Elders gesien: Herman Binge ons mis jou

  • 2

Gérard Rudolf skryf op Facebook:

Herman Binge.

Ag, hoe swaar is my hart op hierdie windverwaaide aand in die Kaap. Die maan amper vol. Kwart voor Kersfees.

Die nuus dat Herman Binge nie meer met ons is nie stop ons gesprek laatmiddag in ons kombuis. Vir ’n paar minute raak ons stil. Sommer net stil, asof die nuus nie lekker wil sit nie. Hoe kan dit waar wees dat só groot gees van ons bedryf nie meer daar is nie? Die vervaardiger met die siel van ’n digter.

Daar is altyd die beeld in my geheue van Herman wat stel toe kom terwyl ons almal werk, altyd in ’n baadjie, sy baard, met twee inkopiesakke. In die een lekkergoed. In die ander biltong. Soos ’n saghartige vader loop hy van een persoon op die stel na die ander en deel lekkergoed en biltong uit, maak vriendelike geselsies met akteurs en tegnici, maak seker almal is oukei, laat almal, elke persoon spesiaal voel. Dis hoe Herman was. Dis hoe ek hom altyd sal onthou.

Ons almal het respek vir hom gehad, eerbied. Hy het dit verdien. Hy was ’n man met ouwêreldse integriteit. Skerp verby. ’n Fantastiese storieverteller. Nie slegs ’n vervaardiger nie, maar ook akteur, skrywer, regisseur en soveel meer. Hy was die industrie en alles wat goed is daaromtrent.

Dankie Herman. Dankie vir jou mooi siel. Dankie vir die rolprente en draaiboeke en TV-reekse. Ons mis jou reeds. Ons sal jou altyd mis.

My innige, innige meegevoel aan jou familie en naastes. Jy laat inderdaad ’n groot leemte. Ek hoop jy weet jy was, is, liefgehê.

  • 2

Kommentaar

  • Ek het Herman geken omdat my seun en Laurie pre-primêre- en laerskoolpêlle was en dikwels na skool saamgespeel het. Hy was eenvoudig net 'n besonderse mens.

  • Joan Hambidge

    Die dood van Herman Binge word wyd betreur. Vir my is sy allergrootste prestasie Verskroeide aarde (2001) met Fransjohan Pretorius as raadgewer. Met Marida Swanepoel ook as gespreksgenoot agter die skerms.

    In ‘n kursus oor ouer Afrikaanse digters (Marais, Totius, Leipoldt) behandel ek altyd hierdie dokumentêr waarin Nelson Mandela en FW de Klerk, asook Roelf Meyer, Pallo Jordan, Frederik van Zyl Slabbert en Carl Niehaus kommentaar lewer. Om enkele name uit te sonder.

    Die lyding in die konsentrasiekampe en die dood van kinders word eweneens beskou. Skrywers en navorsers lewer kommentaar op kolonialisme en Britse imperialisme en verduidelik die Verskroeide Aarde-beleid en redes vir konsentrasiekampe.

    Hoe dit alles ons huidige politieke onrus sou bepaal, word uitstekend geanaliseer. Ons weet ook dat Britse geskiedkundiges, veral, dit beskou as een van die grooste menseregte-skendings nog.

    Verskillende stemme en botsende uitsprake maak hiervan iets besonders. Die dokumentêr dekonstrueer die Absolute Waarheid en gee verskillende verdoemende uitsprake.

    Geen dosent kan die ouer Afrikaanse digkuns aanbied sonder hierdie werk nie. Net soos die Amerikaners nooit kon herstel van Viëtnam nie, sal die Boereoorlog altyd bly draal. In my kantoor staan stapels boeke oor die ABO - met Herman Binge se puik analise.

    Hiervoor sal ek Herman Binge altyd onthou, waardeer en eer.

    Joan Hambidge, Kaapstad

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top