Ôs het ’n lang pad gekom since Ramadaan in lockdown, vanaf 2020. Nou kan ôs darem “Ramadaan Mubarak” vi mekaar sê met ’n paa drukkies, en ôs kan saam’t mekaar Trawie byrie masiet (moskee), alhamdulilah. Although is lockdown nie mee die main issue nie, woon ôs nog altyd in crisis mode dankie aan Eskom – en ’n klom crises wat integrate met jou spiritual obligations is nogal ’n mental mengelmoes!
Ramadaan is ’n tyd vi sacrifice en introspection, waa Muslims oral die wereld pwaasa (kos en drank opgee) van sonsopkoms tot sonsondergang – hierie jaa pwaasa ôs in Kaapstad vi 13 ure. Dis oek ’n tyd wanner djy jou temper en moods moet inhou; as djy jou temper ve’loo is jou pwaasa gebriek. Ramadaan is oek ’n tyd vi social welfare responsibility, maa soe baie van ôs kry swaa. Ek gloe mee as ooit dat agter djy jou fitrah of fidyah betaal’t virrie arme mense innie Muslim community, issit mee belangrik om personal responsibility te practise, om te “double down” op jou self-care rituals, om vi jou hart te sorg, om jouself die priority te maak en om bietjie te lag en lig te wies. Vi daai reason het ek niks groot goals hierie Ramadaan nie, except om leqqa rustig te pwaasa, masiet gaan vi Trawie en genoeg water te drink innie oggend en aand om hydrated te bly.
Oppie noot van lig wies, hoe lyk Ramadaan eintlik in 2023?
1. Sower en boeka innie donker
Gotta love loadshedding in the pwaasa! Daa’s niks soes om jou toon te stamp innie donker en jou water warm te maak oppie gas stove, met ’n torch in jou hand, wanner djy vroeg moet opstaan vir sower (ontbyt voo djy begin pwaasa) offie tafel reg maak vi boeka (wanner djy jou pwaasa briek innie aand). Ôs is nog nie byrie UPS stage in ôse huis nie, ennie gas stove kan mos net soeveel warm maak, die res vannie tyd moet djy jou soetkoekies by room temperature iet, wat glattie romantic issie. Die toaster is my beste vriend innie oggend, maa met loadshedding is ek forced ommie brood normal te iet! Dan vi boekatyd moet djy nou hoep jou kos warm kan bly tydens’ie non-loadshedding hours, en djy moet die Ramadaan calendar fyn dophou om te sien hoe laat djy moet jou pwaasa briek, want die radio kannie aan gaanie. Subhanallah, die struggle is real!
2. Air-fried samoosas
Die air-fryer pandemic het oek ammal se kitchens oogevat, en ek is beslis ’n air-fryer fan! Dit encourage ôse mense weg van olierige kos. Although kry djy baie mense wattie on board is mettie air-fryer nie, in hulle woorde, omdat die original taste vannie samoosa different is mettie air-fryer. Kyk nou, the business of tasty food is soe kosbaar soes jou first-born, maa djy moetie jou eie kop ompraat en jouself laat gloerat “olie” ’n smaak is wat djy moet soe hard wêk om te preserve’ie. Kanala tog! My experience is soe simple soes om good-quality frozen samoosas te koep, en djy vryf ’n biejtie olive oil daa’op voo djyrit innie air-fryer sit, en Bob’s jou uncle! En dit proe evens bietere as ’n deep-fried samoosa!
3. Ôs kan wee saam Trawie!
Ofcourse wassie masiet oep in 2022, maa ôs was nog altyd covid-conscious en by daai tyd was ôs vas in ôse hermit habits! Maa nou, alhamdulilah, kan ôs wee bymekaa kom vi Trawie – spesiale groep Ramadaan-aandgebede. Dit was ’n groot blessing ommie ee’ste aand te Trawie sonner om masks te dra, sonner om hand sanitiser te gebruik en sonner om te social distance. Nou voel ‘it soes ’n regte Trawie innie Kaap!
4. Post-Trawie memes
Wanner ammal jou Ramadaan obligations virrie dag klaa is, en djy’s terug van Trawie, voo’dat djy inkryp virrie aand, moet djy falooda skink, leftover pumpkin fritters en koeksisters iet vi desert en ’n bietjie van ’n blaaskans vat voo’dattie niewe dag begin. In my high school years was Mxit die main ding, toe wassit Multimix, amper soes ’n WhatsApp group, die plek waa ammal ontmoet’t na Trawie ommie meeste random jokes te maak. Ek is nog altyd op soek vi post-Trawie memes, of Ramadaan Diaries – iets creative om te watch voo’dat djy annie slaap raak. Muslim comedians – die Riaad Moosas en Yaseen Barnes vannie wêreld – as daa ooit ’n vacancy was vi julle TikTok channels in Ramadaan, dit issie een! Ramadaan overlap wee met Easter hierie jaa – wag net vir April virrie Ramadaan Easter jokes om te load op jou WhatsApp status!
5. Mass boeka catch-ups
As enigiets, boeka catch-ups is belangrik om gratitude te wys virrie feit dat ôs wee bymekaa kan kom om te iet. Om saam’t mekaar te lag, iet, salaah maak (bid) en saam te download oorie liewe, is mee belangrik as wat ôs dink – die covid lockdown het vi ôs daai gelee. Oek belangrik om te onthou dat siekere mense gaan nog altyd deur ’n klom challenges, en om saam’t mekaar te boeka gie vi ôs ’n sense of comfort te’wyl ôs ammal deur hierie crises wêk. Ramadaan is oek ’n tyd vi high intense training en djy is baie ge’challenge op ’n spiritual level, miskien op anner levels oek. Assit vi jou ’n bietjie liefde en vreugde bring om ’n mass boeka te het in hierie challenging times, of ’n mass boeka in jou community te attend net om met mense te wies, doen dit met happiness!
6. Zoom calls op Labarang met familie wat oo’see bly
Die tradition kom aan nou ’n lang pad, as ’n result van globalisation, vi Muslim families wat mense het rondom’ie wêreld. Nou issit net ’n question van bietere, goedkoper apps te gebruik om jou familie video calls te doen. Wanner ek in Suid-Korea Ramadaan gehou’t, was Skype die main choice, nou is MS Teams en Zoom mee popular since’ie lockdown, of plain en simple net ’n WhatsApp video call – meeste families het nowadays hulle eie familie WhatsApp groups.
Lees ook:
Die koronaviruspandemie: ’n reflection van Ramadaan in lockdown


Kommentaar
Dit is so 'n wonderlike uitkyk op Ramadaan. Ek is trots om Moslem te wees. Shukran Tasneem vir 'n wonderlike leesstuk
Atlyd ‘n leqqa lees, Tasneem. Shukran dat jy hierdie storie geskryf en geshare het. Ek moet oek die air fried samoosas probeer 🤣
This was very heart warming to read.