Mysi Louw het soms saam met Jan Scholtz gewerk en bring hieronder hulde aan hom.
Ek bring vandag hulde aan 'n formidabele storieverteller en filmmaker. Jan Scholtz het die vermoë gehad om presies te weet waarvan die mense sou hou in 'n film of televisiereeks. Die dialoog wat hy in die karakters se monde gelê het, was moeiteloos en op die man af en het elke karakter sy eie stem gegee. Hy het presies geweet hoe om spanning en romanse te meng sodat die kykers nie kon wag vir die volgende episode nie.
Ek was bevoorreg om nóú saam met hom te werk aan Binnekring (26 episodes), Sonkring (26 episodes) en Triptiek (26 episodes) en vele ander storie-idees het ons saam met hom en sy span ontwikkel. Sy reekse was altyd treffers en ons, by die ou TV1, is oorval met versoeke vir opvolgreekse.
Hy was 'n groot, joviale, vrygewige man wat baie akteurs en skrywers finansieel gehelp het om die mas op te kom. ’n Man wat voluit gelewe het en geen struikelblokke wat in sy pad gekom het as probleme gesien het nie, maar eerder as 'n uitdaging.
’n Groot boom in die filmbedryf is gekap en ons gaan hom baie mis. Rus in vrede, Jan.
Lees ook 'n huldeblyk deur Paul C Venter.


