
Hierdie grafika is deur Innibos en die produksie How Louw can you go? self vir bemarkingsdoeleindes verskaf en verskyn met toestemming.
How Louw can you go is binnekort by Innibos op die planke. Yolanda du Toit praat met Magda en Erhard Louw voor die produksie.
Daar is soveel aspekte van verhoudings. Wat raak julle alles aan in die nuwe teaterproduksie?
Die aspekte waaraan ons grotendeels raak is hoe liefde op die einde van die dag alles oorkom. Ons praat baie van die liefde is blind en verlief wees is lekker, en dat geld maak reg wat krom is, so die idee is dat liefde die ding is wat bly en hou. En al dink mens partymaal ’n mens moet trou vir die geld, gaan dit uiteindelik nie hou nie, want liefde is eintlik maar die ding wat alles heel maak wat dalk kan krom raak. Ons raak ook aan, op ’n tong in die kies manier, die emosionele deel van die pad saam met iemand stap en dat daar met tye daai besef kom dat iewers gaan die een die ander een se hand moet los. Dat ’n mens nie enduit die pad altyd saam kan stap nie. Alles is tydelik en om daai rede moet mens die liefde en die moeilike tye soveel meer waardeer.
Het jul self input en persoonlike ondervinding wat jul deel in hierdie teaterproduksie?
Daar is soveel van my eie persoonlike dinge wat ek daarin sit. Ek wil juis hê mense moet kan vereenselwig met die storielyne. Dit moet storielyne wees wat mense self al ervaar het, dat jy iemand ken wat al deur so iets is. Ek probeer om die alledaagse dinge, dinge wat ek ook in my persoonlike lewe ervaar en raaksien, daai tipe temas te gebruik en dit in die teaterproduksie en ander produksies in te sit. Dit is vir my baie belangrik, want ek voel daar is ’n menslikheid in dit wat ons almal ervaar en dat wanneer ons agterkom dat ons so eenders is in ons verse en drome, is daar iets waarmee mense kan vereenselwig en dan gaan dit dieper as net ’n komedie wat ’n mens na kyk.
Julle skiet tans ook die vierde reeks. Hoe maklik of moeilik is dit om te wissel tussen verfilming en verhoogoptredes?
Dit is ’n uitdaging, omdat ’n mens heeldag besig is om te skiet en dan saans tree ons op. Daar is iets ongeloofliks aan ’n teater vol mense wat sit en wag. Al die energie en adrenalien wat jy het, al is jy moeg na ’n dag van skiet, sodra jy op die verhoog staan en jy sien die liefde en oop hande waarmee ’n mens ontvang word, skielik is al die moegheid weg. Jy ontvang die energie wat hulle vir jou gee en wat die gehoor vir jou bied. Die gehoor raak deel van die produksie en dit voel of mens hand aan hand saam met hulle stap.
Wat is die uitdagings van ’n verhoogproduksie teenoor die verfilming van die reeks?
Die grootste uitdaging vir my van ’n verhoogproduksie teenoor ’n reeks wat ’n mens verfilm, is die vrees dat iets verkeerd kan loop. Dit is daardie vrees wat die fokus bring wanneer jy op die verhoog is en nie wil hê iets moet skeefloop nie. Jy wil graag vir die gehoor iets gee waarop jy trots voel. Ek probeer in alles wat ek skryf, ’n strikkie aan die einde te hê wat alles bymekaarbring. Ek wil hê mense moet alles hoor dat hulle kan wegloop met die tema van die stuk, iets waarop ons kan trots voel. Met televisie kry jou gehoor later die produk en jy kan nog foutjies bekostig.
Desiré se antwoorde:
Wat is jou gunstelingmedium, Desiré – verhoog of televisie?
Ek hou baie van altwee mediums en geniet dit om verskillende redes. Teater is lekker, want jy is saam met die mense en jy lag of huil saam in die oomblik. Jy sien die mense vir wie jy die storie vertel. Met televisie het jy nie instant gratification nie. In daardie opsig verkies ek teater, omdat die mense saam met jou is.
Televisie en sepies is wel ’n medium wat ek ongelooflik baie geniet.
Die tema van jul teaterdebuut is liefde. Sal mense kan identifiseer met die produksie?
Ek dink mense kan daarmee vereenselwig. Die tema van liefde en vrees, die twee teenpole van mekaar. Ek dink almal kan daarmee vereenselwig: die lekkerte van verlief wees, die vrees wat met liefde gepaard gaan en wanneer liefde harde werk verg. Liefde is net blind tot op ’n stadium; jy kry jou sig terug. Daarom is dit iets waarmee mense kan identifiseer.
Desiré, hoe maklik of moeilik is dit om die rol van Magda te vertolk?
Ek is gelukkig met die rol van Magda, omdat ek lank terug al met haar begin het. Ek het op skool al hierdie karakter in my kop gehad en begin om middeljarige vrouens dop te hou. Dit is altyd ’n uitdaging en ek moet mooi en hard werk om die stem van Magda te vind.
Hoe is jou en Hannes se verhouding dat dit die reeks, en ook die teaterproduksie, laat vlot?
My en Hannes se pad het begin toe hy die eerste regisseur was van my eenvroustuk, Magda Louw. Ek het iemand nodig gehad om bietjie te help met die nuanses, en dinge het beweeg dat ons goeie vriende geword het met die saamwerk so deur die jare. Wat lekker is van Hannes, is ek vertrou hom en voel veilig saam met hom as hy weet presies waarheen die toneel gaan. Hy is gefokus en ons tel mekaar weer op as die ander een bietjie struikel. Ons werk hard, kan lekker grappies maak; ons is gemaklik met mekaar en het ’n lekker balans tussen ons vriendskap en ’n werksverhouding.
Sou jul dink daar is ’n “ideale” ouderdom vir die publiek om dit te sien en waardeer?
Nee, ek dink nie daar is ’n ideale ouderdom vir die publiek om dit te sien en te waardeer nie. Maar ek het agtergekom aan die begin was dit meer middeljarige mense, omdat hulle meer met die karakters vereenselwig het. By die laaste Woordfees het tieners kom kyk en ek en Hannes was baie beïndruk dat hul dink die storie is oulik. Daar het ek besef hoe jonk of oud, ons almal vereenselwig met liefde en vrees. Dis ’n menslike tema en uitdaging.
Daar sal interaksie met die gehoor wees. Is dit ’n aspek wat jy mee gemaklik is?
Dis lekker en Hannes is ook gemaklik daarmee en het ’n lekker manier met mense. Ek is gemaklik daarmee as die karakter, want as myself vat ek ’n rukkie om gemaklik te voel. Sodra ek in ’n karakter inklim, dan voel dit of ek baie meer selfvertroue het om as daardie karakter die interaksie met die gehoor te hê.
Dit is ’n komiese stuk, maar daar is ook ’n dieper boodskap. Waarna kan gehoorgangers uitsien met How Louw can you go by Innibos?
Dit is belangrik vir my dat mense wegstap met ’n bietjie stof tot nadenke. Dis hopelik ’n stuk waarmee hul kan vereenselwig en ’n bietjie lag en ’n bietjie kan nadink oor liefde en hul eie verhoudings; die wonderlike onsekerheid van die tydelike mee kan wegstap. Ons het daardie wanpersepsie omtrent beheer, maar daar is iets moois omtrent die onbekende.
Hannes se antwoorde:
Hoeveel van jou eie lewensondervinding deel jy in hierdie teaterproduksie?
In elke teaterproduksie vat jy ’n deel van jouself saam. Erhard is so 30 jaar ouer as ek, wat ’n uitdaging is om te speel. Ek het ouer mense dopgehou, in ouetehuise gaan kyk en baie van my pa se maniërismes gebruik. Enige karakter moet ’n mens eerlik speel. Dis ook lekker dat mense nie weet dat dit ek is wat die rol vertolk nie.
Julle skiet tans ook die vierde reeks. Hoe maklik of moeilik is dit om te wissel tussen verfilming en verhoogoptredes?
Ons is gelukkig om tans aan die vierde reeks te skiet (dit word einde vanjaar / vroeg volgende jaar uitgesaai). Ek het drama geswot en opgelei as verhoogakteur. Ek het altyd gesê verhoogwerk is vir my die lekkerste. Met verfilming kan jy ’n volgende take vat en op die verhoog is dit direk. Ek gaan altyd terug na die basics van die karakter: Wie is die karakter, wat doen die karakter, ensovoorts.
Wat is die uitdagings van ’n verhoogproduksie teenoor die verfilming van die reeks?
In enige verhoogproduksie is die mense by mens, deel van jou. Die mense is byna by jou en jy kan nie bekostig om foute te maak nie. Ek en Des werk lekker saam, so as iets verkeerd gaan, is ’n mens daar om mekaar te help en mekaar te dra. Gelukkig sover, so far so good.
Wat is jou gunstelingmedium, Hannes – verhoog of televisie?
Ek bied baie aan en doen onderhoude (Kwêla en Hannes aan Huis) en dit is lekker. Verhoogwerk sal altyd ’n groot liefde bly. Ek dink nie in ons land kan jy net sê jy wil dit of dat doen nie; dis om den brode. Ek is gelukkig om baie onderhoude en aanbieding te doen en in reekse te speel en verhoogwerk te doen, so ek het nie regtig ’n gunsteling nie.
Daar sal interaksie met die gehoor wees. Is dit ’n aspek wat jy mee gemaklik is?
’n Mens doen dit in karakter, wat dit makliker maak. Ek is heel gemaklik daarmee en moet so konsentreer, want dit kan vinnig verkeerd gaan. ’n Mens moet dit baie mooi balanseer. ’n Mens moet op jou voete dink.
Hannes, hoe maklik of moeilik is dit om die rol van Erhard te vertolk?
Ek is al lank in die bedryf en het altyd daardie skoenlappers. Ek dink ook as ’n mens dit nie het nie, is dit ’n probleem. Ek werk hard aan die voorbereiding vir ’n rol of onderhoud en dan kom die res nogal maklik. Ek gaan terug na eerlikheid – as ’n mens dit uit jou hart uit doen, dan glo ek jy is op die wenpad.
Hoe is jou en Desiré se verhouding dat dit die reeks, en ook die teaterproduksie, laat vlot?
Ek en Des werk lekker saam en ken mekaar goed, en dit maak dit makliker. Ek dink die tekste is ’n groot deel van die sukses. Dit is komedie, maar daar is altyd ’n dieper betekenis.
- Koop hier kaartjies vir die produksie.
Lees ook:
Pampelmoesmampoer by Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees 2026: ’n onderhoud

