In Memoriam: Jan Scholtz

  • 0
Jan Scholtz en sy vrou Michelle (foto voorsien)

Ek en Jan Scholtz kom meer as 40 jaar saam. Toe ons mekaar doer aan die begin van die sewentigerjare ontmoet het, het hy deeltyds vir die radio geskryf en ek vir tydskrifte – ons kon nog nie regtig van skryf ons voltydse ambag maak nie.

Jan het my vir die eerste keer laat kyk na skryf as ’n goeie, eerlike ambag eerder as ’n hoogheilige kuns. Hy was plat op die aarde, nie hoogdrawend nie; ek was destyds onder die invloed van die hoogste letterkunde en Jan het my bekendgestel aan skrywers wat “hard-boiled fiction” gepleeg het, manne en vroue wat gestroop en gespierd kon skryf, hulle nie met mooiskrywery opgehou het nie. Dit het my kop oopgemaak en my verlos van die ure se gesukkel om alewig iets slim of verskriklik oorspronklik op papier neer te pen; ek kon vir die eerste keer werklik op storie en karakter fokus.

So ja, ek dink ek kan op ’n manier aanvoer dat Jan Scholtz my geleer skryf het, maar hy sal natuurlik sy siniese laggie uiter as hy dit moet hoor: “Jy raak so ’n bietjie hoogdrawend, Venter.”

Een ding onthou ek as bietjie buitengewoon omtrent ons vriendskap: hoewel ons albei later in ons lewens met die skryf en maak van TV-dramareekse geambag het, het ons nog steeds aanhou gesels oor boeke eerder as die televisiewerk wat ons toe gepleeg het. Ons was albei leesvrate. Ek kan lekker kuiers oor die boeke van John le Carré, Ross Macdonald, Donald E Westlake en John D Macdonald onthou, maar nie ’n enkele indringende gesprek oor televisie skryf nie. Mense wat ons destyds saam geken het, sal my nou natuurlik wil herinner aan die goedige gespot soms as die whisky gevloei het: Jan kon my die John “Lah-di-dah” Steinbeck van TV-drama noem en ek hom die Ena “Walk-and-talk” Murray van TV-drama. Maar die kere wanneer ek sukses met televisie behaal het, was hy altyd die eerste – en, kom ons wees maar eerlik, gewoonlik die enigste ander skrywer - wat my gelukgewens het, en ek het dieselfde terug gedoen. Ons was nie jaloers op mekaar se suksesse nie en kon mekaar troos oor die flops.

Ons kon mekaar ook lekker uit die werk hou. As ek die oggend wakker geword het en glad nie lus was vir skryf nie, dan bel ek: “Jannie, het jy al gebrekfis?” Dan gaan brekfis ons iewers en ons praat ure lank oor nuwe boeke.

Die lewe met sy draaie het soms gemaak dat ons mekaar lank nie gesien het nie – ek het in ’n stadium in die buiteland gewoon – maar by die weersien kon ons sommer net inval en verder gesels asof ons vorige gesprek nie deur jare onderbreek is nie.

Teenoor my het hy nooit ’n goeie daad vergeet nie, nooit lank kwaad gebly nie. Wanneer ek en oorlede Dirk de Villiers mekaar verkeerd verstaan het – ek en die talentvolle, kleurvolle, hoogs ontvlambare regisseur van Arende kon regtig soos skollies baklei, sies, ek skaam my – dan was Jan die een wat die vrede sluit. Hy het Dirk verstaan. En vir my ook.

Jan het ’n unieke laggie gehad. Ek het dit een keer onverwags op ’n besige lughawe gehoor en dadelik besef Jan moet hier iewers wees, en na ’n gesoek het ek hom toe ook gekry … in die lughawe se kroeg; dit was nie moeilik om Jan te soek nie – hy het van sy lafenissie gehou. Ek het tydens sy tragiese siekte besef ek mis dit veral, daardie laggie so droog soos ’n goeie rooiwyn.

Ek gaan dit nou nog meer mis.

Paul C Venter (foto voorsien)

Lees ook 'n huldeblyk deur Mysi Louw.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top