | Besprekings: Neil by +27 832821306 / neilnachtrein@gmail.com
Vrydag 23 Oktober | St Albans College Theatre | Pretoria | 19:00 vir 19:30 | R150–R195 | Kaartjies beskikbaar by Quicket | Koop HIER
Saterdag 24 Oktober | Die Pienk Kerk | Melville | Johannesburg | 19:00 | R450 (ete ingesluit) | Kaartjies beskikbaar by Quicket | Koop HIER
Saterdag 31 Oktober | Krantzkloof Geloofsgemeenskap: Damestee | Kloof | KwZulu-Natal | 09:30 vir 10:00 | Kaartjies vanaf 8 September op Quicket beskikbaar.
Saturdag 31 Oktober | Chamberlain Music Centre | Hilton College | Hilton | KwaZulu-Natal | 19:00 | R160 | Besprekings en navrae, kontak Charles by +27 82 331 7271 of koop kaartjies by Quicket | Koop HIER
Sondag 1 November | Seabrooke’s Theatre | Durban Boys’ High | Musgrave | Durban | 15:00–17:30 | Kaartjies beskikbaar by Quicket | Koop HIER
Die toer is moontlik gemaak deur Maryna Pieterse (Adfinity Consulting), Die Damhuis Restaurant en EGA Attorneys & Properties. Foto’s en video’s: Ansurette Pretorius, Orcansu Productions. Kuns: Theo Paul Vorster. Albumontwerp en -drukwerk: African Sun Media.
Waar gaan ons die album kan luister of koop?
My vier enkelsnitte – “Rustyd en herhaal”, “Die oral”, “Die lyf” en “Die tas” (2 September 2026) – is beskikbaar op al die musiekplatforms (Apple, i-Tunes, Spotify, YouTube en so meer). Die volle album sal slegs op my Bandcamp-profiel beskikbaar wees. Daar kan mense die album gratis stroom of ’n digitale weergawe koop om te besit. Daar is ook ’n aanlyn winkel waar mense die fisiese albumboek, Theo se kunsafdrukke, my T-hemde en stickers kan bestel. Hoekom Bandcamp? Hulle is die enigste musiekplatform wat kunstenaars ordentlik betaal. Ook, sou aanhangers kies om my produkte op ’n Vrydag aan te skaf, verdien ek 100% van die inkomste en vat Bandcamp geen kommissie op die verkope en/of stroom van my musiek nie. Bandcamp is by verre die mees kunstenaarvriendelike platform, en daarom het ek besluit om hulle as my one-stop-music-shop in te span. Ek hoop my aanhangers ondersteun daar. Bandcamp het ’n app wat fans kan aflaai. Mens kan ook net direk op die internet gaan en die musiek gratis op my profiel stroom. Daar is geen koste aan verbonde nie. Music | Luna Paige.
Laastens: Ek, en die ander in die gehoor, ervaar jou altyd as ’n goeie storieverteller. Jy maak musiek, maar jy gesels ook lekker oor die musiek. Ons sal die album dus op ’n ander manier moet benader sonder jou as gids. Watter voorstelle het jy vir luisteraars om na op te let wanneer ons die album speel?

Die opwindende antwoord hier is dat ek besluit het om vir die eerste keer in my lewe die stories wat ek gewoonlik op die verhoog vertel, op papier te sit. Daarom dat ek tydens die vertoning eerder my stories in nuwe haikoevorm gaan voordra. Die albumboekie sal dan ’n uitgebreide weergawe van die stories wat ek voorheen vertel het, vervat. Diegene wat dus alreeds die vertoning ervaar het, sal splinternuwe insae hê. En diegene wat nog nooit die stories gehoor het nie, sal dit in boekvorm kan aanskaf. Ek mis die dae van iets in jou hand vashou wanneer jou gunstelingkunstenaar ’n nuwe album uitgee. Ek wou vir my fans iets gee om huis toe te neem – ’n versamelitem, iets wat op die koffie- of bedtafel kan rus om oor en oor geniet te word. Ek glo Die reisigers-boek met sy stories, lirieke, kuns en musiek sal so ’n bron van plesier wees en ook ’n lieflike geskenk maak vir enige een wat deur ’n verandering gaan, wat droom van reis, avontuur, wat diep dink oor die lewe of wat net eenvoudig lief is vir reis, musiek, kuns en mooi woorde.
- Swart-en-witkiekes deur Izak de Vries

