Hoe besluit ’n mens wie se kultuur moet onderrig word?

  • 0

Estelle Kruger gesels met met Elbie Adendorff en Mari Koegelenberg oor hulle artikel ʼn Ondersoek na die gebruik van kultuurgeoriënteerde taakgebaseerde lesse vir die verwerwing van Afrikaanse woordeskat deur universiteitstudente

 

Wat is die agtergrond van julle elkeen se  betrokkenheid by die studie? Met ander woorde hoe het julle bewus geraak van hierdie spesifieke probleem en antwoord in die onderrig van Afrikaans as vreemde taal aan universiteitstudente?

EA: Ek het in die jare as dosent vir die taalverwerwingstudente al agtergekom dat daar somtyds vrae oor kulturele aspekte by studente is. Ook na aanleiding van die #Feesmustfall-beweging op kampus, het ek begin kyk na my sillabus en wat ek daarin aanbied. Ek behandel in my honneursmodule “Metodologie van taalverwerwing” baie kortliks die verband tussen taal en kultuur. Die honneursstudente moet ʼn groot werkstuk oor enige onderwerp skryf. Mari het besluit om oor die verband tussen kultuur en taal navorsing te doen.

MK: In my honneursjaar het dr Adendorff die module “Metodologie van taalverwerwing” aangebied waarin sy ons bewus gemaak het van die verband tussen taal en kultuur, veral in taalverwerwing. Hierdie onderwerp het onmiddellik my aandag getrek. Na ’n paar gesprekke het ons besluit dat my navorsing oor die verband tussen kultuur en taal vir die aanleer van Afrikaans as ’n addisionele taal sal handel.

Julle gee ’n baie duidelike uiteensetting van wat met die woord “kultuur” bedoel word. Hoe besluit ’n mens wie se kultuur moet onderrig word? Het julle dus net Afrikaanse kultuurelemente ingesluit, of ook aspekte van die leerders se kultuur?

EA: Die vraag oor wie se kultuur en “watse” kultuur is nogal problematies. Ek onderrig nie net in my vreemdetaalmodule sogenaamde Afrikaanse kultuur nie. Ek sluit aspekte van die studente se kultuur in. As ek byvoorbeeld “kos” as tema hanteer, dan behandel ek nie net die gewone kossoorte soos melktert en bobotie nie, maar betrek ook tradisionele kossoorte van ander kulture, afhangend van die studente wat in die klas is. Dit lei dikwels tot interessante gesprekke en so leer ons meer van mekaar se kulture. Een van die doelwitte van die vreemdetaalmodule is om ook van en oor mekaar se kulture te leer en om kulturele sensitiwiteit aan te moedig. Ek gebruik Afrikaans om meer as net die taalaspekte te onderrig: ek gebruik Afrikaans, wat die studente aanleer, maar die lesse gaan nie net altyd oor die sogenaamde Afrikaanse kultuur nie.

MK: Die begrip kultuur is so wyd en moeilik om te omskryf dat dit ’n groot uitdaging was om dit te definieer. Die begrip is nie net moeilik om te omskryf as gevolg van die verskil tussen navorsers se definisies nie, maar ook as gevolg van die verskillende konnotasies wat aan die term geheg word. In die navorsing is daar spesifiek meer fokus op die Afrikaanse kultuur geplaas om te sien of die studente die Afrikaanse taal makliker sal aanleer as hulle van die kultuur bewus gemaak word en dan sodoende verbande tussen die Afrikaanse kultuur en hulle eie kulture kan trek.

Dit is verblydend dat julle die kwessie van dekolonialisering aanspreek en in Afrikaanse sillabusse daarvoor pleit . Tog is dit ’n gelade begrip en die meeste mense verstaan dit nie.[1] Ek dink hier spesifiek aan kommentare wat ek lees waar mense regtig probeer om nuut te dink en dan word hulle menings net afgeskiet deur mense wat nog in ’n vorige eeu leef.[2]

EA: Dit is ʼn baie moeilike vraag. Dekolonialisasie is inderdaad ʼn baie gelade begrip en mense reageer somtyds baie eensydig daaroor. Ons kan nie die kwessie van dekolonialisering ignoreer nie, en moet nuut na sillabusse kyk. Ek as dosent kan nie die studente wat by my kom Afrikaans leer, net byvoorbeeld van die “tradisionele” of gekolonialiseerde letterkunde leer nie – daarom werk ek met gemarginaliseerde poësie, podiumpoësie, kortverhale oor vroue, ens onder meer by my tweedejaarmodule in. Wanneer ek oor die “aard” van Afrikaans praat, praat ek nie net van Standaardafrikaans nie, maar ek bespreek al die verskillende “soorte” Afrikaans en verskaf voorbeelde van byvoorbeeld Griekwa-Afrikaans, bendetaal en Kaaps-Afrikaans. Ek bepleit ʼn gebalanseerde aanbieding van die inhoud van die sillabusse.

Hoe het julle verby die probleem van stereotipes en ander nadelige gevolge gekom? Ek verwys hier na wat Beckman waarsku,[3] dat “alhoewel kultuurverskeidenheid geleenthede bied om onderwys te verryk, dit gepaard kan gaan met probleme en uitdagings wat nadelige gevolge vir onderwysinstellings en individue en groepe kan hê”.

EA: Ek behandel die hele konsep van stereotipering met my tweedetaalstudente, maar ek probeer om vanuit hulle leefwêreld en ervaring te werk. Ek probeer voorbeelde van hulle kry en dan werk ek rondom daardie voorbeelde – ook aspekte soos hoe voel hulle oor stereotipering (veral as hulle dit al self ervaar het), hoekom is daar stereotipering, hoe kan dit verander word? Dit lei tot interessante gesprekke en sodoende leer ons meer van mekaar.

Het julle enige van bogenoemde probleme ondervind? Verduidelik asseblief.

EA: Ek het nog nooit, of bitter min negatiwiteit oor Afrikaans by my studente ervaar – wat vir my verblydend is. Ek werk hard daaraan om Afrikaans prettig te maak en lekker aan te bied, maar ook om die waarde daarvan te beklemtoon. Ek gooi dit oor die boeg van veeltaligheid en beklemtoon die waarde van veeltaligheid in ons tyd vandag. Ek probeer om ook my sillabusinhoud te koppel aan die studierigtings van die studente. Ek probeer om negatiewe persepsies en stereotipering oor Afrikaans af te breek om te wys “nie almal is so nie”.

MK: Tydens die lesse wat ek vir die tweedetaalstudente aangebied het, was daar geen negatiwiteit teenoor die Afrikaanse taal of kultuur nie. Die studente is werklik daar om kennis met die taal te maak. ’n Paar studente het tydens hierdie lesse gesê dat hulle graag Afrikaans wil aanleer om dalk beter beroepsmoontlikhede in die toekoms te kan kry; sowel as om beter met ander Suid-Afrikaners te kan kommunikeer, wat ek verfrissend gevind het. Dit is duidelik dat die studente die waarde van veeltaligheid besef.    

Watter taal word in julle kultuurgeoriënteerde klasse gebruik?

EA: In die vreemdetaalmodule gebruik ek ʼn kombinasie van Afrikaans en Engels.

MK: Tydens die lesse is daar van ’n kombinasie van Afrikaans en Engels gebruik gemaak.

Dit is duidelik dat die opvoeder die “inset” noukeurig moet kies. Hoe het julle hiermee te werk gegaan?

EA: Ek doen gewoonlik aan die begin van die jaar ʼn behoefte-ontleding om te bepaal oor watter temas of onderwerpe studente graag meer wil leer. Ek gebruik dit om my sillabus rondom temas te rangskik.

MK: Dr Adendorff ken haar studente goed en weet wat hulle aandag sal trek al dan nie. Ek het hulp by haar gekry in verband met moontlike temas wat ek met die studente kon behandel, sowel as navorsing gedoen, en het so te werk gegaan om die inhoud te kies. 

Het julle soms ook teikentaalsprekers genooi om deel te neem aan die aktiwiteite sodat die leerders op informele vlak kon kommunikeer?

MK: Alhoewel teikentaalsprekers nie aan hierdie navorsing deelgeneem het nie, is dit beslis ’n goeie idee vir toekomstige navorsing.

Julle meld dat julle keuse vir woordeskat bepaal is deur die feit dat julle wou hê dat die leerders Afrikaans moet ken om “in generiese sosiale en akademiese kontekste te kan kommunikeer”. Verduidelik asseblief wat hiermee bedoel word.

EA: Een van die doelwitte van die vreemdetaalmodule is om vir hulle kommunikasievaardighede in Afrikaans te leer. Baie van hierdie studente het nog nooit Afrikaans geleer nie en weet dus regtig niks oor en van Afrikaans nie. Dit is nie ʼn akademiesegeletterdheidsmodule of ’n “taal vir spesifieke doeleindes”-module nie. Hulle moet dus op algemene sosiale en akademiese vlak met  ander studente en/of dosente kan kommunikeer.

Julle vertel van ‘n paar kostelike voorbeelde van kultuurgeoriënteerde aktiwititeite in ander lande[4] (Kost en Sawatszky, Kirkebaek en Pinto) – het julle dit al oorweeg om soortgelyke aktiwiteite aan te bied?

EA: Hopelik vorm dit deel van die langtermynnavorsing wat uit hierdie loodsstudie volg.

Dankie vir ’n fassinerende artikel en hierdie gesprek. Is daar enige nuwe projekte in hierdie verband op julle horison(ne)?

MK: Ek sal graag nog navorsing in taalverwerwing wil doen; moontlik ’n M-studie. Dit sal moontlik wees om hierdie studie as basis vir ’n groter, uitgebreide studie te gebruik.

 

[1] https://www.litnet.co.za/decolonising-education-south-africa-interview-aslam-fataar.

[2] https://www.litnet.co.za/how-can-decoloniality-inform-educational-curriculum-knowledge-selection.

[3] Beckman, J. 2017. Die Konstitusionele Hof se kultuurdiversiteitsopdrag aan die onderwys: Aanloklike bestemming anderkant ’n ongekaarte mynveld. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(4):897–923.

[4] Kost, C en C Sawatzky. 2011. Supporting task-based learning through cultural web activities in the first year German curriculum. Forum Deutsch. http://forumdeutsch.ca/f/nf15catg (29 Mei 2018 geraadpleeg).

Kirkebaek, M.J. 2013. Filling up a “China-box”. In Kirkebaek, Du en Jensen (reds.) 2013.

Pinto, J. 2018. Immersion learning activities. Developing communicative tasks in the community. Theory and Practice of Second Language Acquisition, 4(1):23–48.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top