Elders gesien: Herman Binge, in memoriam

  • 3

Foto: Bernard Voges

 

Kosie de Villiers skryf:

RIV my dierbare vriend, Herman Binge.

Ons lewens was op baie maniere in mekaar vervleg. Ons het vir die eerste keer ontmoet op Stellenbosch, toe ek in matriek was, en Herman het altyd gesê ons kon bloedbroers gewees het, omdat my pa en sy ma op universiteit “gedate” het.

Op universiteit het ons saamgewerk en die USAT-filmeenheid begin, met die eerste projek om die Intervarsity op Nuweland op 16mm te verfilm. Serfie Potgieter het ons bygestaan as klankman. Al die moeite was ongelukkig verniet omdat die laboratorium al ons film onherstelbaar beskadig het.

Tydens ons universiteitsdae het ons deelgeneem aan verskeie produksies by die Klein Libertas-teater saam met baie ander bekendes, onder die sorg van Maria van Heerden, ma van Johan en Marcel van Heerden. (Lochner de Kok het ’n kamer agter haar huis gehuur.) Herman was ’n uitstekende akteur en kon altyd baie mooi sing, met ’n stem wat baie soos Stephen Stills geklink het.

Ek het uiteindelik die universiteit verlaat en by SAUK-TV in Johannesburg aangesluit as filmkameraman, waar ek ’n huis naby die SAUK gedeel het met Awie de Swart en later met Loura de Kock. ’n Jaar of twee later het my suster en swaer teruggekeer van studies in België en ons het saam ’n huis op die grens van Melville en Westdene gehuur.

Foto: Kosie de Villiers

Intussen het Herman sy LLB-studies voltooi en Johannesburg toe getrek met ’n pos as staatsaanklaer. Ek, Herman en Anton van der Linde het toe die huis oorgeneem en Herman het dit Die Grenshotel gedoop, na Hennie Aucamp se gedig met dieselfde naam wat deur Jannie Hofmeyr getoonset is. Hierdie huis het mettertyd die sosiale middelpunt van ’n groot aantal kunstenaars geword en daar is snags tot laat gekuier met, onder andere, Bob Dylan se "Forever Young" as temalied. Herman was amper soos ons huisvader en het dit op hom geneem om diplomaties die orde te hou. Ek was byvoorbeeld in Standerton besig met ’n SAUK-dramaproduksie toe ek die slegte nuus ontvang dat my oudste broer Dawid oorlede is. Anton het onmiddellik deurgery om my te kom haal in Standerton en Herman het vir ons die wonderlikste ete gekook en al die reëling getref vir my vlug na Stellenbosch vir die begrafnis.

Ons besluit toe albei om weer verder te gaan studeer in Stellenbosch. Ek het besluit om die televisiebedryf te verlaat en Herman het terselfdertyd besluit om dit te betree en in te skryf by die dramadepartement. Hy is toe vooruit na Stellenbosch en laat weet my dat hy twee oulike meisies ontmoet het. Hy kies toe vir Joanie, en ek trou mettertyd met die ander meisie, Yvonne.

Dit was ook die begin van die Musiek-en-Liriek-beweging by die SAUK, gedryf deur onder andere Merwede van der Merwe, en ek was bevoorreg om saam met Herman en Jannie Hofmeyr deel te wees van ’n  “band” en sanggroep. Ons het op die plein bo die US-biblioteek opgetree, aande by koshuise “geserenade" en het selfs oom Flip McLachlan (dirigent van die US-Universiteitskoor) een aand met sang verras by sy huis. Die hoogtepunt was ons optrede by die Oude Libertas-amfiteater se Musiek-en-Liriek-vertoning met al die groot kanonne van Afrikaanse musiek op die program.

Ons is toe weer terug na Johannesburg. Ek in die bankwese en Herman in die televisiebedryf. Maar ons het nog baie saamgedoen en daar is amper te veel om te onthou, soos ons optrede in die Carlton Hotel in die middestad van Johannesburg op versoek van Gerbie Strydom, destydse senior hoofbestuurder van Trustbank. Die was ’n Black Tie-bankfunksie met 500 of so gaste waar ons ’n aantal Afrikaanse liedjies in drie stemme gesing het. Ek sal dit nooit vergeet nie, want my stem het daarna net heeltemal ingegee en ek moes ’n operasie aan my stembande ondergaan om ’n poliep te laat verwyder. Dit was ongelukkig die einde van my aspirasies as sanger.

Dit was so wonderlik om te sien hoe Herman oor die jare ’n groot sukses van sy loopbaan maak en uitstyg as een van die grotes in ons vermaaklikheidsbedryf. Die laaste wat ons saamgewerk het, was met die reël van die besoek van Sir Charles Allan, Lord of Kensington en vorige HUB van ITV in Engeland, se besoek aan die Stellenbosch dramadepartement, waar hulle albei hul wysheid met die studente gedeel het.

Ons was nog tot onlangs in kontak tydens sy siekte en ek glo hy het nou vrede.

Herman, ek hoor nou nog jou stem en kenmerkende lag. Jy gaan voorwaar gemis word en jy laat ’n groot leemte in al ons lewens. Alle simpatie en sterkte aan Joanie, Laurie en Ludwig.

RIV.

  • 3

Kommentaar

  • Dit is so 'n besondere huldeblyk. Dankie. Hy was 'n lieflike mens. Joanie, my hart is seer saam met jou en die seuns. Gee veral vir Laurie 'n druk.

  • Gerbie Strydom

    Ai Kosie. Dit is meer as 40 jaar later en ek onthou steeds vir jou en Herman met groot deernis. Ja, ons drie het daardie aand in die Carlton (1988) die stuk of 500 gaste aan die brand gesing. Julle twee se spore lê diep en prominent in my vol geheuebank. Sal ek ooit die Ingrid Jonker-gedig wat Herman vir ons getoonset het, vergeet? Ek sing dit vandag nog. RIV Herman. En Kosie, ek hoop steeds ek en jy loop mekaar weer eendag raak. Gerbie Strydom

  • A wonderful encomium of a great person, Herman and I were in the same koshuis and we much later collaborated on a Leipoldt project. I was shocked to learn of his passing. We were still intending doing something on Leipoldt.

    "Viooltjies in die voorhuis –
    Viooltjies blou en rooi!
    Viooltjies oral op die veld,
    En orals, ai so mooi!"

    Herman appreciated beautiful images. The poem by Leipoldt is for him.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top