In gesprek met Bernard Lategan: Gevorderde Navorsingsinstitute as keerwal teen vervlakking

  • 0

Pieter GR de Villiers gesels met Bernard Lategan oor sy artikel “Institute vir Gevorderde Navorsing: Elitistiese luuksheid of bakermat van die wetenskap?” wat in LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling verskyn het.

.............

Bernard Lategan (Foto: verskaf)

Waarom was dit vir jou belangrik om hierdie artikel te skryf? Hoe het jou belangstelling in Stias en Institute vir Gevorderde Navorsing ontstaan? Kan jy meer vertel oor hoe jou eie akademiese loopbaan ontwikkel het tot met jou betrokkenheid by Stias?

Institute van hierdie aard is al byna ’n eeu lank deel van die akademiese toneel. Nogtans bly hulle relatief onbekend. Daar is verskeie redes hiervoor – en sulke institute het self ook skuld aan hierdie toedrag van sake. Hulle is oor die algemeen sku vir die kalklig en doen hulle werk meestal agter die skerms. Maar naas onbekendheid is daar ook baie wanopvattings in omloop. Die agterdog is deels te wyte aan die ontploffing van IGN’s wêreldwyd sedert 2000, toe hulle soos paddastoele opgespring het en talle universiteite daarna gestreef het om so ’n instituut te vestig. Die groep universiteitsgebaseerde IGN’s (Unibas) tel al bykans vyftig lede, maar daar is nog heelwat ander wat nie tot hierdie konsortium behoort nie. Baie vertoon min van die oorspronklike kenmerke van ’n IGN en is in sommige gevalle net ’n gerieflike instrument vir die betrokke universiteit om sy eie navorsingsprogram te bevorder. Dit is daarom geen wonder dat die idee van ’n IGN in baie kringe met agterdog bejeën word nie.

Dit was vir my belangrik om in die artikel aan die een kant die oorspronklike idee van ’n “ware” IGN te verduidelik en aan die ander kant soveel as moontlik van die misverstande uit die weg te probeer ruim.

Wat die ontstaansgeskiedenis van Stias betref, was dit (soos met baie dinge in die lewe), deels te danke aan ’n groot skeut gelukkige toeval (“serendipity”) en deels aan doelgerigte beplanning. Met die oorgang na ’n inklusiewe demokrasie in 1994 het baie instellings en die meeste Suid-Afrikaners voor die vraag te staan gekom: Hoe nou verder? Hoe moet ons die samelewing nuut inrig en wat behoort my bydrae daartoe te wees? Aan die een kant was daar opgewondenheid en ’n ongekende belewing van vryheid, en aan die ander kant onsekerheid oor die toekoms. Universiteite was nie hiervan uitgesluit nie. In die lig van verskille in agtergrond en geskiedenis moes elke instelling besin oor wat sy besondere bydrae tot die “nuwe” Suid-Afrika gaan wees. Stellenbosch, wat ’n sekere deel van die bevolking so uitstekend oor dekades gedien het, kon nie voortgaan asof niks gebeur het nie. Die universiteit het voor ’n dubbele uitdaging gestaan: Aan die een kant moes sy aandeel aan die ontstaan en uitbou van apartheid vierkantig in die oë gekyk en rondborstig erken word. Aan die ander kant moes die universiteit ’n sinvolle rol in die nuwe bedeling vind. Deel van die oplossing was om die tradisie van ’n uitstekende navorsingsuniversiteit voort te sit, maar om die skopus te verbreed. Voortaan sou die fokus nie meer op een deel van die bevolking wees nie, maar op alle Suid-Afrikaners. Trouens, die meer ambisieuse doelwit was ook om tot diens van die hele kontinent te wees.

Geen universiteit – en veral nie Stellenbosch nie, gegee sy geskiedenis – kon sonder meer so ’n nasionale, inklusiewe aanspraak maak nie. Dis ’n rol en reputasie wat die instelling eers moes verdien deur sy optrede. Die ideaal om wyer van diens te wees is in die Strategiese Raamwerk van destyds uitgespel en op verskillende maniere prakties toegepas. Een daarvan was die stigting van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (met die veelseggende akroniem Signa). Die leidende gedagte hierby was: As Stellenbosch daarna streef om ’n sterk navorsingsgerigte universiteit te wees, hoe kan hierdie bate vir die hele land en vir alle voornemende navorsers beskikbaar gestel word? Hoe sou die navorsingskundigheid en navorsingsbydrae van die land – en trouens van Afrika in sy geheel – versterk kon word?

Stias het dus van die begin af nasionale – en kontinentale – ambisies gehad. Die mees gepaste naam sou trouens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Gevorderde Navorsing gewees het, gegee die feit dat so ’n instelling nog nêrens in die land bestaan het nie. Maar weer eens kon Stellenbosch nie eenvoudig hierop aanspraak maak sonder die instemming van die ander Suid-Afrikaanse universiteite en van die onderwysowerhede nie – wat op daardie stadium hoogs onwaarskynlik was. Die strategie was dus om aanvaarding en respek te verdien deur klein te begin, om eers te kruip voor geloop word, en om van die begin af navorsers van ander universiteite na Stias te nooi. Soos in die artikel verduidelik word, is gedurende die beginjare geen kollegas van Stellenbosch as navorsingsgenote genooi nie, om dit duidelik te maak dat die instituut nie ’n parogiale instelling is nie. (Die verbod op Stellenbossers is gelukkig intussen opgehef!)

Die werklike stigting het ’n interessante aanloop gehad. Walter Zimmerli, ’n bekende Duitse akademikus, het in 1996 ’n lesing op kampus aangebied waarin hy die idee van ’n instituut vir gevorderde navorsing vir Stellenbosch voorgestel het. Walter Claassen, die destydse viserektor: navorsing, was van die begin af entoesiasties en ’n verbete kampvegter vir die idee. Met die ondersteuning van die rektor, Andreas van Wyk, het die instituut in 1999 deur ’n Raadsbesluit tot stand gekom. Hoewel die universiteit dus die inisiatief geneem het om Stias op te rig, was die bedoeling van die begin af om dit as ’n nasionale, onafhanklike instelling te ontwikkel. Die medewerking van en aanvaarding deur ander universiteite binne en buite Suid-Afrika het hierdie proses bespoedig, en deur ’n verdere Raadbesluit van 2008 het die instituut amptelik ’n selfstandige openbare-voordeel-organisasie (OVO/PBO, Public Benefit Organisation) geword.

Jy vra ook oor my persoonlike betrokkenheid. Soos met almal die geval is, begin mens maar iewers in die lewe – om dan ’n draadjie te volg wat vertak en weer vertak en jou uiteindelik met ’n hele netwerk van ander mense, ervarings en idees verbind. Dis eers agterna dat mens jou verbeel daar was ’n patroon in al die toevallighede. In my geval was die begin die plat-op-die-aarde en sien-tot-in-volgende-week-in Vrystaat met ’n klassieke (Skotse) byvoeging. In die laat vyftigerjare was daar ’n aantal Skotse professore aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (veral in regte en Klassieke tale). Die storie was dat prof Steven (Latyn) dit soos ’n ware Skot goedkoper gevind het om Desembermaande met die trein na Kaapstad en die posboot na Southampton te reis en die Kersvakansie (gratis) by sy familie in Skotland deur te bring as om in Bloemfontein te bly. In my geval het Sas van Rooij (’n Oxford-geskoolde don) en Jannie Louw (student van die vermaarde PV Pistorius van Pretoria) my aan die Klassieke oudheid en Griekse taalkunde bekendgestel. Om die raaiselagtige Griekse lettertjies te ontsyfer en die hartklop van ’n eeu oue grammatika te ontdek het ’n nuwe (hoewel antieke) wêreld oopgemaak wat gou na geskiedenis, drama, retorika, kuns en filosofie gelei het. Die saadjie om te probeer verstaan, om sin te maak, om tussen wêrelde te beweeg, het vroeg ontkiem. Ná Stellenbosch (met onder andere Hugo, Fensham en Degenaar) het die Nederlandse akademiese wêreld my geleer hoe vlymskerp, reguit maar ook verdraagsaam akademiese debat kan en behoort te wees. Die groot geluk was om met my terugkeer by Wes-Kaapland te land waar die akademie nooit net abstrakte teorie was nie, maar gedurig gevoed en uitgedaag is deur die roue werklikheid. En hierdie deurleefde werklikheid het die onsinnigheid van gewaande meerderwaardigheid en ideologiese vooroordele genadeloos ontmasker. Dit het op sy beurt ’n groter en bevrydende wêreld geopen en duidelik gemaak hoe die beleid van diskriminasie en die beheptheid met afsondering en uitsluiting ons bevoorregtes net verder verarm en vervlak het. Die proses om te probeer verstaan het ononderbroke en met ’n groter dringendheid voortgegaan.

Die skuif daarna toe ek by jou, Johann Kinghorn en Lukas Muntingh op Stellenbosch aangesluit het, was nog een van daardie gelukkige toevalle. Ons was nie in die beskermde omgewing van ’n fakulteit van eendersdenkendes wat dieselfde uitgangspunte gedeel het nie, maar moes ons akademies probeer handhaaf omring deur sosioloë, politieke wetenskaplikes, filosowe, letterkundiges, skeptiese joernaliste en ander met wie ons teekamers en nimmereindigende gesprekke gedeel het – om van historici, geograwe, ekonome, sielkundiges en die kunste nie te praat nie.

Hierdie multidissiplinêre ervaring is verder versterk toe ek tussen 1996 en 1999 betrokke geraak het by die strategiese beplanning van die universiteit – gedurende die oorgangstyd waarna ek reeds verwys het. Die universiteit moes homself nie alleen vir die toekoms posisioneer nie, maar was verplig om elke studiekursus opnuut by die Departement van Hoër Onderwys te registreer. Wat vir baie net ’n burokratiese las was, het die universiteit aangegryp as ’n geleentheid om te besin waarom kursusse lyk soos hulle lyk en of daar nie iets nuuts en beter in hul plek gestel behoort te word nie. Die geleentheid om by 11 fakulteite betrokke te raak en ’n insig te kry in die doel en samestelling van letterlik elke universiteitskursus was besonder waardevol. Dit het gou duidelik geword hoeveel oorvleueling en duplisering plaasvind – maar ook hoeveel geleenthede daar vir samewerking en verryking oor fakulteite en oor dissiplinêre grense heen moontlik is. Dit was goeie voorbereiding vir wat later in Stias verder uitgebou sou word.

Stias, die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (Foto: Anton Jordaan, SSFD)

Wat is vir jou tot dusver die belangrikste mylpale wat Stias en soortgelyke instellings behaal het?

Stias het uit die staanspoor drie kerndoelwitte nagestreef: om internasionaal as ’n leidende navorsingsinstelling erken te word, om diensbaar aan die hele Suid-Afrikaanse navorsingsgemeenskap te wees, en om ’n beduidende rol in Afrika te speel.

Om ’n internasionale profiel op te bou verg tyd en geduld. Deur van die wêreld se voorste navorsers na Stias te nooi (insluitende ’n aantal Nobelprys-wenners) het die Instituut geleidelik bekend geraak en ’n lojale korps van navorsingsgenote opgebou wat as “ambassadeurs” vir Stias opgetree het. Stias het ’n belangrike mylpaal in 2018 bereik toe dit (as die enigste IGN in Afrika) genooi is om die tiende lid van die uitgelese groep “gevestigde” IGN’s te word. Die groep sluit die oorspronklike IGN van Princeton in, en ook dié van Harvard, Stanford, Uppsala, Berlyn, Jerusalem, Amsterdam, Nantes en die National Humanities Center in Noord-Carolina.

Die tweede doelwit was om daadwerklik as ’n nasionale bate vir alle Suid-Afrikaanse navorsers erken te word. Om navorsers van alle Suid-Afrikaanse universiteite aktief te betrek, die navorsingprioriteite van hierdie instellings ook te ondersteun en byvoorbeeld rektore van Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite te nooi om op die direksie te dien, het baie gehelp om aanvanklike argwaan te oorwin. Dis baie bevredigend om te sien hoe Stias toenemend as ’n “veilige” ruimte ervaar word, as ’n eerlike of neutrale bemiddelaar wat nie seksionele belange nastreef nie, maar waar in plaas van die gebruiklike mededinging tussen universiteite oor dissiplinêre en institusionele grense saamgewerk kan word in belang van die wetenskap in sy geheel.

Derdens was die doel om aan topnavorsers in Afrika (wat dikwels elders in die wêreld ’n heenkome moet vind) ’n tuiste op eie bodem te bied waar hulle hul navorsingsideale kan nastreef en hul ambisies kan uitleef. ’n Belangrike mylpaal was die Iso Lomso-program wat bedoel is om jong navorsers wat reeds doseerposte beklee, te help om hulle as leiers op hul gebied te vestig. Die program trek van die heel beste talent van regoor die vasteland en met elke jaar se inname word die “bank” van hierdie toekomstige navorsingsleiers vergroot en versterk. Verder is Stias ’n ankerpunt van verskeie navorsingsnetwerke in Afrika en het dit in ’n gesogte navorsingsbestemming ontwikkel. Met die aanstelling van Edward Kirumira, ’n sosioloog uit Uganda met Kopenhagen- en Harvard-agtergrond wat in openbare gesondheid spesialiseer, as nuwe direkteur in 2018, is die verbondenheid met Afrika verder versterk.

Die mylpale wat Stias bereik het, dien die oorkoepelende doelwit wat susterinstellings in ander dele van die wêreld nastreef, naamlik om die vlam van onafhanklike en vernuwende navorsing wêreldwyd brandend te hou.

Watter uitdagings is daar tans vir Stias en soortgelyke instellings? Hoe raak die grendeltyd die instituut?

Ja, die pandemie slaan ons en ons vennote net so hard soos ander dele van die samelewing. Die verbod op internasionale reise, die beperkings op gastehuise, groter byeenkomste en verkeer op kampusse beteken dat ons vir ’n tyd lank in ons spore gestuit was. Susterinstellings verkeer onder dieselfde druk. Oor ’n paar maande hoop ons om weer stadig op dreef te kom, maar dit gaan nog ’n tyd duur voordat ons weer normaal kon funksioneer.

Daar is egter ’n ander kant van die munt wat ’n groot geleentheid vir IGN’s skep. As daar een ding is wat die huidige krisis duidelik gemaak het, is dit die kritieke rol van betroubare, akkurate en gesaghebbende data en inligting. Meer nog – die vind van ’n oplossing en die ontwikkeling van ’n effektiewe entstof is volledig van hoëvlak-, baanbrekende en hoogs gespesialiseerde navorsing afhanklik. Dit is vir almal duidelik dat hierdie soort navorsing geen luukse is nie, maar letterlik lewensbelangrik geword het.

Wanneer sou navorsing wel as eiesinnig (Flexner) of as ’n elitistiese luuksheid beskou kon word?

Daar is ’n dun lyn tussen die twee. Dit is goed om te onthou dat IGN’s op die lang duur net geduld sal word as hulle waarde toevoeg, as hulle iets doen wat universiteite en ander navorsingsinstellings nie doen nie. Die “eiesinnigheid” waarvan hier sprake is, is eintlik die vryheid wat alle navorsing behoort te kenmerk – die vryheid om enige vraag te vra, om teen die stroom op te roei, om geen koeie as heilig te beskou nie, om elke grens te toets, om die ondenkbare te dink. Of so ’n benadering altyd iets nuttig oplewer, is ’n ander vraag. IGN’s beweeg op die rand van dinge, moet bereid wees om te waag en te eksperimenteer – en daarom ook gereed wees om mislukking te aanvaar.

Maar is dit nie presies wat universiteite ook probeer doen nie? In wese bly die etos van goeie navorsing dieselfde – wie dit ook al doen en waar dit ook al plaasvind – aan ’n universiteit of aan ’n IGN. Die twee is onlosmaaklik aan mekaar verbonde – geen IGN (soos in die artikel verduidelik word), kan sonder ’n universiteit (of universiteite) bestaan nie.

Wat die situasie wel anders maak, is dat universiteite in die praktyk so oorlaai word met ander verantwoordelikhede en verwagtinge dat die kans om gekonsentreerd en intensief navorsing te doen al skraler word. Universiteite moet dikwels – heel onbillik meen ek – instaan vir foute wat in ander dele van die samelewing hul oorsaak het, en/of dit regmaak. Die onvermoë van die skoolstelsel om leerlinge universiteitsgereed af te lewer moet deur oorbruggingskursusse reggestel word. Gemeenskapsdiens, wat eintlik die verantwoordelikheid van die burgerlike samelewing en nieregeringsorganisasies is, word toenemend na die universiteit oorgeskuif. En die beroepswêreld verwag afgestudeerdes wat in alle opsigte “markgereed” is.

Die gevolg is dat tyd en middele vir ernstige navorsing ’n luukse vir die meeste akademici geword het. Geen wonder dat IGN’s dan as idilliese eilande gesien word waar die druk van die akademiese bedryf (tydelik) ontvlug kan word en die verblyf daar bloot as ’n ruskans geniet word nie. Dit is op hierdie punt dat IGN’s die gevaar loop om elitistiese luukshede te word wat die eintlike rede vir hulle bestaan versaak. Wanneer hulle egter reg funksioneer, is dit een van die belangrikste bates nie net vir universiteite nie maar ook vir die land as geheel. Dit pas IGN’s dus om beskeie te wees, maar ook om voortdurend selfkrities en waaksaam te bly.

Een van die groot voordele wat IGN’s wel kan bied, is die interdissiplinêre omgewing wat dit skep. Omdat hierdie institute in wese grensoorskrydend is, kan hulle in embrio as ’n ideale mikrokosmos funksioneer waar dissiplines en navorsingstradisies mekaar kan ontmoet, leer ken en waardeer, en idees, insigte en resultate met mekaar kan uitruil. Om hierdie rede vind baie navorsingsgenote dit ’n uiters stimulerende omgewing.

Dis nie dat universiteite nie ook hierna streef en dosente nie reikhalsend daarna verlang nie. Die strukturele opset van ’n omvattende universiteit ry sulke pogings egter eenvoudig voortdurend in die wiele. Om goeie organisatoriese en pragmatiese redes word lede van een departement in aangrensende kantore gehuisves, gedwing om dieselfde gebou en teekamers met aanverwante vakgebiede te deel, en saam in ’n afsonderlike fakulteit gegroepeer. Die kanse dat dosente in rekeningkunde met hulle kollegas in medisyne vakkundige gesprekke sou voer, of dat iemand in drama aan die werk van eweknieë in molekulêre biologie blootgestel sou word, is uiters skraal (soos die pogings om ons samelewing te herstruktureer en oor ou grense te beweeg steeds deur fisiese strukture soos histories geskeide woonbuurtes gepootjie word). Selfs studente uit verskillende vakrigtings mag in dieselfde koshuis woon of in dieselfde sportspan speel, maar die skuur van akademiese skouers en diepgaande intellektuele gesprekke oor die grense van die eie gebied bly vir die meeste ’n onbereikbare ideaal.

Watter implikasies het die huidige aktivisme van studentegemeenskappe vir gevorderde navorsing, ook in terme van hul eise om navorsing te dekolonialiseer? Watter rol speel opkomende navorsers en die menings van jong studente in institute vir gevorderde navorsing? En hoe word minderheidsgroepe by hierdie institute betrek?

Hierdie bevraagtekening van gangbare leerinhoude en heersende kennissisteme is van buitengewone belang vir IGN’s, omdat dit die kollig laat val op hoe kennis in die eerste plek tot stand kom. IGN’s gee hulself immers uit as plekke waar nuwe kennis ontdek word. Die proses van kennisskepping is gevolglik een van die kernbelangstellings van ’n IGN. Die wyse waarop hierdie uitdaging benader word, is egter wesenlik anders. IGN’s kies nie aktivisties kant in ’n dispuut nie, maar gee ’n tree terug en vra die meer generiese, oorkoepelende vrae: Watter leemtes stel hierdie opstand aan die kaak in ons heersende en oorgeërfde kennissisteme? Waarom was ons so lank blind daarvoor? Watter verstellings is nodig?

Stias wil juis ’n forum bied vir stemme wat andersins nie gehoor word nie – vir aweregse, onkonvensionele, buitenissige standpunte. Die voorwaarde is egter dat dit op ’n inklusiewe wyse gebeur – in gesprek met ander, botsende standpunte in ’n gemeenskaplike soeke na groter insig en begrip. Eerder as om die “gier van die maand” blindelings na te volg, is die doel om ’n veilige ruimte vir openhartige, kritiese en konstruktiewe gesprekke te skep. Ons ervaring dui daarop dat daar ’n groot behoefte bestaan aan sulke gesprekke – weg van die skerp lig van televisiekameras en in ’n meer persoonlike en vertroulike atmosfeer.

In die proses het ons ontdek hoe belangrik dit is om jonger stemme en opkomende geslagte van knap navorsers ’n inherente deel van die instituut se bedrywighede te maak. Dit is een van die groot dryfvere agter die Iso Lomso-program om ’n jonger kohort te betrek. Nie net gevestigde navorsers aan die einde van hul loopbaan nie, maar ook die sterre van die toekoms is noodsaaklik as ons ernstig is oor die voortdurende vernuwing van kennis en denke.

Word aandag daaraan gegee om gevorderde navorsing aan ’n gewone publiek bekend te stel?

IGN’s in die algemeen, en ook Stias, moet ruiterlik erken dat hulle tot dusver nie regtig daarin slaag om hulle navorsing en resultate aan die algemene publiek bekend te stel nie. Daar is (soos reeds aangedui) ’n ingeboude rede wat dit in die hand werk – institute van hierdie soort doen hulle werk meestal agter die skerms, in afsondering en in byna kloosteragtige omstandighede. Navorsers wil juis wegkom van die gedruis en in stilte op hul werk konsentreer. Maar hierdie voorwaardes vir skeppende denke behoort nie ook op die resultate van hierdie werk oorgedra te word nie. Stias reël wel openbare geleenthede waar van sy navorsers optree; die besonderhede van elke navorsingsgenoot en sy of haar navorsingsprojek(te) is op die webblad beskikbaar; publikasies verskyn aan die lopende band – maar dit is klaarblyklik nie genoeg nie.

Dit is opvallend hoe mense, selfs diegene met ’n universiteitskwalifikasie, sukkel om plasings op LitNet te verstaan, soos wat ’n mens uit hul kommentare op sosiale media kan sien. Mens kan verstaan as tegniese artikels vir mense te moeilik is. Maar in baie gevalle is dit heel toeganklike artikels wat duidelik bo mense se vuurmaakplek is en wat vir hulle kennelik te moeilik is. Die ergste vorm hiervan is dat sulke lesers dan boonop soms hoogs selfingenome spog met hul eie oningeligte sieninge. Die gevolge van hierdie anti-intellektuele tendens is uiteraard katastrofies, want wetenskaplike insigte oor klimaatsverandering, omgewingsbesoedeling en ’n ramp soos die COVID-19-krisis word geminag of eenvoudig geïgnoreer. Dieselfde tendens kry ’n mens elders in die wêreld, byvoorbeeld in Amerika, waar mense met hul weiering om maskers te dra en sosiale afstand te handhaaf, die wetenskaplikes openlik minag. Mens dink ook aan die gewildheid van samesweringsteorieë op sosiale media. Hoe sien jy hierdie anti-intellektuele tendens en wat kan wetenskaplikes doen om die groot gaping tussen wetenskap en die gewone mens te oorbrug? Is dit ’n kwessie wat in gevorderde navorsingsinstellings bedink word?

Jy lê jou vinger op een van die ernstigste probleme van ons tyd: intellektuele vervlakking. Die skouspelagtige resultate van die “digitale era” en die “netwerksamelewing” en die voordele wat dit meegebring het (blitsvinnige kommunikasie, wêreldwye reikwydte, ongekende rekenaar- en berekeningsvermoë, vrye beskikbaarheid van inligting, uitskakeling van rompslomp), is so oorweldigend dat die vervlakking en afstomping wat daarmee gepaard gaan, haas ongemerk ingesluip het.

Die radikale demokratisering van inligting (nie noodwendig van kennis nie en nog minder van wysheid) het ’n ewe radikale verlies van kritiese bewussyn tot gevolg gehad. Inligting is nie langer die uitsluitlike domein van ’n klein groepie “geleerdes” nie. Ook Jan Alleman het nou onbeperkte en ongekontroleerde toegang tot feitlik alle inligtingsbronne. Daar is nie meer waghonde of tussengangers wat die betroubaarheid van hierdie inligting deurlopend toets nie.

’n Student wat ’n werkstuk met knip en plak saamgeflans het, was baie verbaas toe ek hom vra wat op watter gesag sy gevolgtrekkings berus. “Die internet,” was die antwoord. Enigiets wat hy op die “net” kon opspoor, het vir hom dieselfde gewig gedra as ’n gesaghebbende ensiklopedie of vaktydskrif.

“Die internet” het dus ’n gesagsbron uit eie reg geword. Die moeisame proses van sifting en noukeurige kontrole, die veiligheidsnet van deeglike en onafhanklike ewekniebeoordeling het weggeval. So het die grens tussen wolhaarstories en krities-getoetste inligting vervaag.

Die gevolg – waarna jy tereg verwys – is die opkoms van ’n nuwe geslag van selfaangestelde, selfversekerde “deskundiges”. Mense wat onbewus is van die onbetroubaarheid van hulle bronne, maar nogtans selfingenome besluite neem met potensieel katastrofale gevolge. Medici vertel van pasiënte wat nie net die diagnose van spesialiste bevraagteken nie, maar aandring op ’n behandeling of medikasie wat hulle self op die internet opgespoor het.

Dit alles skep ’n reusegeleentheid vir fopnuus. Donald Trump mag die skreiendste eksponent hiervan wees, maar die verskynsel is beslis nie tot die VSA beperk nie. Ons moet ook onthou dat dit nie die eerste kennisrevolusie is wat die wêreld beleef nie. Die uitvinding van die drukkuns het ’n soortgelyke demokratisering van kennis veroorsaak en naas positiewe ontwikkeling het dit ook kwaksalwers in staat gestel om hulle eie fopnuus en wondermiddels deur middel van traktaatjies en boeke te versprei.

Die huidige krisis het egter ’n dieper grond. Ons leef in die eeu van die onmiddellike. Die beperkinge van afstand en die vertraging deur tydsverloop het weggeval. Die bekende sosioloog Castells praat van “timeless time” en “spaceless space”. Ons is in onmiddellike verbinding met almal oral en afstand vorm geen belemmering meer nie. Tyd vir besinning ontbreek. Sosiale media is op oombliklike kommunikasie ingestel en verwag onmiddellike reaksie. Nie alleen lei dit tot “eerste gedagte”- en “eerste vlak”-antwoorde nie, maar die luukse van nadenke verdwyn. Geen wonder dat politici (en gewone gebruikers) dikwels hulle oorhaastige “twiets” berou nie!

Die “wetenskap” (met al sy gebreke) is op ’n ander trajek ingestel. Van oudsher ken dit die waarde van die “nie-onmiddellike”, van die “ompad”, van afstand neem en van verwysing (elke ding bestaan nie op sigself nie, maar verwys terselfdertyd na iets anders). Die wetenskap dwing homself om ’n tree terug te gee, om uit ’n ander hoek te kyk, om weer ’n keer te dink. Dit is wat wetenskap so frustrerend maak – maar terselfdertyd ook so waardevol as korrektief op ons eerste gedagtes en reaksies.

Die neiging om te abstraheer, om vir ’n wyle die “werklikheid” te verlaat en selfs die wêreld van fiksie te betree, mag na ontvlugting lyk. Maar goeie wetenskap keer altyd weer terug na die konkrete “werklikheid”. Besinning, nadenke, heroorweging is die suurstof waarvan ’n kritiese bewussyn lewe. IGN’s een van die teenwigte teen die “verdomming” van ons dag deur knaend en meedoënloos aan te dring op dieper, skerper, beter-getoetste kennis en om nie alles vir soetkoek op te eet nie. Dit is miskien die grootste enkele, maar ook die mees fundamentele, bydrae wat IGN’s saam met ander bondgenote in die stryd teen intellektuele vervlakking en banalisering kan lewer.

Weer eens – die wetenskap is nie ’n wonderkuur nie en het sy eie beperkings. COVID-19 het “geleerdes” totaal onkant gevang en ons moes van vooraf hierdie onbekende virus leer ken en probeer verstaan. Die vind van ’n effektiewe entstof gaan nog lank duur. Ons moet voortdurend bewus bly van die onvolledigheid en onvoltooidheid van ons kennis – soos trouens ook van ons menswees self (Nyamnjoh). Nogtans is die “wetenskap” die enigste verweer wat ons het om ons op te beroep in hierdie tyd van onsekerheid en kwaksalwery. Nie as ’n kitsoplossing nie, maar as ’n tydsame, uitmergelende en dikwels frustrerende soeke na die ware toedrag van sake en die bes moontlike verstaan van dinge. Metodes van kennisversameling en kennisgenerering verander oor tyd, en daar sal altyd nuwe verwikkelinge, bronne en tegnologieë wees. Wat egter konstant bly, is die onontbeerlikheid van ’n robuuste en ewewigtige kritiese bewussyn. As daar één ding is wat IGN’s, en Stias in besonder, kan bydra, is dit om hierdie bewussyn lewend en gesond te hou.

Die subtitel van jou artikel stel die vraag of institute vir gevorderde navorsing ’n elitistiese luuksheid of bakermat van die wetenskap is. Dit roep die vraag op wat met “wetenskap” bedoel word. Vir ’n lang tyd het ’n positivistiese wetenskapsideaal die “eksakte” wetenskappe as eintlike, egte wetenskappe beskou, terwyl daar ’n mindere waardering was vir vakgebiede soos opvoedkunde, geesteswetenskappe en godsdienswetenskappe. In die praktyk het dit byvoorbeeld daartoe gelei dat natuurwetenskappe, rekenaarwetenskappe, medisyne en die ingenieurswese beter gefinansier is, terwyl ekonomiese, sosiale en politieke wetenskappe, opvoedkunde en godsdienswetenskappe minder geag is. Daardie fase is nou verby, maar watter wetenskapsideaal dink jy behoort in ons tyd en konteks die aktiwiteite van universiteite en instellings soos Stias te dryf?

Jy is heeltemal reg dat die tyd van ’n eng, positivistiese opvatting van wat “wetenskap” behels, verby is. Die beperking van kennis tot dit wat meetbaar en toetsbaar is, het ’n groot verarming meegebring. Dit beteken nie dat die krag van die eksakte ontken of geïgnoreer kan word nie. Dit moet eerder aangevul word, in die besef van die onvolledigheid van ons wetenskaplike kennis. Die volledige agenda van die wetenskap word deur die lewe en die “werklikheid” self bepaal en nie deur ons pogings om dit kunsmatig af te hok nie. In hierdie verband het die biologiese wetenskappe ’n belangrike rol gespeel. Hierdie wetenskappe het lewende sisteme as hul veld van ondersoek wat sowel “lewende” as “nielewende” aspekte insluit. Hulle moet gevolglik rekening hou met nie-eksakte verskynsels soos interaktiewe kommunikasie, ontwikkelende eienskappe (“emergent properties”) en onsekerheid. In hierdie opsig vorm die biologiese wetenskappe ’n brug tussen hulle fisiese en geesteswetenskaplike gespreksgenote. Albei kante hou hulle immers besig met fasette van dieselfde basiese vraag: Wat is lewe?

In hierdie verband was daar ’n verdere “gelukkige toeval” by die ontstaan van Stias. Daar was eenvoudig nie genoeg geld om verskillende institute vir die verskillende afdelings van die wetenskap op te rig nie. Natuur- en geestewetenskappe was van die begin af in een instituut gehuisves. In hierdie opsig is Stias uniek in vergelyking met soortgelyke inrigtings wêreldwyd. Ander IGN’s het gewoonlik op een van die twee gebiede gekonsentreer en gaandeweg aspekte van hetsy die natuur- of die geesteswetenskappe bygevoeg.

Dit het gou geblyk dat die saamwees van alle vertakkinge van die wetenskap onder een dak enorme voordele inhou. Die daaglikse skuur van skouers tussen teoretiese fisici, regskenners, letterkundiges, ekonome, bioloë en al die ander vakgebiede het tot verrassende insigte en onverwagte ontdekkings gelei. Dit bly een van die Stias-kenmerke wat navorsingsgenote voortdurend as die mees waardevolle aspek van hul verblyf uitsonder. Die krag van interdissiplinêre wisselwerking, of liewer, van grensoorskrydende navorsing, kan nie oorskat word nie.

Hoe dink jy oor die toenemende professionalisering van universiteitstudie? Mens hoor byvoorbeeld by tye van mense in professies dat hul opleiding hulle nie voorberei vir hul professionele loopbane nie, soos byvoorbeeld van medici wat vir ’n lang tyd gekla het oor vakke soos chemie en fisika, regslui oor Latyn en predikante oor Bybelse tale. Met die toenemende kommersialisering en professionalisering van universiteite is hierdie vooropleiding ook in baie gevalle afgeskaal of beëindig. In ’n sekere sin word die “nuttigheid” van ander vakke soos filosofie en die Klassieke ook met agterdog bejeën omdat dit vir sommige nie tot ’n bepaalde beroep of tot konkrete toepassings lei nie. Institute vir gevorderde navorsing koop nie in op hierdie opvatting nie en skep gelukkig die ruimte vir gevorderde navorsing sonder inagneming van “nuttigheid”. Maar hoe nou gedink oor die gewone navorsingsituasie by universiteitsdepartemente wat nie so ’n ruimte het nie en onder druk van die “nuttigheid” van navorsing werk? Akademici is naamlik nie net bekwame dosente wat studente aan die wetenskap bekendstel nie. Hulle moet self aan gevorderde navorsing deelneem indien hulle wel die karakter van universiteite wil bevorder en hulle situasie wil onderskei van tegniese en beroepsgerigte opleiding, maar ook indien hulle materiaal wil doseer wat inhoudelik goed is. Wat sou jy wou sien moet prakties gebeur met dosente wat nie by die institute vir gevorderde navorsing kan inskakel nie en/of wat nie by navorsing uitkom nie?

Dit bly ’n ewige stryd om ’n balans te vind tussen ’n opleiding wat aan die veranderende eise van die beroepswêreld voldoen en een wat die breë ontwikkeling van die student bevorder. Hoewel sommige professionele rade hulle eie eksamens afneem voordat potensiële toetreders tot die betrokke beroep toegelaat word, word die inhoud van universiteitskursusse self steeds meer vernou en op die beroepsvereistes van die praktyk afgestem. Daarby kom die toenemende druk om kursusse te verkort omdat universiteitsopleiding so duur geword het. Dit alles het tot ’n wesenlike verskraling bygedra – nie net by teologie waar, soos jy sê, die grondtale en filosofie in die slag gebly het nie, maar ook by regte, medisyne, ingenieurswese en finansiële bestuur, om net enkele voorbeelde te noem. Mens wonder of dit nie een van die redes vir akademiese vervlakking is nie.

Dis ironies dat hierdie verskraling hom op die ou end in die praktyk wreek. Verryking vind nou toenemend op ander, onvoorsiene maniere plaas, soos aanvullende nagraadse kursusse in ander rigtings en fakulteite as waarin die eerste kwalifikasie behaal is. Die uitdagings van ons tyd is eenvoudig te kompleks om met één stel vaardighede of met beperkte insig bemeester te kan word.

Jy het gelyk dat professionalisering en die eng toepassing van die “nuttigheidskriterium” nie net opleiding nie, maar (om dit weer eens te beklemtoon) veral dosente se moontlikhede vir navorsing nadelig raak. Dit gaan hier om die wesensfunksie van ’n universiteit. Navorsing, onderrig en gemeenskapsdiens word gewoonlik as belangrike doelwitte van die universiteit beskou. Die drie staan egter in ’n onomkeerbare oorsaaklike verhouding tot mekaar. Uitnemende onderrig en doeltreffende gemeenskapdiens is direk van hoëvlak- en vernuwende navorsing afhanklik. ’n Universiteit kan kies om soos ’n welsynorganisasie op te tree en gemeenskapsdiens sy hooffokus te maak, of om op onderrig te konsentreer en ’n opleidinginstansie te word, maar dan versaak die instelling sy primêre roeping en sal op die duur nie as universiteit ernstig geneem word nie.

IGN’s veg dus om die vlam van navorsing brandend te hou. Hierdie institute wil ’n diens aan universiteite lewer deur die geleentheid te skep en die ondersteuning te bied aan dosente om hul primêre taak wat so onder druk gekom het, steeds te beoefen en te verdiep.

Institute vir Gevorderde Navorsing stel ’n hoë premie op navorsing wat “vernuwend” is. Maar wat bepaal wat “vernuwend” is? Dit sou op sekere gebiede maklik wees om vernuwing uit te wys: ’n Uitvinding kan as innoverend beskou word wanneer daar ’n toepassing daarvoor is wat nie voorheen bestaan het nie. Nuwe tegnologie lei byvoorbeeld tot die nuwe, superhanteerbare digitale kameras wat die einde van meganiese kameras beteken het. En platskermtelevisies en slimfone is sekerlik ’n konkrete voorbeeld van vernuwing. Hulle sou nie moontlik gewees het sonder die ontdekking van Gorilla-glas is in die sestigerjare toe ’n groep navorsers met die samestelling van glas geëksperimenteer het nie. Maar hoe sou ’n mens vernuwing op ekonomiese vakgebied, of in die filosofie, regswetenskap of teologie beoordeel waar sulke tasbare uitkomste dikwels ontbreek?

Innovering is ’n relatiewe begrip – wat vandag nuut is, kan oor ’n paar jaar verouderd en uitgedien wees. En ons bou voortdurend voort op wat ons voorgangers bereik het. Maar jy is reg dat sekere uitvindings meer sigbaar en opspraakwekkend is as ander. Tog is daar ook deurbrake op meer “obskure” gebiede. Die 2019-Nobel-pryswennners in ekonomie, Michael Kremer, Esther Duflo en Abhijit Banerjee, het ontwikkelingsekonomie op sy kop gekeer deur weg te beweeg van abstrakte ekonomiese modelle en eerder te konsentreer op hoe die armste van armes konkrete besluite neem oor aankope en besteding. Die geskiedenis van wetenskapsfilosofie sou as ’n opeenvolging van denkraamwerke beskryf kon word, waarvan sommige revolusionêr vir hul tyd was (dink aan Kuhn se The structure of scientific revolutions). Kompleksiteitsteorie is tans ’n nuwe ontwikkeling ná modernisme en postmodernisme en waarby Stias ook nou betrokke is. Selfs in die relatief konserwatiewe regswetenskap is daar voorbeelde van vernuwende denke. “Herstellende geregtigheid” (“restorative justice”) is ’n poging om die straffende aard van regspleging aan te vul deur ’n meer versoenende benadering wat die rehabilitasie van die oortreder beklemtoon. Hier te lande (gesien die geskiedenis en probleme van grondbesit in Suid-Afrika) word ook nuut oor die aard van eiendomsreg besin. Wat teologie betref, was een van die grootste deurbrake (maar een wat nie altyd so sigbaar is nie) die ernstig opneem van die konteks waarin teologie bedryf word en die insluiting van die rol van die leser of ontvanger – wat beteken dat die gesag en betekenis van die boodskap nie langer net by die sender of die gesagsinstansies van die kerk berus nie.

Vernuwing gaan dus oor meer as net die konkrete resultate wat bereik word – dit gaan ten diepste oor ’n houding en ’n ingesteldheid. Nyamnjoh praat in hierdie verband van “frontier Africans” – of as jy wil, “grensmense”. Mense wat op die voorpunt beweeg en verdere horisonne verken, wat avontuurlustig na nuwe uitdagings soek, wat ongeneeslik nuuskierig is, wat bereid is om te waag en die ongewone te bedink en te beproef.

Athol Fugard het sy eerste toneelstuk in Afrikaans by Stias geskryf. (Foto: Jesse Kate Kramer)

Dit is om hierdie rede dat Stias moeite doen om die aard van die skeppingsproses self onder die loep te neem en meer indringend te vra hoe nuwe insigte en nuwe kennis tot stand kom. Daarom word skeppende kunstenaars (skrywers, skilders, musici) gereeld genooi om by die navorsingsgemeenskap aan te sluit. Hulle bydraes het al verrassende insigte opgelewer. Athol Fugard het nie alleen aan sy eerste toneelstuk in Afrikaans (Die laaste karretjiegraf) hier gewerk nie, maar ook aan die navorsingsgenote verduidelik hoe die skeppingsproses in sy geval verloop. Op een van sy rondtes deur die tuin (hy mog sy kromsteelpyp nie binne in die gebou rook nie) het hy op ’n dooie, omgevalle boomstomp afgekom. In die verwronge wortels was rivierklippe vasgedraai, wat hom aan sy eie lewe en sy geknelde worstelinge laat dink het. “So sal ek ook eendag lê – net droë oorblyfsels.” Die titel van ’n volgende stuk, Dry remains, het so sy beslag gekry. Maar toe hy ’n paar dae later weer daar verbykom, sien hy iets anders raak: groen sprietjies van nuwe lewe wat uit die ou stomp na die sonlig beur – en kry die stuk in wording ’n verdere, hoopvolle dimensie.

Is die oprigting van soveel institute vir gevorderde navorsing ’n verdere teken dat akademiese vryheid van universiteite onder druk is?

Daar is min twyfel dat navorsing en akademiese vryheid onder druk is. Ek het reeds verwys na al die bykomende (en onbillike) verwagtinge en verantwoordelikhede wat op universiteite gelaai word. Maar ook akademiese vryheid is nie altyd gewaarborg nie. Ek bedoel hiermee die vryheid om alle aspekte van die werklikheid te ondersoek, alle metodes te beproef, en alle vrae (veral die ongemaklikes) te bly vra – op voorwaarde natuurlik dat die standpunte en resultate wat uit hierdie navorsing voortvloei, op hul beurt aan kritiese beoordeling onderhewig moet wees. Die keurslyf van politiese korrektheid kan aanleiding gee tot subtiele of meer direkte vorme van (self)sensuur. Ons het onlangs die geval beleef waar die topbestuur van ’n Suid-Afrikaanse universiteit geëis het dat een van hul navorsers ’n gepubliseerde artikel in ’n geakkrediteerde tydskrif terugtrek. Selfs ASSAf (Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskappe) moes in hierdie geval vir die navorser in die bresse tree en die vryheid van wetenskaplike ondersoek verdedig.

Die taak van IGN’s is nie alleen om te streef na navorsingsuitnemendheid nie, maar ook om ’n ruimte te bied waar alle stemme gehoor en waar akademiese vryheid uit beginsel gerespekteer word.

 

Lees Bernard Lategan se LitNet Akademies-artikel hier:

Institute vir gevorderde navorsing: Elitistiese luuksheid of bakermat van die wetenskap?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top