Bernard Combrink is gebore op 23 Oktober 1940 te Lydenburg (Mashishing, Mpumalanga). Op 4 Julie 1964 is hy getroud met Lucia Antonites, oorlede op 8 November 1992. Hy trou op 17 Desember 1994 met Juliette Lambrechts (gebore Vermeulen).
Aan die Universiteit van Pretoria behaal hy BA, BD en BA Honneurs (Grieks), almal met lof. Aan die Vrije Universiteit van Amsterdam verwerf hy die ThD met die proefskrif Die diens van Jesus. ’n Eksegetiese beskouing oor Markus 10:45. Daarna dien hy as predikant in die NG Gemeente Wonderboom (1968–1970), senior lektor in Bybelkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit (1970–1973), senior lektor en later mede-professor aan die Universiteit van Pretoria (1974–1976), senior lektor (1976), mede-professor (1982), en volle professor (1988) en hoof van die departement Nuwe Testament aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy dien ook twee termyne as dekaan van die Teologiese Fakulteit, die laaste tot met sy aftrede in 2000.
Hy dien as finansiële sekretaris (1980–1985) en Algemene Sekretaris (1985–1990) van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika. Hy is lid van die Kerklike Advieskomitee (Bybelvertaling in Afrikaans) van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vanaf 1990 en voorsitter (2004–2007); Algemene Kommissie vir Bybelvertaling en Bybelverklaring (NGK) vanaf 1990 en voorsitter (1994–2015) en die vertalingspaneel: Die Bybel vir Dowes (1997–2008). Hy ontvang die Ds Pieter van Drimmelenmedalje, SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir Bybelvertaling, teologiese handboeke in Afrikaans, in 2004 en in 2019, en dien as projekleier van die 2020-vertaling (2006–2020).