Hoekom die 2020-Bybelvertaling "moes gebeur"

  • 1

Die 2020-Bybelvertaling in Afrikaans is na 15 jaar afgehandel nadat die projek in 2006 begin het. In hierdie seminaarbydrae verduidelik Christo HJ van der Merwe, wat by die projek betrokke was, waarom dit nodig was om die 2020-vertaling die lig te laat sien.

Besoek die invalsblad van die miniseminaar hier om al die bydraes te lees:

Miniseminaar: Die 2020-Bybelvertaling

Christo HJ van der Merwe (Foto: verskaf)

1. Inleiding

Die antwoord op die geïmpliseerde vraag in die titel sou afhang af van wie die vraag beantwoord. In die briewerubriek van Die Burger het ’n leser ’n tyd gelede byvoorbeeld aangevoer dat die noodsaak van “nog” ’n nuwe Bybelvertaling deur akademici en vertalers gedryf word, omdat hulle dan die geleentheid sou kry om geld te verdien. Alhoewel ek in hierdie bydrae sal aantoon dat ek met die leser verskil, is dit wel waar dat daar wêreldwyd, en ook in Suid-Afrika, Christelike uitgewers is wat met die publikasie van Bybelvertalings graag geld wil maak.

Bybelgenootskappe (soos die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, of BSA) is niewinsgewende organisasies. Hulle onderneem ’n nuwe vertaling asook die hersiening van ’n bestaande vertaling slegs op versoek van kerke. Daar word van die aanname uitgegaan dat die koste van sulke projekte indirek gedra word deur die bydraes wat lidmate van daardie kerke aan die BSA maak. In die geval van die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans is die projek aangepak op versoek van die kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik. Bernard Combrink wei in sy bydrae uit oor die prosesse wat sedert die laat 1990’s in hierdie verband verloop het.

Daar is hoofsaaklik twee redes waarom sommige kerke via die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans) (KABA) die BSA versoek het om ’n nuwe vertaling voor te berei, of ten minste die 1933/53-vertaling te hersien. Eerstens het baie van die teologies meer konserwatiewe kerke nooit die 1983-Afrikaanse vertaling heeltemal aanvaar nie. Vir baie was hierdie dinamies-ekwivalente vertaling te ver van die woordelikse vertaling van 1933/53 waaraan hulle gewoond was. Baie van die figuurlike taalgebruik van die Bybel wat hulle geken het, kon hulle ook nie in 1983-vertaling terugvind nie. Tweedens was die register van die 1983-vertaling vir die Rooms-Katolieke kerk net te informeel om in hulle liturgie te gebruik.

Bogenoemde redes sou as goeie gronde bestempel kon word vir die aanpak van die 2020-vertaling. Ek wil in my bydrae graag argumenteer dat die behoeftes wat die kerke uitgespreek het, aan die een kant deel is van ’n groter prentjie van die eeu-oue spanning in Bybelvertaling tussen betroubare en verstaanbare vertaling van die brontekste van die Heilige Skrif, en aan die anderkant ook deel is van ’n groterwordende insig in die kompleksiteit van taal, en hoe die taal van ’n taalgemeenskap volledig ingebed is in die kultuur en ervaringswêreld van die sprekers daarvan. Laasgenoemde insig geskied ook in ’n tyd waarin inligting al hoe meer vir gewone lesers elektronies toeganklik is en hipertekstegnologie stadig maar seker besig is om boektegnologie te vervang.

Ek begin met ’n voëlvlug van die vroegste vertalings tot by die woordelikse vertalings soos die 1933/53-vertalings. Die fokus van hierdie kort oorsig is die wyse waarop die spanning tussen betroubaarheid en verstaanbaarheid deur die eeue aangepak is. Wat betref woordelikse vertalings as “betroubare”, maar soms stokkerige, vertalings wat nie altyd goed sin maak nie, kyk ek na die manier waarop die dinamies-ekwivalente (ook genoem funksionele) vertalings sedert ongeveer 1960 bogenoemde spanning probeer aanroer het. Ek sluit af met die redes waarom van die dinamies-ekwivalente vertalings se fokus op die verstaansmoontlikhede van die hedendaagse lesers die pendulum met die 2020-vertaling onvermydelik terug moes swaai na ’n vertaling wat lesers na die andersheid van die teks en wêreld van die Bybel neem.

2. Vroeë vertalings

Groot dele, veral die Psalms van die ou Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuaginta uit ongeveer die tweede eeu vC), is streng woordelikse vertalings, terwyl ’n boek soos Spreuke weer baie vry vertaal is. Met verloop van tyd het hierdie vertaling egter gesaghebbend geraak, en was dit die “bybel” van die vertalers van die Nuwe Testament. Die betroubaarheid sou bevestig word deur verhale oor die wonderbaarlike manier waarop die vertaling gemaak is. Verskillende vertalers sou byvoorbeeld in afsonderlike vertrekke aan hulle vertalings werk, maar met vertalings vorendag kom wat almal ooreenstem.

Hieronymus het in die laat vierde eeu in opdrag van die Pous dele van die bestaande Ou Latynse vertalings wat in omloop was, hersien. Hy het later ook die res van die Bybel vertaal. Volgens Hieronymus het hy gepoog om die betekenis van die teks en nie die woorde daarvan nie te vertaal. Hierdie Latynse vertaling van die Bybel, later genoem die Vulgaat, wat vir eeue die amptelike Bybel van die hele Westerse wêreld se kerk was, het baie jare geneem om dieselfde gesag te kry as die woordelikse Ou Latynse vertaling wat in die vierde eeu in omloop was. Die kerk se gesag sou egter in die 16de eeu die finale deurslag gee. Hierdie weergawe van die Vulgaat was tot in 1979 die amptelike Bybel van die Rooms-Katolieke Kerk. Soos die geval met die ou Griekse vertaling, lyk dit of die gesag van die vertaling wat mense “toegang” tot die brontekste gegee het, nie noodwendig in die kwaliteit van die vertaling of die vertaalmodel gesetel was nie, maar eerder in die siening dat dit “van buite” gekry is.

3. Woordelikse vertalings as die enigste betroubare vertalings

Met die meeste van die vertalings wat tydens die Reformasie gemaak is, sou die betroubaarheid en gesag in die kwaliteit van die vertaling self begin setel. Die vertalers was tipies hooggeleerde mense en hulle vermoë om die bronteks woordeliks weer te gee was belangrik. Die woordelikse verband tussen die bronteks en die vertaalde teks is tipies gesien as ’n teken van betroubaarheid. Die vertalers van die Statevertaling wat in 1637 verskyn het, het egter besef dat ’n woordelikse vertaling nie altyd genoegsaam is vir mense om die vertaling te verstaan nie. Om dié rede is die aanvanklik weergawes van die Statevertaling van verduidelikende notas voorsien. Dit was ook die geval met die Engelse vertaling wat in die loop van die 16de eeu in Genève verskyn het. Notas in die King James-vertaling (KJV) is ongelukkig in 1611 tot die minimum beperk, onder andere om politieke redes. Dit het gelei tot ’n konvensie dat notas in ’n Bybel tot die minimum beperk moet word. Dié konvensie het byna die norm geword en aan die einde van die 19de eeu is baie letterkundige werke ook sonder enige notas gepubliseer. ’n Vertaling moes lyk en lees asof dit in die leser se taal geskryf was. ’n Bybel met notas en bykomende inligting het ’n ander status gehad, te wete dié van ’n studiebybel.

Omdat die betekenis van woorde en hulle vorme in die 19de eeu soveel aandag in die taalkunde gekry het, mag dit wees dat woorde en hulle “oorspronklike betekenis” in sommige kringe ’n buitengewone status begin geniet het. Dit is byna as vanselfsprekend aanvaar dat iets van ’n woord se oorspronklik betekenis nooit verander nie en dat hierdie betekenis ’n hoër status het as die latere betekenisse wat uit die oorspronklike betekenis kon ontwikkel het. In ’n Bybelvertaling moes dus so ver moontlik by hierdie oorspronklike betekenis gehou word. By die hersiening van die KJV rondom 1880 is daar byvoorbeeld probeer om hierdie beginsel te volg. Anders as by die 1611-weergawe, is probeer om woord x in Grieks of Hebreeus sover moontlik konsekwent met woord y in Engels te vertaal.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die 1933/1953-vertaling van die Bybel verstaan moet word. Die mees betroubare vertaling van die Bybel was een wat sover moontlik woordeliks by die brontekste van die Bybel hou – selfs al maak die vertaling soms nie heeltemal goed sin nie. ’n Voorbeeld in dié verband is Ps 69:1 wat in hierdie vertaling lui: “Verlos my, O God, want die waters het tot by die siel gekom.” In hierdie konteks is een van die polisemiese betekenisse van die Hebreeuse woord, “keel”, met ander woorde, die vertaling moet lui (soos in die 1983- en 2020-vertalings) “want water het tot by my keel gekom”.

4. Verstaanbare vertalings wat ook betroubaar is

Teen die agtergrond van die groter wordende sekularisme van die 20ste eeu het daar ’n behoefte ontstaan aan Bybels wat makliker lees, wat dus meer verstaanbaar is.

Intussen het die bestudering van taal in die 20ste eeu ’n paar drastiese verskuiwings ondergaan. Van die 19de-eeuse fokus op die oorsprong van die vorme en betekenis van woorde het die aandag begin skuif na taal as ’n sisteem. Daar is nou baie meer algemeen aanvaar dat woorde nie in isolasie bestudeer kan word nie, maar dat hulle gebruik in sinne belangrik is, want die essensie van kommunikasie setel in die manier waarop woorde in sinne gebruik word – ’n standpunt wat al in die ou klassieke wêreld gehuldig is. Ekwivalensie op woordvlak sou moes plek maak vir ekwivalensie op sinsvlak (en uiteindelik op teksvlak).

Alhoewel vertalers al in die klassieke wêreld bewus was van die strukturele verskille tussen tale en woordelikse vertalings as minderwaardig beskou het (Hieronymus is ’n voorbeeld in hierdie verband), het die strukturele taalkunde die harde realiteite tuisgebring vir daardie Bybelvertalers wat geglo het dat woordelikse vertalings “getrouheid” aan die bronteks waarborg. Bybelvertalers sou eenvoudig ander maniere moes vind om getrouheid aan die brontekste te “waarborg”.

Eugene Nida het met ’n oplossing vorendag gekom met sy dinamies-ekwivalente (later genoem funksionele) model vir Bybelvertaling. Hierdie model sou die wêreld van Bybelvertaling tot vroeg in die 21ste eeu oorheers. Dit is ook die model in terme waarvan die 1983-vertaling voorberei is – asook die Nuwe Lewende Vertaling wat in 2006 deur CUM uitgegee is.

Van Nida se uitgangspunte was dat die “genius” van elke taal van die wêreld erken moet word, en verder, dat dit wat in taal A gesê word, ook in taal B gesê kan word. Die woorde en sinstrukture mag verskil, maar die “boodskap” wat in die sinne van taal A verwoord word, kan in taal B woordeliks gekommunikeer word. Die werk van Bybelvertalers is daarom om die betekenis (die “boodskap”) van elke sin wat hulle vertaal, uit die brontekste te dekodeer en dan weer in die doeltaal van die hedendaagse leser te enkodeer. ’n Kernriglyn in hierdie proses was dat die hedendaagse vertaling dieselfde effek op hedendaagse mense moet hê as wat die brontekste van die Bybel op hulle eerste gehore gehad het – vandaar die opvatting van ’n dinamies-ekwivalente benadering. Vir hierdie komplekse proses het Nida dan met ’n “wetenskaplike metode” vorendag gekom. Dit was egter niks anders as ’n noukeurige proses wat vertalers nougeset moes volg nie. Die metode is veral beskryf in Nida en Taber se The theory and practice of translation (Leiden: Brill, 1969). Die beginsels en prosedures wat in hierdie publikasie beskryf is, is ook wêreldwyd in die vorm van werkswinkels deur Nida en sy medewerkers onder die vaandel van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe (United Bible Societies = UBS) aangebied. Die publikasie, ook genoem TAPOT, het so die “bybel” van Bybelvertalers geword.

Nida het sonder twyfel die kompleksiteit van Bybelvertaling as ’n proses van transkulturele kommunikasie verstaan. Hy het daarom ook baanbrekerswerk gedoen mbt die ontwikkeling van ’n model om die betekenis van woorde in spesifieke kontekste beter te kan ontleed en te verstaan. Hy het ook saam met Jannie Louw van die Universiteit van Pretoria meegewerk aan ’n Grieks-Engels woordeboek wat op sy insigte oor die semantiek berus het (JP Louw ea, Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains, New York, NY: United Bible Societies, 1969).

Dit het tot ’n groot aantal verstaanbare dinamies-ekwivalente Bybels (soms genoem Lekkerleesbybels) gelei. Die Good News Bible was die baanbreker in hierdie verband. Die 1983-vertaling was in ’n sin die Afrikaanse ekwivalent hiervan. In teenstelling met wat in sommige ander tale gebeur het, was die 1983-vertaling nie net ’n blote vertaling van die Engelse Good News Bible nie. Dit is uit die brontale gedoen, maar was geskoei op Nida se vertaalmodel.

Bybelvertalings wat verstaanbaar is en by die verwysingsraamwerke van hedendaagse lesers aansluit, het baie mense se verbeelding aangegryp. Dit het selfs aanleiding gegee tot parafrases wat lees asof hulle in die teenwoordige tyd afspeel (bv Die Boodskap. Die Bybel in hedendaagse Afrikaans). Al hoe meer vertalings wat toegespits is op die beperkings en/of behoeftes van spesifieke lesers het ook die lig begin sien (bv Bybels vir dowe mense, Bybels vir mense wat nie kan lees nie, ens).

Alhoewel hierdie Bybels aanvanklik baie gewild was (en baie nog steeds is), bied die maak daarvan groot uitdagings aan vertalers. Die onus is op die vertalers om die boodskap van die sin of teks “reg” te interpreteer. Hierdie korrekte interpretasie(s) kon selfs die getroue toepassing van Nida se voorskrifte en die gebruik van die hulpmiddele wat na aanleiding van sy insigte ontwikkel is, nie altyd waarborg nie.

Teen die draai van die eeu het die tekortkominge van Nida se model vir verstaanbare, betroubare Bybels al hoe duideliker begin blyk. Aan die een kant is daar in die praktyk van vertaling, soos hier bo genoem, aangetoon dat dit soms moeilik is om eenstemmigheid te bereik oor die “korrekte boodskap” van ’n sin of teks. Bybelvertalings het al hoe meer van mekaar begin verskil, en vir lesers was dit moeilik om te bepaal watter een die beste is.

Aan die ander kant, en ondanks die reusebydrae en baanbrekerswerk van Nida, het insigte rondom die kompleksiteit van taal en menslike kommunikasie ’n vraagteken begin plaas oor die teoretiese onderbou van sy model. Die mees grondliggende kritiek is gerig teen die kodemodel van kommunikasie wat Nida veronderstel het. Volgens dié model is taal ’n stel simbole wat soos houers werk. In taal A is die simbole x, y, z op grond van konvensie onderskeidelik gevul moet inhoude a, b en c. In Nida se vertaalproses moes hierdie inhoude vasgestel (gedekodeer) word, en verpak word in die simbole m, n en o van taal B. (Vergelyk weer die basiese uitgangspunt van Nida waarna hier bo verwys is: Wat in taal A gesê word, kan ook in taal B verwoord word.) In meer onlangse modelle van kommunikasie word taal egter as baie meer as die verwisseling van twee stelle kodes beskou. Volgens die inferensiemodel byvoorbeeld is die simbole van ’n taal tipies volledig ingebed in die kultuur- en verwysingsraamwerk van ’n taalgemeenskap – iets waarmee Nida, ironies genoeg, heeltemal sou saamstem. Die simbole is dus nie net gevul met inhoude a1, a2 of a3 nie, maar ook met netwerke van baie kultuurhistories-spesifieke assosiasies en inligting. ’n Voorbeeld: In Bybelse Hebreeus (BH) is ons twee woorde “vreemdeling vertoef” net een woord. As daar dus in BH die ekwivalent gesê word van “Abraham het as vreemdeling vertoef in Gerar”, is aan die BH-simbool “vreemdeling vertoef” baie meer inligting gekoppel as bloot dat Abraham van elders was en in Gerar gaan bly het. Die uitdrukking roep onder andere al die beperkende implikasies op wat Abraham se status vir hom in Gerar gehad het, asook die verpligtinge ten opsigte van gasvryheid wat dit op die koning van Gerar geplaas het. Woorde is dus beslis nie net “houers” gevul met “pakkies inligting” nie. Hulle is eerder vensters op netwerke van inligting oor die ervaringshorisonne van individue en hulle taalgemeenskap.

Indien Eugene Nida vandag nog geleef het, sou hy waarskynlik moes toegee dat sy kommunikasiemodel leemtes het en dat ’n dinamies-ewkivalente Bybelvertaling nie noodwendig aan die behoeftes van alle Bybellesers voldoen nie, veral nie in ’n tyd waarin baie lesers bewus is van en toegang het tot talle Bybelvertalings nie. Al hoe meer Bybellesers raak verder gewoond daaraan dat die druk van ’n knoppie toegang tot tersaaklike agtergrondsinligting en/of alternatiewe vertalingsmoontlikhede van spesifieke brontaalkonstruksies kan bied.

Volgens die sg hervertalinghipotese wat tans in vertaalkundekringe gedebatteer word, beweeg die hervertaling van ’n groot literêre werk tipies nader aan die bronteks. In die hervertalings van die Bybel in terme van die dinamies-ekwivalente model van Nida het sommige lesers van die Bybel gevoel dat daar eerder wegbeweeg is van die bronteks. Alhoewel Nida se baanbrekerswerk gepoog het om die betekenis van uitdrukkings in die bronteks op ’n wetenskaplik verantwoordbare manier met gesofistikeerde modelle verstaanbaar te maak, het hierdie dinamies-ekwivalente vertalings die betekenispotensiaal van die brontekste van die Bybel dikwels verskraal tot dit wat vir hedendaagse lesers verstaanbaar is. Die aannames wat tipies in die vorige eeu gangbaar was, naamlik dat ’n vertaling soos ’n oorspronklike teks moet lees, en dat ’n verstaanbare vertaling van ’n antieke teks met die minimum verduidelikende, of selfs geen verduidelikende notas nie, moontlik is, het waarskynlik in hierdie verband ’n rol gespeel.

In ’n era waarin inligting oor die andersheid van die lewenswêreld van die mense van die Bybel, asook verskillende soorte vertalings van die Bybel, meer as ooit geredelik vir gewone Bybellesers beskikbaar is, was dit dus onafwendbaar dat daar ’n behoefte sou ontstaan aan ’n vertaling wat lesers nader aan die andersheid van die antieke godsdienstige teks en sy wêreld sou bring.

5. Die 2020-vertaling as alternatief

Dit is te verstane dat kerke aanvanklik gevra het dat die 1933/53-vertaling hersien moet word. In die lig van eeu-oue insigte wat die beperking van woordelikse vertalings betref, die insigte van die strukturele taalkunde oor die fundamentele verskille tussen tale, die baanbrekerswerk van Nida én perspektiewe vanuit die kognitiewe taalkunde ten opsigte van polisemie, het dit byna onmoontlik geword om ’n hersiening van die 1933/53-vertaling akademies te regverdig.

’n Heeltemal nuwe vertaalmodel moes bedink word om lesers nader aan die bronteks te bring. Met hierdie model (waaroor volledig in artikels op die webwerf van die BSA berig word) is ’n byna onmoontlike ideaal gestel. Die brontekste van die Bybel moes vertaal word asof die skrywers, vertellers, digters en sprekers direk aangehaal word in die tyd en wêreld waarin hulle gelewe het. Indien woorde of uitdrukkings gebruik word wat vir lesers van vandag byna onverstaanbaar is, byvoorbeeld “banvloek”, of misverstaan kon word, byvoorbeeld “om as vreemdeling te vertoef”, moes dit in ’n voetnota of woordelys verduidelik word. In die gebruik van toeligtende notas sluit die 2020-vertaling aan by die vroegste uitgawes van die Statevertaling. In dié verband is die vertaling ook in pas met die vertalings van hedendaagse literatuur. Selfs die vertaling van sommige van Deon Meyer se boeke word deesdae voorsien van ’n woordelys om die lekker Kaapse segswyses vir oorsese lesers te verduidelik.

 

Sien ook:

Van der Merwe, CHJ. 2020. Nog ’n vertaling van die Bybel in Afrikaans: Wat maak dit anders?. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(4-1):892–911. doi.10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a3.

 

Lees ook op LitNet:

Christo H.J. van der Merwe: Direkte vertaling van die Bybel as antieke teks: net ’n nuwe benaming vir ’n stokkerige woordelikse vertaling?

Henning Snyman: ’n Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (BDV – Die Bybel: ’n Direkte Vertaling)

Pieter GR de Villiers: Afrikaans se grootste topverkoper

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek vind dit jammer dat die Griekse woorde 'aiôn', 'kosmos' en 'oikoumene' almal met die woord 'wêreld' vertaal is. Ek is nie 'n Griekse kenner nie en het hierdie inligting van 'n vriend gekry wat 'n studie hiervan gemaak het (alhoewel hy ook nie 'n Griekse kenner is nie). Hy het aan my verduidelik dat die 3 woorde opsigtelik verskillende betekenisse het en interpretasie van die konteks betekenisse van verskillende dele kan beïnvloed.
    - aiôn - eerder 'n tydvak, periode of bedelng (bv. Matt. 24:3 en 28:20)
    - kosmos - bv. in konteks van Joh. 3:16 Want so lief het God die mensdom gehad...
    - oikoumene - is wel bewoonde aarde, maar in konteks van die Nuwe Testament is dit meer aanduidend van die bekende wêreld van daardie tyd (bv. die Romeinse Ryk in Matt. 24:14). Paulus bevestig hierdie siening in Kol. 1:23b.
    Ek gaan hierdie aspek ook aan my goeie vriend Andries Breytenbach (wat ook met die 2020 vertaling betrokke was) vra.
    Laastens, behalwe vir bogenoemde aspek, is die 2020 vertaling vir my 'n uitstekende vertaling wat baie seën bied.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top