Hermanus FynArts-persverklaring: sewe feeskunstenaars vier tien jaar as huldeblyk aan Marilyn Martin

  • 0

Willie Bester: "Woman with men in blue" (foto: verskaf)

Die Hermanus FynArts-fees vind vanaf 10 tot 19 Junie 2022 plaas.

Die tradisionele  feeskunstenaar van die jaarlikse Hermanus FynArts kry gewoonlik die alleenreg op die elegante klein ruimte van die fees se sentrum in die dorp. Maar vanjaar is die fees se tienjarige viering en gaan vorige genooide kunstenaars die lokaal gesamentlik beset.

Sewe kunstenaars het hierdie eer oor die dekade heen te beurt geval. Na groep- en ander tentoonsellings elders, het dié spesifieke ruimte eers later beskikbaar geraak. Dus: sewe uit tien.

Marilyn Martin, wat onlangs oorlede is, sou as kurator die groepstentoonselling behartig. Haar voorbereiding is oorgedra aan Melvyn Minnaar, wat die projek as huldeblyk sal aanbied. Die kunstenaars se werke dien as individuele refleksie op haar kulturele bydrae.

Die kunstenaars is Gordon Froud (2015), Diane Victor (2015), Louis Jansen van Vuuren (2016), Willie Bester (2017), Kate Gottgens (2018), Philemon Hlungwani (2019), en Beezy Bailey (2020 / 2021). Van elke kunstenaar is werke gekies wat vorige uitstallings hier verteenwoordig.

Minnaar sê die konsep van ’n enkele feeskunstenaar het met verloop van tyd ontwikkel soos die FynArt se kulturele reikwydte verbreed het. Verskeie faktore het oor die jare die keuse van die individu bepaal, maar daar’s altyd ’n spesifieke toeganklikheid en avontuur wat by kunsfeeste ’n rol speel.

“As ’n mens terugkyk, lyk dit vir my, lê die skakel van een jaar na die volgende tussen kunstenaars in die opvallende vitaliteit en vernuwing in die werk wat hulle wou/wil wys.”

Die visuele kunste, sê hy, is ’n enige, kitservaring. Stories, gedagtes en argument volg, maar dis die eerste ontmoeting met die kunswerk in die lokaal wat daardie bepeinsing te weeg bring

“Dis daardie dinamika wat juis ’n kunsfees se belangrikheid beklemtoon. Niemand kan die opwinding en energie teen die muur ontken nie.” 

Marilyn Martin het oor die jare heen ’n sleutelrol in die Hermanus FynArts gespeel. Die tentoonstelling vier haar lewe en nalatenskap, sê die feesorganiseerders.

Meer inligting:  060 9575371/028 3122629

Lees ook:

The removal of art at UCT: Marilyn Martin's response

’n Huldeblyk aan Marilyn Martin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top