Pampelmoesmampoer by Toyota Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees 2026: ’n onderhoud

  • 0

Johan van der Merwe en Ignatius van Heerden is die vervaardigers van die Pampelmoesmampoer-produksie wat vanjaar vir die eerste maal te siene sal wees by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees vanaf 30 Junie tot 3 Julie. Yolanda du Toit het met hul gesels oor hierdie plekspesifieke teater.

Is dit die eerste keer dat Pampelmoesmampoer by ’n fees te siene sal wees?

Dit is ’n debuutproduksie, so dit is die première van die stuk by Innibos.

Waar het jul aan die idee gekom? Is dit fiksie of ’n bietjie met die werklikheid verweef?

Ons en Philna van Innibos is al die laaste vier jaar in gesprek om ’n produksie soos hierdie een te doen. Maar dit is ’n duur produksie wat ons borge voor moes inkry. Dit is alles fiksie; dit gebeur wel in die werklikheid, maar ons het oor ’n naweek saam met die Innibos-span gesit en die stories beplan.

Wie is die akteurs wat die karakters vertolk?

Ons het akteurs van Nelspruit gebruik, omdat die produksie daar ontstaan het. Dit is ook belangrik om gemeenskappe te betrek by feeste wat in hul dorpe gebeur. 

Akteurs van Nelspruit: Jana Fischer, Egené Wait, Francois Jacobs, Adriaan van As, Luca Wait en Dante Nortje.

Dan is daar ander akteurs van Gauteng: Matie van Graan, Tiaan Slabbert en Steffie le Roux.

Die regisseurs is Ignatius van Heerden, Johan van der Merwe en André Lötter.

Waar het jul aan die naam vir die produksie gekom?

Op pad Nelspruit toe, het ons, die vervaardigers, begin gesels oor ’n naam. Johan van der Merwe het onthou dat ’n pomelo ook ’n pampelmoes is, en tussen die twee van ons het ons heen en weer gesels oor die temas en wat mense in die omgewing sal onthou. Almal praat oor die titel, so ons is baie gelukkig met waarmee ons opgekom het.

Daar word gemeld dat elke groep feesgangers die stories in ’n ander volgorde sal ervaar. Ook dat dit nie net ’n toneelstuk is nie, maar ’n eenmalige teaterervaring. Hoe het julle op hierdie unieke ervaring besluit? 

Ons is voorlopers van plekspesifieke teater en minder konvensionele teater. Johan van der Merwe was deel van die span wat Deurnis (een-tot-een-teater) begin het, en ons het ook Prooi/Prey onlangs gedoen waar gehore deel word van die teaterstuk. Dit is anders, omdat dit nie net op een plek afspeel nie, maar in vier groepe.

Gehore word verdeel in groepe wat dan roteer om die drie verskillende stories te ervaar, voordat almal bymekaarkom om die einde van die toneelstuk saam te ervaar. Gehore word deel van die stories met eetgoedjies en drinkgoedjies. Die spasies is ook gewone huise wat omskep word in speelspasies. Byvoorbeeld, die gehoor is by ’n Tupperware-verkoping, maar dan gebeur dinge wat nie noodwendig gesien of gehoor sou word nie. Dis drie huise en ’n vierde huis word dan gebruik vir die groot verlowingspartytjie waar alles ontknoop. Gehoorgroepe word tussen huise vervoer in bussies, so die gees gaan hoog bly.

Volgens ons inligting, is dit die eerste keer wat hierdie soort produksie in Suid-Afrika; ons is nie bewus van ’n produksie wat gehore al tussen stories vervoer het nie. Dit maak dit wel duur, maar baie uniek. Ons vorige werke gebeur in spasies, maar gehore wissel sommer self van een vertrek na ’n ander; hier is bussies wel nodig.

Waarna kan feesgangers uitsien – vertel ons meer van die storielyn, asseblief? 

As vertrekpunt handel dit oor vyf vriende wat van skool af al beste vriende is. Natuurlik: op ’n dorpie gebeur dinge. Die stories word dan in drie dele vertel. Een – twee sussies wat regmaak vir ’n verlowingspartytjie terwyl hulle die familie moet huisves. Twee – ’n Tupper-verkoping waar die tannie en haar man – die inwoners van die skouhuis in ’n spoggerige estate – van hulle geheime dalk mag verklap. Drie – ’n jaggeselskap wat regmaak om uit te gaan, wat hanteer word deur twee vriende, een van wie se verlowing mense na toe gaan. Vier – die partytjiehuis waar alle geheime ontbloot word en ’n ekstra karakter, ’n verlore seun, sy verskyning maak. 

Wat wil jul hê moet die gehoor saam met hul huis toe neem?

Die gehoor moet elke oomblik net geniet: die ervaring, die stories en die energie. As hulle kan besef dat teater in baie vorme kan voorkom en dat hierdie ’n unieke gebeurtenis is. Elkeen wat ’n kaartjie in die hande kon kry, is baie gelukkig, want dit het baie vinnig uitverkoop. Mense oorval ons op soek na kaartjies.

Daar word gemeld dat Komati Fruit, Orbit en The Rest Nature Estate die produksie ondersteun.

Die drie borge aan boord het vreeslik baie gehelp. Die aard van die produksie maak dat dit duur is. Die kaartjiepryse kan nie eers 25% van die produksie betaal nie. Ons is baie dankbaar vir die borge wat finansieel bygedra het vir die pre-produksiekostes. (Komati Fruit en Orbit), en dan Nature Estate Reserve gee ons en die gehore toegang tot die gronde en die huise op die landgoed. Ander kleiner borge wat ingespring het, is Checkers, Avroy Shlain en Tupperware, onder andere. Dit is baie belangrik dat hierdie borge deel maak van so ’n groot gemeenskapsprojek. Hulle bydrae is van onskatbare waarde, en ons is seker hulle sal die vertonings saam met ons geniet.

Kaartjies vir die produksie, wat op 30 Junie om 18:00 plaasvind, is ongelukkig uitverkoop.

  • Baie dankie aan Van Loveren Wyne wat die Moscato Perlé Rosé geborg het.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top