LitNet Akademies: Gerald Groenewald in gesprek met Jessica Murray oor die vroulike liggaam, gender en geweld in Suid-Afrikaanse slawenarratiewe

  • 0

Gerald Groenewald gesels met Jessica Murray oor laasgenoemde se onlangse artikel “‘Dit kom daarop neer dat ek nie vergete was nie’: Die vroulike liggaam, gender en geweld in Suid-Afrikaanse slawenarratiewe” in LitNet Akademies.

Jy is opgelei as letterkundige, maar het ook ’n agtergrond in genderstudies. In hierdie artikel maak jy ook nog gebruik van historiese bronne saam met romans. Waarom het jy hierdie artikel geskryf? Hoe pas dit in by jou groter navorsingsprojek(te)?

Hierdie artikel bou voort op navorsing wat eersdaags in The South African Historical Journal verskyn. My primêre navorsingsprojek fokus op voorstellings van gender en geweld in Suid-Afrikaanse tekste. Toe ek die eerste keer blootgestel is aan Trials of Slavery, was ek besonder beïndruk met die rykheid van die dokumente daarin. As ’n feministiese navorser is dit vir my baie belangrik om vergete vroulike stemme en ervarings te herwin en te ontleed. Trials of Slavery dra ook by tot die ontginning van die gemarginaliseerde stemme van slawe aan die Kaap en ek het dus onmiddellik aanklank gevind by die teks. Dit het my ook opgeval dat baie van die aannames oor gender en vroulike seksualiteit wat na vore kom in die hofsake van die agtiende eeu, steeds aangetref word in hedendaagse narratiewe van gendergeweld. Hier dink ek byvoorbeeld aan die aanname dat vroue verantwoordelik is vir die beheer van mans se seksualiteit en dat die slagoffers van gendergeweld “daarvoor gevra het”. Dit is vir my kommerwekkend dat die aanname bestaan dat gender nie meer ’n kwessie is wat dringende aandag verg nie – mense dink dikwels dat ons in ’n postfeministiese ruimte verkeer, en verwys graag daarna dat vroue se regte in ons uiters progressiewe grondwet verseker word. Dit is wel só dat daar groot vordering gemaak is op die gebied van vroueregte, maar die openbare diskoerse oor gender, geweld en seksualiteit is in baie opsigte steeds só konserwatief dat daar duidelike parallelle met die hofsake in Trials of Slavery geïdentifiseer kan word. Alhoewel dit vir my belangrik is om vroue se vordering, prestasies en oorlewingstaktieke te vier, is dit ewe belangrik om te besef dat daar nog baie werk gedoen moet word om ware gendergelykheid te bewerkstellig.

Wat opvallend is van hierdie artikel, asook jou vorige werk, is die interdissiplinêre aard daarvan. Is dit tipies van jou benadering? Voel jy dat die Suid-Afrikaanse akademiese gemeenskap te eng is in hul opvattinge oor dissiplinêre grense? Indien wel, hoekom dink jy is dit die geval en hoe behoort dit aangespreek te word?

Ek beskou interdissiplinêre navorsing as een van die eienskappe van feminisme, wat juis die rede is waarom dit so ’n opwindende akademiese rigting is. Om reg te laat geskied aan die kompleksiteit van vroue se ervaring van geweld, is ’n interdissiplinêre invalshoek vir my noodsaaklik. Ek was baie beïndruk deur die interdissiplinêre aanslag van LitNet Akademies en dit was dan ook deels waarom ek besluit het om my artikel in hierdie forum te publiseer. Dis vir my jammer dat interdissiplinêre navorsing nie wyer ondersteuning in die Suid-Afrikaanse akademie geniet nie. Samewerking tussen verskillende departemente en dissiplines kan net verrykend wees.

Jou artikel ondersoek verskeie voorvalle van fisieke en emosionele geweld, veral die verkragting van vroue. Ek weet jy doen heelwat navorsing oor die uitbeelding van verkragting en geweld teen vroue in die letterkunde. Is dit nie vir jou moeilik om met sulke ontstellende materiaal te werk nie? Hoe hanteer jy persoonlik die omgang met sulke trauma; wat vereis dit van jou emosioneel?

Die traumatiese aard van die tekste waarmee ek omgaan, kan inderdaad moeilik wees om te hanteer. Die belangrikheid van projekte wat aannames oor gender en geweld ondersoek, bly egter my eerste oorweging. Ek is ook bevoorreg genoeg om deel te wees van ’n ondersteunende gemeenskap feministiese navorsers wat by plaaslike en internasionale universiteite werksaam is. Op dié wyse kan ons deur gesprekke en kontak ons ervarings en probleme met mekaar deel.

Voel jy dat jou navorsing ’n breër impak het, of behoort te hê, as bloot ’n gesprek met ander akademici? Is dit moontlik dat navorsing ’n vorm van aktivisme kan wees? Dink jy mens kan iets bereik met navorsing – kan dit ’n vorm van uitgestelde geregtigheid wees, met ander woorde ’n stem gee aan verontregtes?

Feministiese navorsing en politieke aktivisme is so nou verwant dat die twee nooit heeltemal geskei kan word nie. Navorsing het die potensiaal om openbare diskoerse oor gender en geweld te beïnvloed, en ek beskou dit trouens as ’n vorm van aktivisme om ’n forum te bied aan stemme wat in die verlede gedemp is. LitNet Akademies bied aan akademici ’n wonderlike geleentheid om ’n wyer gehoor te bereik en bloot te stel aan hul navorsing as die gewone lesers van akademiese tydskrifte. My eerste bekendstelling aan feminisme was te danke aan Amanda Gouws en Jeanne Ellis, by wie ek voorgraadse klasse gehad het aan die Universiteit Stellenbosch. As ek my voorgraadse studente net so opgewonde kan maak oor feminisme soos wat hulle met my gedoen het, sal ek baie gelukkig wees. Ek vind dat heelwat van my studente dink en wonder oor kwessies sonder dat hulle besef dat hulle eintlik besig is om om te gaan met feministiese vraagstukke. Dit is baie bemagtigend wanneer mens besef dat jy deel is van ’n groter groep vroue wat lank reeds aan hierdie kwessies werk, en dat jy jou kan beroep op ’n trotse intellektuele en akademiese tradisie van feministiese navorsing.

Die meeste van jou navorsingsartikels is in Engels geskryf, en behandel meestal Engelstalige Suider-Afrikaanse letterkunde. Waarom het jy dit nou nodig gevind om in Afrikaans te skryf, en ook om Afrikaanse romans te betrek?

Die wye gehoor wat LitNet bereik, maak dit ’n belangrike forum en die wydste moontlike verspreiding van my navorsing is iets wat ek baie ernstig opneem. Ek dink ook dat die Afrikaanse en Engelse letterkundige kritiek té geneig is om hul afstand van mekaar te hou, en ek voel dat beide tradisies verryk kan word deur nouer samewerking. Verder is daar ’n aantal skrywers in Afrikaans wat groter akademiese aandag verdien as wat hulle tans ontvang, soos Wilma Stockenström, Karel Schoeman en Eben Venter.

So jy voel dat daar nie genoeg aandag geskenk word aan sekere skrywers en/of onderwerpe in die literatuurkritiek nie. Wie word nie genoegsaam waardeer nie? Watter Suid-Afrikaanse skrywers inspireer jou?

Daar is steeds ’n geneigdheid om merendeels aandag te skenk aan sekere skrywers, soos JM Coetzee, André Brink en Marlene van Niekerk. Alhoewel hierdie skrywers inderdaad belangrik is, is dit ewe nodig om die ryk tekste van byvoorbeeld ’n skrywer soos Stockenström ten volle te ontgin. Ek het onlangs Coconut van Kopano Matlwa met my eerstejaarstudente behandel, en hul insigryke omgang met die teks het my geïnspireer om hierdie skrywer by my eie navorsing te betrek.

Ek wil graag terugkeer na die werke wat jy in jou artikel behandel. Dit is vir my opvallend vanuit ’n historiese perspektief dat met enkele uitsonderings – veral Stockenström en Brink se romans uit die 1980’s – die meeste romans wat Kaapse slawerny betrek, uit die afgelope dekade stam. Waarom dink jy word daar juis nou aan hierdie onderwerp aandag geskenk deur romansiers?

Ek dink Suid-Afrikaners in die postapartheid-milieu is besig om te soek na nuwe maniere om met die verlede om te gaan. Skrywers reageer op hierdie soeke na nuwe identiteite deur literêre alternatiewe vir die tradisionele geskiedskrywing voor te stel. Romansiers kan hulle ook beroep op die groeiende aantal werke van historici wat, soos in Trials of Slavery, leemtes en blindekolle in die geskiedskrywing aanspreek. Hierdie historiese navorsing is besig om deur te perkoleer na skrywers.

Ewe opvallend is dat – weer eens met die uitsondering van Brink en Stockenström – al die romans waarna jy verwys, in Engels geskryf is (alhoewel Therese Benadé se roman ook in Afrikaans vertaal is as Anna, Dogter van Angela van Bengale). Waarom, gegewe die obsessie van Afrikaanse romanskrywers met die Suid-Afrikaanse verlede die afgelope dekade of twee, is daar so ’n merkbare leemte ten opsigte van hierdie onderwerp in Afrikaans? In sekere opsigte kan Brink se Houd-den-Bek (1983) beskou word as die Suid-Afrikaanse teenvoeter vir William Styron se The Confessions of Nat Turner (1967), maar ek kan aan geen Afrikaanse weergawe van ’n Beloved (Toni Morrison) of Sally Hemmings (Barbara Chase-Riboud) dink nie. Waarom dink jy is dit so?

Ek wonder of dit nie is omdat die Afrikaanse letterkunde relatief klein is nie, en die mark gevolglik ook klein is. Met ander woorde, daar is eenvoudig nie soveel belangegroepe nie; of so ’n verskeidenheid van benaderings en “stemme” nie. Ek dink ook dat markkragte tog beïnvloed waaroor mense skryf. Duidelik is metafiksionele romans baie gewild, daarom bestaan daar so baie daarvan. As die Afrikaanse leesgemeenskap weinig behoefte het aan diepgaande historiese romans wat moeilike kwessies ontgin, dan sal daar ook nie veel daaroor geskryf word nie. Dus, miskien is dit eenvoudig ’n kwessie van die Afrikaanse literêre mark wat nog net té klein is vir ’n Beloved of Sally Hemmings.

Jy verwys in jou artikel na Yvette Christiansë se onlangse roman, Unconfessed, en ek weet jy het alreeds heelwat daaroor gepubliseer. Beskou jy dit miskien as die Suid-Afrikaanse teenvoeter of weergawe van ’n Beloved of Sally Hemmings?

Unconfessed is ’n besonder interessante teks wat fokus op die ervarings van ’n slawevrou wat op verskeie vlakke onderdruk en ook herhaaldelik verkrag word. Vanuit ’n feministiese oogpunt bied die hoofkarakter se interne gedagtevloei ’n uitstekende geleentheid om te ondersoek hoe vroue wél daartoe in staat is om beperkte agentskap uit te oefen binne die oorweldigende magstrukture waardeur hulle onderdruk word. Dis vir my belangrik om sulke karakters te ondersoek, omdat hulle wys dat vroue sowel slagoffers as oorlewendes is. In dié opsigte vertoon dit dus wel heelwat ooreenkomste met die romans wat jy noem.

Ten slotte, watter uitdagings wag daar nog op die Suid-Afrikaanse letterkunde (beide Engels en Afrikaans) en die literêre kritiek? Aan watter projekte werk jy tans, of beplan jy vir die toekoms?

Ervarings van die vroulike liggaam word altyd gelyktydig beïnvloed deur gender, ras, klas en seksuele oriëntasie. Feministiese en queer-teorieë vertoon belangrike raakpunte, en ek is tans besig met navorsing wat ondersoek instel na Suid-Afrikaanse letterkundige voorstellings van lesbiese lewens. Verder sou ek graag meer Suid-Afrikaanse letterkundige kritiek wil sien wat aandag skenk aan queer-tekste. Dit is ook nodig dat genderstudies ’n meer geïntegreerde deel van alle aspekte van die literêre kritiek vorm. In taaldepartemente aan universiteite is daar dikwels een of twee akademici wat aandag skenk aan genderkwessies. So ’n situasie kan maklik daartoe lei dat feministiese akademici binne die akademie gemarginaliseer word en dat gender as ’n geïsoleerde navorsingsbelangstelling beskou word. Die uitdagings wat gender steeds bied, veral gegewe die omvang van gendergeweld in die Suid-Afrikaanse konteks, beteken dat gender eerder ’n integrale deel moet vorm van alle akademiese vakrigtings en projekte.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top