........
Die probleem met Herman Binge was nog altyd dat daar nie eintlik ander mense soos hy was nie. Lofbetuigings soos dié hoor ’n mens baie: “Into each life some rain must fall”, nè? Net, in Herman se geval is dit waar.
.........
Die probleem met Herman Binge was nog altyd dat daar nie eintlik ander mense soos hy was nie. Lofbetuigings soos dié hoor ’n mens baie: “Into each life some rain must fall”, nè? Net, in Herman se geval is dit waar.
In die jare wat kom, sal mens jou dikwels kry dat jy wens Herrie was nou hier om iets te help uitpluis – uitpluis was sy verstekposisie – maar nog meer sal die kere wees wat jy sal terugsink in herinneringe aan haas ongelooflike gelukkigheid in sy geselskap.
Herman Binge het almal om hom se lewens verryk, en dit is waarvan ek graag wil vertel.
Hy is op 27 September 1953 in Den Haag, Nederland gebore, die seun van Ludwig en Ferrie Binge, en op 16 Desember 2021 aan huis oorlede in Tamboerskloof, Kaapstad. Tussen daardie twee datums het hy meer ingepas gekry in sy lewe as wat gewone mense beskore is. Herman was egter geen gewone mens nie. Die lewe het hom dikwels slae toegedien, en hy het in die lange duur daarop gereageer deur milde weldade en onvernietigbare vriendskap aan ander.
In sy studentedae was hy bekend as die regstudent met die liefde vir die teater. Hy het in 1974 ’n rol vertolk in die Stellenbosse opvoering van André Brink se Pavane en in 1975 ’n baie dapper revue, Uit volle bors, saam met onder andere Carine Sieberhagen, Nic Fine, André Dippenaar, Jan de Wet en Esther du Toit geskep; en ná hy sy staatsaanklaerspos in Johannesburg opgesê het om terug te keer na Stellenbosch vir nagraadse dramastudie het gevolg ’n optrede in Hennie Aucamp se Met permissie gesê, asook 4 vertrekke en ’n tuin, Deur die blare en Lusistrata.
In hierdie jare ontmoet hy sy toekomstige vrou, Joanie Combrinck, met wie hy in 1981 in die huwelik verbind word ná hy sy studies klandestien en formeel verder gevoer het by Oxford en by Yale in die VSA. In Londen het hy liggaam en siel gesond gehou deur in 1979 by die Londense opvoerings van The King and I as Yul Brynner se lyfwag te werk.
By sy terugkeer na Suid-Afrika het hy aanvanklik in Melville opgetree as agent vir akteurs (Regardt van den Berg en Lochner de Kock was twee van hulle), en toe 7de Straat-produksies begin, met Elmo de Witt en Dick Voorendyk as vennote. Hy het dikwels as produksieleier of regisseur vir SAUK TV-programme opgetree.
In 1990 keer hy en Joanie met hul twee seuns, Laurie en Ludwig, na Kaapstad terug, en vorm hy en Lyndsay Reid-Ross, ’n oudkrieketspeler van WP, die maatskappy Waterfront Produksies – in Kaapstad, ver weg van die TV-swaartepunt in Gauteng. Maar dit is ’n uithalermaatskappy, en binne die volgende dekade leer diegene in die TV- en filmbedryf wat nog nie van Herman Binge gehoor het nie, hom terdeë ken.
........
’n Mens slaan nie altyd ag op die diep agtergrond van programme en reekse wat jy op TV sien nie. Maar Herrie se naam is dáár, in die kredietlyste. Hy het die manier waarop Suid-Afrikaanse TV-kykers dink en reageer, sedert 1990 met sy skeppings beïnvloed.
.........
’n Mens slaan nie altyd ag op die diep agtergrond van programme en reekse wat jy op TV sien nie. Maar Herrie se naam is dáár, in die kredietlyste. Hy het die manier waarop Suid-Afrikaanse TV-kykers dink en reageer, sedert 1990 met sy skeppings beïnvloed. Ek lys net enkele van hulle: ’n Brief vir Simone, Death in the family, The syndicate, Transito, Idols, Daisey de Melker, Pride of Africa, Liriekeraai, Boer soek ’n vrou, Byl, Stroomop, Vloeksteen, Nobody dies, Known gods, Ella Blue, en Die tweede lewe.
As rolprentvervaardiger was hy ewe aktief - Die hartseerwals, Voices in the Wind, Johnny is nie dood nie, Ander mens - terwyl hy die regisseur was van Pride of Africa.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom met ’n erepenning vereer na aanleiding van sy dokumentêre program Song for Emily, asook vir Daar was eenmaal ’n plek (oor Distrik Ses) en Verskroeide aarde. Hulle behoort hom ook te vereer vir sy reeks Die Afrikaners.
Dit is die rowwe raamwerk van sy lewenspad. Herman was ’n raconteur, ’n geselser, ’n deler van inligting en ’n spons vir onverworwe kennis. Ek het hom beleef by die Laerskool Jan van Riebeeck se spitbraaie en by die Vroueboekklub vir mans, en kan getuig van oggende wat ons die son sien opkom het nadat Herman aan die praat geraak het. Soms met konjak byderhand, later melktertjies.
Herman was nooit so openlik versot op ’n goeie skinnerstorie as ek nie; uit sy handel en wandel het daar genoeg stof tot gesprekke opgewarrel. Dit was louter genot om hom te hoor vertel van sy ondervindinge as staatsaanklaer, net soos dit hartverskeurend was om te hoor van sy wedervaring met Tommie Meyer by die destydse filmstudio bo-op Aasvoëlkop in Northcliff. Herman het die storie gaan haal by die Melkweg en die kontraste met Johannesburg se liggies, en dan naderby die eensame figuur wat, met ’n stukkende openbare telefoon in die hand, sy verstand versplinter deur die lewe, ’n gesprek voer met die stemme in sy kop.
Die staatsaanklaerdae het hom nuttig te pas gekom toe hy die reeks oor Piet Byleveld moes maak en ná twee episodes geweet het dat die Byl se verhaal te yl is. Nooit sy aanvullings tot die Byl se illustere legende van die dakke af verkondig nie, maar dis soos Herman was. En ten minste was die meerderheid van die episodes nou op feite gegrond.
In baie opsigte was hy ook ’n mens van kontraste. Aan die een kant het sy vriende geweet hoe jaloers hy sy gesin se privaatheid bewaak, en aan die ander kant was hy iemand wat by ’n vertrek kon instap en binne minute is almal met hom bevriend. Dis hoe ’n mens hy was – ’n enorme vriendekring, ’n nog groter korps van kennisse, en elkeen van hulle kan met vingerklap vir jou ’n unieke Herman-herinnering vertel. Hy was besiel met ’n geesdrif wat nie eens deur fisieke moegheid gedemp kon word nie. Sy geesdrif het na almal rondom hom oorgespoel.
Dié eienskap kon ek op ’n keer tot my voordeel inspan. Herman was besig met voorbereidings vir die TV-reeks Scorched earth / Verskroeide aarde. Oor ’n tydperk van maande het hy gereeld vertel van die dinge wat hy oopgekrap het in sy soektog na materiaal vir die reeks oor die Anglo-Boereoorlog. Tot ek uiteindelik snap waarheen hy op pad is, en vra of Human & Rousseau nie ’n boek daarvan kan maak nie. Die enigste probleem was dat die geesdrif daarvoor nie oral ewe groot was nie. Ek het Herman gevra om my redaksionele span en die bemarkingspersoneel by ons op kantoor te kom vertel van sy program. Toe hy ná ’n uur vertrek, was almal uiters geesdriftig en het die produksie van die boek daarna van krag tot krag gegaan. Die boek moes selfs herdruk word, en was ’n skouspelagtige sukses.
Om alles te kroon kon ons die samewerking kry van een van Herman se gunstelinghistorici, Fransjohan Pretorius, om die teks teen ’n onsubtiele sperdatum in te lewer.
’n Klompie jare vantevore moes Herman ’n ander soort geskiedenis in opdrag van Naspers aanpak – ’n program oor die uittredende voorsitter van die direksie, PJ Cillié. Toe alles in kanne en kruike was, vra ek hom wat die meeste uitgestaan het van die opnames. Die een wat weggekom het, seg Herman: ’n kort stukkie waarin Cillié vertel van die drie kere wat hy kon onthou dat hy gehuil het. Dit was by die dood van sy moeder, by die dood van Recht Malan, en ’n keer toe die noodlot sy een dogter getref het. En terwyl Cillié dit aan hom vertel, begin die groot joernalis weer huil.
Die opname is nie gebruik nie. Dit bestaan nog iewers; net Herman sal weet waar.
Soos dit dikwels gaan met begaafde mense soos hy, het Herman dikwels agter die skerms enorme werk verrig. Hy het sedert die skepping van die M-Net-Rapport-prys vir 'n verfilmbare roman elke jaar gedien op die beoordelaarspaneel wat dié prys moes toeken - baie jare daarvan saam met wyle Gerrit Schoonhoven. Teen die tyd wat kykNet die tuiste geword het van dié pryse, het Herman sy werk voortgesit. Dit behels elke jaar die lees van tussen 10 en 30 romans, wat dan beoordeel moet word binne 'n ander raamwerk as die literêre pryse. Hettie Scholtz, die sameroeper en dinamo agter hierdie pryse, het meer as een maal vir my gesê dat Herman vir haar 'n rots en baken is. Die aansien wat die pryse, en spesifiek dié vir verfilmbare romans, verwerf het, kan grotendeels gekoppel word aan die integriteit waarmee Herman sy werk gedoen het.
In 2006 het ek en Carien na Bettysbaai verhuis – omdat ek deur ons kuiers by Herman en Joanie die dorp leer liefkry het. Ons kinders was saam met hulle s’n op skool, so daar is wyds gekuier. Herman en Joanie se werksprogram het veroorsaak dat hulle meestal net Desembers en Januaries vir langer kuiers daar uitgekom het. Dan het hulle op groot skaal legkaarte gebou, op die strand gestap en voor die TV geslaap. As daar krieket iewers aan die gang was, is daar gewyde aandag daaraan gegee.
Dikwels het Herman ná die vakansie aangebly en spanne regisseurs en draaiboekskrywers vir sleepovers en beplanning laat kom.
Daar is gebraai, en Herman was in sy element.
Teen Februarie was alles verby: Februarie is die maand waarin Herman elke jaar op die waterkar was.
Hy was versot op Suid-Afrikaanse geskiedenis – nie net die historiese feite nie, maar ook die fyner geledinge. By die Vroueboekklub het ons geweet dat wanneer Herman op ’n roll is, ons teen middernag anders sal dink oor die feite van die lewe. Toe ek besig was met voorbereidingswerk vir die skryf van Ester, het ek aan Herman genoem dat ek sukkel om sekere dinge in die hande te kry, veral foto’s van die ou SAS&H se treinkompartemente en toilette. Binne dae het hy ’n massiewe klomp foto’s afgelewer. Hoe hy dit reggekry het, weet nugter alleen. Danksy Herman kon ek die treine in geur en kleur laat herleef.
Op ’n manier het almal in sy vriendekring gewoond geraak aan sy vrygewigheid, sy manier van omgee vir ander. Sy largesse wanneer dit kom by gee, sy ondersteuning, die maniere waarop hy sy groot besorgdheid vir ander se welsyn uitgeleef het. En altyd geklee in sy weergawe van informele stylvolheid, met baadjie en hoed.
In 2021 het Herman skielik ’n laer profiel gehandhaaf, om redes wat nou duidelik is. Maar ons ander het aangegaan, moontlik onder die indruk dat hy besig is met een van sy berug uitmergelende projekte.
Hy sou nie kla nie; inteendeel, hy was bekend vir sy nuk om déúr pyne en ellendes te werk. Nou is daar geen pyn meer nie, net die groot gemis aan ons kant. Die ander soort pyn, die een wat die lewendes dra, die pyn van herinnering.
........
Ek skryf hierdie dinge omdat ek self sukkel om sy heengaan te verwerk. Maar die woorde wil nie opstaan nie; hulle kry hom nie gemeet nie.
..........
Ek skryf hierdie dinge omdat ek self sukkel om sy heengaan te verwerk. Maar die woorde wil nie opstaan nie; hulle kry hom nie gemeet nie. Ek voel die dinge wat hom uniek gemaak het, in my bors wat toetrek, my keel wat saamtrek en die trane wat sout in my mond smaak. Ek onthou Herrie se teenwoordigheid by twee spesifieke begrafnisse, en ek verstaan nou, hierdie oomblik, presies hoekom ek hom op daardie begrafnisse onthou. Die bear hug en die groot lyf wat teen my skud.
’n Mens voel dankbaar vir hóé hy jou die lewe laat begryp het, dankbaar vir die lewe wat hy self gehad het. Vir sy grootsheid van gees om sy baan te vul met betekenis en liefde, terwyl hy as kind so stief behandel is deur die lewe. Vir die manier waarop hy en Joanie die spilpunt geword het van een van die hegste gesinne wat ek die voorreg het om te ken. My meegevoel gaan aan hulle, wat elkeen op hul besonderse manier vir Herman ‘n rots en toevlug was in sy hellejaar.
Jy weet hy het ’n magdom mense deur sy werk geraak, hulle verryk. Ek het die huldeblyke oor hom gelees, en liewe Murray la Vita se onderhoud met hom meerdere male. Twee oorheersende herinnerings van Herman wat sielsgelukkig is, doem op.
Die eerste is van Herman by die stofie van die Koensrust shacks, tussen Blombos en Vermaaklikheid. Hy maak paella, wat hy geleer maak het in Spanje, by die plek waarheen sy stiefpa, Christo Coetzee, sy ma Ferrie weggevoer het toe Herman in standerd ses was en kortstondig die formidabele Madelein van Biljon as plaasvervanger-ma gehad het.
Herrie bou die paella sorgvuldig, ’n stadige proses wat hy stap vir stap kan en wil beskryf, terwyl hy ook gou verklap dat hy kul. Die Spanjaarde gebruik oorskietkos vir paella, nie vars vis, garnale en dies meer soos hy nie. Die proses veroorsaak dat die neem van sundowners vervroeg moet word, en dan, soos die ekonome sê, verlangsaam tot binne-in aandete.
.........
Herman was gelukkig, saaklik dog vrolik, daar agter die stoof. Wanneer hy die groot bak paella uiteindelik voorsit aan die lede van die Vroueboekklub vir mans, is dit met ingehoue trots.
.........
Herman was gelukkig, saaklik dog vrolik, daar agter die stoof. Wanneer hy die groot bak paella uiteindelik voorsit aan die lede van die Vroueboekklub vir mans, is dit met ingehoue trots. Die dis se baie elemente vorm nie saam een smaak nie, ofskoon Herman met die rys en velerlei souse en speserye hard gemik het na ’n samebindende smaak. Nee, elke onderdeeltjie stel sy eie beswymelende bekoring vry, so met die sterk samebindende smaak saam.
Herman wat ons gulsige eters só sit en kyk, ’n sjef se sigaret tussen die vingers, en wanneer hy die stompie smoor, eet hy met sigbare trots aan sy skepping. Sy tafelgenote doen die volgende dag steeds lofsange; Herrie is stil en gelukkig.
Die ander is by Smouskolk, die plaas van Cobus en Berdine Vos duskant Vanwyksvlei. Die Vroueboekklub het jaarliks daar gaan jag – wat ironies is, want net twee van die lede jag, en die res, Herman inkluis, het iets wat mens seker vryelik gewetensbesware kan noem. Maar almal is karnivore.
Op die aand van 6 Augustus 2010 het wyle Kobus Pienaar ’n cassoulet voorgesit – ’n gereg wat hom twee dae geneem het om te maak. Cobus en Berdine het saamgeëet, en was só aangedaan dat Berdine ons genooi het om die volgende aand by die opstal te kom eet.
Wat ons gedoen het op 7 Augustus. Die tafel was uniek gedek: Elke gas het sy eie skaapnek – die hele nek! – gekry. Ons het moedig probeer om die Vosse nie teleur te stel nie – maar Herman was die enigste wat die guts en vermoë had om ons gasvrou se vertroue te regverdig. (Hulle ken mekaar al van skooldae; was saam by Hoërskool Jan van Riebeeck.) Die rojaliteit van die gereg was miskien ’n soort uitdaging ná die geilheid van die vorige aand se cassoulet. Die eet van die hele skaapnek was myns insiens ’n vorm van Herman se lojaliteit.
Ons is laataand terug na Smouskolk. Nico Steytler het vir ons Monsterrat Caballé gespeel en ons het in die duisternis na die sterrehemel gesit en kyk terwyl die skaapnek ons gal begin werk. Ek het die aand op die stoep geslaap vir ingeval. My bed was net buite die kamer waarin Herman geslaap het. Sy lig was heelnag aan, en ek kon hoor hoe hy op en af stap in sy kamer, soms ietsie neurie. Dit sou nie Montserrat Caballé wees nie, veel eerder iets van Neil Young of Crosby, Stills, Nash & Young. Maar marsjeer het hy gemarsjeer, en neurie het hy geneurie, bedagsaam om niemand wakker te maak nie.
Die volgende oggend het ons hom met galsterige glimlagte daaroor uitgevra. Herman was die vrolikheid vanself. Hy het ’n hele pakkie Rennies deurgewerk die nag, en die stappery het die Rennies vrede met sy maag laat maak. Sou hy dit weer doen?
“O hel, ja!” was sy woorde.
Lees ook:
Kommentaar
Die beste grafskrif wat ek nóg gelees het. Dankie.
Herman het niemand onaangeraak gelaat nie. Hoe verskriklik moet die gemis nie wees in die binnekring nie.
Die wonderlikste ode aan ons JINTELREUS. Baie dankie, Kerneels.
Uitstekende herinnering-kapsule!
Liewe Bibette en familie, ek dink met baie liefde aan julle
Ek het nie vir Herman Binge of Joanie persoonlik geken nie, maar dié onthou van jou Kerneels, is vir my baie mooi. Jy het jou goeie vriend raak beskryf; baie jammer vir Herman se familie en ook vir jou en jou familie.
Ek stem saam. Dit was 'n insiggewende huldeblyk aan 'n besonderse man. Hy laat 'n groot leemte in die rolprent- en televisiebedryf, en aan diegende van ons wat net so lief vir geskiedenis was soos hy, en dus sy dokumentêre so geniet het.
Uitstekende huldeblyk, baie dankie. Breytenbach maak melding daarvan dat Binge 'n keurder was van die literêre prys vir boeke wat goeie flieks sal maak - Breytenbach se boek "Ester" het ook mos 'n paar jaar gelede hierdie prys gekry - weet iemand dalk wanneer die fliek uitkom? Ek het die boek baie geniet en sal die fliekweergawe baie graag wil sien.
Uitstekend.
’n Leemte wat sekerlik nooit gevul sal word nie. Lekker rus ou grote!!