Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties gesels oor Volume

  • 0

Julle het die naweek so ’n bietjie gaan geraas maak by die Voortrekkermonument. Hoe was dit?

Dit was lekker! Gevoel asof die mense super-amped was. Ek het goeie terugvoer gekry oor die line-up. Daar is ’n nuwe Pretoria collective, Boekklub, wat opwindend is. Refentse, Coenie de Villiers en Early B het almal beïndruk. Dit was lekker om weer voor so baie mense te speel. Ek dink ons het lekker gejol. Die mense het gees gehad.

As groep was julle uiters bedrywig in die grendeltyd. Eers 2021 en toe Herverbeel en nou Volume. Tussendeur nog ’n Live in Lockdown-album ook. Was dit ’n manier om die blues te verjaag?

Ja, ek dink ons het maar probeer aanhou doen wat ons doen tot die beste van ons vermoëns. Ek dink ons mag dalk die pas van vrystellings volhou. Volume II is al klaar op pad. Weet nie of dit regtig die blues kon kuur nie, maar daar was darem oomblikke van ten minste ’n illusie van normaliteit.

Volume is nie ’n maklike album nie – ek verwys spesifiek na die lirieke, nogal soos ’n digbundel van Alfred Schaffer. Ek het die album nou al ’n paar keer deurgeluister, maar ek kan nie sê ek kop dit alles nie, wat glad nie ’n slegte ding is nie, juis nie. Tog kon ek met vorige albums dikwels die lirieke luister en redelik gou snap. Daai eerste album van julle was ook sterk poëties. Hoe het dié een so ’n lekker kopkrapper geword?

Haha! Ek weet’ie! Vir my is dit voor die hand liggend, maar mens raak so ingesuig in die proses dis nie altyd maklik om objektief te bly nie. Daar is ’n hele paar mense wat lirieke bygedra het tot dié ene. Pierre het sy vrou, Jani, se woorde getoonset op “Hoor jy my?” en “Bellville”; Pierre het “Eggo” geskryf met Danie du Toit wat sy eie vers bemagtig het; ek en Pierre het die lirieke gedoen vir “Okay, fine”. Ek en Freddy het gewerk aan “Werk vir ’n lewe” en “Days are dark”; ek en Pierre en Gazelle op “GMSA”; en “Hardloop weg 2.0” is ook uit Pierre se pen. Dis nie maanskyn en rose nie. Ek dink die album handel oor verbrokkelende verhoudings meestal. Polities, maatskaplik, romanties, persoonlik.

Foto deur André Badenhorst

Kerkorrel se song "Die sirkusdier" op sy album Die ander kant het onwillekeurig in my kop begin draai terwyl ek (’n paar keer) deur Volume geluister het. Is hier ’n herbesinning aan die gang, of raak julle net oud (soos ek)?

Daar is altyd ’n herbesinning aan die gang en ja, ons raak natuurlik ouer. Ons gaan nie ophou musiek maak binnekort nie. Maar soos vir die meeste mense wie se salarisse gely het onder die inperking moes ons ook ons strategie heroorweeg en die realiteit van moontlik ’n regte werk kry ernstig opneem. Gelukkig is dinge nog nie so erg nie.

Anders as die lirieke wat tyd neem om te probeer snap, is Volume se musiek gestroop en eerlik. Die kitare raas deeglik. Vintage Heuwels. Ek laaiks.

Nice! Ja, ek hou ook van die klanklandskap op dié ene. “Werk vir ’n lewe” is seker maar die ene met die raserige kitare op. Dit het ons 21 jaar gevat om soos Blink-182 te klink. Uiteindelik! Ek hou ook van die feit dat “Bellville” net ’n voice note is wat so effe mee getorring is. “Eggo” het baie spasie. Love it.

Julle het "Eggo" heel eerste vrygestel. Ook in dié lirieke is ’n effense huiwering te bespeur. Die sprekende instansie wat praat oor die openbare persona, teenoor die wese wat nou vermom is, ’n eggo van die vorige self ...

Daai is Danie se lines en ek het dit actually in-gelees om te beteken ons almal dra nou maskers. Bo-op ons ou maskers miskien, maar ons almal is nou vermom.

En dan "Bellville". Dis ’n cool song. Jinne. Bellville is die bakermat van soveel moderne Afrikaanse groepe. Julle, Fokofpolisiekar, noem maar op. Nou dié lied. Dit laat my dink aan die Bybelse storie van die verlore seun, of hoe?

Ek dink almal is geregtig op hulle interpretasie. Ek interpreteer dit maar as ’n verlange na ’n plek en tyd wat nie meer bestaan nie.

Julle is bekend vir die collabs op julle albums. Hier is dit nie anders nie. Hoe kies julle mense om mee saam te werk?

Dit word nie werklik beplan nie. In die liedjieskryfproses mag mens dalk voel die lied kort iets en dan gewoonlik het mens onlangs gewerk of geparty saam met iemand wat toevallig die perfekte pasmaat maak.

Ek gaan nog ’n paar keer luister na Volume, maar waarmee gaan julle die volgende ruk besig wees?

Volume II.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top