Die 2020-Bybelvertaling: agtergrond, proses en uitdagings

  • 0

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se projek om Die Bybel se 2020-vertaling in Afrikaans te verwesenlik het in 2006 begin. Vyftien jaar later is die projek onder die leierskap van Bernard Combrink afgehandel. In hierdie seminaarbydrae verskaf Combrink ’n oorsig van die verloop van die vertaalproses en die komplekse uitdagings wat betrokkenes die hoof moes bied.

Besoek die invalsblad van die miniseminaar hier om al die bydraes te lees:

Miniseminaar: Die 2020-Bybelvertaling

 

Bernard Combrink (Foto: Le Roux Schoeman, Kerkbode)

1. Aanleiding

Sedert die begin van die Eerste Taalbeweging het daar minstens 35 uitgawes van nege verskillende Afrikaanse vertalings van die Bybel verskyn.1 Hier word slegs op die mees onlangse vertaling deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA), Die Bybel: 2020-vertaling gefokus.

In die verlede het die BSA jaarliks die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans) (KABA) saamgeroep vir verslaggewing deur die BSA en advies deur die kerke aan die BSA insake die Bybel in Afrikaans. Die KABA is saamgestel uit die volgende instansies: Afrikaanssprekende kerke in Namibië (waarnemers); Afrikaanse Protestantse Kerk (APK); Anglikaanse Kerk (ACSA); Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika (AGS); Bybelgenootskap van Namibië (BGN, waarnemers); Calvyn Protestantse Kerk (CPK); Christelike Gereformeerde Kerk (CGK(SA)); die Baptiste-Unie (BUSA) en Afrikaanse Baptiste Kerk (ABK); die Rynse Kerk (RKSA); Evangelies-Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (EGKSA); Evangelies-Lutherse Kerk in Suidelike Afrika (ELKSA); Free Evangelical Lutheran Synod in Southern Africa (FELSiSA/VELSISA); Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA); Katolieke Kerk (KK); Lede in Christus Kerk (LCK); Metodiste Kerk (MCSA); Morawiese Kerk in Suid-Afrika (MKSA); Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK); Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA); Pinkster Protestantse Kerk (PPK); Sewendedag Adventiste Kerk (SDA); United Congregational Church of Southern Africa (UCCSA); Uniting Presbyterian Church in Southern Africa (UPCSA); Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA/URCSA); Volkskerk van Afrika (VKA); Volle Evangelie Kerk van God in Suidelike Afrika (VEK); Vrye Gereformeerde Kerk (VGKSA).

Reeds in 1991 opper verteenwoordigers van die GKSA die behoefte aan ’n nuwe “konkordante” vertaling van die Bybel by KABA. Hierdie versoek word in 1996 deur GJC Jordaan herhaal in ’n referaat tydens ’n simposium van KABA. Die saak bly egter op die agenda van KABA. Die Sentrum vir Bybelvertaling en Interpretasie in Afrika (SEBIVA) bevind in 1999 dat ’n “konkordante vertaling” nie geregverdig kan word nie, aangesien semantiese, tekslinguistiese, pragmatiese en sosiolinguistiese aspekte ook verreken moet word.2 In 2001 reël die Bybelgenootskap ’n internasionale simposium in Kempton Park wat deur ongeveer 70 plaaslike en internasionale kundiges bygewoon word.3 Voortvloeiend hieruit versoek KABA dat by UP, NWU, UV en US navorsing oor vier tipes vertaling gedoen word, later verminder na twee: ’n vlotleesvertaling gepas vir die breedste moontlike publiek, en ’n bronteksgeoriënteerde vertaling vir kerklike gebruik.

In April 2004 word by ’n KABA-seminaar die vertaalopdrag vir ’n bronteksgeoriënteerde vertaling verfyn en aanvaar en opdrag gegee dat ’n werkgroep begin om ’n werkboek saam te stel. Op 25 Oktober 2004 versoek KABA die BSA dat met ’n nuwe vertaling begin word, met die volgende vertaalopdrag:

Skep ’n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.

 

2. Goedkeuring en voorbereiding

Op 17 Februarie 2005 keur die Nasionale Raad van die BSA die versoek van KABA goed en vra daarna die kerke om die versoek vir ’n nuwe vertaling amptelik te bevestig. Die BSA versoek die kerke verder om eksegete en brontaalkenners vir die projek te nomineer, terwyl die BSA die vakverenigings van opgeleide vertalers (taalpraktisyns), taalkundiges en letterkundiges versoek om hulle lede te verwittig dat aansoek gedoen kan word om as intravertalers (uit Afrikaans na Afrikaans) deel te neem. Voornemende intravertalers kan twee proeftekste vir keuring voorlê aan die Literêre Advieskomitee wat dan oordeel of daar aan die vertaalopdrag voldoen is.

Intussen is ’n loodskomitee bestaande uit kundiges vanuit verskillende dissiplines aangewys om voorbereidingswerk te doen. Hulle vergader in Augustus 2005 om nominasies vir medewerkers te bespreek, vertaalspanne saam te stel, subkomitees aan te wys met die oog op die samestelling van ’n huisstylgids en werkboek met riglyne vir medewerkers, asook om die opleiding van medewerkers te beplan. By KABA se jaarlikse vergadering in Oktober 2005 word hiervan verslag gedoen.

Met die amptelike aanvang van die projek in 2006 word die Begeleidingskomitee (BK) as beleidskomitee, met die projekleier as voorsitter, deur die BSA aangewys om die werk van die loodskomitee voort te sit. Gedurende 2006 word erkende digters en skrywers ook genooi om as intravertalers saam te werk.

 

3. Opleiding

In 2006 bied die BSA twee opleidingseminare vir medewerkers aan, by UP (Februarie) en US (April). In 2007 word opnuut opleiding aangebied by UP (Mei), US, NWU en UV (Junie). Aandag word bestee aan sake soos die vertaalopdrag, vertaalteorie, fases in die proses, poëtiese en narratiewe tekste, vertaalteorie, vertaalopdrag, fases, asook opleiding in die Paratext-rekenaarprogram vir vertalers.

 

4. Aanpassings aan die proses

Weens die trae vordering van eksegete en brontaalkenners met die proefvertaling van een hoofstuk word daar vroeg reeds aanpassings aan die werkwyse gemaak. ’n Verdere faktor was die besoek van Jaap van Dorp van die Nederlandse Bijbelgenootschap (NBG) gedurende Maart 2007. Hy lewer drie voordragte oor die Nieuwe Bijbelvertaling (2004, NBV), stel waardevolle inligting van die NBG beskikbaar aan die BSA en lewer ook advies oor die proses.

Die voortgaande drupsgewyse vordering van die projek noop die Begeleidingskomitee tot ’n spoedvergadering in Maart 2009 te Kempton Park. Dit lei tot aanpassings aan die rolle en funksies van medewerkers en onderstreep die behoefte aan redaksionele komitees (RK's) vir die Ou Testament, Nuwe Testament en Deuterokanonieke boeke.

 

5. Die vertaalproses

Fase 1: Vertaling, kontrole, en intravertaling (vier lede per boekspan)

Die eerste eksegeet (teoloog) lewer ’n basisvertaling, verwerk kommentaar hierop deur die brontaalkenner (spesialis in Hebreeus/Aramees/Grieks) en tweede eksegeet (teoloog), en stuur dit aan die intravertaler (opgeleide vertaler). Op grond van die basisvertaling en toeligting deur die eerste eksegeet lewer die intravertaler ’n bronteksgeoriënteerde vertaling in duidelike en vloeiende Afrikaans in ooreenstemming met die vertaalopdrag. Die eerste eksegeet finaliseer die vertaling in fase 1.

Fase 2: Verdere taalkundige en literêre interne hersiening (twee lede), RK’s

’n Ander Afrikaanse taalkundige, asook ’n ander Afrikaanse letterkundige, gaan die teks na om te verseker dat dit “stilisties goed versorgde en verstaanbare Afrikaans” is. Die eerste eksegeet verwerk die kommentaar en waak steeds oor getrouheid aan die bronteks (fase 2a).

Hierna word die teks deur die onderskeie RK’s (Ou Testament, Nuwe Testament, en Deuterokanonieke boeke) sistematies nagegaan en hersien (fase 2b). Gedurende 2014 word Die Nuwe Testament en Psalms: ’n Direkte Vertaling aan die einde van fase 2b gepubliseer, waarna kerklike lesers en die publiek daarop kommentaar lewer.

Fase 3: Eksterne hersiening deur kerklike en ander lesers

Ná fase 2b word alle tekste vir kommentaar voorgelê aan die kerklike lesers wat deur die lidkerke van KABA benoem is. Dit word ook op die vertaling se webblad geplaas vir kommentaar deur enigeen. Die RK’s oorweeg en verwerk hierna alle ingekome kommentaar.

Fase 4: Kontrole vir konsekwentheid

Weens die groot aantal medewerkers moet konsekwentheid verseker word. Dit behels die Afrikaanse segswyse, maar ook terminologie binne bepaalde versamelings (soos Paulus se briewe, die eerste vyf boeke van die Ou Testament, profetiese formules, ens), asook die konsekwente nakom van besluite. Ander formele aspekte raak die hantering van poëtiese gedeeltes, aanhalings uit die Ou Testament in die Nuwe Testament, teksverwysings, voetnote, ens. Die onderskeie RK’s gee deurlopende hieraan aandag.

Fase 5: Begeleidingskomitee finaliseer teks

Die Begeleidingskomitee begelei as beleidskomitee die proses deur alle fases, vergewis hulle van die getroue uitvoering van die vertaalopdrag deur die vertalers, teken die vertaling af en oorhandig dit aan die Bybelgenootskap vir verdere verwerking met die oog op publikasie.

 

6. Komitees

KABA ontvang jaarliks verslag van vordering met die projek. KABA bring versoeke van kerke onder die BSA se aandag en neem ook standpunt in oor besware teen die vertaling.

Begeleidingskomitee (BK) waak as beleidskomitee oor die nakoming van die vertaalopdrag, oorweeg versoeke en besluite van RK’s en maak aanbevelings aan RK's. Die BK keur ten slotte die vertaling op 1 Julie 2019 goed vir oorhandiging aan die BSA.

Literêre Adviespaneel (LAP) lewer aanvanklik advies, en keur aansoeke van voornemende intravertalers.

Literêre Advieskomitee (LAK) dien as letterkundiges in vertaalspanne en ook op die RK's.

Taalkundige Adviespaneel (TAP) lewer aanvanklik belangrike insette, gee verder advies wanneer daarvoor gevra.

Taalkundige Advieskomitee (TAK) stel die huisstylgids saam en lewer deurlopend advies, dikwels ná raadpleging met lede van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie. ’n Lid dien op die RK's.

Redaksionele Komitee OT (RKOT), Redaksionele Komitee NT (RKNT), Redaksionele Komitee Deuterokanonieke boeke (RKDK): Die RK's vergader in fase 2b en 3 telkens vir vyf dae, soms tot tien keer per jaar, en bestaan uit die projekleier, ’n brontaalkenner, twee eksegete, een vertaalkundige, twee letterkundiges, een taalkundige, asook ’n verteenwoordiger van die Katolieke Kerk vir die RKDK.

Werkkomitee vir Hoofletters in die OT (WHOT): Sedert 1983 het bepaalde kerke bedenkinge daaroor dat in bepaalde OT-tekste wat in die NT op Jesus as die Christus van toepassing gemaak word, nie hoofletters gebruik word vir name of voornaamwoorde soos in die 1933/1953-vertaling nie. In die 2020-vertaling word deur voetnote by die tekste in die OT en NT oor en weer verwys. Tog is daar steeds bedenkinge by sommige hieroor. Derhalwe versoek KABA die Bybelgenootskap om twee uitgawes te publiseer, een met kleinletters en een met hoofletters. Die BSA nooi die betrokke kerke om in ’n werkkomitee te dien om die BSA te adviseer oor watter OT-tekste wel met hoofletters gedruk behoort te word. Hulle advies is basies dat die tekste wat in die 1933/1953-vertaling met hoofletters geskryf is, so behou word. Dié uitgawe kom dus verder volledig ooreen met die ander uitgawe. Die WHOT bestaan uit verteenwoordigers van die ABK, APK, AGS, PPK, VEK.

 

7. Proefvertalings

2008: Heel voorlopige vertalings van Genesis 1, Deuteronomium 5, Psalms 1, 8, 23, Matteus 6 en 1 Korinthiërs 13 (22 ble), tydens die 75-jarige herdenking van die 1933/53-vertaling.

2013: Gedeeltes uit Rut, Psalms, Klaagliedere, Obadja, Jona, Nahum, Matteus, Lukas, Johannes, Romeine, Galasiërs, Efesiërs , Filippense, 1 Petrus en Openbaring (42 ble), ná kontrolering deur die RK's.

2014: Nuwe Testament en Psalms: ’n Direkte Vertaling (597 ble) ná kontrolering deur die RK's.

2017: Hervorming 500 (1517–2017): Romeine (25 ble) ná kontrolering deur die RKNT.

 

8. Besware

Sedert 2012 sirkuleer ’n petisie teen die vertaling herhaaldelik op sosiale media met die beskuldiging dat die bronteks vervals word, die Godheid van Jesus aangetas word, die vertaling die deur oopmaak vir enige New Age-god en die integriteit van die BSA en vertalers bevraagteken word. Ten spyte van pogings deur die BSA tot ’n broederlike gesprek, is die opsteller nie daartoe bereid nie. Die petisie word ten sterkste deur KABA en die Raad van Direkteure van die BSA veroordeel.

 

9. Tegnologie

Die Paratext-rekenaarprogram (spesifiek vir Bybelvertaling ontwerp) vergemaklik vinnige kommunikasie tussen medewerkers en die BSA-kantoor, asook konsekwente regstellings dwarsdeur die Bybel. Die webtuiste www.bybeldirektevertaling.co.za bied ’n platform vir inligting oor die agtergrond van die vertaling, antwoorde op veel voorkomende vrae, inligting oor brontekste, spelling, aanhalingstekens, leenwoorde, artikels en berigte in die media, asook tekste van die vertaling ná fase 2b en 3. Die vertaling is ook elektronies beskikbaar op die toepassing BibleSA.

 

10. Bekendstelling

Verskeie konferensies word ter bekendstelling van die vertaling beplan, wat ongelukkig weens COVID-19-regulasies gekanselleer word. ’n Skakel na hierdie voordragte is wel op die webblad van die vertaling beskikbaar.

Die amptelike bekendstelling vind plaas op 29 November 2020 in die Kopanong Ouditorium (Studentekerk) van die Universiteit van die Vrystaat, te Bloemfontein. By daardie geleentheid word ’n bundel Opstelle oor die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans ook bekendgestel. ’n Skakel na die Tydskrif vir Geesteswetenskappe is ook op die webblad van die vertaling beskikbaar.

 

Lees ook op LitNet:

Christo H.J. van der Merwe: Direkte vertaling van die Bybel as antieke teks: net ’n nuwe benaming vir ’n stokkerige woordelikse vertaling?

Henning Snyman: ’n Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (BDV – Die Bybel: ’n Direkte Vertaling)

Pieter GR de Villiers: Afrikaans se grootste topverkoper

 

Eindnotas

1 Naudé, JA. Nuwe en ou skatte: Die 2020 Afrikaanse vertaling van die Bybel as ’n hervertaling / New and old treasures: The 2020 Afrikaans translation of the Bible as a retranslation. Tydskrif vir Geesteswetenskappe / Journal of Humanities 60, no. 4–1 (Desember 2020): 869–91 Vgl ook Naudé, JA. The Afrikaans Bible translations and the formation of cultural, political and religious identities in South Africa. In Translation Yearbook of the International Association for Translation & Intercultural Studies (IATIS), J House, RM Ruano en N Baumgarten (reds), ble 167–79, Seoel, 2005.

2 Van der Merwe, CHJ. ’n Konkordante vertaling van Die Bybel in Afrikaans: Is dit hoegenaamd verantwoordbaar en hoe sal dit lyk? NGTT, 1999, ble 293–306.

3 Naudé, JA en CHJ Van der Merwe (reds). Contemporary translation studies and Bible translation: A South African perspective. Acta Theologica Supplementum 2. Bloemfontein: UV, 2002.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top