
Didi Potgieter se stomende romanse Hoe om ’n hart te steel het pas verskyn. Naomi Meyer en Izak de Vries het haar vyf vrae elk gevra.
Van Naomi: Didi, ek kyk vinnig na jou profiel op LAPA se webbladsy. Jy skryf al romanses van 2014 af. Wanneer het jy besluit: Dit is wat ek wil doen? Of het die eerste boek gebeur en toe besef jy, jy kán dit doen?
Ek was maar nog altyd ’n kranige liefdesverhaal-leser, maar ek het nooit gedink ek sal dit kan skryf nie, tot my finalejaarsopdrag in Skryfkuns my gedwing het, en daarvan af wou die stories my nie los nie.
Mense kan dink dis maklik om ’n sekere boek vir ’n sekere genre te skryf: kinderboeke, liefdesverhale, tydskrifverhale. Wat dink jy – is dit maklik om ’n liefdesverhaal/romanse te skryf? (En noudat jy al ’n paar sulke stories geskryf het: Is daar enige vorm van ’n resep wat jy kan verklap?)
Ek sê altyd dit is soos om 18 koeke volgens dieselfde resep te bak, maar elkeen moet uniek en lekker smaak – dit is vrek moeilik. Die lesers weet wat hulle wil hê en sal jou nie vergewe as hulle dit nie kry nie. Die beste brokkie raad wat ek kan gee is: Die gelukkige einde is ononderhandelbaar en die leser moet geboei wees met die pad daarheen.
Kom ons wees eerlik. ’n Akteur wat ’n vrolike rol op die verhoog of TV vertolk, voel dalk glad nie in sy binneste so opgewek nie. En as ’n mens vir ’n sekere genre skryf en daar moet altyd gelukkige liefdeseindes wees (praat ek nou snert? MOET dit altyd enduit alles goed uitwerk?), maar in ’n mens se persoonlike lewe voel ’n mens dalk op daardie gegewe dag maar vies vir die liefde of teleurgesteld in gelukkige eindes. Hoe skryf ’n mens dan op daardie dag jou karakters se liefdesverhaal?
Liefdesverhale is my lewensboei in die stormsee wat ons die lewe noem. Die wêreld wat ek tussen die blaaie skep, word soms my wegkruipplek – dit is handig om “die lewe” so te manipuleer dat alles mooi en goed uitwerk – al is dit net die fiktiewe lewe van die karakters in my stories.
Dit is tog nie altyd maklik om te skryf nie. Waarom skryf jy NOG?
Want ek moet. Dit keer dat ek nie al my varkies verloor nie. Boonop is karakters vreemde goed, as hulle snuf in die neus het dat jy hulle storie raak gedink het, los hulle jou nie uit tot jy die laaste punt van die laaste sin tik nie.
Vertel my van jou jongste boek Hoe om ’n hart te steel. Wat het jou die idees vir hierdie storie gegee? Waarom en vir wie het jy dit geskryf?
Hierdie boek is ’n opvolg van Hoe om ’n hart te wen wat in 2017 gepubliseer is. Die storie het my baie na aan die hart gelê omdat ek dit in herinnering aan my pa geskryf het, wat die vorige jaar oorlede is. In die boek het ek die karakter Albert (na my broer vernoem) geplant en toe reeds besluit dat hy ’n storie kort. Albert en Milan het lank vir my gelê en wag, maar die verhaal het iets gekort. Toe ek verlede jaar gevra is om ’n Stoom te skryf, het ek geweet dit is presies wat die twee gekort het en ek is baie tevrede met die gelukkige einde waarvoor die twee so lank moes wag.
Van Izak: Jy het onder Cecilia Britz begin skryf. Haar wette was streng, maar dit het Romanza laat blom. Daar is deesdae nuwe uitgewers wat die roer vashou. Is dit same old, of is daar verandering te bespeur vir die lesers?
Afrikaanse lesers is reg vir warmer stories, maar ou waarhede soos respek vir die leser en die genre, goeie taalgebruik en die getrouheid aan die gelukkige einde staan vas.
Hoe om ’n hart te steel is in die Stoom-kategorie. Dit dra ’n etiket van 18+. Jou karakters was nooit juis preuts vantevore nie, maar nou, sssjoe... Verduidelik wat ssso ssstoom?
Hierdie boek was beslis ’n waagstuk, al het ek tydens die inperking ’n novelle in dieselfde genre geskryf. Ek het nog nooit die kamerdeur toegetrek in my boeke nie, ek nooi nou net die leser nader aan die bed en soms saam na meer gewaagde plekke.
Ek keer terug na Britz. Sy het altyd gesê Romanza is eintlik feministies, want dit stel die vrou se behoeftes eerste. Dink jy ook so?
Beslis, en ek dink dit is waarom Stoom (die erotiese 18+) so goed doen. Dit gee vroue amper toestemming om hulle vrouwees uit te leef en seks te geniet.
Albert du Randt en Milan se boetie is nie noodwendig oulik nie. Veral nie aan die begin nie. Dink jy mans is slim genoeg om gered te word deur vroue soos Milan?
Ek glo liefde kan almal verander, maar ek dink nie Albert het nodig gehad om gered te word nie. Hy het net nodig gehad dat iemand kleur bring in sy swart en wit bestaan, en Milan was die regte persoon daarvoor. Liefde moenie hoop om te verander nie, maar om die beste uit die ander persoon te bring.
Ek dink ons mans het nog baie om te leer wanneer stoom ter sprake kom. Sal manne iets kan leer in Hoe om ’n hart te steel?
Ek dink hulle sal kan, al is dit net dat ’n vrou soveel vriendeliker is ná ’n goeie, lekker liefdesverhaal.


Kommentaar
Ek is mal oor Didi se boeke. Soek eerste as ek by boekplek kom. Parkers-reeks, fantasties!