Ikonoklas!

  • 3

Foto: Jannike Bergh

Le jour du 14 juillet
 Je reste dans mon lit douillet
 La musique qui marche au pas
 Cela ne me regarde pas
 Je ne fais pourtant de tort à personne
 En n'écoutant pas le clairon qui sonne
 – “La mauvaise réputation” (Georges Brassens, 1952)

Rofweg vertaal: “Op 14 Julie, Bastille-dag / bly ek snoesig in my bed. / Die weermagorkes se klokslagpas / traak my nie veel nie. / Niemand kry tog seer / as ek die beuelblaser ignoreer nie.” 

Ek is ’n buiteperd. “La mauvaise réputation” van Georges Brassens is salf vir die siel; ek vereenselwig my met Frankryk se Koos du Plessis wat die samelewing se skynheilighede en absurditeite in ongeëwenaarde, eenvoudig-mooi soomlose Frans kon oordra.

En tog bevind ek my op die aand van die Olimpiese Spele-opening met DStv login details in my besit – my erfenis van die 2023-Wêreldrugbybeker. My naastes spot my oor my nuutgevonde belangstelling. Ek kry nog steeds voorstelle op YouTube oor die tydjie wat ek die verskil tussen ’n scrum en ’n maul nageslaan het en nou ewe skielik ’n mening oor Willie le Roux het. En miskien spruit dit alles uit die feit dat ek aanvanklik net ons landslied op internasionale televisie wou hoor.

Ek besef eers ’n bietjie laat verlede Vrydagaand dat ek toegang tot die spektakel het. Dit reën in die Kaap en hierdie live event is dan darem redelik naby aan warm, tuisgebakte samesyn. Die bootjies met landsvlae wapper alfabeties verby in die reën. Ek is verbaas Corée du Nord maak ’n verskyning. Ek wag vir Suid-Afrika, maar toe Spanje nie lank na die C- en D-lande verby gedryf kom nie, val dit my by dat die storie nie in Engels plaasvind nie. Duskant S weet ek finaal dat ek te laat ingeskakel het vir Afrique du Sud. Tog kyk ek verder. Alles is net so nat. Ek hoop hardop die hoofkarakter wat oor Parys se dakke hardloop, gly nie sy p*** af voor die hele wêreld nie. Ek dink aan die toeris uit Nigerië wat vir ’n taxirit uit Bordeaux tot in Parys betaal het omdat die Franse spoorlyne op die vooraand van die opening gesaboteer was. Glo oor die 1 000 euro betaal om by die openingseremonie te wees, so graag wou sy gesin daar wees. Die minste wat ek kan doen, is om aan te hou kyk.

Half aan die slaap (ek), is hier ’n rave party. “Ek is bly ek is nie daar nie. Wie wil rave musiek hoor terwyl jy sopnat reën?” Dit is die natkatweergawe van myself se idee van hel, die een wat nie ’n groot aanhanger van die doef-doef is nie. En skielik, ’n magiese oomblik: O my moer, dit is (is dit?) Philippe Katerine! Potblou, poedelnaak. Wat dink die mense? dink ek. 

Philippe Katerine se werk is aan my bekendgestel die jaar toe ek in Frankryk gaan woon het. Spesifiek in die vorm van die lied “La reine d’Angleterre waar hy sing – die lied eindig self in Engels met ’n (ligter) vertaling – “I am the Queen of England and I shit on your face.” Almal is mal daaroor. Dit is Monty Python-vlakke van absurd en irreverent, maar stilisties is die musiek “cute Parisian chic”. Soos ek sê, almal is mal daaroor.

Daar is toe baie abstrakte uitdrukkings in hierdie styl, sou ek oor die jare ontdek, waarmee mens na hartelus kan verf, soos: Pis uit my voorkop uit.

........
Philippe Katerine, ’n Franse national treasure, is so Frans dat Gérard Depardieu sy skoonpa is (wat in elk geval nie vandag ’n baie woke ding is om te wees nie). Maar sy onbekendheid buite Frankryk bied toe later ’n verdere laag van komiese effek: die random blou ou in die middel van ’n globale geloofsherrie.
.......

Philippe Katerine, ’n Franse national treasure, is so Frans dat Gérard Depardieu sy skoonpa is (wat in elk geval nie vandag ’n baie woke ding is om te wees nie). Maar sy onbekendheid buite Frankryk bied toe later ’n verdere laag van komiese effek: die random blou ou in die middel van ’n globale geloofsherrie.

Tydens dié geleentheid het hy sy nuutste enkelsnit, “Nu” (“Naak”), vir die eerste keer gedeel. Hy sing: “Sou daar oorloë gewees het as ons almal net nog altyd kaal was? Nee.”

Weens die aanwesigheid – insluiting – van queer persone op ’n verhoog wat die wêreld aanskou, het ek geweet die right-wingers gaan begin twiet, en Marine Le Pen se niggie was die eerste een. Die klagtes van godslastering wat in die week sou volg, het egter hoog bo-oor my kop gewaai. Ek is dalk stadig, maar ek het nie eers besef ek moes uitkyk vir ’n avondmaal nie. Ek het salig na die joligheid op die dansvloer weggedommel, aan die begin van Macron se toespraak, en ontwaak toe die masjienperd oor die Seine galop, net mooi betyds vir Celine Dion se showstopper. En dit was dit, vir my.

Dit kon maar net sowel ’n weird droom gewees het wat deur die loop van die volgende dag sou vervaag.

Sedertdien speel die seremonie weer sonder ophou af, en is daar beslis dat die hele Frankryk sommer reguit hel toe gaan, as mens mensself blootstel aan sosiale media – spesifiek nou, hier in ’n Afrikaanse konteks. Dit is snaaks, tot ’n mate, want Charlie Hebdo se redaksie sou ’n field day gehad het as hulle moes reconnect met hulle Hugenoot-broeders en -susters hier onder. Die oormaat sou sigself sonder veel inspanning kon skets.

Gewoonlik affronteer Frankryk se beste ikonoklaste en hulle grappies net so ’n stoflagie van die Franse samelewing. 

My vriende in die heksagoon – almal eerlikwaar ongeërg oor skouspel en sport – is opreg trots na afloop van die geleentheid. Hulle is van mening dat die histories-kulturele verwysings – en die vorm(e) daarvan – fyn en slim weergegee is. In ’n konteks waar die vrees van ’n verregse bedeling baie onlangs oorheersend was – en Macron het nog steeds nie sy eerste minister aangewys nie – het hulle die seremonie ervaar as ’n viering, ’n beklemtoning van inklusiwiteit, verteenwoordigend van ’n moderne Frankryk. Hulle lag, en sê “Ja, daar is miskien 6% haters wat ’n bohaai maak, en daarom hoor mens hulle, maar die seremonie is wyd gekyk en waardeer. Die oorgrote meerderheid is trots.” 

’n Vriendin voeg by: “Daar is hier en daar ’n rojalis wat geaffronteer voel deur byvoorbeeld ’n uitbeelding van ’n ‘Marie-Antoinette décapitée’, asof hulle nie besef dat Frankryk intussen aanbeweeg het en lank reeds ’n gevestigde republiek geword het en die guillotine integraal is tot die Franse kulturele raamwerk nie.” Wat van buite af as niche humor mag voorkom, is nou weer die teenoorgestelde in Frankryk – die verontwaardigdes is in die minderheid. 

Frankryk is in wese antimonargaal en so sekulêr dat hulle ’n spesifieke woord daarvoor het (laïcité) wat eintlik net sowel saam met liberté, égalité, fraternité opgenoem word. Laïcité is, op papier, ’n universele, humanistiese benadering.

Die afwesigheid van dogma skep oneindige ruimte vir satire – ’n dieper gesetelde kultuur in Frankryk as kerk toe gaan.

Dit is so fyn verweef en normaal in die Franse samelewing dat twee destydse kollegas van my ’n Kersfeespartytjie geboikot het in die naam van laïcité. As mens eers die produk van religieuse dogma was en droom van ’n wêreld daarsonder, is hierdie algehele aanvaarbaarheid dat dit nie daar hóéf te wees nie – hoe banaal vir hulle – heel poëties vir my.

Luister hier ’n playlist. Sonskyn, reën, volkleur-Parys.

  • Jannike Bergh het vir ’n geruime tyd in Frankryk gewoon en daarna by die Franse ambassade in Suid-Afrika se departement van kulturele samewerking aangesluit. Sy is tans ’n LitNet-redaksielid en skryf hierdie stuk uit haar eie beweging.
Lees ook:

Kuns, godsdiens en daai Olimpiese openingstoneel

Elders gesien: Op Olimpus word die gode bymekaargemaak

Elders gesien: Waarom is dit nou skielik godslasterlik as ons dieselfde doen?

  • 3

Kommentaar

  • Janieta de Wet

    Lyk my ek hou tog van die spul woke Franse. Net nie kans gesien om die groot opening te kyk nie. Tans te diep aan die lees aan 'n boek. Maar. Ek dink daai lied van die koningin van Engeland sal ek nog gaan luister as ek dalk in die bui is weer vir so iets. Daar is darem gewone mense ook in die tableau. Sommige queers is maar net normaal en nie lus vir opdos nie. Die blou ou is duidelik 'n grapjas. Kan dink. Ek sal seker lekker vir hom lag, maar ek weet glad nie hoekom Gérard Dépardieu nou nie woke is nie. Hy is ook maar baie queer al is hy nie, want daai groot neus van hom. Seker ook al heel ouer geword.
    1.
    Caractère laïque.
    2.
    (en France)
    Principe de séparation de la société civile et de la société religieuse.
    iconoclastic
    /ʌɪˌkɒnəˈklastɪk,ˌʌɪkɒnəˈklastɪk/
    adjective
    criticizing or attacking cherished beliefs or institutions.
    "an iconoclastic filmmaker who has pushed the boundaries with every film he's made" narreskip seker

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top