Anderkant die blou deur Zelda Bezuidenhout: ’n resensie

  • 1

Anderkant die blou (2022)
Zelda Bezuidenhout
Tafelberg
ISBN: 9780624091929

 .........
Anderkant die blou ... Watter blou? En waar pas ’n tweeling in die storie? Net hier anderkant in Kalkbaai, om die draai van die Vishoekvallei is waar al die antwoorde lê en vier nuwe vriende mekaar vind.
............

Anderkant die blou ... Watter blou? En waar pas ’n tweeling in die storie? Net hier anderkant in Kalkbaai, om die draai van die Vishoekvallei is waar al die antwoorde lê en vier nuwe vriende mekaar vind.

Lienke en Dezi hou saam vakansie in Kalkbaai en hulle ontmoet ’n klomp nuwe mense, maar Danroy is die karakter met al die geheime. Die meeste waarvan hy self nie eers weet nie. Die meisies gaan op verskeie uitstappies na bekende bakens in die suide van die Skiereiland, van Muizenberg tot Boulders en Kaappunt. Dan gebeur daar ’n ongelukkige ding en word ’n raaisel ontrafel wat Lienke as buitestander oplos, maar vir niemand ’n woord van vertel nie. Hierdie novelle kry dit reg om al Kalkbaai se ervarings met sy leser te deel, van die bekende Kalkies vis en tjips tot die Olympia-bakkery se befaamde gebak. Danroy se talent om te teken, sy “memories”, speel ook ’n belangrike rol, want dit is sy droom om animasie te gaan studeer, maar sy tweelingsuster het ander drome. En hulle ma, die bestuurder van Die Meeu, werk reeds so hard om kop bo water te hou. Gelukkig is daar altyd Uncle Kaz, ’n vriend van hulle ma met wie Danroy ’n besonderse verhouding het, en Prins, Uncle Kaz se hond. Uncle Kaz se woorde loop soos ’n silwer draad deur die verhaal: “Weet jy, Danny Boy, ’n mens het net drie goete in die lewe nodig om gelukkig te wees. En nie een van hulle is geld nie” (bl 23). Wat die drie dinge is, sal jy self moet uitvind.

Die titel en subtitel laat die leser reeds wonder oor wat alles gaan gebeur. Veral die opening. wat in die derde persoon vertel word, skep hier ’n filmiese vertelling wat sterk herinner aan romans soos Die uitgespoeldes (2005), Droomdelwers (2011) en meer nog die novelles van Barrie Hough: Droomwa (1990) en Vlerkdans (1992), en tot onlangs was sy Skilpoppe (1998) nog vir die senior fase voorgeskryf. Die grootste en mees ooglopende verbintenisse hier is die verhoudinge tussen karakters en die tweedehandse onthulling van geheime.

...........
Die grootste en mees ooglopende verbintenisse hier is die verhoudinge tussen karakters en die tweedehandse onthulling van geheime.
............

Bezuidenhout skryf die stories wat soms deur die krake in die houtvloer val. Dit is nie verhale wat aggressief stilgemaak is, onderdruk is of stilgehou word deur die bure nie. Haar 2021-roman is wel getiteld Die waarde van stil bure. Dit is verhale uit ánder perspektiewe wat ons reeds in tekste soos Hough se Vlerkdans (1992) teëkom, om anders te wees: homoseksualiteit, omstandighede en soms ’n deurleefde trauma. Sodoende is Lienke, Danroy, sy suster en die ander vriende almal eintlik newekarakters wat elk om die beurt hulle verhaal kom vertel. Dit is die verhaal van die karakters wat langs die hoofkarakter staan en die stories wat langs die bekende vakansieromanses gebeur wat hierdie verhaal iets anders maak.

Anderkant die blou is ’n gewone vakansieromanse wat afspeel in ’n klein vissersdorpie en ’n vakansie-uithangplek vir surfers – maar dalk nie so gewoon soos dit op die oog af lyk nie. Hierdie novelle is waarskynlik geskryf met ’n leser in gedagte wat nie hou van lees nie of wat sukkel om te lees, maar al die belangrike elemente van ’n goeie jongvolwasseneteks is teenwoordig.

’n Goeie jongvolwasseneroman moet ’n verhaallyn hê wat teen ’n stewige pas verloop. ’n Oplossing of verhaal wat alles spreekwoordelik “afhandel” is die algemene aanvaarde norm, maar nie ’n vaste vereiste nie. Die belangrikste is altyd dat die situasie en omgewing waarin die verhaal afspeel, geloofwaardig is en dat die leser hom- of haarself kan inleef in die karakters se ervaringe. In Anderkant die blou word al hierdie elemente geslaagd deurgevoer. Sommige lesers sou kon argumenteer dat die verhaallyn yl is, dat daar te veel karakters is dat en die boek te “lig in die broek” is. Allesbehalwe! Die teks is net reg vir ’n leser van tussen 13–15 jaar, en selfs ’n addisionele-taal-leser sal die boek kan baasraak sonder om oorweldig te voel.

En vir dié van ons wat daarvan hou om oor die ouderdomsgrense heen te lees, is hierdie beslis ’n lekker handsakpasboek vir daardie tou by Binnelandse Sake.

Ten spyte daarvan dat die teks beslis geskryf is om maklik en vinnig te lees, kan mens nie die boek neersit nie. Alhoewel die hele verhaal in die derde persoon geskryf is, met die veiligheid van ’n alwetende verteller, kan jy as leser nie anders as om jou te skaar by Lienke se ervarings nie. Lienke, Dezi en ook Danroy met sy sketse stap meer volwasse uit die verhaal.

Anderkant die blou is ’n blou konsentraat van ’n jongvolwasseneverhaal wat enige leser sal lus maak vir ’n seevakansie.

Skrywer

Zelda Bezuidenhout het reeds diep in lesers se harte gekruip met titels soos As mens geluk kon proe (2018), Die dekonstruksie van Retta Blom (2019), Die 6 weke van Thomas en Ella (2019), Toe ons oneindig was (2020) en Die 3 van ons (2020). Bezuidenhout se dogter, Mia Bezuidenhout, het die illustrasies in die boek behartig en dit komplementeer die teks uitstekend. Dit is soos klein “gelukkies” tussendeur die verhaal.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 1

Kommentaar

  • Jill Mitchell

    Moet definitief hierdie boek lees! So opgewonde, Vishoek, saam met al die vissermanne, is waar ek groot geword het. 📚

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top