“Dit kom daarop neer dat ek nie vergete was nie”: Die vroulike liggaam, gender en geweld in Suid-Afrikaanse slawenarratiewe

  • 0

 

 Opsomming 

Hierdie artikel bied ’n narratiewe ontleding van sowel historiese hofstukke as geselekteerde Suid-Afrikaanse romans wat fokus op slawerny in die Kaapkolonie. Deur die tradisionele grens tussen Geskiedenis en Letterkunde te oorbrug, poog hierdie artikel om ’n meer omvattende blik op die veronderstelde belewenis van slawevroue in Suid-Afrika te verkry. Sowel hofstukke as romans word beskou as representasies wat met letterkundige tegnieke ontleed kan word om patriargale en rassistiese aannames te ontbloot. Hierdie gender- en koloniale konstruksies word geïdentifiseer, en daar word verder aangedui hoe hierdie konstruksies meervoudige vorme van geweld teen die liggame van slawevroue tot gevolg gehad het. Alhoewel sulke konstruksies ook die gees en denke van slawe beïnvloed het, fokus die artikel op die liggaamlike uitwerking daarvan op slawevroue. Die ideologiese invalshoek van die hofamptenare het die vorm en aard van die hofstukke beïnvloed. Gevolglik laat hierdie dokumente ons nie toe om die stemme van die slawe direk te hoor nie. Terwyl die manlike slawestem gedemp is, is die stemme van slawevroue deur ’n meervoudige marginalisasie stilgemaak, aangesien hulle onderdruk is as gevolg van hulle sosiale posisie, ras en geslag. Ons moet dus tussen die reëls deur lees om die leemtes te vul wat in die hofnarratiewe gelaat is. Moderne romans oor slawerny laat ons egter toe om ván hierdie gapings te verken deur middel van die alternatiewe moontlikhede wat die skrywers voorstel. Nóg die hofstukke, nóg die romans verskaf ’n direkte weergawe van die belewenis van slawevroue. Deur die tekste saam as narratiewe te lees kan ons egter ’n beter idee kry van die omvang van die kwesbaarheid van slawevroue se liggame.

Trefwoorde: Geweld, liggaam, slawevroue, gender

Abstract

“The upshot is that I was not forgotten”: The female body, gender and violence in South African slave narratives

This article offers a narrative analysis of court cases as well as selected South African novels that focus on slavery in the Cape Colony. By crossing the traditional boundary between History and Literature, the article attempts to gain a more comprehensive understanding of the possible lived experience of slave women in South Africa. Both court records and novels are regarded as representations that can be analysed with literary techniques in order to expose patriarchal and racist assumptions. These gender and colonial constructions are identified, and the article illustrates how they resulted in multiple forms of violence against the bodies of slave women. Although such constructions also influenced the spirit and thoughts of slaves, the article focuses on their bodily impact on slave women. The court records are shaped by the ideological vantage point of the court officials in the Cape Colony and they do not allow us to hear the voices of slaves directly. While the male slave voice is muffled, the voices of slave women are silenced by multiple marginalisations since they were oppressed because of their social position, race and gender. We thus need to read between the lines to fill the spaces that were left in the court records. Novels about slavery allow us to explore these gaps through the alternative possibilities that the authors suggest. Neither court records nor novels provide a direct account of the experiences of slave women. However, by reading these different kinds of texts as narratives, we can gain greater insight into the extent of the vulnerability of slave women’s bodies.

Key words: Violence, body, slave women, gender

 

1. Inleiding

Alhoewel ’n aantal historici belangrike werk gedoen het oor die vroulike ervaring van slawerny in Suid-Afrika (Van der Spuy 1991, 1992, 1993, 1996; Scully 1995; Mason 2003; Malherbe 2005; Gqola 2007, 2010),2 is daar steeds ’n leemte in ontledings van narratiewe wat fokus op die spesifieke wyses waarop geweld die vroulike liggaam kwesbaar gelaat het. Die algemene opvatting oor slawerny in Suid-Afrika word sterk beïnvloed deur die voorstellings van slawerny in die Amerikaanse letterkunde, waar klassieke tekste soos Toni Morrison se Beloved (1987) wye blootstelling geniet in sowel populêr-openbare as akademiese forums.3 Slawerny in Suid-Afrika het egter wesenlik verskil van die instelling in Amerika, en die ontkenning van sulke verskille doen ’n onreg aan die herinnering van slawevroue in Suid-Afrika. Hierdie artikel sluit aan by die werk van ander skrywers en navorsers in ’n poging om te verseker dat die ervarings van vroue soos dié van die spreker in Stockenström se Die kremetartekspedisie (1981) in hierdie artikel se titel nie vergete bly nie.

Ook in die Suid-Afrikaanse letterkunde takel skrywers die kwessie van slawerny soos dit in Suid-Afrika beleef is. Hier verwys ek veral na Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie (1981), André P. Brink se ’n Oomblik in die wind (1975) en Houd-den-bek (1982),4 Rayda Jacobs se The slave book (1998), Yvette Christiansë se Unconfessed (2006), Teresa Benadé se Kites of good fortune (2004) en Russel Brownlee se Garden of the plagues (2005). In die “Erkennings” waarmee Jacobs se roman open, noem sy tereg dat sulke tekste hoogstens ’n blik kan werp op die lewens van die karakters wat sy voorstel.5 Die gebrekkige aard van dokumentasie waarin slawe, en veral slawevroue, hul eie ervarings artikuleer, beteken egter dat die waarde van so ’n blik nie onderskat moet word nie. ’n Besonder ryk geskiedkundige bron van inligting oor slawelewens is wel beskikbaar in die vorm van hofdokumentasie. Hierdie dokumente hou egter ook analitiese uitdagings in wat in die volgende afdeling aangespreek word.

Hierdie artikel gebruik geselekteerde romans saam met hofdokumentasie ten einde toegang te verkry tot die gedempte stem van die slawevrou in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die genderverhoudings wat geheers het tydens slawerny in Suid-Afrika, beteken dat die liggaam van die vroulike slaaf in ’n groter mate kwesbaar was as dié van manlike slawe. My bedoeling is geensins om die lyding of onderdrukking van slawemans te ontken nie. Ek wil eerder beklemtoon hoe rassisme en seksisme saamgewerk het om die onderdrukking van slawevroue te beïnvloed (hooks 1981:22). Lenta (2008:35) wys daarop dat magsongelykhede en aannames in taal uitgedruk en regverdig word. Dié artikel benut die analitiese tegnieke en teoretiese apparatuur van die letterkundige om verskillende soorte tekste as narratiewe te lees. Sodoende kan die ondersoeker lig werp op wat die taalgebruik onthul oor die eiesoortige belewenisse van slawevroue.6

Die hofsake wat in die res van die artikel bespreek word, speel almal af tussen 1705 en 1794, en ’n kort verduideliking van die aard van die Kaapkolonie gedurende die 18de eeu sal die leser help om die konteks te verstaan waarbinne die sake plaasgevind het.

Worden en Groenewald (2005:xxxiii) verduidelik dat die meerderheid slawe-eienaars minder as tien slawe besit het, terwyl daar dikwels slegs een of twee slawe aan ’n plaas of huishouding verbonde was. Slawe het dus in betreklik klein groepies in verskillende dele van die Kolonie gewoon. As gevolg van die kleiner getalle was daar ook meer kontak tussen slawe en eienaars aan die Kaap (xxxv). Dit sal later in die artikel blyk hoe hierdie nouer kontak slavinne verder kwesbaar gelaat het.

Gedurende die 18de eeu was die oorgrote meerderheid van die bevolking aan die Kaapkolonie manlik (Ross 1979:421). Alhoewel die aantal wit mans en vroue meer gebalanseerd geword het tydens hierdie tydperk, was slegs 20 persent van die slawebevolking vroulik teen die einde van die 18de eeu (Ross 1979:421-33; 1993). Van der Spuy (1996:47) wys daarop dat die Kaapkolonie ’n patriargale samelewing was. Daar was ’n magswanbalans waardeur wit mans op alle gebiede – polities, sosiaal en ekonomies – bevoordeel was.7

Scully (1995:343) argumenteer dat idees oor vroue se eer en status ’n belangrike rol gespeel het in verkragtingsake, omdat hierdie idees bepaal het of sulke sake aangemeld is, hoe die sake beoordeel is en watter straf die oortreder opgelê is. Daar was byvoorbeeld ’n aanname dat getroude vroue die beskerming van howe verdien het omdat hulle hulself deur die huwelik op ’n openbare wyse met die morele en godsdienstige waardes van die Kolonie se samelewing vereenselwig het.

2. Die onafwendbare ontmoeting tussen Geskiedenis en Letterkunde

Van Zyl (s.j.:1) meen dat feit en fiksie reeds eeue lank beskou word as “opponente”. Hierdie tradisionele aanname strek ook tot die onderskeid tussen geskiedskrywing en letterkunde, waar eersgenoemde vereenselwig word met “ware” gebeure of feite, terwyl laasgenoemde met die verbeelding verbind word. Belangrike teoretiese ontwikkelinge in die afgelope paar dekades het dit egter onmoontlik gemaak om hierdie binêre sienswyse sonder meer te aanvaar. White (1984:24) wys dat ons ’n kategoriefout begaan wanneer ons historiese tekste verwar met ’n letterlike weergawe van geskiedkundige gebeure. Ook Van Zyl (s.j.:1) waarsku teen hierdie fout deur ons daaraan te herinner dat beide literêre en nieliterêre tekste “vervormde media [is] wat toegang bied tot ’n historiese werklikheid wat hulle ook mede konstitueer”.8 Wanneer ons aanvaar dat alle geskrewe bronne, hetsy hofdokumentasie of romans, tekste is wat altyd deur die retoriese tegnieke van taal gestalte verkry, is dit duidelik dat ’n letterkundige aanslag wat fokus op taalgebruik, waardevolle insigte kan lewer. (Vir ’n diepgaande ontleding van hierdie uitgangspunt, vergelyk Van Heerden 1997.)

Die romans wat in die res van dié artikel aan bod kom, word deur verskillende kritici beskryf as “slawenarratiewe”, “neoslawenarratiewe” of “historiese fiksie”. Volgens Steinberg (2003:385) probeer slawenarratiewe nie om die geskiedenis te herskep nie. Dit gaan eerder om die herskepping van geskiedkundige moontlikhede. Skrywers van sulke narratiewe skep dus moontlike scenario’s, konstrueer verklarings en maak voorstellings om die gapings te vul wat in historiese dokumentasie gelaat is. Jacobs (1998:7) self verwys na The slave book as historiese fiksie en sy ontken dat sy namens die slawe probeer praat of dat sy wil voorgee dat sy weet hoe dit was om ’n slaaf in die 19de-eeuse Kaap te wees.9 Sy hoop bloot om ’n blik te gee op hierdie lewens en om die leser aan te spoor om self verder te dink. In haar ontleding van The slave book en Brink se The rights of desire (2000) voer Wenzel (2004:98) ook aan dat historiese fiksie ’n poging is om eer te betoon aan die stemme van die verlede wat stilgemaak is. Enige navorsing wat hierdie uitdaging aanvaar, is veral belangrik met betrekking tot die slawevrou, aangesien haar geslag beteken dat sy die slagoffer is van dubbele marginalisasie as gevolg van haar ras én haar gender.

Die leemtes in historiese dokumentasie is opvallend wanneer ons kyk na die hofdokumentasie wat in die volgende afdeling ontleed word. Die hofsake wat vir die doeleindes van hierdie artikel gebruik word, is saamgevat in Worden en Groenewald (2005). In hierdie uiters toeganklike versameling primêre bronne erken die samestellers dat “‘die slawestem’ omtrent nooit direk gehoor kan word nie” (1). Die dokumente is uiteraard nie deur die slawe self geskryf nie, aangesien heel weinig slawe geletterd was en nie in ’n posisie verkeer het om dokumente na te laat nie. Die aard van regspleging aan die Kaap de Goede Hoop in die 18de eeu moet in gedagte gehou word wanneer ons hierdie hofsake lees en moet nie verwar word met hedendaagse idees oor hofprosedures nie. Die beskuldige of getuie het nie die geleentheid gehad om ’n dialoog te voer met die aanklaer nie. Inteendeel, die aanklaer het vooraf die ondervraging opgestel en was nie self teenwoordig tydens die ondervraging nie. Die vrae is aan die beskuldigde gestel en dan deur ’n hofamptenaar “logieserwys georden” (xlvi). Die narratief wat uiteindelik in die hofrekords beland het, is dus ’n representasie wat fundamenteel gevorm was deur die ideologiese invalshoek van die betrokke amptenare van die Raad van Justisie. Dit beteken dat dit onmoontlik is om sulke narratiewe te lees as onproblematiese weergawes van die gebeure wat daarin beskryf word.

Veel dieper insigte kan egter onthul word wanneer die leser ’n literêre ontleding doen wat ondersoek instel na die aannames wat blootgelê word deur die taalgebruik van beide die vraer en die getuie. Worden en Groenewald (xxxviii) dui daarop dat die sake inligting bevat oor die emosionele lewens en verhoudings van slawe en dat sulke inligting “meestal slegs van insidentele belang [is] by die aanklag of oortreding waaroor ’n saak oënskynlik handel” en dus nie so sterk “beïnvloed word deur die negatiewe omstandighede en druk waaronder getuienis gelewer word nie”. Dit is ook dikwels die geval met die verwysings na slawevroue en geweld wat in die res van die artikel bespreek sal word.

3. Slawevroue en geweld in hofdokumentasie van die Kaap de Goede Hoop

3.1 Die genderaannames van manlike slawe-eienaars, slawe en die hof

In die saak van Jephta van Batavia wys Worden en Groenewald (2005:115–9) daarop dat die leser ’n seldsame blik kry op die emosies van Jephta. Die slaaf Jephta is in 1729 daarvan aangekla dat hy ’n slawevrou, Maria van Ceijlon, met ’n mes aangeval het. Die aanval het plaasgevind nadat die eienaar vir Jephta na ’n ander plaas in Rondebosje gestuur het. Terwyl die saak inderdaad lig werp op Jephta se emosies, ontleed ek die narratief eerder om te onthul wat hierdie emosies verklap oor Jephta se genderaannames en die impak wat hierdie aannames op Maria se liggaam het.

Die saak noteer dat Jephta dronk was en toe na Maria geroep het. Maria was “daar ten huijse meede woonagtig en bij dewelke hij gevangen eenigen tijd gehouden heeft”. Jephta het haar “voor de deur […] geroepen” en die saak meld dat Maria as gevolg van die verhouding “bleijvende in de deur staan” (115). Die feit dat Maria ’n verhouding met Jephta gehad het, het daartoe gelei dat sy by die deur bly staan het. Die intieme vertrouensverhouding het dus die ruimte geskep waarin Maria aangeval is. Feministiese navorsers wys juis daarop dat vroue op hul kwesbaarste is in hul eie huise en in die teenwoordigheid van die mans met wie hulle in verhoudings is. Vandag weet ons dat dit meer waarskynlik is dat ’n vrou doodgemaak sal word deur ’n intieme maat as deur alle ander groepe aanvallers gesamentlik (vgl. Kellerman en Mercy 1992; Browne, Williams en Dutton 1999; McFarlane, Campbell en Watson 2002).

Verdere genderaannames kan ontgin word wanneer dit blyk dat Jephta voor die aanval “teegens die slavin Maria heeft gesegt: Waarom doe je mij quaad?”, waaruit die hofamptenaar aflei dat Maria “met iemand anders als met hem hadde gehouden ofte vleeschelik geconverseert” het (Worden en Groenewald 2005:115).

Hierdie kort uittreksel, wat geensins in die hof se narratief bevraagteken word nie, sal alte bekend klink vir hedendaagse lesers. Die aanvaller gee die slagoffer die skuld vir die geweld en die slagoffer se seksualiteit word eksplisiet geïdentifiseer as die lokus van die blaam. In die koloniale verbeelding is mense van kleur gekonstrueer as seksueel losbandig (Loomba 1998:158). Jephta se aantyging dat Maria intiem verkeer het met ’n ander man het dus netjies ingepas in die “logiese” narratief wat die hof saamgestel het.

Die keuses wat vroue in ’n gewelddadige verhouding het, is ook uiters beperk, aangesien enige poging om só ’n verhouding te verbreek dikwels lei tot erger geweld (vgl. Bean 1992; Wilson en Daly 1993; Bachman en Saltzman 1995; Block en Christakos 1995; Serran en Firestone 2004). Die saak van Carel Boom dui op juis hierdie gevaar (Worden en Groenewald 2005:423–5). Hierdie hofstuk van 1766 is ’n rekord van die gebeure wat Boom se selfmoord voorafgegaan het. Boom val die slavin Cornelia van Piloane aan omdat sy “naar een tijd lang bij hem gehouden te hebben, daarvan afgesien had” (424). Terwyl die slawevrou stemloos is, leer die leser van die narratief dat Boom se motief was om haar “te dwingen tot langere bijhoudinge”. Die aanval is so brutaal dat die “opperchirugijns” aan die hof rapporteer dat haar “wonden wel doodelijk” kan wees. Boom was nie ’n slaaf nie, maar ’n (blanke) Kompanjiedienaar wat as opsigter by die Slawelosie gedien het. Hy was dus in ’n dubbele magsposisie teenoor Cornelia as gevolg van sy ras en geslag.

Selfs in die geval van slawemans argumenteer Van der Spuy (1996:45) dat woede dikwels ontaard het in geweld en jaloesie. Eerder as om hierdie woede uit te haal op slawe-eienaars of op die instelling van slawerny self, was die slagoffers meestal ander slawe en veral slawevroue.10

Die genderaannames van die hof blyk ook uit die saak van Anthonij van Goa waarby Worden en Groenewald (2005:83) opmerk dat die slaaf waarskynlik ’n relatief ligter straf gekry het omdat die hof simpatie gehad het vir sy omstandighede. In hierdie hofrekord kry ons toegang tot sowel Anthonij se antwoorde op die ondervraging as besonderhede oor sy strafoplegging en sy lot ná die saak. Anthonij is in 1721 aangekla weens die aanval op Jannetie. Hy is deur die eienaar verkoop en Jannetie het klaarblyklik ’n ander verhouding aangeknoop in sy afwesigheid. Daar word egter vermeld (84) dat ons niks verder weet van sy slagoffer Jannetie nie. Weer eens is die motief vir die aanval jaloesie. Anthonij beskryf Jannetie as “mijn eijge vrouw” en hy verduidelik dat sy “hart seer” was omdat hy uitgevind het dat sy “bij een andere lag” (88). Op die vraag waarom hy haar aangeval het, antwoord hy: “[o]mdat sy bij een andere hield.” “Sy” is die subjek in die rede wat hy aanvoer. Die manier waarop hy sy antwoord formuleer, dui daarop dat hy die slagoffer heeltemal verantwoordelik hou vir die feit dat hy “haar met een mes in de buijk gestooken” het.

’n Binêre siening van vroue se seksualiteit het natuurlik ook gestrek tot blanke vroue. Tydens die vroegmoderne tyd (van die 16de tot die 18de eeu) is ’n vrou beskou as óf ’n rein maagd, óf ’n losbandige hoer (vgl. Froide 1999; Mazo Karras 1999). Die 19de eeu is gekenmerk deur die Victoriaanse ontwikkeling van die sogenaamde “cult of true womanhood” of die “angel in the house”-sindroom (vgl. Welter 1996; Oakley 2002). hooks (1981:48) beskryf die kultus van “ware” vrouwees wat behels het dat ’n geïdealiseerde beeld van vroue in die 19de eeu hoogty gevier het. So ’n ideale vrou was beskeie, seksueel rein, onskuldig en weerloos. Die taalgebruik in dié hofsake wys die mate waarin blanke vroue beskou is as rein en slawevroue as losbandig (vgl. Stoler 2002).11 In die saak van Jonas van Manado (Worden en Groenewald 2005:73–83), wat sy eienaar se weduwee aangeval het, word die weduwee beskryf as “zijn weerlose lijfvrouwe” (75). Daar word ook gemeld dat die aanval plaasgevind het in “haar geslooten slaapkamer bij den naght”. Die saak speel af in 1719 nadat die weduwee Jonas se aansoek om vrylating weier. Die seksuele reinheid van die wit vrou word geïmpliseer deur die feit dat sy haar slaapkamerdeur gesluit het om sodoende haar “eer” te beskerm. Hierdie beskrywing herinner aan die mite van die swart verkragter en behels ’n totale ontkenning van die magsverhoudings tussen ’n slaaf en sy eienares. Sharpe (1994:224) wys daarop dat hierdie rassistiese stereotipe ’n ideologiese doel vervul, naamlik om geweld teen en onderdrukking van swart mans te regverdig. Weer eens word die vroulike liggaam, in hierdie geval die wit vroulike liggaam, die objek waarop rassistiese en seksistiese konstruksies geprojekteer word.

Dit is ironies dat die rassistiese konstruksie van die seksualiteit van mense van kleur wat hier gebruik word om die slaweman te onderdruk, in die saak van Jephta hier bo deur die slaweman geïnternaliseer is en teen die slawevrou gerig word. Weer eens word die onderdrukking van die slawevrou meervoudig: haar seksualiteit word as patologies beskou deur sowel haar blanke eienaars as deur die man wat blyk haar lewensmaat te wees. In die saak teen die slawe-eienaar, Michiel Lourich, wat sy slavin Diana se dood veroorsaak het, verwys hy na haar as “de diefse hoer” en voer hy aan dat sy “heeft het wel verdien” (Worden en Groenewald 2005:178). Hierdie hofstuk van 1740 verduidelik nie waarom Diana so wreed deur haar eienaar mishandel was nie. Dit is egter duidelik dat hy ook gewelddadig was teenoor sy vrou. Toe Diana tydens die aanval pleit: “Baas, ik ben al half dood”, reageer Lourich met die woorde: “Schrob12 jouw hoer” (180).

Terminologie wat soortgelyke genderaannames weerspieël, kom ook voor in die saak van die slaaf Andries van Bengalen wat ’n slawevrou aangeval het omdat hy haar verdink het van ontrouheid (202–5). Tydens die aanval skreeu hy: “Poeta [hoer]! Waarom doet ghij soo voor mij?” (203).

In al hierdie narratiewe word die vroulike slagoffer as ’n hoer beskryf wat verantwoordelik is vir die aanval.

3.2 Die genderaannames van blanke vroue en slavinne

Dit is egter nie net manlike slawe en eienaars wat slawevroue se seksualiteit as ’n bedreiging beskou het nie. In die saak van Claas van Bengalen (Worden en Groenewald 2005:232–40) is dit ook die blanke vrou van ’n slawe-eienaar wat meedoen aan die konstruksie dat vroue verantwoordelikheid dra vir die beheer van mans se seksualiteit. Die slawe Claas van Bengalen en Augustus van Malabar het blykbaar gereeld oor die slawevrou Aurora baklei. In die hofnarratief van 1744 konfronteer die eienaar se vrou, Anna Marais, die twee slawemans met die aantyging dat hulle “altijd over de oude teef bakkleijen [sic]” (234). Sy gaan verder en verklaar: “[H]adde ik dat geweeten, dat het soo een teef was, ik soude haar niet gekogt hebben.” Die implikasie is dus dat die probleem by Aurora lê, en dat die jaloesie en onmin haar skuld is, omdat sy ’n “teef” is.

Anna Marais se beskouing van Aurora se seksualiteit herinner sterk aan dié van Marieta, die wit vrou van die slawe-eienaar in The slave book. Marieta is veral vyandiggesind teenoor die jong slawemeisie, Somiela, maar sy som haar siening van slawevroue in die algemeen op deur aan haar dogter, Elspeth, te sê dat hulle “maklik” is (Jacobs 1998:104). Sy verwys ook na Somiela as ’n “slet” (66, 69). Elspeth aanvaar haar ma se oordeel en wanneer haar verloofde, Martinus, opmerk dat Somiela aantreklik is (25), rig Elspeth haar woede op die slawevrou. Eerder as om aan te neem dat Martinus verantwoordelik is vir die beheer van sy eie seksualiteit, reageer sy deur Somiela se lang hare af te knip (32–3) in ’n poging om haar minder aantreklik te maak. Soos Anna Marais, beskuldig Marieta die betreklik magtelose Somiela dat sy “moeilikheid” maak (66). Wanneer Marieta haar man kaal betrap saam met Somiela, is Somiela weer eens die teiken van haar woede en gooi sy kookwater op die slawevrou (178–9). Terwyl Aurora in die hofstukke stemloos bly, kry die leser van Jacobs se roman egter toegang tot Somiela se belewenis van die insident. Dit is duidelik dat haar eienaar van plan was om haar te verkrag, en sowel haar vrees as haar magteloosheid word deur die verteller op die voorgrond gestel.

Die omvang van genderaannames oor vroulike seksualiteit kom sterk na vore in die saak van Coenraad Appel (Worden en Groenewald 2005:460–68). In dié saak van 1775 word Appel daarvan aangekla dat hy herhaaldelik seks gehad het met sy stiefdogter, Elsie Anna. Ek neem die woord oor as seks hier in navolging van die beskrywing deur die samestellers (460). In die saak is daar egter geen aanduiding dat dit seks, eerder as verkragting, is wat hier ter sprake was nie.

Alhoewel Elsie Anna nie ’n slaaf was nie, is hierdie saak nuttig vir my betoog omdat dit die magswanbalans en gender-ongelykhede van ’n koloniale samelewing uitwys. Vir die doeleindes van hierdie artikel is die saak veral interessant omdat dit illustreer hoe ’n slawevrou self genderaannames maak oor vroulike seksualiteit wat daartoe lei dat ’n vroulike slagoffer verantwoordelik gehou word vir geweld. In die hofdokument meld Elsie Anna dat haar stiefvader “dwingd mij daartoe” (461) en sy beklemtoon haar onvermoë om hom te keer deur te vra: “Wat kan ik dat helpen?” en “Kan ik dat helpen?” (463). Die slawevrou, Filida van de Caab, plaas egter die blaam op Elsie Anna eerder as op Coenraad. Filida voeg Elsie Anna die volgende toe: “Foeij! Moet gij uw moeder zo bejeegenen, gij agt haar als een hond”; en “Foeij! Dat gij zulke goddeloose dingen met uw vader durfd doen!” (463). Filida beskou Elsie Anna as die subjek wat hierdie “dingen” met haar stiefvader “doen”.

Let egter op Filida se beskrywing van die insident in haar eie getuienis. Sy noem dat Elsie Anna na die fontein gegaan het om water te gaan haal en dat haar stiefpa “haar ten eersten nagevolgd was” (461). Toe Filida self fontein toe is om water te gaan haal, het sy gesien “dat haar lijfheer onder gemelde boom op ’t ontbloote lijf van gedagte haar nonje Elsie gelegen en haar vleeschelijk gebruijkt had” (461). In hierdie beskrywing van wat Filida “van nabij gesien had” (461), kry die leser ’n beeld van Elsie Anna wat passief lê terwyl haar stiefvader haar liggaam “gebruijkt”. Elsie Anna is die slagoffer van haar stiefvader se geweld, soos ook blyk uit haar moeder se getuienis dat Elsie Anna, “haare bijgebragte dogter[,] nu zeedert eenig geruimen tijd dikwels door der relatantes man geslagen geworden zijnde” (463).

Alhoewel Filida haar beskou as die subjek, is dit duidelik dat hier weinig sprake is van enige agentskap. McKeen (2001:39) verduidelik dat agentskap (die keuses wat subjekte self uitoefen) altyd beskou moet word in verbinding met bestaande magstrukure wat sal bepaal in watter mate subjekte se keuses beperk word. Die magsongelykheid tussen Elsie Anna en haar stiefpa beteken dus dat haar agentskap tot die uiterste beperk is. Ten spyte van al hierdie aanduidings dat Appel die gewelddoener is, blameer Filida vir Elsie Anna en meen “[a]ls gij een brave dogter waard, zou gij sulx niet doen” (463).

In haar belangrike studie van verkragting wys Bourke (2007:76) daarop dat ’n algemene verkragtingsmite voorhou dat die slagoffers daarvoor gevra het. Sy verduidelik dat daar ’n aanname bestaan dat vroue die verantwoordelikheid het om verkragting te verhoed, en dat hierdie aanname daartoe lei dat die fokus op die slagoffer eerder as op die verkragter geplaas word. ’n Verdere verkragtingsmite lui dat dit onmoontlik is om ’n vrou te verkrag as sy werklik probeer om die daad te verhoed (2007:27). Haar ontleding van die mite wys ook waarom vroue self kan kies om daarin te glo: As dit inderdaad só was dat teenkanting verkragting onmoontlik maak, sou dit beteken dat daar die moontlikheid bestaan dat vroue verkragting kan voorkom (2007:28). Dit kan dus aan vroue die illusie van selfbemagtiging gee. Die aanvaarding van dié mite lei egter daartoe dat verdere stigma op die slagoffer geplaas word. As sy verkrag word, is die implikasie dat sy nie hard genoeg terugbaklei het nie. Scully (1995:345) argumenteer dat die Kaapse geregshowe van die 19de eeu, soos howe in Engeland en die suidelike deelstate van Amerika, geneig het om manlike seksualiteit te beskou as onbeheerbare passie wat sterk beïnvloed word deur vroulike uitlokking. Dit was dan ook nie net Filida wat vir Elsie Anna verantwoordelik gehou het nie: die hof het haar gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf, terwyl Appel uit die kolonie verban is en moes terugkeer na Nederland (Worden en Groenewald 2005:460).

Gegewe die seksuele kwesbaarheid van die slawevrou se liggaam, kan die leser verstaan dat Filida self wou glo in hierdie verkragtingsmite. Scully (1995:337) meen dat kolonialisme toestande geskep het wat die omvangryke verkragting van vroue van kleur deur blanke mans moontlik gemaak het. Slawerny het behels dat slawe-eienaars die liggame van hul slawe besit het, en hooks (1981:24) wys dat dit ’n situasie geskep het waar slawevroue te alle tye bewus was van hul seksuele kwesbaarheid. Die magteloosheid van slawevroue selfs teenoor manlike slawe noop hedendaagse lesers om versigtig te wees wanneer hofsake verwys na “verhoudings” tussen slawe. Die hofnarratiewe noem byvoorbeeld dat Jephta van Batavia ’n “verhouding” gehad het met Maria van Ceijlon (Worden en Groenewald 2005:117).

My bedoeling hier is nie om te ontken dat slawevroue verlief geraak het of dat hulle intieme verhoudings aangeknoop het nie. Die gender-magsongelykhede beteken egter wel dat ons dit nie sonder meer kan aanvaar wanneer ’n hofnarratief na ’n verhouding verwys nie. Worden en Groenewald (263) noem dat slawe nie voor 1823 toegelaat was om wetlik te trou nie, maar dat dit hulle nie verhoed het om stabiele emosionele verhoudings aan te gaan nie. Morgan (1999:75) waarsku dat hedendaagse idees oor verhoudings en romanse nie geprojekteer kan word op verhoudings wat gespruit het uit trauma, afhanklikheid en beperkings nie. Spencer (2006:508) wys dat selfs verhoudings wat blyk wederkerig te wees, nietemin gevorm is deur die omstandighede van slawerny.

Sowel Scully (1995) as Van der Spuy (1996) bevestig dat slawevroue nie net slagoffers was van die geweld van slawe-eienaars nie, maar ook slagoffers van slawemans. Dit blyk ook duidelik uit die hofnarratiewe wat hier bo bespreek word. As gevolg van hierdie realiteit het slawevroue rede gehad om hulle by spesifieke slawemans te skaar wat hulle teen ander slawemans beskerm het (hooks 1981:36). ’n “Verhouding” wat aangegaan word deur ’n vrou in ’n desperate poging om haar liggaamlike integriteit te beskerm, is baie anders as ’n verhouding tussen gelykes wat gegrond is op liefde. Vir baie slawevroue was hierdie poging inderdaad desperaat, aangesien dit juis hul maat was wat hulle aanval, soos in die voorgaande hofnarratiewe beskryf word.

Sowel “liefde” as “gelykheid” as die basis van ’n verhouding is konstrukte wat eers in die 18de eeu ontwikkel het. In haar ontleding van die geskiedenis van die huwelik wys Coontz (2005:306) dat huwelike nie hoofsaaklik aangegaan is om twee mense saam te bring in ’n intieme verhouding van liefde nie. Die doel was eerder vir die partye om politieke en ekonomiese voordeel uit die verhouding te trek. Die idee dat die huwelik ’n liefdesband moet wees, het eers in die loop van die 18de eeu na vore getree. Hierdie historiese werklikhede moet dus in gedagte gehou word wanneer ons besin oor die verhoudings en huwelike in sowel die hofsake as die romans wat later bespreek word.

Let byvoorbeeld op die volgende uittreksels uit die saak van Fortuijn van Bengalen (Worden en Groenewald 2005:206–13) wat volgens die hofnarratief ’n verhouding met die slawevrou Christijn van de Caab gehad het. In die eerste hofstuk sê Christijn teenoor Fortuijn: “Ik wil met jouw niet meer te doen hebben, gij moet jouw leven niet weer komen, ik heb een ander man” (207). In die tweede hofstuk sien ons dat Christijn “seer verschrikt” (209) was toe Fortuijn na haar roep en dat sy soos volg reageer: “O God! Wat is hier [….] Wat doe ghij hier? Ghij hoeft hier niet weêr te koomen; ik begeer bij jouw niet meer te houden, want mijn baas en juffrouw die verstaan het niet” (209).

Fortuijn beland in 1742 in die hof omdat hy die huis van Christijn se eienaar aan die brand steek, deels omdat hy die eienaar as ’n struikelblok tot hul verhouding beskou. Die hofnarratief fokus op Fortuijn se motivering vir die brandstigting, maar dit val die leser op dat hy gefrustreerd is oor die beëindiging van ’n verhouding waarmee Christijn geensins wil voortgaan nie. Daar word voorgestel (206) dat Christijn die teenkanting van haar eienaars gebruik as ’n gemaklike verskoning. Vir die gender-sensitiewe leser blyk dit dat sy bang is vir Fortuijn en haar woorde weerspieël dat sy desperaat is om van hom ontslae te wees. Dit is interessant dat sy twee verskillende redes aanvoer, en dat sy haar in beide gevalle beroep op die gesag van mense wat meer mag besit as sy. In die eerste geval is dit ’n ander man, en in die tweede geval haar eienaars. Sy praat hier met ’n individu wat, soos sy, ’n slaaf is, maar sy voel dat dit nie genoeg gewig dra om te sê dat sy geen verdere verhouding met hom wil hê nie. Haar “nee” moet gekwalifiseer word.

Bourke (2007:75) wys daarop dat in situasies waar die vroulike liggaam as ’n vorm van eiendom beskou word, vorige toestemming tot seks die langtermyn-oorgawe van liggaamlike integriteit aan ’n man impliseer. In so ’n geval sou dit dus uiters moeilik wees vir ’n vrou om ’n verhouding te beëindig wat die man wil voortsit. In haar studie oor die korrelasie tussen die beëindiging van ’n verhouding en geweld teen vroue, vind Sev’er (1997) dat mans hulle dikwels wend tot grootskaalse vernietiging van eiendom. Sy beskou sulke dade as ’n ritualistiese vertoning van mag wat bedoel is om die vrou te intimideer. Uiteraard was Christijn se liggaam deel van haar eienaar se eiendom en alhoewel ons slegs beperkte inligting oor hulle verhouding uit hierdie hofstukke kry, kan ons nie sonder meer aanvaar dat Fortuijn haar nie op ’n soortgelyke wyse beskou het nie.

4. Die uitbreiding van die blik op slawelewens in Suid-Afrikaanse romans

4.1 Die seksuele kwesbaarheid van slavinne

In Die kremetartekspedisie onthou ’n naamlose slawevrou die ervarings wat daartoe gelei het dat sy skuiling gaan soek het in die kremetartboom. Haar naamloosheid weerspieël die ontkenning van individuele identiteit in ’n bedeling waar hulle “almal een vrou, uitruilbaar, verruilbaar” is (Stockenström 1981:22). Wanneer die stemme van slawevroue soos Maria, Jannetie en Christijn in die hofnarratiewe stil word, bied romans soos hierdie die leser die geleentheid om sig voor te stel hoe die patriargale dinamika die belewenis van slawevroue beïnvloed het. Vir haar eienaar is Stockenström se karakter “almal eenderse werkseenhede” (37), en as deel van hierdie werk “is dit bene oop vir die eienaar op sy beswete karos” (21).

Slawevroue was meer geneig as mans om ’n wye spektrum van arbeid te verrig. Hierdie verskeidenheid take het dan ook veelvuldige uitbuitings tot gevolg gehad het. Hulle kon werk op die landerye, in die huishoudings van eienaars, as “telers” van nuwe slawe en as seksuele objekte vir die “gebruik” van slawe-eienaars. Die liggaam van die slawevrou is des te meer waardevol vir die eienaar wanneer dit “vrugbaar en geil” is (Stockenström 1981:21). Die spreker noem ook dat slawemans van slawevroue geskei is deur werk: die mans het in die eienaar se pakhuise gewerk terwyl die vroue in sy huishouding gewerk het. In The slave book weet die ouer en meer ervare slawevrou, Rachel, dat vroue wat in die eienaar se huis werk, aan addisionele gevaar blootgestel word. Wanneer die jonger Somiela op die plaas aankom, waarsku Rachel haar dat haar werk in die huis sal beteken dat sy heeltyd in die nabyheid van die eienaar en sy familie sal wees en dat sy sal moet leer hoe om in die huishouding te oorleef (Jacobs 1998:30). Rachel is wel bewus van die kwesbaarheid van Somiela se liggaam in hierdie milieu en sy noem dat haar aantreklikheid hier eerder ’n vloek as ’n voordeel sal wees (30). Rachel se woorde blyk profeties te wees, en al die aanvalle op Somiela se liggaam, insluitende die eienaar se seksuele uitbuiting, vind inderdaad plaas in die loop van haar werk in die huishouding, en elke aanval word met haar skoonheid verbind. Ten spyte hiervan word dit beskou as ’n makliker werk om in die huis aan diens te wees. Wanneer Somiela terugpraat teenoor Marieta, word sy gestraf deur buite die huis te moet werk en sy word gemaan dat sy eers weer as huisslaaf mag werk as sy haar les geleer het (71). Ook Somiela se stiefpa, Sangora, is bly dat sy in die eienaar se huis bly, omdat hy glo sy sal daar veiliger wees (53). Die weerloosheid van haar liggaam binne die huishouding beteken egter dat dit juis die gevaarlikste ruimte is waarin sy haar kan bevind.

Ook in Die kremetartekspedisie is die seksuele uitbuiting “dié soort diens” waarvan die slawevrou die graagste “vrygeskeld” sou wil wees (Stockenström 1981:21). Rachel erken dat huisslawe wel toegang het tot kos, klere en ’n warm slaapplek (Jacobs 1998:30), maar Stockenström se spreker sou veel eerder “in die moordende hitte met kapmes en pik” in die tuin “swoeg” as om die “log en grof” eienaar se seksuele objek te wees.

In Unconfessed onthul Sila se herinnerings ook hoe seksuele misbruik ’n bykomende vorm van uitbuiting is in die geval van slawevroue. Sila noem dat sy kook, skoonmaak, was en stryk, en dat haar eienaar saans op haar sweet (Christiansë 2006:28).

Feministiese teoretici beklemtoon lank reeds dat verkragting ’n daad van magsuitoefening eerder as seks is (Brownmiller 1975). Davis (2001) brei verder hierop uit, en wys dat verkragting deur ’n slawe-eienaar ’n uitdrukking van sy mag en ekonomiese beheer oor die slawevrou is. Verkragting dien hier as ’n taktiek om slawevroue te terroriseer en om hulle moraal en menswaardigheid aan te tas.

Sowel Die kremetartekspedisie as Unconfessed beklemtoon hoe die slawevroue hierdie seksuele aanslae op hulle menswaardigheid teenstaan. Die skrywers fokus op die vroue se kwesbaarheid en hul innerlike mag, en skep sodoende ’n beeld wat die kompleksiteit van vroue se ervarings erken. Hierdie vroue is sowel slagoffers van geweld en onderdrukking as sterk individue wat terugveg teen uitbuiting. In Die kremetartekspedisie word die beskrywing van die verkragting gevolg deur die spreker se aandrang dat sy haar “dun neerslag van trots” sal behou. Sy “gee nie in nie” en sy “gee nie oor nie” (Stockenström 1981:21). Ten spyte van die totale magteloosheid om haar eie liggaamlike integriteit te beskerm, weier Sila om haarself ’n slaaf te noem (Christiansë 2006:28). Die karakters wend hulle tot beelde van die see in ’n poging om ’n deel van hulself te weerhou van die verkragters wat absolute mag oor hul liggame uitoefen. Die naamlose slawevrou luister “op sy karos na die seegeruis” en na die “geslaan van die branders ver agter sy gesteun” en sy vind dat dit haar “sus” (Stockenström 1981:21). Ook Sila dink aan die see en hoor hoe dit deur haar ore spoel terwyl haar eienaar op haar sweet (Christiansë 2006:28). Terwyl ons nie kan weet waaraan Elsie Anna gedink het terwyl haar stiefvader haar liggaam gebruik het nie, kry die leser hier ’n blik op hoe hierdie vroue alles in hul uiters beperkte vermoë doen om te verhoed dat die steunende, swetende mans hulle menswees heeltemal vernietig.

Ostriker (1986:109) wys daarop dat die beeld van water algemeen in die Westerse letterkunde voorkom en dat dit merendeels vereenselwig word met gevaar, vernietiging en vroulikheid. In die feministiese letterkunde is daar egter ’n ryk tradisie van skrywers wat die beeld van water approprieer en op nuwe wyses aanwend (Piercy 1982; Rich 1985; Vera 1996). Ook in Die kremetartekspedisie en Unconfessed assosieer die karakters water met troos en sekuriteit wanneer hulle liggame aangeval word. Water simboliseer vloeibaarheid en die wegsmelting van grense. Hierdie konnotasies maak dit ’n nuttige beeld vir skrywers wat bestaande gender-hiërargieë kritiseer. Die voortdurende vervloeiing en verandering van water reflekteer die moontlikheid dat ook die magsverhoudinge van die partriargale stelsel kan verander. Tydens die verkragting meld die naamlose slawevrou dat sy “van water” en “’n vervloeiende in allerlei vorms” (Stockenström 1981:21) is en met hierdie wete glimlag haar oë (22).

Stockenström en Christiansë gee die leser dus insig in die wyse waarop slawevroue hul verbeelding aanwend, in dié geval as ontvlugtings- en selfbeskermingsmeganisme. Hiermee dra hulle ook by tot ’n ommeswaai in die koloniale konstruksie van vroue in die algemeen, en veral van vroue van kleur.

In die klassieke feministiese teks The second sex wys De Beauvoir (1949) daarop dat vroue met liggaamlikheid en die natuur vereenselwig word, terwyl denke, rasionaliteit en kultuur met manlikheid assosieer word. Hierdie gender-sienswyse kom sterk na vore in Benadé se Kites of good fortune (2004), wat in die 17de-eeuse Kaap afspeel. Alhoewel hierdie roman nie direk fokus op die belewenis van slawe nie, bevat dit insiggewende onthullings oor die gender-hiërargieë in die Kaapkolonie. Die hoofkarakter Anna de Koning, die dogter van ’n vrygestelde slavin, is ’n talentvolle botanis. Sy verseker egter haar moeder dat sy haarself daartoe sal beperk om plante uit te droog en te teken, eerder as om enigiets wetenskapliks aan te pak. Haar moeder reageer met verligting dat dit baie meer vroulik is en haar in ’n beter posisie sal plaas om ’n man te vind wat haar sal onderhou (30). Vir ’n vrou in hierdie samelewing om haar intelligensie te gebruik sou as patologies beskou word, aangesien dit met manlikheid verbind is.

In die beskrywings van die verkragtings van die naamlose slawevrou en Sila keer Stockenström en Christiansë egter hierdie geykte binêre opposisie tussen manlikheid/ denke/brein en vroulikheid/emosies/liggaam om. Die gesteun en gesweet van die verkragters fokus die leser se aandag op die liggaamlikheid van die mans, terwyl die slawevroue toevlug vind in hul denke en hul eie metaforiese konstruksies van die see. Hierdie ryk innerlike lewe en kreatiewe intellektuele oorlewingstaktieke van slawevroue is iets waarvan ons weinig aanduiding kry in die hofnarratiewe. Dáár word die slawevrou meestal gereduseer tot die seksueel losbandige hoer wat haar “maat” tot geweld dryf deur haar ontrouheid. Die hofnarratiewe is uiteraard geskep binne die rassistiese en seksistiese diskoerse wat in die Kaapkolonie geheers het. In romans kry skrywers egter die geleentheid om hierdie diskoerse te bevraagteken en om alternatiewe moontlikhede aan die leser voor te stel.

In Kites of good fortune is Benadé (2004) eksplisiet oor die koloniale diskoerse wat vroue se lewensomstandighede gevorm het. Terwyl die leser van hofnarratiewe tussen die reëls moet lees om te ontgin hoe hierdie diskoerse die narratiewe beïnvloed het, laat die roman die leser toe om te sien hoe die aannames in die karakters se eie woorde weerspieël word. Anna de Koning is die dogter van ’n eertydse slawevrou. Sy het groot opgang gemaak in die Kaapse sosiale strukture en is met ’n belangrike ampsdraer van die koloniale bestel getroud. Ten opsigte van haar vermoë om haar liggaamlike integriteit te beskerm, is sy egter steeds relatief weerloos. Benadé verbind hierdie weerloosheid met sowel die verkragtingsmites wat hier bo bespreek is as die koloniale siening van vroue van kleur se seksualiteit. Voordat die goewerneur Anna verkrag, voeg hy haar toe dat sy nooit respektabel sal wees nie, omdat die mentaliteit van slawe in haar ingeteel is (139). Dit is natuurlik nie haar mentaliteit wat hier ter sprake is nie, maar sy eie aannames oor die seksuele beskikbaarheid van slawevroue. In sy regverdiging van die verkragting lys hy die bekende aannames oor vroue, en veral vroue van kleur, se seksualiteit sodat hy dit selfs voor die aanval duidelik maak dat sy vir dié geweld verantwoordelik is. Hy sê dat sy moreel losbandig is, dat sy hom aanleiding gegee het en dus daarvoor gevra het (140).

Anna se reaksie ná die verkragting wys sowel hoe algemeen hierdie mites aanvaar is as die beperkte moontlikhede wat ’n vrou gehad het om weerstand te bied. Sy beskryf die verkragting as haar vernedering en sy noem dat die standaard-aanname oor verkragting was dat die vrou daarvoor gevra het (141). Sy oorweeg dit nie eers om die aanval te rapporteer nie, aangesien dit haar vernedering slegs van die private tot die openbare sfeer sal verhef wanneer die gewelddoener dit ontken (141). Soos die slawe-eienaar se weduwee wat in die saak van Jonas van Manado bespreek is (Worden en Groenewald 2005:73–83), beskou sy haarself as “weerloos”, en alhoewel sy nie vir haar man sal vertel van die verkragting nie, hunker sy na sy terugkeer (141).

Alhoewel die roman die verhouding tussen Anna en haar man Olaf as een van liefde voorstel, val dit die leser op dat die veiligheid wat hierdie beskermer Anna bied, hoogstens tentatief is. Die gender-magsongelykhede wat Anna in die eerste plek kwesbaar gelaat het, word ook deur Olaf voorgehou. Hy het baie spesifieke idees oor wat ’n vrou se plek is, en verkies dat Anna haar aandag skenk aan haar sosiale verpligtinge eerder as om haar passie vir botaniese tekeninge te volg. Hierdie soort intellektuele gedrewenheid beskou Olaf nie as aanvaarbare werk vir ’n vrou nie (171). Geweld blyk ook net onder die oppervlak van hierdie skynbaar liefdevolle verhouding te lê. Na ’n argument merk Anna op dat Olaf se oë ysig blou word en dat hy gevaarlik lyk (123). Hy lig sy hand op om haar te slaan, maar slaag daarin om hom slegs met groot moeite te beheer (123).

Alhoewel slawe meestal in die agtergrond van hierdie roman voorkom, kan die leser sigself indink hoeveel meer hulle blootgestel was aan geweld. Terwyl Anna kwesbaar is in haar eie huis en in die huis van haar gasheer in die geval van die verkragting, het slawevroue se blootstelling tot geweld ook gestrek tot buite hul werk in die eienaar se huishouding of landerye. In Die kremetartekspedisie meld die slawevrou dat sy ook in die slaaphut “versigtig” moes wees en enige “murmerering” moes sensor, aangesien daar “verklikkers” was tussen hulle en “om uitgevind te word beteken jou tong word uitgesny” (Stockenström 1981:21). Die moontlikheid van geweld in die slaaphut kom ook na vore in Unconfessed,en hier is die bedreiging seksueel van aard. Sila onthou dat haar medeslaaf Jephta eenvoudig aanvaar het dat hy met haar seks kon hê en meester oor haar kon speel (Christiansë 2006:263). Sila baklei egter terug en merk op dat alhoewel sy niks kan doen om haar eienaar se toegang tot haar liggaam te keer nie, sy sal verseg dat ’n ander slaaf van haar ’n slaaf sal maak. In hierdie uittreksel verbind Christiansë seks en bemeestering, en stel sodoende voor dat seksuele misbruik neerkom op ’n eiesoortige tipe slawerny waaraan vroue soos Sila onderworpe is.

In The slave book artikuleer Rachel die idee dat toegang tot die vroulike liggaam ’n man se natuurlike reg is (Jacobs 1998:36), en dit beteken dat die “jongenshuis” gevaar vir Somiela inhou. Rachel meen dat die instelling van slawerny mans ontneem van hierdie reg en dat hulle uitgehonger is vir vroue se liggame. Eerder as om hierdie “reg” te bevraagteken, plaas Rachel die verantwoordelikheid op Somiela en maan haar om weg te bly van die jongenshuis.

Van der Spuy (1996) kritiseer die aanname dat verkragting en geweld, hetsy teen vroue of mans, verklaar kan word aan die hand van seksuele frustrasie of die tekort aan vroue. Sy beskou hierdie vorme van geweld tereg as politieke dade wat gesien moet word as pogings om mag uit te oefen.

Die saak van Frans van Madagascar (Worden en Groenewald 2005:426–33) verskaf ook ’n leidraad oor die seksuele kwesbaarheid van slawevroue in die “slavinnen kamer” (427). In hierdie saak van 1768 is Frans aangekla van die moord op Willem. Frans wou klaarblyklik wraak neem omdat Willem hom geslaan het nadat hy hom dronk betrap het. Die inleiding tot die saak meld dat Willem spesiale voorregte gehad het wat uit sy posisie as mandoor (slawe-opsigter) gespruit het en dat dit tot gevolg gehad het dat hy in die slawevroue se kamers geslaap het.13 Alhoewel die hofnarratief nie bespiegel oor die implikasies van Willem se posisie in die vrouekamer nie, val dit die leser op dat toegang tot die liggame van slawevroue moontlik deel van sy spesiale voorregte was.

In The slave book het die brutale mandoor Kananga ook seksuele voorregte en die eienaar ignoreer sy misbruik van slawe (Jacobs 1998:53). Alhoewel die teiken van Kananga se seksuele uitbuiting ander mans is, onthul die beskrywings hoe selfs die seksuele misbruik van mans met vroulikheid verbind word. Kananga se slagoffers is Petroos en Hanibal. Sangora noem dat Petroos as gevolg van Kananga se aanval net soos ’n vrou geword het (53). Volgens Arend en Sangora dui Petroos se belaglike laggie en die wyse waarop hy sy arms rondswaai wanneer hy praat, op hierdie vroulikheid (53). Vir hierdie slawemans is die assosiasie tussen seksuele misbruik en vroulikheid so sterk dat hulle die slagoffer slegs in vroulike terme kan konstrueer. 

4.2 Patriargie, slawe en ouerskap

Voorgaande bespreking maak dit duidelik in watter mate die slawevrou se liggaam haar belewenis van slawerny beïnvloed het. Die alomteenwoordige moontlikheid van seksuele uitbuiting moet ook verbind word met ’n ander unieke kenmerk van die vroulike liggaam wat slawevroue se ervarings eiesoortig gemaak het, naamlik hul vermoë om kinders te baar. Die kinders van slawevroue was die eiendom van die slawe-eienaar (Malherbe 2005). Dit het behels dat die eienaar die kinders op enige stadium kon verkoop.

In Die kremetartekspedisie artikuleer die naamlose spreker hoe só ’n skeiding van moeder en kind in die liggaam van die slawevrou beleef is. Kinders word van die moeders “weggeneem en verkoop terwyl hulle nog kleuters is” en terwyl die moeders “se liggame nog na hulle honger” (Stockenström 1981:22). Ná die geboorte word die slawevrou “tweedehands” verkoop en sy en haar “bondeltjie baba” word “afsonderlik verhandel” (40). Sy kan net wonder of sy haar kinders met haar “moedergevoel sou kon uitken” as sy hulle weer sou raakloop (54).

Die aanvulling van die slawebevolking was een van die bykomende werksladings van die slawevrou, en figureer ook in The slave book (Jacobs 1998:23) in die eienaar se besluit om Somiela te koop. Rachel is self van haar kind geskei en weet nie waar sy is of hoe sy lyk nie (29). Sy beskryf die pyn van hierdie verlies ook in terme van ’n watermetafoor as iets wat swel en eb, maar altyd teenwoordig is (29). In Unconfessed noem Sila dat alhoewel dit moeilik is om aan haar kinders te dink, hulle elke oomblik van elke dag in haar gedagtes is (Christiansë 2006:206). Sy beskou die verbintenis met haar kinders as ’n deel van haar menswees en sy wonder of die mense wat hulle uitmekaar gedryf het, onder die waan verkeer het dat sy haar kinders sou vergeet soos ’n koei of ’n vark.

Die wyse waarop hedendaagse lesers hierdie beskrywings van moeders se ervarings verstaan, word sterk beïnvloed deur moderne aannames waarna Bloch (1978) verwys as “the rise of the moral mother”. Volgens Bloch het die simbool van die ideale moeder eers in die 19de eeu die mag verwerf wat dit vandag steeds geniet. Die saggeaarde, geduldige en gedwee Victoriaanse vrou se sosiale invloed was grotendeels beperk tot haar posisie as moeder. In hierdie sfeer is vroue beskou as die oordraers van godsdienstige en morele waardes. Voor die 19de eeu is daar nie veel aandag geskenk aan vroue as moeders nie en was daar ook heelwat minder normatiewe klem op of simboliese waardering vir moederskap (Bloch 1978:103). Soos vandag, het die 19de-eeuse siening van die moeder die hoogste waardering gehad vir die spesiale emosionele verbintenis tussen die moeder en die kind. Wanneer ons narratiewe soos dié van Sila en Rachel lees, is dít die lens waardeur ons die desperaatheid van slawemoeders verstaan (vgl. Murray 2008).

Wanneer kinders wel op dieselfde eiendom as hulle ouers gebly het, was dit dikwels onmoontlik vir slawe-ouers om hul kinders te beskerm. Sila is byvoorbeeld magteloos om haar seun teen die eienaar se geweld te beskerm en haar desperaatheid lei daartoe dat sy die kind doodmaak. Mans is beskou as sterk en magtig en was dus verantwoordelik vir die beskerming van die vrou en die kinders, wat ook algemeen saam gegroepeer is. Die man/vader beklee ’n selfstandige kategorie, teenoor die magtelose vrou en kinders wat die objekte van manlike beskerming is.

Hierdie aannames blyk duidelik uit ’n ontleding van die taalgebruik in die hofnarratiewe. In die saak van byvoorbeeld Januarij van Tutocorijn hoor ons “dat soo een gaauwdief aan vrouw en kinderen, daar geen man in huijs is, dodelijke alteratie en ongemakken soude konnen veroorsaken” (Worden en Groenewald 2005:145). Hierdie uittreksel illustreer sowel die neiging om vroue saam met kinders te groepeer as die aanname dat hulle magteloos is sonder ’n man.

Die bespreking hier bo stel egter voor dat die teenwoordigheid van ’n man of vaderfiguur allermins die veiligheid van die vroulike gesinslede waarborg. In die saak van Coenraad Appel en sy stiefdogter, Elsie Anna, blyk juis die teenoorgestelde die geval te wees. Sila, wat goed vertroud is met manlike geweld, aanvaar self die rol van haar kind se beskermer, en die tragiese gevolge kan toegeskryf word aan die omvang van slawevroue se onderdrukking in hierdie rassistiese en partriargale samelewing.

Die genderaannames oor die beskermingstaak van vaders dra by tot die hulpeloosheid van slawemans wanneer hulle nie daartoe in staat is om hierdie take te vervul nie. In sulke gevalle voel dit soos ’n mislukking van nie slegs vaderskap nie, maar ook van manlikheid. Nadat Marieta kookwater op Somiela gooi, gebruik die slaaf Salie hierdie genderkonstruksies om Sangora aan te moedig om wraak te neem. Hy vra of Sangora gaan toelaat dat hulle wegkom met sulke geweld teen sy vrou se kind (Jacobs 1998:184). Salie se uittarting is so suksesvol dat Sangora se woede oorkook en hy vir Marieta aanval. In die saak van Reijnier van Madagascar (Worden en Groenewald 2005:263–9) word ’n slaaf op soortgelyke wyse deur ander slawe uitgetart omdat hy nie sy dogter kan beskerm nie. In dié saak van 1749 het Reijnier ontsnap en is hy ná 20 jaar weer aangekeer. In die hofstuk vind ons ’n verduideliking vir waarom hy sy eienaar aangeval en ontsnap het. Die slawe Hans en Patas vra vir Reijnier hoe hy sulke “mishandeling” van sy dogter kan “verdragen” en hulle meen dat “die meijd moeste onse dogter niet sijn, of wij souden de baas wat anders leeren” (264). Volgens die hofnarratief val Reijnier daarna die eienaar met ’n mes aan “uijt mismoedigheijd en hertseer” (264).

Terwyl ek nie bevraagteken dat Reijnier wel mismoedig of hartseer was nie, kan sy daad beter verstaan word as die leser aandag skenk aan die wyse waarop ander mans sy manlikheid bevraagteken het. Hierdie punt word ook goed geïllustreer deur die saak van Michiel Radijn van 1774 (Worden en Groenewald 457–9). Radijn was ’n blanke kneg wat die slaaf Julij van de Caab geslaan het omdat Julij sy eie kind getugtig het. Julij was nie toegelaat om beheer uit te oefen oor sy kind nie en sy frustrasie kan gelees word as deels te wyte aan die feit dat hy hierdie onvermoë as ’n bedreiging van sy manlikheid beskou het.

Van der Spuy (1996) verduidelik dat slawemans sielkundig impotent gelaat is deur die instelling van slawerny. hooks (1981) wys ook hoe die opbreek van die slawegesin slawemans ontneem het van hulle patriargale rolle as mans en vaders.

Weer eens moet ons in gedagte hou hoe die gevolge van hierdie aanval op slawe se manlikheid op vroue se liggame uitgespeel het. Alhoewel die teiken van Reijnier se ritualistiese magsvertoning die eienaar was, wys dié artikel hoe dikwels vroue die slagoffers van sulke geweld geword het. Ons begaan egter ’n denkfout wanneer ons aanneem dat die man se afwesigheid, of sy onvermoë om die rol van beskermer te vervul, hierdie vroue kwesbaar gelaat het. Dit is eerder die genderkonstruksies van die vrou as magteloos wat haar weerloosheid in die eerste plek veroorsaak. Enige ontkenning hiervan hou ons in ’n bose kringloop wat die seksistiese en rassistiese sosiale struktuur onaangetas laat.

5. Gevolgtrekking

Hierdie artikel het hofnarratiewe saam met geselekteerde Suid-Afrikaanse romans gelees in ’n poging om ’n meer omvattende beeld van slawevroue se ervarings te verkry. Deur middel van ’n ontleding van die taalgebruik in die tekste onthul die artikel hoe genderkonstruksies die slawevrou se liggaam op eiesoortige wyses blootgestel het aan geweld. Hierdie geweld kon kom uit verskeie oorde, insluitende die slawe-eienaars, die eienaars se vroue, en slawemans.

Brownmiller (1975:15) voer aan dat verkragting ’n vorm van intimidasie is waardeur alle mans alle vroue in ’n toestand van vrees hou. Dit beteken natuurlik nie dat alle mans gewelddadig is of dat alle mans mag het en alle vroue magteloos is nie (Se’ver 1997). Die vroue van eienaars kan byvoorbeeld nie beskou word as magteloos in vergelyking met slawe nie, en hulle word dikwels voorgestel as gewelddoeners uit eie reg, soos in die geval van Marieta in The slave book. Ons kan ook nie sonder meer aanvaar dat alle slawevroue totaal magteloos was nie. In Die kremetartekspedisie noem die naamlose slawevrou dat sy oor “meer mag beskik […] as menige eggenote” (Stockenström 1981:34). Sy betaal egter vir hierdie mag deur die eienaar se seksuele gebruik van haar liggaam. Ook wanneer slawevroue nie oor sulke mag beskik het nie, wys Sila in Unconfessed hoe sy selfs binne haar uiters beperkte omstandighede weerstand bied teen uitbuiting. Dit is egter so dat die vroulike liggaam aan verskillende lae van uitbuiting onderworpe was, en sowel vroue se seksuele kwesbaarheid as hul vermoë om kinders te baar beteken dat die belewenis van slawerny fundamenteel beïnvloed was deur gender.

Hierdie artikel het die rassistiese en patriargale diskoerse in tekste wat op die Kaapkolonie fokus, geïdentifiseer en gewys hoe hierdie diskoerse op vroue se liggame uitspeel.

Bibliografie

Alpers, E.A., G. Campbell en M. Salman. (reds.). 2007. Resisting bondage in Indian Ocean Africa and Asia. New York: Routledge.

Ankersmit, F.R. 1990. De navel van de geschiedenis: Over interpretatie en historische realiteit. Groningen: Historische Uitgeverij.

Armstrong, J. 2004. Jim Armstrong on Kites. Therese Benadé: Author. http://www.theresebenade.com/index.php/kites/#Jim Armstrong on Kites (22 September 2010 geraadpleeg).

Bachman, R. en L. Saltzman. 1995. Violence against women: Estimates from the redesigned survey. Washington: Department of Justice.

Bean, C. 1992. Women murdered by the men they loved. New York: Haworth.

Beecher Stowe, H. 1986. Uncle Tom’s cabin. Londen: Penguin.

Benadé, T. 2004. Kites of good fortune. Claremont: David Philip Publishers.

Bennett, J.M. en A.M. Froide. (reds.). 1999. Single women in the European past, 1250–1800. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.

Bloch, R.H. 1978. American feminine ideals in transition: The rise of the moral mother, 1785-1815. Feminist Studies, 4(2):100–26.

Block, C.R. en A. Christakos. 1995. Intimate partner homicide in Chicago over 29 years. Crime and Delinquency, 41(4):496–526.

Bourke, J. 2007. Rape: A history from 1860 to the present. Londen: Virago.

Brink, A. P. 1975. ’n Oomblik in die wind. Kaapstad: Human en Rousseau.

—. 1982. Houd-den-bek. Emmerentia: Taurus.

—. 2000. The rights of desire. Londen: Secker and Warburg.

Brown, A., K.R. Williams en D.G. Dutton. 1999. Homicide between intimate partners. In Smith en Zahn (reds.) 1999.

Brownlee, R. 2005. Garden of the plagues. Kaapstad: Human en Rousseau.

Brownmiller, S. 1975. Against our will: Men, women and rape. New York: Fawcett Books.

Chase-Riboud, B. 1979. Sally Hemmings. New York: St. Martin’s Griffin.

Christiansë, Y. 2006. Unconfessed. Kaapstad: Kwela.

Coontz, S. 2005. Marriage, a history: From obedience to intimacy or how love conquered marriage. New York: Viking.

D’Aguiar, F. 1995. The longest memory. Londen: Vintage.

Davis, A.Y. 2001. Women, race, class. Londen: The Women’s Press.

De Beauvoir, S. 1949. The second sex. Londen: Vintage.

Froide, A.M. 1999. Marital status as a category of difference: Single women and widows in early modern England. In Bennett en Froide (reds.) 1999.

Gasa, N. (red.). 2007. Women in South African history: They remove boulders and cross rivers. Kaapstad: HSRC Press.

Gqola, P. D. 2007. “Like three tongues in one mouth”: Tracing the elusive lives of slave women in (slavocratic) South Africa. In Gasa (red.) 2007.

—. 2010. What is slavery to me? Postcolonial memory and the post-apartheid imagination. Johannesburg: Wits University Press.

Groenewald, G. 2010. Slaves and free blacks in VOC Cape Town, 1652–1795. History Compass, 8/9:964–83.

hooks, bell. 1981. Ain’t I a woman?: Black women and feminism. Londen: Pluto Press.

Hutcheon, L. 1988. A poetics of postmodernism: History, theory, fiction. New York: Routledge.

Jacobs, R. 1998. The slave book. Kaapstad: Kwela.

Jones, G. 1975. Corregidora. Boston: Beacon.

Kellerman, A.L. en J.A. Mercy. 1992. Men, women, and murder: Gender-specific difference in rates of fatal violence and victimization. Journal of Trauma, 33:1–2.

Lenta, M. 2008. Sentencing slaves: Verdicts of the Cape courts, 1705–1794. English in Africa, 35(2):34–51.

Lewis, J.A. en P.S. Onuf. (reds.). 1999. Sally Hemmings and Thomas Jefferson: History, memory, and civic culture. Charlottesville: University of Virginia Press.

Loomba, A. 1998. Colonialism/Postcolonialism. Londen: Routledge.

Malherbe, V.C. 2005. In onegt verwekt: Law, custom and illegitimacy in Cape Town, 1800–1840. Journal of Southern African Studies, 31(1):163–85.

Mason, J. 2003. Social death and resurrection: Slavery and emancipation in South Africa. Charlottesville: University of Virginia Press.

Mazo Karras, R. 1999. Sex and the single woman. In Bennett en Froide (reds.) 1999.

McFarlane, J., J.C. Campbell en K. Watson. 2002. Intimate partner stalking and femicide: Urgent implications for women’s safety. Behavioral Sciences and the Law, 20(1–2):51–68.

McKeen, W. 2001. The shaping of political agency: Feminism and the national social policy debate, the 1970s and early 1980s. Studies in Political Economy, 66:37-58.

Morgan, P. 1999. Interracial sex in the Chesapeake and the British Atlantic world, c. 1700–1820. In Lewis en Onuf (reds.) 1999.

Morrison, T. 1987. Beloved. Londen: Vintage.

Murray, J. 2008. When good mothers kill: A representation of infanticide. Agenda, 78:32–41.

Murray, K. 1974. Fiction, history and empirical reality. Critical Inquiry, 1(2):335–60.

Norton, M.B. en R.M. Alexander. (reds.). 1996. Major problems in American women’s history. Toronto: D.C. Heath and Company. 

Oakley, A. 2002. Gender on Planet Earth. Londen: Blackwell Publishers.    

Ostriker, A.S. 1986. Stealing the language: The emergence of women’s poetry in America. Londen: The Women’s Press.

Penn, N. 1999. Rogues, rebels and runaways: Eighteenth-century Cape characters. Kaapstad: David Philip Publishers.

Piercy, M. 1982. Circles of the water: Selected poems. New York: Knopf. 

Rich, A. 1985. The fact of a doorframe: Poems selected and new, 1950–1984. Londen: W.W. Norton.

Raidt, E.H. 1994. Historiese taalkunde: Studies oor die geskiedenis van Afrikaans. Johannesburg: Witwatersrand University Press.

Ross, R. 1979. Oppression, sexuality and slavery at the Cape of Good Hope. Historical Reflections, 6(2):412–33.

—. 1983. Cape of torments: Slavery and resistance in South Africa. Londen: Routledge & Kegan Paul.

—. 1993. Beyond the pale: Essays on the history of colonial South Africa. Johannesburg: Wits University Press.

Scully, P. 1995. Rape, race and colonial culture: The sexual politics of identity in the nineteenth-century Cape colony, South Africa. American Historical Review, 100(2):335–59.

Serran, G. en P. Firestone. 2004. Intimate partner homicide: A review of male proprietariness and the self-defense theories. Aggression and Violent Behavior, 9:1–15.

Sev’er, A. 1997. Recent or imminent separation and intimate violence against women: A conceptual overview and some Canadian examples. Violence against Women: An International Interdisciplinary Journal, 3(6):566–89.

Sharpe, J. 1994. The unspeakable limits of rape: Colonial violence and counter-insurgency. In Williams en Chrisman (reds.) 1994.

Smith, M.D. en M.A. Zahn. (reds.). 1999. Homicide: A sourcebook of social research. Thousand Oaks: Sage.

Spencer, S. 2006. Historical memory, romantic narrative, and Sally Hemmings. African American Review, 40(3):507–31.

Steinberg, M.W. 2003. Charles Johnson’s “Middle passage”: Fictionalizing history and historicizing fiction. Texas Studies in Literature and Language, 45(4):375–90.

Stockenström. W. 1981. Die kremetartekspedisie. Kaapstad: Human en Rousseau.

Stoler, L.A. 2002. Carnal knowledge and imperial power: Race and the intimate in colonial rule. Berkley: University of California Press.

Van Coller, H.P. 1989. Houd-den-bek as meervoudige ek-roman. Acta Academica, 21(2):41-83.

Van der Spuy, P. 1991. Gender and slavery: Towards a feminist revision. South African Historical Journal, 25(1):184–95.

—. 1992. Slave women and the family in nineteenth-century Cape Town. South African Historical Journal, 27:50–74.

—. 1993. A collection of discrete essays with the common theme of gender and slavery at the Cape of Good Hope with a focus on the 1820s. MA-verhandeling, Universiteit van Kaapstad.

—. 1996. “What then was the sexual outlet for black males?”: A feminist critique of quantitative representations of women slaves at the Cape of Good Hope in the eighteenth century. Kronos, 23:43–56.

Van Heerden, E. 1997. Postmodernisme en prosa: Vertelstrategieë in vyf verhale van Abraham H. de Vries. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Zyl, D. s.j. Estienne Barbier, renegaat en romanfiguur, in die lig van die storie, historie en historiografie. http://sun025.sun.ac.za/portal/page/portal/Arts/Departemente1/afr-ndl/documente/Estienne_ Barbier.pdf (15 Junie 2010 geraadpleeg).

Vera, Y. 1996. Under the tongue. Harare: Baobab Books.

Viljoen, L. 2002. Kan die slaaf praat? Die stem van die slaaf in enkele Brink-romans. Stilet, xiv(2):92–116.

Walsh, R. 2003. Fictionality and mimesis: Between narrativity and fictional worlds. Narrative, 11(1):110-12.

Watson Andaya, B. 1998. From temporary wife to prostitute: Sexuality and economic change in early modern Southeast Asia. Journal of Women’s History, 9(4):11–34.

Welter, B. 1996. The cult of true womanhood, 1820-1860. In Norton en Alexander (reds.) 1996.

Wenzel, M. 2004. Re-writing the “slave narrative”: Rayda Jacobs’s “The slave book” and André Brink’s “The rights of desire”. English in Africa, 31(1):91–103.

White, H. 1973. Metahistory: The historical imagination in nineteenth-century Europe. Baltimore: John Hopkins University Press.
 
—. 1984. The question of narrative in contemporary historical theory. History and Theory, 23(1):1–33.

Williams, P. en L. Chrisman. (reds.). 1994. Colonial discourse and post-colonial theory: A reader. New York: Columbia University Press. 

Williams, S.A. 1986. Dessa Rose. New York: Harper Perennial.

Wilson, M.I. en M. Daly. 1993. Spousal homicide risk and estrangement. Violence and Victims, 8:3–16.

Worden, N. 1985. Slavery in Dutch South Africa. Cambridge: Cambridge University Press.

—. 2007. Revolt in Cape colony slave society. In Alpers, Campbell en Salman (reds.) 2007.

Worden, N. en G. Groenewald (reds.). 2005. Trials of slavery: Selected documents concerning slaves from the criminal records of the council of justice at the Cape of Good Hope, 1705–1794. Kaapstad: Van Riebeeck-vereniging vir die publikasie van Suid-Afrikaanse historiese dokumente.

Eindnotas

1 Stockenström (1981:109)

2 In Gqola se jongste werk ondersoek sy ook literêre voorstellings van slawe en hedendaagse herskrywings van die 18de en 19de eeue. In hoofstuk twee (2010:61-104) bied sy ’n ontleding van ’n aantal tekste wat wys hoe moeilik dit is om Sarah Bartmann voor te stel.

3 Ander alombekende literêre tekste oor Amerikaanse slawerny sluit in Jones se Corregidora (1975); Beecher Stowe se Uncle Tom’s cabin (1968); Williams se Dessa Rose (1986); Chase-Riboud se Sally Hemmings (1979); en D’Aguiar se The longest memory (1995).

4 Vir breedvoerige besprekings van Brink se Houd-den-bek, sien Van Coller (1989) en Viljoen (2002).

5 Hierdie neoslawenarratiewe maak geen aanspraak daarop dat hulle feitelik korrek is nie. Alhoewel Jacobs in haar “Erkennings” die werk van ’n aantal vooraanstaande historici (soos Robert Shell, Robert Ross, Susan Newton-King en Wayne Dooling) noem, poog sy om met ’n literêre verbeeldingsvlug ons verstaan van slawelewens uit te brei eerder as om die omstandighede van hierdie lewens feitelik weer te gee. In Die kremetartekspedisie en Unconfessed dui die skrywers nie aan watter bronne hulle gebruik het nie. In sy toespraak by die bekendstelling van Kites of good fortune meld die historikus Armstrong (2004) dat die teks deeglik gegrond is in argivale navorsing. Hy noem ook dat dit geensins verbasend is dat daar heelwat meer dokumentasie oor Olof Bergh as oor Anna de Koning is nie, aangesien vroue se ervarings oor die algemeen minder verteenwoordiging in argiewe geniet as dié van mans. Dit is, volgens Armstrong (2004), waar die romanskrywer ’n daadwerklike bydrae kan lewer. Die historikus kan nie veel weet oor Anna se geaardheid en vaardighede nie, maar die skrywer versin ’n innerlike lewe wat hierdie karakter toeganklik maak vir lesers van die roman.

6 Vir ’n omvattende studie van historiese taalkunde, sien Raidt (1994). Die leser wat belangstel in taal en gender sal veral baat vind by die hoofstukke “Vrouetaal en taalverandering” (1994:174-216) en “Taalvariasie in agtiende-eeuse vrouetaal” (1994:215-57).

7 Vir ’n omvattende beskrywing van die lewens van slawe aan die Kaap tussen 1652 en 1795, sien Groenewald (2010) en Penn (1999).

8 Vir verdere werk wat die probleme rondom die rigiede onderskeid tussen feit en fiksie uitlig, sien White (1973); Murray (1974); Hutcheon (1988); Ankersmit (1990); Walsh (2003).

9 Viljoen (2002:92) gebruik Gayatri Spivak se belangrike artikel “Can the subaltern speak?” om te wys hoe moeilik dit is om “stem te gee aan die stemloses wat uitgeskryf is uit die konvensionele historiografie”.

10 Die artikel het reeds gewys dat daar veel minder slavinne as slawemans in die Kaapkolonie was. Van der Spuy (1996:47) wys egter daarop dat geweld teen vroue nie noodwendig verband hou met seksuele frustrasie nie. Geweld teen vroue is politiese dade waardeur mans hul mag oor vroue uitoefen. Groenewald (2010:972) verduidelik dat die getalsverhouding tussen mans en vroue in die slawebevolking beteken het dat daar sterk kompetisie was vir die toegeneentheid van slavinne. Tog maak hy dit duidelik dat dit die patriargale magswanbalans was wat hierdie vroue kwesbaar gelaat het. Vir ’n verduideliking van hoekom daar betreklik min slawe-opstande in Suid-Afrika was, sien Worden (2007).

11 Watson Andaya (1998) wys hoe soortgelyke rassistiese aannames toegepas is op die manier waarop seksualiteit in Suidoos-Asië verstaan is. Daar is geglo dat Europese mans dit baie moeilik gevind het om hulle seksualiteit te beheer as gevolg van die klimaat en die plaaslike vroue wat beskou is as “lascivious” en “given to love” (1998:21).

12 “Scrob jou” kan losweg vertaal word as “loop na die duiwel”.

13 Vir verdere inligting oor die spesiale voorregte wat ’n mandoor geniet het, sien Ross (1983) en Worden (1985).



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top