Hoe haal ek nou asem? deur Cliffordene Norton: ’n resensie

  • 0

 

Boekomslag: LAPA; blare: Canva

Hoe haal ek nou asem?
Cliffordene Norton
Uitgewer: LAPA
ISBN: 978-0-63700-804-4 

........
Daar is min ervarings wat ’n mens se lewe so drasties op emosionele vlak raak soos die dood van ’n geliefde.
.........

Daar is min ervarings wat ’n mens se lewe so drasties op emosionele vlak raak soos die dood van ’n geliefde. In dié opsig is ’n aanhaling uit die Nederlandse digter Lucebert se gedig “De zeer oude zingt” treffend: “Alles van waarde is weerloos” (1974:439). Elke menslike lewe is tydelik en kosbaar dog totaal weerloos teen die dood. Alhoewel ons deurentyd bewus is van ons verganklikheid, word ons selde voorberei op Skoppensboer se onverwagse besoek.

Die Switsers-Amerikaanse psigiater Elizabeth Kübler-Ross het in haar On death and dying (1969) vyf fases van rou geïdentifiseer, naamlik ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding; dié fases verteenwoordig die verskeie emosies waarmee ’n persoon worstel na die dood van ’n geliefde, soos ’n ouer, ouma of lewensmaat. Hierdie rouproses is tekenend van die wyse waarop die mens probeer om sin te maak van die leemte wat ’n gestorwene agterlaat.

Die verlies of afwesigheid van ’n ouer is al in verskeie jeugromans, soos Barrie Hough se Droomwa (1990), Hans du Plessis se Disse flippen stukkende wêreld die, my ou (1991), asook Zelda Bezuidenhout se Anderkant die blou (2022), verken. Cliffordene Norton se nuutste jeugroman, Hoe haal ek nou asem?, is ’n kreatiewe uitbeelding van Kübler-Ross se vyf fases. Die protagonis, Ethan Jafta, is ’n tipiese tienerseun wie se lewe bestaan uit skool, sport, vriende en hormone. Hy woon op ’n klein myndorpie in die Noord-Kaap. Sy ouer broer, Mason, raak vermis. Na ’n tragiese mynongeluk waarin hy die enigste oorlewende was, het Mason een aand weggeloop en vir twee jaar verdwyn. Mason kon nie vrede maak met die feit dat hy die enigste oorlewende van die mynongeluk was nie. In die opsig kom temas soos selfdood en posttraumatiese stressteuring aan bod. Mason se skuldgevoel het hom psigologies afgerem. Sy enigste uitkoms of ontvlugting van sy gevoelens geskied deur sy skielike en onverwagse verdwyning. Die letterlike leegte wat Mason se afwesigheid teweegbring, vul die Jafta-huis met somberheid. Norton gaan slim te werk deur die gelykenis van die verlore seun soos opgeteken in Lukas 15 in die intrige te verweef. Mason se karakter simboliseer die spreekwoordelike “verlore seun” op letterlike en figuurlike vlak. Ironies is Ethan se pa se naam boonop Lukas soos die Bybelboek en bring die verlies van ’n vader die verlore seun, Mason, uiteindelik terug huis toe.

Reeds in die eerste hoofstuk word die belangrikste komponent van die intrige aan die leser openbaar, naamlik die skielike dood van Ethan se pa. Die verlies van sy pa asook  sy broer wat op daardie stadium al twee jaar vermis is, dompel Ethan in ’n warrelwind van emosies wat hy moet verwerk. Martina Roswell skryf dat “[t]he death of a parent makes you sad, but you still find it difficult to recognize your emotions” (2020:7). Ethan worstel deurgaans met sy pa se dood. Hy word deur soveel verskillende gevoelens oorweldig dat dit hom telkens laat disassosieer van die gebeure rondom hom. Hy fokus hoofsaaklik op die begrafnisreëlings en om sy ma tydens die rouproses te ondersteun. Op onverwagse wyse vind Ethan ’n ondersteuningsbasis wanneer ’n kennis, Gavin, met hom oor sy pa se dood vertel. Ethan en Gavin is aanvanklik nie vriende nie en hy vind dit vreemd dat Gavin skielik na hom uitreik. Dit is juis tydens hierdie nuutgevonde vriendskap dat een van die jeugroman se verrassendste kinkels in die kabel die leser onverhoeds betrap en terselfdertyd medemenslike deernis op sy beste uitbeeld.

........
Kulturele diversiteit speel ook ’n belangrike rol in die roman. Norton se uitbeelding van Lukas se begrafnisreëlings bied aan die leser ’n interessante perspektief op die wyse waarop kultuurgroepe se begrafnisse van mekaar verskil. Daar is egter ook kulturele ooreenkomste ten opsigte van sommige praktyke wat lesers sal raaklees en met hul eie kulturele praktyke kan belyn.
........

Kulturele diversiteit speel ook ’n belangrike rol in die roman. Norton se uitbeelding van Lukas se begrafnisreëlings bied aan die leser ’n interessante perspektief op die wyse waarop kultuurgroepe se begrafnisse van mekaar verskil. Daar is egter ook kulturele ooreenkomste ten opsigte van sommige praktyke wat lesers sal raaklees en met hul eie kulturele praktyke kan belyn. In dié opsig sal die hoofstuk oor die mannepot vele laat skaterlag of twee keer laat dink watter vleis hulle in die toekoms sal eet. Ethan en sy maats se verhaal bevat oomblikke van humor asook ’n titseltjie romanse. Hul hegte vriendskapsbande is opvallend en dui op die belangrike rol wat vriende tydens die rouproses speel.  

Hoe haal ek nou asem? is ’n geslaagde jeugroman wat op vertederende wyse die dood van ’n ouer ondersoek. Norton slaag daarin om deur middel van Ethan se karakter Kübler-Ross se vyf fases op ’n realistiese en geloofwaardige wyse te verwoord. Sy vermy enige vorm van soetsappigheid en delf diep in Ethan se karakter om sy gevoelens en handeling te verwoord. Die verlies van ’n ouer word realisties uitgebeeld en stel die leser in staat om Ethan se hartseer en verlies te begryp. Tienerlesers sal aanklank vind by die verskeidenheid karakters asook die waarde van goeie vriende tydens ’n moeilike tyd in jou lewe. Hierdie roman bevat geen morele les nie en is nie prekerig nie. Ten spyte van die somber temas is dit ’n roman wat lesers (en veral tienerlesers) sal boei vanweë die pretensielose en openlike gesprek wat Norton oor ’n somber dog onvermydelike onderwerp voer.

........
Die dood en die verlies van ’n ouer word selde op so ’n eerlike wyse soos in Hoe haal ek nou asem? verken.   
.........

Die dood en die verlies van ’n ouer word selde op so ’n eerlike wyse soos in Hoe haal ek nou asem? verken.   

Bibliografie

Lucebert. 1974. Verzamelde gedichten. Amsterdam: Bezige Bij.
Kübler-Ross, E. 1969. On death and dying. New York: Macmillan.
Roswell, M. 2020. Healing from the loss of a parent. Londen: Martina Roswell.

Lees ook:

Ek sal vir jou veg deur Cliffordene Norton: ’n resensie

Anderkant die blou deur Zelda Bezuidenhout: ’n resensie

Hoe haal ek nou asem?: ’n onderhoud met Cliffordene Norton

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top