How to hide inside a three deur Jane van der Riet: ’n lesersindruk

  • 0

Titel: How to hide inside a three
Skrywer: Jane van der Riet
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781485904793

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Toe ek die boek toemaak, klaar gelees, wou ek dit ’n oomblik langer vashou. So al of my brein sê moenie weggaan nie.

Ek wonder toe hoekom.

Is dit:

  1. omdat ek ook broser word met die ouderdom?
  2. oor die hoofkarakter se neuroses dalk my eie weer wakker gemaak het?
  3. How to hide inside a three dalk ’n knap boek is?

Dalk is laasgenoemde iets om te oorweeg, maar dit is nie:

  1. ’n ligte boek nie.
  2. ’n eenvoudige boek nie.
  3. ’n boek met ’n lieflike hoofkarakter nie.

Die hoofkarakter is iemand wat:

  1. hou van lysies maak.
  2. onvergenoegd is.
  3. van die getal drie hou.

Tog is die hoofkarakter iemand wat:

  1. ’n middelkind is en nie ’n derde kind wil hê nie.
  2. baie bewus is van haar middelklasprobleme wat niks is in vergeleke met dié van mense in ons land se townships nie.
  3. so krities is teenoor haarself dat sy dit ook op haar man uithaal.

Julle sien seker ek speel lekker, want:

  1. eintlik is dit moeilik om te verstaan hoekom ek van die boek hou.
  2. ek wil graag iets intelligent sê, omdat die boek dit werd is.
  3. dit is ’n boek wat ek graag wil aanbeveel, maar dit is dalk nie almal se glas wyn nie (vergeet van koppies tee – jy gaan wyn nodig hê vir dié een).

Nou ja. Voor die resensiepolisie my vra om te doleer, kom ons raak ernstig.

Die verhaal

Leigh-Anne is 39 en haar lewe is besig om te wankel. Sy is verlief op ’n kollega, maar sy is getroud. Haar man is wonderlik, maar sy is nie meer lief vir hom nie. Sy weet haar probleme is wit en middelklas. Dit laat haar skaam voel, want sy weet wat in die land se townships aangaan – sy werk daar. Haar onvermoë om iets aan die land se probleme te doen, gekoppel met ’n onvergenoegdheid wat sy nie kan verklaar nie, maak dat sy haar neuroses met wyn verdrink en gewoon te veel eet – hoe ongesonder die eetgoed is, hoe beter.

Sy dink dus sy is vet.

Haar kinders maak haar moeg, maar sy is lief vir hulle.

Die nieregeringsorganisasie (NRO) waar sy werk, probeer hard om ’n verskil te maak, maar die nood is so groot, almal staan magteloos.

Leigh-Anne kom boonop af op bewyse dat sy moontlik ’n halfsuster het – haar pa het hom skynbaar vergryp aan ’n meisie wat veel, veel jonger as hy was.

Uiteindelik word die soektog na die suster ’n spieëlbeeld van die soeke wat sy na haarself moet afhandel om weer mens te word. Is die soektogte beide futiel? Het sy al die drama gewoon versin?

Die karakter en haar vriende

Leigh-Anne is nie ’n maklike karakter om voor lief te wees nie. Sy is kompleks, neuroties en beslis nie altyd eerlik nie. Sy is veral nie eerlik met haarself nie.

Haar onvermoë om van haarself te hou beïnvloed sonder twyfel haar verhouding met die mense om haar.

Haar vriende is ook nie juis maklik om lief te hê nie. Veral Gwendal, wat oral opduik en haarself gedurig in Leigh-Anne se lewe inboender, is daardie tipe vriend(in) van wie ’n mens hou, maar van wie jy ook soms besef jy afstand van moet kry.

Dalk is dit juis die punt van hierdie boek.

Perfekte mense met perfekte vriende sal nie verstaan nie; hulle sal nie die boek geniet nie.

As jy egter soms twyfel oor jouself en oor jou vriende, dan mag jy dalk aanklank vind by Leigh-Anne. Jy hoef nie van enige een in die boek te hou nie.

Karakterontwikkeling en die struktuur van die boek

Ek hou nie daarvan om in resensies te veel mee te deel oor die leeservaring nie. Ek gaan dus niks van die storie verklap nie, maar dit is nodig om daarop te wys dat die derde deel van die boek ’n ommekeer te weeg bring. Die karakter erken dat sy oor byna alles gelieg het – lees maar self. Skielik, in deel drie, is hierdie broser, eerliker weergawe van Leigh-Anne makliker om te verteer.

In die letterkunde gebruik ons soms die term peripeteia om so ’n ommekeer te beskryf. Dit kom, soos baie ander goeie dinge, van Aristoteles af. Hy het basies gesê dat ’n soeke gepaard moet gaan met ’n radikale ommekeer, en dat daardie ommekeer insig moet bring.

Wanneer julle How to hide inside a three lees, sal julle verstaan hoekom ek hieroor praat.

Aan die einde van die boek was Leigh-Anne iemand vir wie ek ’n drukkie sou wou gee.

Intrigeprobleme opgelos in deel drie

Wanneer lesers kom by die gedeelte waar Leigh-Anne gaan krap in die argiewe van haar pa se praktyk, sal hulle dalk, soos ek, voel dat Leigh-Anne gewoon té maklik en té lukraak ’n sekere lêer trek waarin ’n belangrike stukkie papier te voorskyn kom.

Dit het my gepla, maar dan kom die ommekeer in deel drie en ons ontdek waar dié storie vandaan kom.

Haar kollegas wissel van wonderlik tot sukkelend

Vir baie jare is ek al betrokke by NRO’s. Om vir ’n NRO te werk, kan van die beste ervarings in jou lewe wees, en ook van die mees frustrerendes, als in een werksdag.

Leigh-Anne is erg wit en erg middelklas. Sy weet hoe lyk dit in die dele van die land waar haar vriende en familie nie kom nie. Haar suster wil byvoorbeeld haar seun saam met Leigh-Anne stuur om self ’n township te gaan sien, want hy is so kwaad vir sy eie bevoorregting dat dit moeilik is om met hom huis te hou. Tog het hy nie ’n idee hoe dit byvoorbeeld in Gugulethu lyk nie.

Hierdie relativering van die wit-swart-arm-ryk-probleem is slim.

Sou Leigh-Anne geen belangstelling getoon het in die wêreld buite haar huis nie, sou sy ’n baie ongenuanseerde karakter gewees het. Was sy egter ’n bleeding heart wat heelnag wakker lê en dink aan die arme swart mense wat nie het wat sy het nie, sou sy ewe ongenuanseerd gewees het.

Die skrywer, Jane van der Riet, het nie gepoog om ’n “townshipstorie” te vertel nie. In vandag se samelewing moet ’n skrywer baie versigtig wees om nie te “approprieer” nie. Ek is effens tong-in-die-kies oor appropriasie, want dit word té maklik gebruik as ’n rede waarom wit mense nie bereid is om swart karakters te skep nie (en omgekeerd), maar enige skrywer sal sê dis moeilik genoeg om in die skoene te staan van iemand wat in jou eie sosio-ekonomiese klas leef, en dus bitter moeilik om jou werklik in te dink hoe dit is om sonder die vangnette van ’n middelklasbestaan te leef.

Deur Leigh-Anne deel te maak van ’n NRO, maak die skrywer dus van haar ’n veel meer genuanseerde karakter. Sy is nie ’n heldin wat mense red nie. Sy is ’n sukkelende administrateur wat elke dag die onmoontlike aandurf, wetende dat baie van wat sy gaan doen, geen impak op die enorme armoede in ons land gaan hê nie, maar dalk, net dalk, vir iemand iets mag beteken.

Al is sy nie ’n held nie, is sy bewus wat om haar aangaan.

En: Al kan sy nie altyd help nie, dikwels glad nie, word haar karakter ’n voertuig om die wit, middelklas leser te neem na plekke waar hulle self dikwels nie sal kom nie.

Die tyd en die plek

Die verhaal speel af in Kaapstad in 2017.

Die stad was in ’n angswekkende droogte vasgevang. Damme was leeg. Die gevaar van ’n stad sonder water was op almal se bewussyn. Jou peperduur huis in die DA-geregeerde witmensemekka sou dalkies nie goed genoeg wees om te keer dat jy soos miljoene mense in ander wêrelddele sou moes toustaan by ’n waterlorrie nie.

Dag Zero sou almal laat toustaan het vir water, ryk of nie. DA-regering of nie.

Jane van der Riet gebruik hierdie gegewe om ook ’n metaforiese ruimte te skep waarin haar wit, middelklas karakter die droogte in haarself moet verwerk.

Let op – wanneer julle dit lees – dat ’n nag van waansin tydens ’n reënstorm ’n enorme impak het op die karakter, maar ook op die verhaal. Let ook op dat vloei van die water na damme vir die karakter ’n soort katarsis vorm om haarself toe te laat om die waarheid, bietjies op ’n slag, te laat vloei.

Drie

Die hoofkarakter hou van lysies, veral lysies wat drie punte het.

Die boek speel af in drie dele.

Daar is 99 hoofstukke (3 x 33).

Die hoofkarakter is ook 39 (3 x 13) wanneer haar lewe uitmekaar val.

In hoofstuk 99, wanneer sy reeds 40 is en nie meer in haar 3 inpas nie, ontdek die leser ’n ander mens as die een wat wil wegkruip. Maar dit, liewe leser, moet jy self lees.

Humor – of (bloot) herkenning?

Ek het elke nou en dan gelag, en dan gewonder hoekom.

Deels, dink ek, beskryf Jane van der Riet die chaos van die lewe op so ’n manier dat ek myself kon raaksien in talle van die situasies waarin haar hoofkarakter beskryf word.

As ’n mens kinders grootgemaak het (soos ek), met ’n dokter getroud is (soos ek), en nie perfek is nie (soos ek), dan kan jy dikwels nie help om saam met die karakter te lag nie. Al is dit nie noodwendig alles snaaks nie, en al is dit net om jou eie gesig in die situasie te herken.

Dus?

Perfekte mense gaan waarskynlik nie hierdie boek verstaan nie.

Ek vermoed ek het daarby aanklank gevind omdat ek, selfs as man, soveel van Leigh-Anne in myself raakgesien het, dalk omdat sy nie perfek is nie.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top